• No results found

Jesus Christus in gesprek met die Samaritaanse vrou

HOOFSTUK 5: NORMATIEWE TAAK: PERSPEKTIEWE RAKENDE

5.7 JESUS CHRISTUS

5.7.2 Dissipelskap en die dissipels van Jesus Christus

5.7.2.4 Jesus Christus in gesprek met die Samaritaanse vrou

In die Evangelie van Johannes word daar baie van simboliek gebruik gemaak wat tot groter begrip in die hermeneutiese proses bydra (Koester, 2003:4). Sekere van die simboliek word in die vorm van metafore uitgedruk wat verbaal gebruik word om die beeld in die plek van die eintlike voorstelling te plaas (Koester, 2003:6). By die fontein van Jakob het Jesus Christus eerste die hand uitgereik om ʼn gesprek met ʼn Samaritaanse vrou te begin wat gekom het om water te skep deur haar om drinkwater te vra (Neyrey, 2003:109; vgl. Joh 4:7). Hy het ʼn gemeenskaplike aanknopingspunt in die water gevind en aan hierdie persoon ook die geleentheid gegee om aan die gesprek deel te neem (Maxwell, 2007:1220; vgl. Joh 4:7-9). Calvin en Pringle (2010:146) is van opinie dat wanneer Hy vir haar water vra om te drink, dit met die opset is om die geleentheid te benut om haar te onderrig, want haar redding is vir Hom belangriker as sy behoefte om sy dors te les.

Die Samaritaanse vrou was verbaas dat ʼn Joodse man met haar praat en vir haar water vra (Joh 4:9). Jesus Christus het egter die teenoorgestelde verband na vore gebring, naamlik dat sy die behoeftige een is, terwyl Hy die besitter van die ware fontein van voldoening is (Moore, 2003:79; Lange & Schaff, 2008:155; vgl. Joh 4:10). Jesus Christus het daarna gedors om haar dors op te wek, sodat sy in Hom moes sien wat syself kortkom; sy begeerte was om haar gebrek aan te vul (Moore, 2003:79). Hy het aan haar gesê dat as sy die geskenk van God geken het en geweet het met wie sy praat, sy vir Hom sou gevra het en Hy vir haar lewende water sou gegee het (Calvin & Pringle, 2010:149; Lange & Schaff, 2008:153, vgl. Joh 4:10). Jesus Christus het met haar oor die lewende water gepraat wat ʼn mens se dors vir ewig sal les, maar sy kon nie die letterlike en materiële van die figuurlike en spirituele onderskei nie en het dit verkeerd verstaan

(Moore, 2003:80). Hy het dit weer aan haar verduidelik, waarna sy verstaan het dat sy eintlik die een was wat vir Hom water moes vra om te drink (Neyrey, 2003:113,116). Lange en Schaff (2008:156) beskryf die lewende water as die ewige lewe, wat Christus self is, wat in die mens se siel deur die Heilige Gees lewe. Calvin en Pringle (2010:149) is van mening dat die lewende water die geheime energie is waardeur Hy lewe in ons vernuwe en in stand hou tot volkomenheid. Moore (2003:96) wys daarop dat die Heilige Gees wat nou aan die mens deur Jesus Christus gegee is, aan ons die simbool (die vloei van die water) van die metafoor (lewende water) nalaat. Die Samaritaanse vrou het gevra dat die Here aan haar hierdie water sal gee sodat sy nie meer sal dors kry en nodig het om by die put water te skep nie (Joh 4:15).

Gedurende die gesprek het Jesus Christus haar belangstelling geprikkel deur haar te laat dors kry na meer as net gewone water (Maxwell, 2007:1220; vgl. Joh 4:10-15). Hy het haar nie gedwing om verder met die gesprek te gaan as wat sy bereid was om te gaan nie, maar het haar begelei deur die gesprek om self vir meer te vra (Maxwell, 2007:1220; vgl. Joh 4:16-19). Jesus Christus het aan die vrou gesê dat sy haar man moes gaan roep en na Hom toe moes terugkom (Joh 4:16). Lange en Schaff (2008:158) is van mening dat die man deel moes hê in Jesus Christus se geskenk en dat sy indirek tot sondebelydenis gelei moes word. Calvin & Pringle (2010:152) opper die mening dat Jesus Christus ʼn gepaste geneesmiddel vir hierdie siekte aanwend deur die vrou se gewete met die oortuiging van haar sonde aan te kla. Terselfdertyd is dit ook ʼn bewys van Jesus Christus se erbarming deur die vrou wat eers onwillig was om vanself na Hom te kom, nader aan Hom te trek. Lange en Schaff (2008:158) reken dat Jesus Christus hiermee bedoel het om vir haar ʼn teken van sy profetiese kennis van die aardse dinge te gee om sodoende haar vertroue vir die openbaarmaking van die hemelse dinge te wen. Sy het Hom geantwoord dat sy nie ʼn man het nie (Joh 4:17). Met haar ontkenning het sy bewys dat sy deur die woorde van Jesus Christus verbind is; dat sy met nuwe oë na haar verhouding gekyk het; dat sy haarself mislei het in haar poging om die Here te mislei; en dat haar bekentenis van skuld amper op haar lippe was (Lange & Schaff, 2008:159). Jesus Christus het aan haar sy profetiese kennis geopenbaar deur aan haar te sê dat sy reg geantwoord het, aangesien sy alreeds vyf mans gehad het en die een saam met wie sy toe was, nie haar man was nie (Joh 4:17-18). Hoewel Hy haar lewe geken het, het Hy haar nie veroordeel nie (Joh 4:17-18). Hy het voortdurend op die belangrikste kwessies gefokus en nie die gesprek laat afdwaal nie (Maxwell, 2007:1220; vgl. Joh 4:20-24). Met Jesus Christus se erkenning aan die Samaritaanse vrou dat Hy die Messias is wat sy verwag het, het Hy Homself onteenseglik as haar Leermeester voorgestel en ooreenkomstig haar verwagtinge het Hy voortgegaan om haar vollediger te onderrig om sodoende haar dors te les (Calvin & Pringle, 2010:166).

Jesus Christus het op ʼn duidelike en eenvoudige wyse sy identiteit aan haar bekend maak (Joh 4:25-26). By die fontein van Jakob het Hy ʼn vrou ontmoet van wie ons nie eens weet wat haar naam was nie en met wie ander Jode nie sou gepraat het nie, maar Jesus Christus was anders; Hy praat met die vrou wat aan die mindere geslag behoort, uit ʼn minderwaardige volk kom en boonop nie moreel aanvaarbaar vir die gemiddelde Jood was nie. Sy gesprek met hierdie Samaritaanse vrou het daartoe gelei dat Hy ʼn hele stad bereik het. Die mense van die stad het na Hom geluister en op grond van sy lering kon hulle getuig dat Jesus Christus die ware Verlosser van die wêreld is (Maxwell, 2007:1220; vgl. Joh 4:39-42).