• No results found

Jetro se invloed op Moses se leierskap

HOOFSTUK 5: NORMATIEWE TAAK: PERSPEKTIEWE RAKENDE

5.4 LEIERSFIGURE EN DIE HANDELING VAN BEGELEIDING IN DIE OU

5.4.1 Begeleiding in die lewe van Moses

5.4.1.2 Jetro se invloed op Moses se leierskap

Eksodus 18 vertel van die die gebeurtenis toe Moses, die leier van die volk, vir ʼn tydperk self ʼn “begeleier” gehad het toe Jetro by hom besoek afgelê het. Jetro was die priester van Midian en ook die skoonvader van Moses (O’Connell & Powell, 2011:469; vgl. Eks 3:1; 4:18). Terwyl Moses en die volk in die woestyn by die berg van God in die laer gestaan het, het sy skoonvader Jetro hom besoek, omdat hy Sippora, Moses se vrou, en hul twee seuns na Moses toe teruggebring het (Eks 18:1-6). Die volgende dag het Jetro met groot belangstelling vir Moses dopgehou en waargeneem hoe hy sy funksie as regter uitvoer. Hy het gemerk dat die mense van die oggend tot die aand toe hul beurt moes staan en afwag om met Moses te praat (Elwell & Beitzel, 1988:1493; Eks 18:13). Maxwell (2007:82-83) beskryf Jetro as ‘n intuïtiewe begeleier met ʼn fyn aanvoeling en natuurlike gawe om mense en ʼn situasie te lees. Jetro het gesien wat Moses alles vir die volk doen en het besef dat hierdie werk te veel vir een persoon is om alleen te behartig en dat dit noodwendig tot die uitrek en vertraging van die regsproses sou lei, wat weer sou lei tot die uitputting van Moses en die mense wat vir hom wag (Janse van Rensburg & Nel, 2009:115, vgl. Eks 18:17). Jetro kon die situasie vinnig beoordeel en sien dat dit dringend aandag benodig. Hy kon die tendens waarneem van wat besig was om te gebeur en waartoe die huidige situasie sou lei indien dit onveranderd sou voortgaan (Maxwell, 2007:83).

Jetro het dus die situasie in oënskou geneem en Moses gehelp om opnuut op sy missie te fokus; deur gefokusde vraagstelling het hy probeer om te bepaal wat die doel agter die aktiwiteite was (Borek et al., 2005). Volgens die beginsels in die praktyk van begeleiding het Jetro vir Moses ʼn paar vrae gevra: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?”(Eks 18:14). Jetro en Moses het van aangesig tot aangesig met mekaar in gesprek getree. Jetro het aandagtig na Moses se antwoorde geluister en kennis geneem van elke taak wat Moses beskryf: Eerstens het die volk hom geraadpleeg om die wil van God te vra; tweedens het hulle na hom toe gekom wanneer hulle in dispute betrokke geraak het; derdens het Moses dan uitspraak oor die geskille tussen hulle gelewer; en vierdens het hy terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend gemaak (Eks 18:15-16). Nadat die doel van die aktiwiteite en Moses se rol in perspektief geplaas is, kon Jetro ʼn effektiewer strategie voorstel waarvolgens Moses sy doelwitte met groter doeltreffendheid en deursettingsvermoë sou kon bereik (Borek et al., 2005).

Maxwell (2007:83) is van mening dat intuïtiewe leiers niks as vanselfsprekend aanvaar nie en weet hoe om beskikbare bronne aan te wend om hul doelwitte te bereik. Jetro het bepaal dat die

hart van Moses, die guns van God, en die mense, Israel se grootste bates was. In hierdie situasie het Jetro adviserend opgetree; hy het alles wat hy waargeneem het aan Moses genoem, naamlik dat Moses nie reg maak nie, dat Moses en die mense wat op hom wag totaal uitgeput raak en dat die werk te veel vir een persoon is om alleen te behartig (Eks 18:17-18). Jetro het toe ʼn voorstel aan Moses gemaak om God se leiding te soek. Hy het ook die hoop uitgespreek dat God vir Moses sal bystaan in die saak. Jetro het die beskikbare hulpbronne geneem en voorgestel dat Moses die volk se verteenwoordiger by God bly om alle sake voor Hom te bring. Moses moes voortgaan om die volk in die wette en voorskrifte van God te onderrig, hulle te begelei op die pad waarop hulle moes gaan en hulle te leer wat hulle moes doen.

Volgens Maxwell (2007:83) het Jetro mense en leierskap goed genoeg verstaan om te weet hoe om Moses as leier op te bou. Jetro het geweet dat goeie leierskap op vaardigheid gebaseer is en nie soseer op posisie nie. Hy het waargeneem dat daar geskikte mense is wat oor die nodige vaardighede beskik om kleiner groepe mense te begelei en sodoende Moses se las te help dra. Jetro het Moses toe aangeraai om van sy gesag te delegeer deur bekwame manne aan te stel om saam met hom te werk en die verantwoordelikheid te help dra (Elwell & Beitzel, 1988:1493). Hy het voorgestel dat Moses hulle oor die volk as leiers oor 1 000, oor 100, oor 50 en oor 10 aanstel (Eks 18:21). Die kwalifiserende eienskappe waaroor hierdie manne moes beskik, was om bekwaam vir die werk te wees, wysheid te openbaar as dienaars wat die Here vrees, manne van integriteit te wees met waardes wat sal standhou, mense van goeie karakter te wees wat die waarheid liefhet en mense te wees wat standvastig sal wees en nie omgekoop kan word nie (Borek et al., 2005; Janse van Rensburg & Nel, 2009:115; Woolfe, 2002:19). Die doelwitte en uitkomste wat hierdeur bereik moes word, was dat indien God aan Moses sou bevestig dat hy dit moes doen, hierdie manne deurentyd vir die volk hofsittings moes hou en die belangrike sake na Moses verwys, terwyl hulle self die geringer sake sou oplos. Die doel hiervan was om Moses se taak en verantwoordelikheid te verlig, aangesien hierdie manne dit saam met Moses sou dra (Eks. 18:22-23).

As gevolg van Jetro se leiding en begeleiding aan hom, word daar ʼn duidelike verandering in Moses se denkwyse en werksoptrede waargeneem. Moses het van ʼn versorger van die volk tot die leier van die volk beweeg (Borek et al., 2005; Maxwell, 2007:81). Hy het die verantwoordelikheid op hom geneem en die plan geïmplementeer deur sy leierspligte met ander te deel (Janse van Rensburg & Nel, 2009:116). Moses het bekwame manne as medeleiers opgelei en as hoofde oor die volk aangestel om regspraak oor die kleiner sake uit te oefen, terwyl hy die moeilike sake hanteer het (Eks 18:24-26; Deut 1:9-18). Met meer beskikbare leiers het die gaping tussen die volk en die besluitnemers kleiner geword, met die gevolg dat die mense meer betrokke gevoel het (Maxwell, 2007:89). Toe Moses verander het, het God hom met die nodige

krag vir sy taak versterk, nuwe medeleiers is bemagtig om hom te help en die mense kon tevrede huis toe gaan (Maxwell, 2007:81).

Een van die redes hoekom Moses so suksesvol as ʼn langtermynleier van die volk was, was omdat hy gewillig was om na Jetro te luister wat ʼn probleem met Moses se leiding opgemerk het. Moses self was onbewus van sy tekortkominge en het dieselfde probleem ervaar as baie hedendaagse suksesvolle leiers wat aktiwiteit met produktiwiteit verwar. Volgens Borek et al. (2005) is leiers wat eerder self die werk doen as om ander aan te stel om saam met hulle in ʼn span te werk, leiers met ʼn hoë risiko vir uitbranding. Volgens Maxwell (2007:89) en Woolfe (2002:25) het Moses se leiding gedurende ʼn tydperk van groot transformasie in die lewe van die volk Israel plaasgevind en was sy tipe leierskap gepas in die oorgangstydperk toe dinge baie deurmekaar voorgekom het en verandering voortdurend in die volk se leefstyl en lewensbeskouing plaasgevind het. Gedurende oorgangstye moet geleenthede benut word om mense wat met aanpassing sukkel, wat gedurig na die verlede terugkyk en na Egipte toe wil terugdraai, te begelei en te motiveer om by die nuwe veranderde omstandighede aan te pas (Maxwell, 2007:89). Die bevryding van Israel met die uittog uit Egipte is nou deur effektiewe regspraak gerugsteun. Janse van Rensburg en Nel (2009:116) is van opinie dat vryheid en effektiewe regspraak onlosmaaklik van mekaar staan. Ná Jetro se begeleiding aan Moses sien ons in en deur die lewe van Moses dat hy ʼn baie bekwame leier en begeleier was. Maxwell (2007:851) lig die volgende vier terreine uit waarin Moses se vaardighede as leier na vore gekom het:

 Sy ingesteldheid was positief en volhardend met die hart van ʼn dienaar-leier.

 Deur sy goeie menseverhoudings het hy die vermoë gehad om aanklank by mense te vind en was hy ʼn bekwame kommunikeerder.

 Hy het geweet hoe om hulpbronne aan te wend, geleer om te delegeer, en kon ander motiveer en ook konfronteer wanneer dit nodig was.

 Sy leierskap is die toonbeeld van iemand met die vermoë om strategies te werk te gaan, spanne te bestuur en mense te bemagtig deur hulle toe te rus.

Die Here het aan Moses en Aäron opdrag gegee dat die volk laer moes opslaan, elkeen by sy vaandel en veldtekens van sy familie op ʼn afstand rondom die tent van samekoms (Num 2:1-34). Hierdeur het elke stam ʼn eie identiteit en plek binne die verbondsvolk gehad, binne die kamp en ook wanneer hulle getrek het (Janse van Rensburg & Nel, 2009:183). Moses het oor die leierskapsbeginsels beskik om deeglik te beplan en te organiseer. Hy het tyd vir beplanning afgestaan, die situasie opgesom, die belangrikste doelwitte bepaal, moontlike struikelblokke

geïdentifiseer, die beplanning en uitvoering van die kamporde gekommunikeer en hy kon die resultate daarvan evalueer (Maxwell, 2007:141).

Die rustigheid waarmee Israel van Sinai af vertrek het, het skielik verander; die volk het in opstand gekom, was ontevrede met hul kos en het begin om na die kospotte van Egipte toe terug te verlang (Num 11:1-10). Die ontevredenheid van die volk was ʼn swaar las vir Moses en hy het moedeloos by God gekla oor die ontevredenheid wat hy alleen moes dra. Die volk het hom sleg behandel en die verantwoordelikheid het vir hom te swaar geword. Moses het besef dat hy nie in staat was om die volk langer alleen te dra nie en hy het die Here gevra dat Hy iets daaraan sal doen (Van Rensburg & Nel, 2009:192; vgl. Num 11:11-15). Die Here het hom gelei om 70 van Israel se leiers en ampsdraers te betrek om die verantwoordelikheid te help dra (Num 11:14-17). Moses se optrede dui daarop dat hy besef het dat die taak vir hom te groot geword het. Hy het oor die leierskapsvisie beskik om ander bekwame en verantwoordelike mense wat deur die Gees toegerus was te kies en hulle te begelei om as spanne strategies saam met hom vir die leiding van die volk verantwoordelik te wees (Maxwell, 2007; vgl. Num 11:24-25).