• No results found

EVALUERING VAN DIE RESULTATE VAN 'N EMPIRIESE ONDERSOEK

5.2.2 Data-insameling

Tydens die kwalitatiewe studie kan data op minstens vier maniere ingesamel word, naamlik:

• Deelnemende observasie (Strydom, 2005:274-285). • Onderhoudvoering (Greeff, 2005:286-313).

• Dokumente studie (Strydom & Delport, 2005:314-319). • Sekondere analise (Strydom & Delport, 2005:319-326).

Vir hierdie studie is gebruik gemaak van onderhoudvoering deur 'n voorafopgestelde vraelys as riglyn.

5.2.2.1 Onderhoudvoering

Onderhoudvoering is die dominantste manier van data-insameling (Greeff, 2005:287; Botha, 2004:157; Mitchell, 2006:104; Silverman, 2001:13). Die kwaliteit van die onderhoud word hoofsaaklik bepaal deur die navorser se vaardighede om die onderhoud te voer. By gebrek aan die nodige vaardigheid, mag die navorser van 'n spesialis gebruik maak. Greeff (2005:288) bespreek 'n wye spektrum van tegnieke, waarvan die volgende die prominentste blyk te wees:

• Die deelnemer moet 90% van die praatwerk doen om sy storie te vertel. Die onderhoud is nie 'n dialoog nie en die navorser moet daarteen waak om die deelnemer te veel te onderbreek.

• Duidelike, oop vrae moet gevra word. Leidende vrae moet vermy word.

• Die onderhoud moet begin word met meer algemene vrae, waarna aanbeweeg word na meer direkte vrae - sodoende word die onderhoud se fokus vernou.

• Die navorser moet hom nie te veel bekommer daaroor as dit voel asof sy vrae lomp oorkom nie, aangesien dit soms help om die deelnemer op sy gemak te stel.

• Die navorser kan sleutelvrae gedurende die duur van die onderhoud herhaal.

• Die navorser moet openheid bevorder, maar deurgaans beheer oor die onderhoud behou.

• Die navorser moet deurgaans die effek monitor wat die onderhoud op die deelnemer het.

• Die navorser moet notas maak gedurende die onderhoud en kan selfs van band- en/of video-opnames gebruik maak.

Onderhoudvoering kan plaasvind deur een-tot-een onderhoude, asook deur groepsessies (Greeff, 2005:292; Steyn, 2005:127; Silverman, 2001:92). Een-tot-een onderhoudvoering word onderverdeel in ongestruktureerde- en semi-gestruktureerde onderhoude. Dit kan soos volg beskryf word:

• Ongestruktureerd: Onderhoudvoering vind met 'n bepaalde doel plaas. Die doel is nie om antwoorde op vrae te verkry of om hipoteses te toets nie, maar om die deelnemers se ervaringe te probeer verstaan en hulle reaksies daarop waar te neem. Die onderhoud is gefokus en logies van aard. Die klem val op persepsies, opinies, feite, veronderstellings en reaksies. Dit mag voorkom asof objektiewe data ontbreek, maar die klem is juis op die verstaan van die deelnemer se reaksies. Die onderhoud is eerder data-genererend as data-insamelend. Die navorser neem aktief deel aan die proses, want hy wil die deelnemer probeer verstaan. Die uitdaging le daarin om 'n balans te kan handhaaf tussen die buigsaamheid en koersvastheid tydens die versameling van die data (Greeff, 2005:293-295).

• Semi-gestruktureerd: Hierdie tipe onderhoud is net soos die ongestruktureerde

onderhoud, maar baie meer buigsaam. Dit word gebruik in gevalle waar die navorser 'n besondere belangstelling het in 'n bepaalde tema en/of waar die tema persoonlik van aard is. Die navorser maak ook gebruik van 'n voorafopgestelde vraelys as riglyn. Hierdie tipe onderhoude kan 'n langer tydsduur as die ongestruktureerde onderhoud he, wat beteken dat dit kan toeneem in intensiteit. Die deelnemer moet op sy gemak gestel word en daar moet 'n vertrouensband wees tussen die navorser en die deelnemers. Die navorser fasiliteer en begelei die deelnemers tydens die onderhoud, terwyl hulle saam deur die vraelys werk. Die vraelys dien egter net as 'n riglyn en die onderhoud is baie buigsaam en meer persoonlik (Greeff, 2005:296-298).

• Groepsessies: Die navorser kies 'n aantal deelnemers om aan die groepsessie deel te neem op grond van hul ooreenstemmende belangstelling en faktore. Die deelnemers word aangemoedig om persepsies, idees, wense, ensovoorts te deel betreffende die tema. Die navorser fasiliteer die groepbespreking. Die groepsessie is 'n deeglike voorafbeplande bespreking van 'n bepaalde tema, waar die deelnemers op 'n nie-bedreigende manier toegelaat word om hul standpunte te lig (Greeff, 2005:299-313; Steyn, 2005:127).

In hierdie studie het navorser besluit om data in te samel deur middel van semi-gestruktueerde onderhoudvoering wat die vorm van beradingsessies aangeneem het. Daar is op hierdie manier besluit, omrede die onderhoud eerstens baie meer buigsaam is en tweedens, omrede die tema baie persoonlik van aard is. As riglyn het navorser gebruik gemaak van 'n voorafopgestelde vraelys.

5.2.2.2 Oogmerke en samestelling van die vraelys

Tydens die ongestruktureerde-, semi-gestruktureerde onderhoude en groepsessies moet die navorser gebruik maak van 'n voorafbeplande vraelys. Die vraelys staan ook bekend as die onderhoudskedule/riglyn. Met die opstel van die vraelys moet die navorser die noodsaaklike aspekte probeer antisipeer wat gedek moet word in die onderhoud (Babbie, 1998:254).

In hierdie verband kan die volgende vrae gevra word:

• Wat is die mees logiese benadering tot die situasie? • Wat is die mees sensitiewe area wat gedek moet word?

Die navorser werk dus volgens 'n sekere formaat en proses. Die vrae moet van algemeen tot meer kompleks gerangskik word, terwyl die vraelys so kort as moontlik gehou moet word. Daar moet van neutrale oop vrae gebruik gemaak word, terwyl vrae wat die gevoel van veroordeling by die deelnemer kan laat ontstaan, vermy moet word.

Greeff (2005:293), Steyn (2005:125) en Babbie (1998:153-157) onderskei tussen drie tipes vrae wat gevra kan word, naamlik:

• Algemene vrae om die onderhoud mee te begin.

• Wanneer diepte in die onderhoud ontbreek, kan die navorser meer spesifieke vrae vra. • Opvolg vrae, sodat die navorser meer insig in 'n situasie kan verkry.

Volgens Steyn (2007) en Steyn (2005:124) moet die volgende algemene aspekte met die opstel van die vraelys in ag geneem word:

• Eerstens moet daar bepaal word of die vraelys tydens 'n onderhoud gebruik gaan word en of dit 'n posvraelys is.

• 'n Kort sinvolle titel moet vir die vraelys gebruik word.

• Duidelike instruksies met voorbeelde moet gegee word in gevalle van posvraelyste. • Die vrae moet georden word vanaf maklike, nie-sensitiewe vrae tot meer spesifieke vrae. • Die taalgebruik moet eenvoudig en direk wees.

• Die navorser moet dubbelsinnige, leidende, vae en voorveronderstelde vrae vermy en terme definieer.

• Daar moenie twee vrae in een vraag vervat word nie.

• Die deelnemers moet aan die einde van die vraelys bedank word vir hul samewerking

Die vraelyste wat in hierdie studie gebruik is, is aangeheg as Bylae C en D. Met die opstel van die vraelyste het navorser besluit dat dit as riglyn vir die onderhoudsessie moet dien. In hierdie lig is die vrae gevolglik dan georden vanaf nie-spesifieke vrae tot meer spesifieke vrae, sodat die onderhoud in intensiteit kan toeneem. Navorser het dubbelsinnige, leidende, vae en voorveronderstelde vrae vermy.