• No results found

2.5 Die filmiese ontleding

2.5.3 Analise van die televisie-jeugreeks

2.5.3.2 Beeld-elemente (tegniese hulpmiddels)

2.5.3.2.6 Ander aspekte

Ander aspekte soos die kostumering, grimering, stelontwerp, dekor en rekwisiete dra alles verder by tot die uiteindelike televisiereeks as eindproduk en help die kyker weereens om die televisiereeks te kan beskryf en te beoordeel (Van der Westhuizen, s.a.).

Die kostumering en grimering van 'n karakter word bepaal deur die verhaal wat uitgebeeld word, die karakter se rol in hierdie verhaal, asook spesifieke karaktereienskappe. Dit gee die kyker ook spesifieke inligting oor die karakter, soos beroep, persoonlike smaak, finansiele omstandighede, sosiale stand en emosionele toestand. Die kostumering en grimering verander ook dikwels soos die verhaal ontwikkel.

Die stelontwerp van 'n televisiereeks sal bepaal word deur die reeks self, dit wil se waaroor die reeks handel. Die hooffunksie van die stelontwerp is om 'n spesifieke omgewing te skep waarbinne 'n verhaal kan afspeel (Bordwell & Thompson, 1993:148-149). Volgens Zettl (1984:420-421) moet die ontwerp van die stel voorsiening maak vir optimale kamerabeweging, kamerahoeke, die posisie van mikrofone, beligting asook genoeg beweegruimte vir die akteurs. Dit is ook belangrik dat die stel genoeg detail het om realisties te vertoon, maar terselfdertyd ook eenvoudig genoeg is om nie beknop te lyk nie, omdat die kamera van naby- en langskote gebruik maak om die aksie op die stel af te neem. Die kamera-oog kyk na die stel, nie die toeskouers nie; daarom is dit nie noodsaaklik dat die ruimtes wat uitgebeeld word, kontinu hoef te wees nie. Die voordeur van 'n huis kan byvoorbeeld aan die een kant van die stel wees en die ingangsportaal en gang aan die ander kant. Die posisies van hierdie dele van die uiteindelike ruimte wat voorgestel moet word, word bepaal deur die skootvolgorde en die posisie van die kamera soos deur die regisseur vereis.

Dekor is dit wat die stel van 'n televisiereeks eie aan die spesifieke reeks maak. Die dekor

help dus om die omgewing wat deur die stelontwerp geskep is, in te vul met spesifieke detail wat deel is van die verhaal wat uitgebeeld word byvoorbeeld skilderye, lampe, potplante en boekrakke met boeke wat gewys kan word in nabyskote. Dit bepaal ook die styl en karakter van die stel (Zettl, 1984:426; Bordwell & Thompson, 1993:148-149).

Rekwisiete is die items wat deur die akteurs hanteer word gedurende die tonele. Dit sluit

byvoorbeeld in: eetgerei, breekgoed, kruideniersware, penne, potlode, papiere en 'n telefoon. Dit is belangrik om werklike objekte vir rekwisiete te gebruik. Televisie is afhanklik van menslike aksie en dit word deur die rekwisiete beklemtoon. Die rekwisiete is werklik op die stel vir die akteurs om te gebruik; hulle plasing en teenwoordigheid is nie net toevallig nie. (Zettl, 1984:426-427; Bordwell & Thompson, 1993:149-150.)

2.5.3.3 Redigering

Thompson (1998:40-48) onderskei ses redigeringselemente. Die redigering van h film of TV- reeks sal bepaal word deur die hoeveelheid elemente wat gebruik word, asook die manier waarop dit gebruik word. Die elemente is en behels die volgende:

• Motivering kan visueel of ouditief wees, bv. 'n gebaar wat deur 'n akteur gemaak word of 'n klop aan 'n deur. Dit kan ook 'n kombinasie van die visuele en ouditiewe wees. • Inligting word beskou as visuele informasie. Elke nuwe skoot beteken nuwe inligting

vir die kyker. Hoe meer visuele inligting die kyker het en verstaan, hoe meer ingelig en betrokke raak hy.

• Komposisie. Dit is deel van die redigeerder se taak om 'n redelike komposisie te verseker. Die gehalte van die kamerawerk het 'n groot invloed hierop. (Vergelyk 2.5.3.2.1 vir die verskillende skote wat gebruik kan word.)

• Klank word beskou as meer abstrak. Dit kan gebruik word om atmosfeer te skep, spanning op te bou, asook vir vele ander emosies. Die klank kan die kyker voorberei op 'n verandering van toneel of plek.

• Kamerahoeke is een van die belangrikste elemente van die redigeringsproses. Dit is belangrik om verskillende kamerahoeke te gebruik wanneer daar van een skoot na 'n ander gesny word of skote gemeng word.

• Kontinu'i'teit het betrekking op die inhoud, beweging, posisie en klank van elke nuwe kamerahoek. Dit is belangrik dat 'n akteur of aanbieder enige beweging of aksie presies dieselfde uitvoer met elke nuwe kamerahoek wat gebruik word vir 'n

spesifieke skoot. Dit is ook belangrik dat die klank en die inhoud van elke skoot kontinu is.

Die redigeerder se taak is om die materiaal wat tydens produksie geskiet is, te kies en in 'n betekenisvolle geheel te vermeng. Skote word verbind om tonele te vorm, wat op hulle beurt weer sekwense vorm. Die beeldtekens neem so volledig vorm aan. Gouws en Snyman (1995:37) meld dat regie die sintaksis van die film genoem word.

Die verskillende redigeringstegnieke, naamlik die sny, die kruismeng, die doof en die veeg, kan 'n sekere effek op die kyker he. Dit kan byvoorbeeld emosie uitlok, iets impliseer, tyd verleng of verkort. Die tegnieke word vervolgens bespreek aan die hand van Gouws en Snyman (1995:37-41), Thompson (1998:50-55) en Zettl (1984:330-333; 1999:255-262).

Die sny ("cut") is 'n oombliklike verandering van die een beeld na 'n ander. Die sny self is nie

sigbaar nie. Al wat die kyker sien, is die toneel voor en na die sny. Daar word enkele redes gegee om die sny te gebruik:

• Kontinue aksie van die een skoot na 'n ander.

• Die opeenvolging van objekte of gebeure te volg of te vestig. • Om meer besonderhede bekend te maak.

• Om die impak van 'n skoot te verander. • Om die perspektief te verander of te verplaas.

Snye wat vinnig op mekaar volg, wek 'n gevoel van spanning. Snye wat stadiger op mekaar volg, skep 'n gevoel van rustigheid.

Die kruismeng ("dissolve") is 'n geleidelike oorgang van een skoot na 'n volgende. Die twee

skote oorkruis mekaar tydelik en geleidelik op 'n sekere punt. Die eerste skoot is aan die begin van die kruismeng op die voorgrond en die tweede skoot op die agtergrond. Namate die meng voortgaan, skuif die tweede skoot op die voorgrond en die eerste skoot op die agtergrond, sodat daar tydelike verwarring oor die eintlike agtergrond van die skoot bestaan. Die hooffunksies van die kruismeng is om 'n vloeiende oorgang in gebeure te bewerkstellig, om 'n verandering in tyd aan te toon en ook om 'n baie sterk verband tussen twee tonele te le.

Die doof ("fade") word gebruik om tonele geleidelik te laat uitdoof/oorgaan na donker of die

toneel geleidelik van donkerte af op die skerm te bring (indoof). Dit is 'n definitiewe begin of einde van 'n sekwens of toneel, soos 'n teater se gordyn wat sak en weer opgaan. Die doof

kan ook tydsverloop aandui, wanneer h toneel uitdoof en dieselfde toneel weer ingedoof word.

By die veeg ("wipe) skuif een beeld 'n ander beeld van die skerm af. Soos by doof dui die veeg die einde van 'n toneel en die begin van 'n ander aan. Dit stop nie die gebeure nie, maar laat dit net vinniger verander na die volgende. Die veeg neem die kyker dus van een plek of tyd na 'n ander, of meer dikwels van een gebeurtenis na 'n heeltemal ander gebeurtenis.