• No results found

HOOFSTUK 5: NORMATIEWE TAAK: PERSPEKTIEWE RAKENDE

5.9 OUDERDOM

5.9.2 Winste in die ouderdom

Die realiteit van veroudering, sonde, siekte, ellende en die uiteindelike dood kan nie geïgnoreer word nie, maar in Christus kan daaroor getriomfeer word. Die tragedie van veroudering word verplaas deur die triomf van ʼn geesvervulde lewe en ʼn toekomsgerigte hoop op ʼn uiteindelik perfekte toekoms van geluk en saligheid in die ewige lewe (Adams, 1999:2,15-16). Die ongelowige vrees die dood, maar Jesus Christus het deur sy dood en opstanding die een wat mag oor die dood het, vernietig sodat Hy almal kon bevry wat slawe van die dood was (Heb 2:14- 15). Deur Jesus Christus se genadevolle werk het Hy die angel uit die dood verwyder en is die dood verswelg in oorwinning. Hoewel die dood ʼn realiteit is, is Christus die bron van gelowiges se geestelike lewe en waarborg Hy dat hul sterflike liggame met die onsterflike beklee sal word, sodat hulle met ʼn eskatologiese ewigheidsverwagting kan lewe (Prime, 2005:137-138; vgl. 1 Kor 15:54-57; Jes 25:8). Paulus skryf dat om te sterwe vir hom ʼn wins sal wees en dat hy daarna verlang om heen te gaan en met Christus te wees (Fil 1:21,23).

Die Christene lewe in verwagting op die dag dat Jesus Christus weer sal kom, wanneer hulle volgens sy belofte ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde sal bewoon. Die dag van die Here sal ʼn dag van oordeel en verlossing wees, nie net van verwoesting nie, maar ook van herskepping. Die mens word bemoedig met die belofte van ʼn nuwe, getransformeerde hemel en ʼn nuwe aarde, die woonplek van die regverdiges, wat onlosmaaklik met die koms van Christus verbind word. Omdat

Christene met hierdie verwagting leef, behoort hulle met God se Woord en gedagtes in hul harte te leef (Anderson, 2007:106-107; Schreiner, 2003:391; vgl. 2 Pet 3:12-13).

Terwyl die Westerse wêreld mense se waarde aan hul ouderdom of produktiwiteit gelykstel, het die Skrif ʼn heel ander perspektief. Alle mense is na die beeld van God geskape (Gen 1:26-27); daarom is elke mens, jonk of oud, siek of gesond, van innerlike en onskatbare waarde (Clinton & Hawkins, 2011:277). Volgens Adams (1999:18) maak die Bybel dit duidelik dat die ouderdom gerespekteer was (Lev 19:32). In die Skrif word die ouderdom as ʼn begeerte uitgebeeld en is dit as ʼn beloning vir getrouheid beskou om in vrede op ʼn hoë ouderdom te sterf (Gen 15:15). Salomo skryf: “[...] die versiering van oumense is hulle grysheid” (Spr 20:29); hy vertel egter ook van ʼn edeler versiering in Spreuke 16:31: “Grysheid is ’n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid” (Bybel, 1953). Spence-Jones (1909:63) maak die opmerking dat ouer mans skaars was, maar dat die regverdiges nog minder was; daarom beklemtoon skaarsheid die sierlikheid en verhoog dit die kroon van glorie van die grysheid. Adams (1999:18) merk op dat die Here besorg is oor die bejaarde. Jesaja stel dit duidelik dat die Here hulle nie sal verlaat nie: “Ook tot in die ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.” (Jes 46:4-5.)

Die Psalmdigter van Psalm 71 skryf dat die bejaarde persoon in tye van moeilike omstandighede en twyfel baie herinneringe uit die verlede kan herroep van God se getrouheid en al die groot dinge wat Hy in sy lewe gedoen het (Ps 71:6,17,19,20). Calvin en Anderson (2010:94) is van mening dat hy nie net dankbaar is vir wat God vir hom gedoen het nie, maar dat hy ook aangespoor word om hoop te koester vir die tye wat nog sal kom. Adams (1999:21) reken dat dit hier is waar die verlede werksaam word in die hede. Dit is nie die verlede per se wat vir die gelowige belangrik is nie, maar die herinnering aan God se genade in die verlede. Hierdeur word hy bemoedig en verseker dat God wat altyd in die verlede getrou was, hom steeds in die dae wat voorlê, sal bystaan. Ten spyte van die bejaarde se vrees vir alleenheid (Ps 71:18) bly die seën van die Here die geloofsbesef dat die lewe ʼn ewigheidsdimensie besit wat deurslaggewend bepaal word deur God se troue liefde (Louw, 2005:434). Die bejaarde persoon kan steeds deur God se genade groei (Ps 71:17,18). Hy kan aanhou om vrug te dra deur die Here te prys en ʼn getuie te wees van die goedheid van God, en dit aan die opkomende geslagte en ander mense te vertel (Adams, 1999:21; Lange, Schaff, Moll et al., 2008:403; Petty, 2003:114; vgl. Ps 71:14,15,17,18).

Die bejaarde persoon hoef nie weg te kwyn in die ouderdom nie; hy het steeds ʼn produktiewe plek in die Liggaam van Christus en kan steeds veel vrug dra (Adams, 1999:21-22). Psalm 92:13- 16 (Bybel, 1953) beeld die seëning van die ouderdom soos volg uit:

“13Die regverdige sal groei soos ’n palmboom; hy sal opgroei soos ’n seder op die Líbanon. 14Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God. 15In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees, 16om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.”

Psalm 92:13-15 beeld die regverdige persoon uit as ‘n sterk palmboom wat geplant is in die huis van die Here waar hulle groei en floreer (Ps 92:13-14). Calvin en Anderson (2010:504) stel dit dat hierdie sterk bome nie net die vrugte van geregtigheid dra nie, maar dat die regverdiges sal aanhou om vrug te dra, selfs wanneer hulle oud geword het, in teenstelling met alle ander bome wat ophou om vrug te dra wanneer hulle oud word. Steeds in die gryse ouderdom sal die regverdiges vrugte dra om God te verheerlik, hulle sal vet en groen wees om God se geregtigheid te verkondig (Petty, 2003:108; vgl. Ps 92:15-16). Spence-Jones (1909:283) sê in sy kommentaar dat die bejaarde soos die palmboom in prag, bestendigheid, glorie en sterkte sal floreer. Soos die sederboom sal hulle hul takke na alle kante toe uitsprei en die huis van die Here sal hul huis wees waar hulle sal oud word, maar hulle sal nie ophou om in die ryke seën van die Here te deel en dit te geniet nie.

Die afgetrede persone wat aan die fokusgroepgesprekke deelgeneem het, het almal saamgestem dat aftrede ʼn positiewe effek op hul geloofsgroei en geestelike lewe het. Aftrede word beleef as ʼn geleentheid om jou persoonlike geloofsverhouding met die Here te verbeter en te laat groei. Die gespreksgenote het die volgende opmerkings gemaak:

“Jy is nie meer so tydsgebonde nie, so dit beïnvloed jou geestelike lewe positief.” “My verhouding met God groei.” “Jy het meer tyd saam met God; jy doen meer Bybelstudie.” “Die een ding wat altyd groei, is jou geloof; jou geloofsgroei is ʼn deurlopende proses. Jy moet elke dag daaraan werk; jy begin vroeg in die oggend op jou knieë daaraan te werk.” “Nou kry jy meer tyd om na jouself te kyk [...], jou eie geestelike lewe kan verdiep.” “Jy het tyd om aktiwiteite soos Bybelstudie saam met ander te doen.” “Ek maak nou baie van die tyd gebruik om te bid.”