• No results found

Die FRK was van 1927 tot 1933 grootliks onaktief ten opsigte van Suid-Afrika se rassebeleid, maar in 1933 het hernude belangstelling in die oplossing van die land se rassebeleid die raad se aktiwiteite in beslag geneem. Volgens P.B. van der Watt was daar gedurende dié tyd duidelik ‘n nuwe benadering vanuit die NGK te bespeur. Die NGK het gepoog om duidelikheid oor sy eie standpunt aangaande rasseverhoudinge te verkry en het ook begin om meer intensief met die regering in gesprek te tree. Die Naturelle- kommissie is belas met die taak om ‘n konsep-sendingbeleid op te stel, wat in 1935 deur die FRK bekragtig is. Die beleid het die noodsaaklikheid van sending in eie volks- verband beklemtoon. Kerkplanting is gesien as noodsaaklik, maar waar kerke onder nie- blankes tot stand kom, moes die NGK die ‘dogterkerke’ begelei en tot ‘selfregering’ motiveer. Die FRK het ook via die sendingbeleid opnuut teen rasvermenging gewaarsku.82

Gedurende die 1930’s en 1940’s was die skeiding van rasse ‘n belangrike prioriteit vir die NGK. Vanuit die kerk het die reg tot selfbeskikking ‘n belangrike motivering in die stryd teen armoede geword. Gedurende daardie twee dekades was daar egter geen sprake van ‘n teologiese regverdiging vir die NGK se rassebeleid nie. In ‘n brief aan die spreekbuis van die NGK, die Kerkbode, waarsku ds. B.J. Marais dat die Bybel ‘baie min, indien enige’ uitspraak lewer met betrekking tot die kwessie van rasseverhoudinge en landsbestuur. Dié standpunt het weliswaar openbare teenkanting tot gevolg gehad, veral vanuit die geledere van lidmate van die NGK, maar die FRK se Kommissie vir

      

81 A.C. Cloete, Die Ned. Geref. Kerk en die Afrikaner-Broederbond (M.Th.-verhandeling, Universiteit

Stellenbosch, 1981), p. 42.

71 

Afwykende Rigtings het in 1941 die standpunt gesteun en verklaar dat apartheid nie op grond van skriftuurlike oortuiging gebaseer is nie, maar wel met die oog op ‘praktiese gronde’.83

Alhoewel die NGK gedurende die 1930’s en 1940’s dikwels met die regering in gesprek getree het om die skeiding van rasse in Suid-Afrika te verwesenlik, het die NGK herhaaldelik politieke leiers gemaan om nie die rassevraagstuk uit te buit vir politieke gewin nie, veral in aanloop tot die 1948-verkiesing. Die rede hiervoor was waarskynlik die groeiende internasionale kritiek ten opsigte van rasseskeiding en nasionalisme wat in die post-Tweede Wêreldoorlog-tydperk veral in die Weste posgevat het. Te midde hiervan het die kwessie van ‘n rassebeleid tydens die 1948-verkiesing ‘n sentrale motief geword en het die onderwerp in der waarheid die politieke debat oorheers.84 Ook binne die NGK se eie strukture het die behoefte tot ‘n meer duidelike rassebeleid, gemotiveer deur ‘n godsdienstige interpretasie van Suid-Afrika se verlede en status quo, die NGK gedwing om ‘n teologiese weg in te slaan. Dit sou uiteindelik vir die NGK tot groot nadeel wees, naamlik die teologiese en Bybelse regverdiging van apartheid.

Tydens die sinodesittings van die FRK gedurende die 1940’s het die teologiese en Bybelse regverdiging van apartheid veral toenemend ter sprake gekom. 1943 is veral beskou as die jaar waarin die eerste amptelike poging deur die NGK aangewend is om apartheid teologies te regverdig toe die FRK verklaar het: “Hierdie vergadering het kennis geneem van die toenemende agitasie vir kleur en rasseskeiding in ons land, maar ons wil daarop wys dat volgens die Bybel God in waarheid nasies so in aansyn roep ... met elk sy eie taal, geskiedenis, Bybel en kerk en dat die heil ook van die naturelle- stamme in ons land daarom moet gesoek word in geheiligde selfrespek en in Godgegewe nasietrots”.85

      

83 Ibid., pp. 80-81. 84 Lombard, pp. 80-81.

85 Nederduitse Gereformeerde Kerk: Algemene Sinode, Die verhaal van die Ned. Geref. Kerk se reis

met apartheid, 1960-1994, pp. 6-7; NG Kerk Argief en Bestuursinligtingsdienste (ABID), Bloemfon-

tein, Handelinge van die agtiende vergadering van die Raad van die Kerke gehou op Bloemfontein op

72 

Gedurende 1947 het ‘n verslag in verband met rasseverhoudinge voor die FRK gedien. Die verslag is deur prof. E.P. Groenewald opgestel. Dit word as die eerste ware ‘omvat- tende’ poging beskou om ‘n teologiese interpretasie van apartheid te lewer. Die verslag het bevind dat apartheid Bybels geregverdig kan word omdat die handhawing van aparte volke ‘n belangrike tema in die Bybel is. Apartheid het, volgens die verslag, implikasies vir elke aspek van menslike bestaan, terwyl ook aangevoer is dat ‘n ‘hoër Christelike eenheid’ wel tussen alle Christene bestaan. Die FRK en die Vrystaatse- en Natalse sinodes het die verslag aanvaar, maar die Transvaalse en Kaapse sinodes was aanvanklik huiwerig. Die Kaapse sinode het, alvorens die verslag aanvaar is, verklaar dat die Bybel apartheid nóg regverdig, nóg afkeur. In die Transvaal het dr. B.J. Marais die Bybelse reg- verdiging van apartheid bevraagteken, maar na afloop van twee dae van samesprekings deur die Algemene Sinode (AS) is die verslag wel deur die Transvaalse sinode aanvaar.86 Die teologiese en Bybelse regverdiging van apartheid het nooit ‘n proses behels waar- volgens rasseskeiding aanbeveel is omdat die blanke Afrikaners as ‘n uitverkore volk met ‘n spesiale ooreenkoms met God verkondig was nie. Waar dié oortuiging wél gedurende die 1940’s en dalk vroeër onder blanke Afrikaners posgevat het, is dit nooit amptelik so geformuleer nie. Die logiese gevolgtrekking wat in dié verband gemaak kan word, is dat sowel apartheidsdenke as die teologiese regverdiging van apartheid bewustelik of onbewustelik by blanke Afrikaners as gevolg van ekonomiese oorwegings ontstaan het. Die teologiese regverdiging van apartheid is nie ‘n natuurlike uitvloeisel van blanke Afrikaners se tradisionele geloofsoortuigings nie, en sou in die dekades wat volg die NGK in ‘n ernstige identiteitskrisis dompel. In hierdie verband kan ook gemeld word dat die NGK nêrens in amptelike dokumentasie blanke Afrikaners as ‘n etnies- meerwaardige groep mense geskets het nie, hoewel die Kerk dikwels die kuturele verskille tussen blank en nie-blank as die rede vir rasseskeiding voorgehou het.87 Alhoewel rassisme en ‘n gevoel van meerwaardigheid gebaseer op godsdienstige oortuiging gedurende die tyd dikwels onder blanke Afrikaners kop uitgesteek het,88 kan

      

86 Ibid.

87 Sien onder andere Verkuyl; De Gruchy, p. 71. Vergelyk ook J. Potgieter, Cottesloe: keerpunt in die

verhouding tussen die Nederduitse Gereformeerde kerk en ds. Beyers Naudé (M.Th.-verhandeling,

Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1991), pp. 30-32.

88 Sien byvoorbeeld J. Kinghorn, “Die groei van ‘n teologie – van sendingbeleid tot verskeidenheids-

73 

hierdie verskynsel nie as deurslaggewend by die ontstaan van ‘n apartheidsbeleid beskou word nie. Op grond van die uiteindelike verwerping van die NGK van teologies- gemotiveerde apartheid, asook die feit dat apartheid in isolasie deur die NGK teologies regverdig is, word hier volstaan dat die Christelike godsdiens nie die ware katalisator in die ontwikkeling van Suid-Afrika se apartheidsbeleid was nie. Die apartheidsbeleid het reeds bestaan vóórdat dit teologies geregverdig is. Voordat daar met ‘n kunsmatige proses begin is om apartheid skriftuurlik te motiveer, het die NGK boonop aanvanklik erken dat apartheid geen teologiese basis het nie. Die besluit van ‘n klein groepie blanke Afrikaner-elite dat die skeiding van rasse ‘n Bybelse opdrag is, is geensins verteenwoor- digend van Afrikaners in die geheel nie en dit is nog minder verteenwoordigend van die Christelike godsdiens.

Met die oorname in 1948 van die regering deur die NP onder dr. Malan is die apartheidsbeleid uitgevoer deur middel van wetgewing wat van apartheid uiteindelik ‘n unieke politieke ideologie sou maak. Die bevolkingsregistrasiewet van 1950, waar- volgens burgers op grond van ras geklassifiseer en gegroepeer is, is in die woorde van die minister van binnelandse sake gedurende dié tyd, T.E. Dönges, die ‘hoeksteen van apartheid’. Die Bantoe-onderwyswet van 1953 het onderwys en onderwysopleiding van swart Suid-Afrikaners die uitsluitlike reg van die staat gemaak, waar dit voorheen veral deur Britse sendelinge onderneem is. Aanpassings is gemaak aan wetgewing wat veral seksuele omgang tussen blank en nie-blank probeer verhoed het. Te midde van al die veranderinge wat in Suid-Afrika aan die gang was, het die land se ekonomie begin ontplof. Suid-Afrika se persentasie van groei ten opsigte van BBP gedurende die eerste tien jaar van apartheid, is slegs deur Japan oortref. Ekonomies was apartheid dus voordelig vir Suid-Afrika in die korttermyn en het hierdie ontwikkelinge tot groot voordele gelei vir die blanke Afrikaners.89

Kerkleiers het voortgegaan om die apartheidsbeleid te bestudeer. Die byeenkoms in April 1950 in Bloemfontein insake die ‘Naturellevraagstuk’ was ‘n poging om eenheid ten opsigte van die beleid van rasseskeiding in veral die drie Afrikaanse susterskerke te

      

89 Kuperus, p. 77; D.M. Scher, “The consolidation of the apartheid state” in Spies en Liebenberg (reds.),

74 

bewerkstellig. Die byeenkoms is deur die NGK gehou. Tydens die kongres het die onderwerp van die teologiese regverdiging van apartheid weer ter sprake gekom. Die kongresgangers het rassehaat as ‘n sonde bestempel en die onwenslikheid van permanente diskriminasie op grond van ras bespreek. Ten opsigte van die Bybel is bevind dat die beleid van rasseskeiding nêrens as ‘n Bybelse opdrag vir Christene voorgehou word nie, maar dat bewyse wel in die Bybel gevind kan word wat die teorie van apartheid steun. Soortgelyke gevolgtrekkings het ook die Transvaalse sinodesitting van 1951 oorheers.90 Dit is duidelik dat voorstanders van die teologiese regverdiging van apartheid ‘n baie los en vas benadering gevolg het. ‘n Deurlopende tema in die proses was die bestaan van verskillende volke wat as ‘n Godgegewe beskou is waaruit die afleiding gemaak is dat die bestaan, en gevolglik die handhawing, van aparte volke die wil van God verteenwoordig. Dit was egter reeds op hierdie vroeë stadium van die apartheidstaat se bestaan vir uiteenlopende teoloë duidelike dat ‘n woordelikse oproep tot apartheid nie in die Bybel bestaan nie.

Gedurende die 1950’s is daar veral twee Afrikaner-teoloë wat die Bybelse regverdiging van apartheid in twyfel getrek en selfs gekritiseer het. In 1952 het dr. Ben Marais, na wie reeds verwys is, ‘n boek met die titel Die kleurkwessie en die Weste gepubliseer. Sy boek het die teologiese regverdiging van apartheid verwerp en tot die gevolgtrekking gekom dat apartheid slegs deur middel van ‘praktiese gronde’ regverdig kan word. Volgens die teoloog Beyers Naudé, wat later van tyd wêreldwye erkenning geniet het vir sý rol in die stryd teen apartheid, het dr. Marais se boek ‘n ‘beroering’ in beide nie NGK sowel as die AB veroorsaak. Naudé lê ook klem op die indruk wat die boek op sy eie idees rakende Suid-Afrika se rassebeleid gehad het.91

Nóg ‘n belangrike kritikus van apartheid is die teoloog Bennie Keet. In 1956 publiseer Keet ‘n werk getiteld Suid-Afrika, waarheen? waarin hy apartheid as ‘n onmoontlike oplossing vir Suid-Afrika se rassevraagstuk skets. Die kwessie van trekarbeid is in die boek heftig gekritiseer, veral omdat dit volgens Keet die familiebande van swart Suid- Afrikaners vernietig het. Volgens Keet sou die enigste weg om die krisis op te los daarin

      

90 Van der Watt, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1905-1975, pp. 94-95; Lombard, pp. 94-95. 91 C.F.B. Naudé, My land van hoop. Die lewe van Beyers Naudé, pp. 38-39.

75 

lê dat uitgebreide en verteenwoordigende gesprekke tussen blank en nie-blank sou moes plaasvind om oor Suid-Afrika se komplekse rasseverhoudinge te besin. Ten spyte van beide hierdie twee teoloë se kritiek teen apartheid het die implementering daarvan egter volstoom voortgegaan.92

7. BINNELANDSE REAKSIE OP DIE APARTHEIDSBELEID: DIE