• No results found

Daar is ’n nóg fundamenteler rede waarom ons ver-beeldend moet en mag preek, en ons eredienste dienooreenkomstig moet inruim. Die Bybel self bestaan naamlik nie bloot uit ’n aaneenryging van woorde, soos pêrels op ’n stringetjie nie. Dit vertel eerder die verhaal van God se bemoeienis met die mens, van sy groot dade in die geskiedenis (vgl. Hand. 2:11), dade wat taalmatig en veral verhalend uitgebeeld word. Die Bybel is ons oerbron van beelde – hierheen

moet ons telkens maar weer terugkeer indien ons verbeeldingryke teoloë en predikers wil bly. Garrett Green (1989: 106) wys in sy klassieke werk op hierdie belang van die Skrif:

God has im-pressed his image, embodied in Jesus Christ, on the original witnesses, who have in turn ex-pressed that image in certain texts; these writings, which we therefore call sacred, once more im-press their form on us, the modern hearers, reshaping us in the image of God ... Revelation is an act of imagination; scripture is a work of imagination; and theology is an interpretation of imagination.

In die Bybelse tekste sit daar inderdaad ’n rykdom van beelde of metafore opgesluit, beelde wat mense in hulle diepste nood skilder, maar ook God metafories uit-beeld. Die taak van die prediking en liturgie is na my mening onder andere om hierdie lewensnoodsaaklike, en lewensveranderende beelde te herwin, en te vertaal, of eerder: te ver-beeld vir die mense van ons tyd. Om te midde van die sensoriese oorprogrammering mense voor die éintlike metafore, die kontrabeelde wat saak maak, te bring.59 wallace (1995: 10)

skryf mooi:

Images such as the garden, the new heaven and earth, the banquet, bread and wine, oil poured over the head, tears washing feet, fire from above, a newborn infant, and a crucified figure are only some of the ones that continue to throb with numinous power. the task of the preacher is to recover and renew them for the present generation and those to come, so that they are not lost in the mindless haze of imagery substituted by modern technology. Images will continue to be cast and sown into the field of human consciousness; the issue is which of them will take root and flower.

Die Bybel is nie bloot ’n Boek wat historiese feite as bruta facta verkondig nie. Eerder beelde en ver-beeldinge van hierdie feite, beliggaam in woord én beeld. Paul Evdokimov druk dit só uit: “In the Bible, the word and the image are in dialogue, they call to one another and express complementary elements of one and the same Revelation.” (1996: 32-33). Hierdie beelde moet voortdurend besoek word, hernuwe word, anders bly dit gefikseer in die Skrif. Die taak van liturge en predikers is om ver-beeldingryk met die beelde van die Skrif om te

59 Volgens De Gruchy vind Christelike formasie nie net plaas deur lering en voorbeeld nie,

“but also through the cultivation of a sense of taste for what is genuinely beautiful in a world of competing images and ugliness” (2001: 242).

gaan, om telkens, en opnuut, soos Jesus self te sê: “Die koninkryk van God is

soos!” (vgl. Matt. 13:31, 33, ens.)

Agter hierdie soos sit daar ’n werklikheid wat die beeld of metafoor wat volg, altyd oortref.60 terwyl die Bybel wel aan ons die eerste, en primêre, ver-

beelding van die heilshandelinge van God bied, en ons dus telkens daarheen moet terugkeer, is die bedoeling tog nie dat ons die beelde daarin moet laat fossileer nie. Die beelde het voortskreidende krag, dit roep om kreatiewe, en dus eietydse, ver-beelding. Beelde kán dormant of uitgeslyt word. Dan verloor dit hulle seggingskrag, hulle verbeeldingryke werking. As beelde eers verduidelik moet word, is dit gewoonlik ’n teken dat hulle nie meer as beelde funksioneer nie (vgl. Riegert, 1990: 73-74).61 trouens, beelde wat stol (hulle

deursigtigheid verloor), loop gevaar om valse profesie te word, monumente van ’n teologie-wat-te-laat-gekom-het. Ikone kán idole word. Hiervan dra die tweede gebod deeglik kennis: “Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak nie ...” (Eks. 20:4)

Die Bybel bevat talle basiese beelde, beelde waarmee ’n mens kan leef en sterf, waarin ons opnuut ons eie gesig, maar veral ook dié van God, weerspieël kan sien. ’n Mens dink aan Luther wat telkens van een van hierdie primêre

60 teologiese taal en die metafoor loop natuurlik al ’n lang pad saam. Janet Soskice

(1985: 148) skryf as volg oor die voordele wat die gebruik van metaforiese taal juis vir die religie inhou: “Our concern is with conceptual possibility rather than proof, and with a demonstration that we may justly claim to speak of God without claiming to define Him, and to do so by means of metaphor. Realism accomodates figurative speech which is reality depicting without claiming to be directly descriptive.”

61 Beelde ver-beeld die werklikheid. Dit gebeur soos volg: Eers is daar ’n moment van oriëntasie,

waarin jy sekere bekende dinge in die beeld herken: die beeld spreek iets van jou werklikheid aan. Dan volg die fase (nie noodwendig sekwensieel nie; meestal gelyktydig) van disoriëntasie, wanneer die beeld jou werklikheid bevraagteken, en in ’n sin omvergooi. Die beelde van die Bybel werk meestal só: ’n bekende metafoor word skielik uitdagend, dit werk subversief op die status quo in. Die klein stukkie suurdeeg word beeld van ’n onstuitbare koninkryk (Matt. 13:33). Die beelde van die Skrif is inderdaad dikwels kontra-beelde, beelde wat ’n “imaginative shock” op ons bewerkstellig, wat as ’n “counter- as” die andersoortige “soos” van die koninkryk aan ons voorhou (vgl. Riegert 1990: 72-74; ook Brueggemann 1993: 15). Ná die disoriëntasie volg ’n fase van heroriëtasie, waarin die beeld die vooruitsigte van nuwe moontlikhede en wêrelde aan ons open, en inderdaad as wêreldskeppende kragte funksioneer. Die Bybelse beelde is soos vingers wat in die rigting van God se alternatief wys, en naderwink ...

geloofsbeelde kon sê: “Of ek wil of nie, altyd wanneer ek die naam Christus hoor, sien ek in my hart die beeld van die man aan die kruis.” (Vgl. Milk, s.j: 62.)

Geen wonder hy kon so verbeeldingryk oor Christus preek nie!

Luther het ook gesê dat die kerk ’n mondhuis (“Mundhaus”) is. Dit sou verkeerd wees om hierdie uitspraak van hom eensydig te verklaar, asof die kerk se verstaan van die Bybel en prediking slegs verbaal, en daarby ook nog kognitief verstaan moet word. Die woord – waarvan die Skrif getuig – bestaan immers nie net uit woorde nie, en beslis nie net uit konsepte nie. Ons siening van die woord is waarskynlik sterk Grieks-Hellenisties gekleur, met ’n voorkeur vir retoriese logika. Ons maak ons maklik skuldig aan ’n ver-saakliking, ’n ver- dingliking, in plaas van ’n ver-beelding van die teks. Die Hebreeuse verstaan van dabàr bring ons nader aan die waarheid: die woord is tegelykertyd ook daad, dis altyd ’n woordgebeure. Die woord is nie iets wat ons bloot moet analiseer om dit linguisties te kan ontrafel nie, maar ’n wêreld waarin ons ingenooi word, ’n woordwêreld waarbinne óns verander word.

Die woord het in-der-daad mens geword (Joh. 1:14), en is as sodanig verbaal én nieverbaal. Dit sou verkeerd wees om die verbale bloot te sien as iets onliggaamliks, en die nieverbale as iets liggaamliks (Lukken 1990: 21) Nee, ook die woord is liggaamlik, oftewel visueel en ver-beeld. wie dus oor hierdie woord wil preek, kán dit nie bloot met ’n aaneenryging van woorde doen, en dink dat die visuele en ligaamlike, ja, die presensie van die een wat preek, nie ook ’n lyflike basis aan die woord bied, of behoort te bied nie. Die woord – soos dit opgeteken is in die Skrif – roep om ’n holistiese uitbeelding in die verbale én nieverbale, wil inderdaad telkens onder ons méns word.

In die simboliek word daar soms ook in dié verband tussen ’n presentatiewe

en ’n diskursiewe simboliek onderskei. tiperend van die presentatiewe simboliek

is die verdigting van betekenis in ’n simbool, van ’n gelyktydigheid en ’n totaalwaarneming (Lukken 1990: 31-32). Een beeld – of dit nou ’n visuele voorstelling of ’n metafoor, dit wil sê ’n voorstelling in woorde, is – kan ’n hele reeks herinneringe of emosies in ’n oomblik oproep. wie byvoorbeeld afkom op ’n foto van ’n gelade gebeurtenis of tydperk in jou lewe, lank-lank gelede, “sien” dinge wat nie noodwendig in ’n logiese sekwensie van woorde uitgedruk kan word nie. Dalk word jou hele lewe in daardie foto verdig en gepresenteer. Dit spreek moontlik al jou sintuie aan: die reuk in Ma se kombuis met die

AGA-stoof, die tekstuur van Pa se hoed, die herinnering aan die klank van jou broer se voetstappe in die lang gang van jou ouerhuis.

Daarenteen word in die diskursiewe simboliek veral taal ingespan om verskillende betekeniseenhede logies op mekaar te laat volg. Ek is van mening dat beide62 hierdie vorme van simboliek, oftewel verbeelding, van belang is

vir die kommunikasie in die prediking en liturgie, dat die een ingebed in die ander moet lê. Op die vind van hierdie balans kom dit aan wanneer ons op ’n verantwoordelike wyse vir die mense van ons tyd – wat deur beelde van alle kante gebombardeer word – wil preek.63

62 Dit handel hier oor die verhouding tussen beeld en seggenskrag. Beelde dien woorde, of beter:

bring dimensies van woorde na vore wat andersins ongesiens verby sou gegaan het. In ’n sin vertraag beelde die (vinnige, dikwels onnadenkende) vloei van woorde, ten einde dit te

verryk en te intensiveer. Beelde help ons om van “thin” na “thick descriptions of reality” in

ons kommunikasieprosesse te beweeg (vgl. Brueggemann 1997: 73 e.v.). woorde alleen kan baie skraal en klinies wees. Beelde, daarenteen, verander ons (modernistiese) neiging tot digitale kommunikasie na analogiese kommunikasie, maak vensters op die werklikheid oop wat woorde alleen nie sou kon doen nie. ’n Interressante voorbeeld is die gebruik van beelde deur digters soos byvoorbeeld Sheila Cussons. By haar is daar blykbaar ’n voortdurende spel tussen beeld en woord aanwesig – soos blyk uit ’n voordrag van me. Amanda Botha, besoekende kuratrise van die Sasol-Kunsmuseum op Stellenbosch, tydens die jaarlikse woordfees (27 Februarie 2002), met die bekendstelling van sommige van Sheila Cussons se kunswerke. Ook saamgevat in Die Burger van 4 Maart 2002, p 4: “Vir haar (Cussons) staan beeld en woord altyd in wisselwerking met mekaar. Skilderye word gedigte, gedigte word skilderye – letterlik en figuurlik. Haar lewe is verdeel tussen tekeninge en gedigte – vir haar is dit net belangrik om te werk.”

Soms skilder Cussons letterlik eers ’n beeld uit haar gemoed op doek, voordat sy dit omsit in die woorde van ’n gedig. Soms loop die twee prosesse gelyktydig, word skilderkuns en digkuns in één kreatiewe fase vermeng. Soms maak Cussons eers nadat sy die gedig geskryf het, ’n skildery of uitbeelding daarvan. As haar vriende haar by geleentheid skakel om te vra wat sy doen, antwoord sy: “Ek dink”. Sy weet uit ervaring dat kreatiwiteit tyd nodig het. Dat dit lank kan duur vir die engel om deur jou kop te gaan, soos die titel van haar digbundel (’n Engel deur my kop: 1997) sê. Cussons se kreatiewe interspel met beelde en woorde illustreer hoe opwindend, maar ook kompleks hierdie verhouding kan wees: daar is naas die ver-beelding van woorde in beelde, ook naas die ver-taling van beelde in nuwe beelde, ook nog iets soos die verwoording van beelde.

63 Na my mening ontbreek juis hierdie balans in die andersins uitstekende werk van

Albrecht Grözinger (1991). Hy wil estetika vrugbaar maak vir die Protestantse tradisie, maar konsentreer uitsluitlik op die verbale, en dus ook literêre dimensie daarvan. Moet die visuele – om maar een bykomende dimensie te noem – nie ook in concreto verreken word nie?

Die woord het vlees geword, en die Skrif getuig daarvan. Die Bybel bevat die verhaal van die beliggaming van die woord, van die uit-beelding daarvan. Daarom is die Bybel beeldryk, praat dit ’n “highly imaginal language” (wallace 1995: 9). Die woorde in die Bybel skilder prente; dit praat prentetaal. Vir hierdie Boek, wat die oorkonde, dit wil sê die oerbron van die Naam van God is (Bohren, 1974: 109), moet ons respek hê: daarin lê die beelde wat deur die eeue heen vir ons bewaar is, en wat wag om op ’n kreatiewe wyse ontgin en opnuut losgelaat te word. Daar skuil engele in die woorde van die Skrif, engele wat onder andere ook in die liturgie vlerke kan ontvang om nuut te vlieg. Helaas kortwiek vele preke en liturgieë hierdie engele; knip dit voortydig die vlerke van verbeelding kort.

In die voorafgaande het ons veral gelet op die intrinsieke verbande tussen estetika en teologie, en waarom estetika belangrik is vir liturgiese nadenke. Vervolgens moet dit nou vanuit ’n liturgiese perspektief beoordeel en vrugbaar gemaak word. Eers egter ’n uiteensetting van wat ek onder liturgie64 verstaan.

3.1 ’n Definisie van liturgie: spel en dans

Binne die klassiek gereformeerde verstaan van liturgie word groot klem geplaas op die ontmoetingskarakter van die erediens, bemiddel deur woord en Gees. terwyl die tafel breedweg gesproke sentraal staan in die Katolieke en Ortodokse tradisies, die gemeente in die Charismatiese tradisies, staan die kansel

64 Ek gaan hier nie in detail in op bepaalde volgordes wat in eredienste gevolg word nie, ook

nie in besonderhede op die klassieke drie- of vierdeling wat dui op die toenadering tot God, sy openbaring deur woord en Sakrament, en die uitsending nie. Vir ’n bespreking hiervan, vgl. webber 1992: 45-61.

Hoofstuk 3

estetiese prosesse

in liturgiese KonteKs

sentraal in die Gereformeerde tradisie, as simbool van die sentraliteit van die woord waardeur hierdie ontmoeting bemiddel word (vgl. Richter 1998: 19). In feitlik alle tradisies kan ’n mens, in minder of meerdere mate, onderskei tussen vier (of drie) klassieke komponente van die ontmoetingsgestalte van die erediens, naamlik ons toenadering tot God, sy toenadering tot ons deur sy woord, maar ook die Sakrament, en ons toenadering tot die wêreld (of ons uitsending deur God; vgl. webber 1992: 45-61).

In hierdie navorsing vorm hierdie ontmoetingsgestalte van die erediens met sy drie basiese komponente die agtergrond van alles wat verder gesê word. Ek wil egter die tipies Gereformeerde klem op die ontmoetingsgestalte van die erediens op ’n ander, spesifiek estetiese wyse beskryf. Ek het lank nagedink oor wat die beste roete sou wees om hier te volg, en uiteindelik besluit dat drie sleutelbegrippe my gedagtes in dié verband moet rig, naamlik intertrinitariese

vreugde, metaforiese uitdrukking en liturgiese inkorporasie. Met eersgenoemde

bedoel ek dat die liturgie sy begin, en eindpunt, binne-in die intertrinitariese

vreugde van God (moet) vind. Volgens Van Ruler is vreugde selfs belangriker

as liefde, wat op sy beurt geloof en hoop oortref. Vreugde wat God het oor sy skepping, oor die wonder dat daar iéts is, en nie níks nie; vreugde oor elke sandkorrel in ’n kosmos van onmeetbare, uitdyende omvang. Maar veral ook vreugde oor die geskiedenis wat Hy met die mensdom gemaak het, ’n geskiedenis wat wel vol pyn en teleurstelling is – ook vir God – maar wat uiteindelik tog uitloop op die voltooide herskepping. Die verhaal van die God van Abraham, Isak en Jakob, en van Jesus, is die verhaal van God se ontembare vreugde. Dis presies hier waar die liturgie na my mening sy oorsprong, motief en hoogste vervulling vind: “De vreugde over God en over al zijn daden. De vreugde over onszelf en over al onze naasten. De vreugde over de totale werkelijkheid.” (Van Ruler s.j. 156).

Die vraag waarmee ek my besig gehou het, was: hoe word hierdie vreugde van God esteties op die beste wyse moontlik uitgedruk? woorde, begrippe en definisies sê nie genoeg nie. wat nodig is, is ’n beeld, ’n metafoor van God se intertrinitariese vreugde – en daarmee is ons by die tweede sleutelwoord. Ek het besluit om die metafoor van spel en dans te benut – ’n benadering tot die liturgie wat na my wete nog nie in die Gereformeerde tradisie gevolg is nie. Dus: hoe druk God sy diepste vreugde oor die skepping en herskepping uit? Spelend, dansend – feesvierend. Binne hierdie perspektief is die erediens dan

nie primêr ’n reeks handelinge of vasgestelde volgordes wat deurloop moet word nie, maar ’n uitdrukking van die vreugde wat daar binne God self leef – oor dit wat was, is, en sal wees.

Die erediens handel in die eerste plek oor God. Maar uiteraard handel dit ook om mense. God wil sy vreugde, sy louter, intertrinitariese genot oor alles wat ís, met iemand, met sy (her)skepsels deel. Hy wil nie alleen speel nie, en Hy wil nie alleen dans nie. Hy inkorporeer ons in sy vreugde. Ons mag meedoen, meespeel, meedans. In hierdie derde sleutelbegrip herontdek ons na my mening belangrike dimensies van die liturgie – dimensies wat veral ook vir die Gereformeerde benadering van nut sou kon wees.

Daar is reeds daarop gewys dat Gereformeerde eredienste, wat in die Protestantse tradisie staan, soms só op (kognitiewe) prediking afgestem is, dat dit kan verword tot ’n voordrag met liturgiese omramings (Meyer-Blanck 2005: 134). Daar is egter ’n groeiende bewussyn dat die liturgie nie bloot omramings vir die preek kan wees nie, maar dat dit ’n soort beliggaamde uitdrukking van geloof in eie reg is. Die liturgie het ook ’n (estetiese) lewe van sy eie. Hierin sit daar altyd ’n spanning: liturgie is estetiese, en dus ook kulturele, uitdrukking, wat dus op baie punte met iets soos teater65 vergelyk sou kon word, maar dis

tegelykertyd ook uitdrukking van geloof: “Die Sache der Liturgie ist nichts anderes als ästhetische Praxis. Aber sie ist diese ästhetische Praxis als eine andere, eben als die Sache Jesu Christi.” (Meyer-Blanck 2005: 136).

Die punt is: liturgie is liggaamlike, visuele uitdrukking van ons geloof, en omdat die Bybel nie ’n uitgewerkte bloudruk vir die liturgie bied nie, is dit ook ’n kulturele en kerkhistories bepaalde uitdrukking van ons geloof. Liturgie is onlosmaaklik aan ons lewenswêreld66 verbonde, is verdigte ritueel en simbool,

ja, kunsgeworde vormgewing van ons omgang met die lewe, maar ook van ons ontmoeting met God, wat in die erediens gevier word (vgl. Odenthal

65 Die Duitse regisseur en toneelspeler thomas Kabel wys byvoorbeeld op interessante

raakpunte: die publieke karakter van liturgie en teater, die kulturele inkleding, die belang van artistieke (of dan liturgiese) “presensie”, die “kuns van die eerste moment”, die spel- karakter van beide, ens. (2004: 394-397).

66 Dit beteken nie dat die erediens moet opgaan in ’n soort populêre religie nie. “Nicht alles,

was gut läuft, geht im Gottesdienst.”, skryf Ralph Kunz (2003: 194). Die erediens is ook kontra-kultuur, verteenwoordig ook ’n stuk ongelyktydig met die heersende kultuur. Dit staan in ’n diakroniese en sinkroniese verhouding tot kultuur.

2004: 409). Mense kan nie sonder simbole en rituele lewe nie, en die unieke rol van die liturgie is om ’n integrasie van ons simbool-ervaring te bewerkstellig. Liturgie is by uitstek ’n simboolgebeure (die Griekse symbállein beteken letterlik: om saam te voeg), waarin lewe en geloof, menslike en religieuse ervarings tot ’n sinvolle eenheid saamgebring word. Liturgie nooi mense trouens uit om hulle lewenservarings te bring, dit “in te meng” in die liturgie, en so in verband te bring met die heilsgeskiedenis wat God met mense maak, met die evangelie (vgl. Odenthal 2004: 412).

Hierdie (simboliese) samevoeging, of in meer Gereformeerde terme gesê, hierdie ontmoeting tussen God en sy mense, wil ek dan met die estetiese (en hier