• No results found

PRAKTYKTEORETIESE PERSPEKTIEWE TEN OPSIGTE VAN DIE ROL VAN GEBED IN DIE PROSES VAN INNERLIKE

6.4 RIGLYNE TEN OPSIGTE VAN GEBEDSTERAPIE

6.4.2 Die terapeutiese gesprek

6.4.2.1 Die aanvanklike ontmoeting

Wanneer 'n beradene vir berading aanmeld, het hy nie altyd helderheid en duidelikheid oor wat sy probleme eintlik behels nie. Die eerste taak van die berader is dus om die beradene te begelei tot die identifisering van sy probleme, waarna hy verantwoordelikheid daarvoor moet neem. Hy moet ook duidelikheid kry oor die aard en omvang van sy probleme en watter aanpassings gemaak moet word vir verandering. Verder is die beradene gewoonlik ook senuweeagtig rondom die onbekendheid en

onsekerheid van wat om te verwag. Die berader moet die beradene altyd eers op sy gemak stel deur aanvanklik eers oor algemene sake te gesels. Die beradene moet die berader leer ken en vertrou. Wanneer die beradene meer gemaklik voel, kan daar aanbeweeg word na die terapeutiese gesprek. Tydens die terapeutiese gesprek moet die berader ingestel wees op alle moontlike inligting wat bevorderlik kan wees vir die helingsproses. Om dit te kan bewerkstellig, moet hy 'n aktiewe, ondersteunende en plooibare terapeutiese houding inneem. Die berader mag nie koud en klinies voorkom nie, maar moet aanvaarding, liefde en ondersteuning vir die beradene bied (vgl. 3.4). Jesus Christus het die mense altyd na Horn toe aangetrek, juis as gevolg van Sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. In hierdie sin moet die berader se houding deurgaans een wees van ondersteuning, empatie en rigtingaanwysend en nie een van kritiese voorskrywing nie. Hy moet konsekwent, empaties en konsidererend te werk gaan - sodoende word duidelike grense gestel en beleef die beradene 'n gevoel van vastigheid.

Die berader moet ook 'n sterk terapeutiese alliansie bewerkstellig en handhaaf en moet die beradene tydens die terapie gedurig herinner aan sy rol en verantwoordelikheid. Wanneer die beradene aktief deelneem aan die terapeutiese proses, is dit vir hom makliker om eienaarskap vir sy eie genesing te neem (vgl. 3.4.1). Die uitdaging vir die berader le daarin dat hy die beradene moet begelei om verantwoordelikhede te aanvaar. Die berader moet 'n klimaat van veiligheid skep en teen 'n bestendige pas beweeg. Hy moet die beradene ontmoet op die vlak waar hy is en met geduld die pas handhaaf waarmee die beradene gemaklik is.

Die berader moet 'n lewende voorbeeld van Jesus Christus se liefde, deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, vir die beradene wees (vgl. 3.5.3). Die emosioneel en geestelik verwonde persoon beleef oor die algemeen 'n gebrek aan liefde en daarom heel dikwels ook ontnugtering. Die berader moet gevolglik deur sy demonstrerende liefde, die beradene weer help om in die goeie te kan glo. Dit is verder ook noodsaaklik dat die berader aan die beradene die Bybelgebaseerde vertrekpunte van sy hulpverlening sal verduidelik (vgl. 6.3). Hy moet ook seker maak of die beradene alreeds in 'n verbondsverhouding met God staan. Hierdie verbondsverhouding impliseer 'n nuutwording betreffende alle dimensies van die beradene se lewe, naamlik gees, siel en liggaam (vgl. 3.4.1). Die berader moet aan die beradene verduidelik dat alhoewel hy tot bekering kon gekom het, sy sielsdimensie (emosies, verstand en wil) nog voortdurend

onder die aanslag verkeer van die ou sondige natuur en dat daar voortdurend vernuwing moet plaasvind. Hierdie vernuwing en verandering beteken dan eerstens 'n erkenning dat die mens nie uit eie krag kan verander nie, tweedens 'n besef dat hy horn totaal aan God moet onderwerp en derdens, 'n keuse om Jesus Christus toe te laat om horn met volkome genesing te bedien.

Die inwin van agtergrondkennis rondom die beradene

Dit is oor die algemeen sinvol om die terapeutiese gesprek te begin deur uit te vra na die simptome ten opsigte waarvan die persoon vir terapie aangemeld het (vgl. 3.6.1.1).

In hierdie proses kan die berader gebruik maak van:

• Diagnostiese vraelyste (vgl. 5.2.2.2)

Die berader kan vooraf 'n vraelys opstel wat hy gebruik tydens die terapeutiese gesprek. Hy moet die vraelys stelselmatig saam met die beradene deurwerk en aantekeninge maak van die antwoorde. Die vraelys in Bylaag C dien as 'n voorbeeld hiervoor. Wanneer die berader die vraelys tydens die gesprekvoering deurwerk, moet hy sensitief wees vir die nie-verbale kommunikasie aan die kant van die beradene, sowel as vir enige emosionele belewenisse. Hy moet ook sensitief wees vir die inspraak van die Heilige Gees.

• Diagnostiese onderhoudvoering (vgl. 5.2.2.1)

Afgesien van bogenoemde gebruikmaking van 'n vraelys as riglyn tydens die onderhoud, het die berader ook verskeie ander opsies rondom die gesprekvoering. Die berader kan die gesprek begin deur bloot aan die beradene te vra om sy storie aan horn te vertel. In hierdie verband het MacNutt (1999:149) voorgestel dat die berader die beradene moet uitvra oor die ontstaan van die simptome en of hy enige idee het wat aanleiding tot die pyn kon gee (vgl. 3.6.1.1). Die luistervaardighede aan die kant van die berader moet goed ontwikkel wees en die berader moet homself instel om met sy ore, oe en hart te luister.

Die terapeutiese gesprek is 'n proses waardeur die beradene verligting van emosionele spanning, skuldgevoelens en emosionele pyn verkry deur oor die aanleidende omstandighede te praat. Die doel is gevolglik om onderdrukte pynlike emosies, skuldgevoelens oor sonde, asook die leuen agter die pyn vanuit die onderbewuste of selfs onbewuste na die oppervlak te bring, sodat Jesus Christus self heling en genesing kan bewerkstellig.