• No results found

Die Cottesloe-beraad het die saad van vertwyfeling en verdeeldheid gesaai, maar onder die leierskap van dr. Verwoerd het Afrikanernasionalisme ‘n bloeitydperk beleef. Dit is egter reeds in hierdie tydperk dat die ‘verligte’- en ‘verkrampte’-groeperinge onder blanke Afrikaners te voorskyn gekom het. Die behoefte het onder verskeie leiers posgevat om die rigiede apartheidsbeleid aan te pas. Onder dr. Verwoerd se leierskap is dié beleid egter nie verslap nie. Vir sommige blanke Afrikaners was die gebeure by Sharpeville en elders juis die motivering wat hulle benodig het om die apartheidsmodel te laat slaag, en ook te verfyn deur die ontwikkeling van tuislande. In 1966 was dr. Verwoerd die slagoffer van ‘n sluipmoord. Sy opvolger, B.J. Vorster, se verslapping van

      

109 Argief vir Eietydse Aangeleenthede (AREA), PV 632: Dr. Koot Vorster-versameling, Lêer 1/2/14/2:

81 

sekere apartheidswette het uiteindelik in 1969 tot die totstandkoming van die Herstigde Nasionale Party (HNP) gelei.110

Ten spyte van die skynbare eensgesindheid onder blanke Afrikaners wat gedurende dr. Verwoerd se bewind aan die orde van die dag was, was daar diep verdelings onder blanke Afrikaners. Die teoloog ds. Willie Jonker het in 1962 in ‘n boek oor die onderwerp van kerkeenheid ‘n opskudding in die kleine veroorsaak toe hy een kerkverband oor alle rasse heen bepleit het. Die publikasie het wel tot baie kritiek gelei, veral in die vorm van briewe aan die Kerkbode, maar verskeie teoloë het ook met ds. Jonker se mening gesimpatiseer. As gevolg van die gebeure is Jonker vroeg reeds as ‘n ‘liberalis’ gekritiseer, veral onder diegene wat nie die beginsel van een kerkverband vir alle rasse gesteun het nie.111

Die NGK het voortgegaan om die kwessie van rasseverhoudinge te bestudeer, maar het in hierdie stadium ‘n rigting ingeslaan wat die toenemende isolasie van Suid-Afrika en veral die blanke Afrikaners weerspieël het. Dr. Verwoerd het in 1960 in die parlement verklaar dat rassedominansie in Suid-Afrika moes verdwyn, omdat rassedominansie die politieke stabiliteit van Suid-Afrika ondermyn. Die NGK het hierdie sentimente ge-eggo. Die Kommissie vir Rasse en Ekumeniese Aangeleenthede wat deur die NGK in die lewe geroep is om die rassevraagstuk te bestudeer, het ‘n uitgebreide dokument aan die Algemene Sinode voorgelê. Die sinode, wat in 1966 vergader het, het uiteindelik opnuut bevind dat die apartheidsbeleid op teologiese oortuiging berus op grond van die verslag van die kommissie wat ‘n voorloper was tot die belangrike verslag wat in 1974 aanvaar was.112

Die sinode het in 1966 bevind dat alle mense, ongeag ras, taal, kultuur of herkoms, voor God gelyk is, maar dat die mensdom sedert antieke tye aan ‘n proses van differensiasie onderworpe is. Die bestaan van verskillende volke verteenwoordig, volgens dié teorie, die wil van die Skepper, en rasse-integrasie druis in teen die natuurlike ontwikkeling van

      

110 Kuperus, pp. 103-112. 111 Jonker, pp. 56-59.

112 P.J. Strauss, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland:

betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk (Ph.D.-proefskrif, Universiteit van Pretoria,

82 

die mensdom. Die sinode het verder bevind dat gemengde huwelike nie on-Bybels is nie, maar wel onwenslik, omdat ‘n huwelik tussen twee mense van soortgelyke kulturele agtergronde moet geskied. Die sinode het die verslag rondom die trekarbeidstelsel aanvaar, kompleet met al die negatiewe kritiek aangaande die stelsel se geneigdheid om families op te breek.113

Tydens die sitting van die AS in 1974 is die verslag van die NGK in verband met die Kerk se standpunte ten opsigte van rasseverhoudinge aanvaar en onder die titel Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif (RVN) gepubliseer. Die RVN- verslag is die resultaat van ‘n kommissie onder leiding van dr. Willem Landman, wat as ‘n ‘verligte’ in Afrikanergeledere bekend was. Die verslag is in verskeie Europese tale gepubliseer en is deur die Switserse Federasie van Protestantse Kerke en die Gereformeerde Kerk bestudeer. In hulle reaksie is die NGK van Suid-Afrika gekritiseer omdat dit deur middel van verwarring probeer om die apartheidsbeleid te verdedig.114 Die verslag was ‘n oorwinning vir uiteenlopende Afrikanernasionaliste in die NGK. ‘n Kenmerk van die verslag, is dat daar nie een enkele voorbeeld van blatante rassisme in die verslag gevind kon word nie. Die naaste wat die verslag aan ‘n anti-blank- rasgemotiveerde stelling kom, is by die afkeurende houding wat die Kerk teenoor gemengde huwelike inneem, omdat dit as ‘onwenslik’ beskryf is. In die verslag word die stelling gemaak dat dit nie die rol van die kerk is om die staat voor te skryf nie. Ten spyte hiervan maak die verslag tog aanbevelings teenoor die regering. Die verslag het byvoorbeeld die regering versoek om die ontwikkeling van tuislande te versnel, omdat dit moontlik sou lei tot die beëindiging van die trekarbeidstelsel.115 Dit was egter duidelik vir verskeie waarnemers en politieke ontleders dat die tuislandstelsel besig was om te misluk.

      

113 Die volledige verslag was nie onafhanklik gepubliseer nie maar is beskikbaar vir die publiek. NG

Kerk Argief en Bestuursinligtingsdienste (ABID), Bloemfontein, Handelinge van die tweede ver-

gadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gehou in Bloemfontein op Donderdag, 13 Oktober en volgende dae, 1966, pp. 86-120.

114 J.A. Loubser, The apartheid Bible. A critical review of racial theology in South Africa, pp. 89-91. 115 Ibid., pp. 92-100.

83 

Binne die konteks waarin RVN ontstaan het, is dit ongetwyfeld ‘n verwarrende dokument. Die dokument verklaar byvoorbeeld dat die NGK moet “waarsku wanneer onreg geskied in die implementering van landsbeleid en in die toepassing van landswette. In hierdie optrede moet die kerk sowel durf as diskresie beoefen”.116 Presies wat onder ‘diskresie’ bedoel word, is nie verder gespesifiseer nie. RVN is ‘n verslag wat baie versigtig geformuleer was. Dit het ruimte gelaat vir ‘n breë interpretasie. Dit het tekens van die groeiende druk op die NGK getoon, maar terselfdertyd nie van die NGK se bestaande beleid afgewyk nie.

Die NGK se legimitimiteit het veral gedurende die laat 1970’s ‘n knou gekry toe dit aan die lig gekom het dat die NGK by die Inligtingskandaal betrokke was. Die NGK was betrokke by die proses waarvolgens die staat gepoog het om Suid-Afrika se beeld in die buiteland te verbeter. Die proses het in 1974 begin toe die Departement van Inligting fondse aan die NGK beskikbaar gestel het om dié doel te bereik. Die feit dat die NGK geldelik deur die owerhede gesteun is, was slegs aan ‘n klein getal leiers in die Kerk bekend. Die onthulling van dié verwantskap tussen die NGK en die regering van die dag het die beeld van die kerk baie skade berokken en die samewerking tussen die NGK en die apartheidsregering kon geensins meer ontken word nie.117

Die betrokkenheid van die NGK by die Inligtingskandaal het in 1978 op die lappe gekom toe die skandaal self onthul is. Alhoewel die NGK nie direkte opdragte van die Departement van Inligting ontvang het nie, was die NGK betrokke by algemene pogings om die negatiewe internasionale propaganda teen Suid-Afrika van veral die WRK teen te werk. Dit is gedoen deur die beleidsrigtings van die NGK, soos vervat in RVN te propageer. Die NGK het dus as ‘n teologiese teenvoeter gedien teen veral die kritiek teen die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid. Die NGK het dus daardeur ‘n rol gespeel in die pogings om die toepassing van die beleid te vergemaklik.118

      

116 Nederduitse Gereformeerde Kerk: Algemene Sinode, Ras, Volk en Nasie en Volkeverhoudinge in die

lig van die Skrif, p. 70.

117 Giliomee, Die Afrikaners ..., p. 575; Van der Watt, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1905-1975,

pp. 212-227; Nederduitse Gereformeerde Kerk: Algemene Sinode, Die verhaal van ..., pp. 26-27.

84 

Die 1976-onluste in Soweto het ook ‘n keerpunt in Suid-Afrika ingelui. Dit het duidelik geword dat die apartheidsideaal, veral soos dit aanvanklik deur dr. Verwoerd ontwikkel is, besig was om in Suid-Afrika te misluk. Ten spyte van die feit dat die regering tot ‘n groot mate daarin kon slaag om die ANC, PAC en ander verwante organisasies te onderdruk, het die toepassing van apartheid toenemend ‘n uitdagende taak geword. Plaaslik asook internasionaal het Suid-Afrika onder toenemende druk verkeer. Die ANC, wat in die stadium reeds buitelands georganiseer was, het die moontlikhede van ‘n gewapende stryd bestudeer en ekonomies was Suid-Afrika op ‘n afdraende pad. Met die uiteindelike bewindsoorname van P.W. Botha in 1978 was Suid-Afrika gereed vir veranderinge, maar die veranderinge sou steeds ‘n pynvolle proses wees. Die transformasie van die apartheidsbeleid sou tot bittere onenigheid en lewensverlies lei in die dekade wat sou volg. Die veranderinge in Suid-Afrika ten opsigte van die apartheidsbeleid sou ook ‘n pynlike koersverandering vir die NGK in hierdie tyd behels. Die NGK wat die apartheidsbeleid ondersteun het, moes uiteindelik die stelsel tot groot verleentheid van sowel die leierskap van die NGK as die lidmate kritiseer.