• No results found

METATEORETIESE PERSPEKTIEWE MET BETREKKING TOT DIE ROL VAN GEBED IN DIE TERAPEUTIESE PROSES

4.3 DIE MENS AS HOLISTIESE WESE

Alhoewel die sielkundige literatuur gedurende die twintigste eeu dikwels 'n vyandigheid getoon het teenoor teologie en in besonder met betrekking tot pastorale hulpverlening, het mediese denke random geestesafwykings vroeer 'n baie meer genuanseerde benadering met betrekking tot teologie en spiritualiteit gehad (Thielman, 1998:3, Poloma, 2006:59). Dit hou waarskynlik verband met die feit dat mediese hulpverlening sedert die vroegste tye redelik sterk gekoppel was aan die godsdiens. In talle van die primitiewe kulture was priester en medisyneman in een persoon verenig. In die Ou en Nuwe Testament is daar 'n groot oorvleueling tussen mediese en godsdienstige hulpverlening. Die aardse bediening van Jesus Christus is 'n voorbeeld van die oorspronklike eenheid tussen 'heil' en 'heling'. Deur elke genesingsdaad van Jesus Christus is genesing, sowel as verlossing konkreet gedemonstreer. Gevolglik is beide hierdie aspekte in Horn as Persoon verenig (Coetzer, 2003:21). Vir die afgelope vier eeue is heil en heling egter van mekaar geskei, met die gevolg dat heling (genesing) uiteindelik toegeskryf is aan die mediese wetenskap en heil (verlossing) aan die kerk (teologie). Die resultaat was 'n geweldige ontploffing in die wetenskaplike ontwikkeling, maar met steeds groter getalle siek mense. Omdat hierdie twee wetenskappe in verskillende rigtings ontwikkel het, was die mens nie langer beskou as 'n eenheid nie. In 1215 het Pous Innocentius III alle chirurgiese aktiwiteit veroordeel en het hy ook verbied dat enige priester daarby betrokke mag wees. Die gevolg was dat alle chirurgiese aktiwiteite vanuit die kloosters uitgeskuif is. Optredes soos hierdie het verder bygedra tot die groeiende verwydering tussen kerk of godsdiens en alle mediese aktiwiteite (Coetzer, 2003:22).

Net soos in die geval met die mediese wetenskap, was die Christene ook aktief betrokke by die Sielkunde. Gedurende die Middeleeue was die kerklui die primere versorgers van verstandelik versteurdes. Christene het gedurende die 12e eeu in Belgie die Gemeenskap van Geel gevorm, waar verstandelik gestremdes versorg is deur gebed, handoplegging en liefde. Dit was Teresa van Avila, 'n Spaanse non, wat die begrip mental illness gemunt het en die Kwaker, William Tuke, was verantwoordelik vir die oprigting van 'n belangrike versorgingsentrum vir verstandelik gestremdes in Engeland. Ook op hierdie vlak het daar egter ook mettertyd 'n skeiding ontstaan. Coetzer (2003:22) verduidelik dat Heinroth (1773-1843) 'n belangrike bydrae gelewer het tot die moderne Sielkunde. Hy was die eerste psigiater wat die term 'psigosomaties' gebruik het. Na aanleiding van Romeine 7 het hy die mens in drie dele verdeel, naamlik die gewete (superego), die ego (denke, emosies en wil) en die vlees (basiese dryfkragte, insluitende die sondige menslike natuur). Freud het 'n 100 jaar later met die ontwikkeling van sy sielkundige teorie basies Heinroth se indeling gedupliseer met sy onderskeiding van die superego (gewete), die ego (denke, emosies en wil) en die id (vlees - sondige menslike natuur). Heinroth en Freud het beide die stryd tussen die menslike gewete en sy selfsugtige dryfkragte en impulse beskryf, maar hulle oplossings het verskil.

Freud was van mening dat:

• die ego (wil) 'n onbewustelike slaaf van die id (basiese dryfkragte) is; • die oplossing daarin le om hierdie feit te aanvaar;

• die mens moet 'n pragmatiese lewe leef, waarin hy die gewete bloot dood leef, anders kan skuldgevoelens aanleiding tot geestesiektes gee.

Hierteenoor was Heinroth van mening dat:

• die ego 'n slaaf is van die vlees/id (volgens Rom 7);

• oorwinning slegs behaal kan word deur die krag van die Heilige Gees in die lewe van die wedergebore mens (volgens Rom 8).

Alhoewel hierdie duplisering plaasgevind het, word Heinroth se teorie verwerp en word Freud beskou as die vader van die sielkunde. Meier et al (2000:36) som dit mooi op:

"Since his discoveries preceded Freud's by a hundred years, Heinroth could be considered the father of psychiatry, as well as the father of Christian psychiatry. But because most modern psychiatrists consider

Heinroth's solutions (faith in Christ and yielding to the Spirit) ridiculous, Freud is considered the father of psychiatry. "

Ontwikkelinge soos hierdie op die mediese, sielkundige en godsdienstige terreine het daartoe bygedra dat die mens al meer verdeeld geraak het tussen die verskillende wetenskaplike dissiplines en dit het aanleiding gegee tot groeiende ontevredenheid. Elke wetenskap het al meer gefokus op sy eie terrein en sodoende het 'n holistiese benadering in 'n groot mate verlore gegaan (MacNutt, 1999:29). Tydens die afgelope paar dekades het daar egter 'n klemverskuiwing begin plaasvind en het die fokus al meer begin skuif na die mens in sy totaliteit en nie slegs sekere dele van hierdie mens nie, hetsy geestelik, liggaamlik of emosioneel. Gevolglik het talle pleidooie opgegaan ten gunste van 'n benadering waar die medikus byvoorbeeld nie 'n diagnose sou maak, alvorens hy eers 'n omvattende analise gemaak het van die pasient se totale geskiedenis (Coetzer, 2003:23). Navorsers het meer en meer tot die oortuiging gekom dat in talle gevalle siekte eintlik te doen het met verskillende faktore wat verband hou met die mens se menslikheid, sy geskiedenis en sy verhouding met ander mense. In dieselfde verband kan daar ook verwys word na die toenemende fokus die afgelope aantal jare op psigosomatiese siektes. Die vertrekpunt is dat daar 'n verband bestaan tussen fisiese simptome enersyds en psigiese en emosionele oorsake andersyds. Liggaam en gees vorm 'n onlosmaaklike eenheid en daarom het dit wat gebeur op die psigiese en emosionele area van die mens se lewe, 'n invloed op die fisiese dimensie van die mens; die teenoorgestelde is ook van toepassing. Gevolglik is 'n holistiese benadering sekerlik die beste oplossing, waar klem geplaas word op elke aspek van hierdie individu (Coetzer, 2003:23; Colbert, 2003:6).

As gevolg van die onderlinge verdeeldheid, was daar byvoorbeeld aanvanklik ook geen verwysing na enige teologiese aspekte in die Diagnostic and Statistical Manual of the American

Psychiatric Assosiation (DSM) nie. Ten spyte van baie kritiek, is daar in die glossarium van

DSM-III-R (1987:433-490) verskeie verwysings na teologiese temas bygevoeg. Die DSM-IV-TR (2000:741) bevat verder 'n diagnostiese kode (Kode: V62.89) wat teologiese aspekte omsluit, naamlik Religious or Spiritual Problems. Hieronder ressorteer probleme rondom geestelike ongemak wat ervaar word ten tye van bekering, die ervaring van verlies aan geloof, asook vrae rondom geestelike waardes (Thielman, 1998:18).