• No results found

DIE HEILIGE GEES, DIE INWONENDE BEGELEIER

HOOFSTUK 5: NORMATIEWE TAAK: PERSPEKTIEWE RAKENDE

5.8 DIE HEILIGE GEES, DIE INWONENDE BEGELEIER

Die Heilige Gees is die derde Persoon in die Goddelike Drie-eenheid wat uit die Vader en die Seun uitgaan (Berkhof, 1996:95; Fee, 1996:45; Heyns, 1978:291; Sproul, 2012:5). Die Hebreeuse term waardeur die Heilige Gees aangedui word, is rauch en in Grieks pneuma, waarvan beide, soos die Latynse woord spiritus, uit die wortelwoord ontstaan wat “om te blaas”

beteken (Berkhof, 1996:95). Die woord beteken "asem" of "wind". Albei gedagtes is in die Skrif op die Heilige Gees toegepas (Gen 2:7; Ps 104:30; Job 33:4; Joh 3:6-8; Joh 20:22). Daar bestaan so ʼn intieme verhouding tussen die Heilige Gees, die Vader en Jesus Christus dat Hy die Gees van God en ook die Gees van Christus genoem word (Heyns, 1978:291; vgl. Rom 8:9; Fil 1:19; Gal 4:6). Hierdie drievoudigheid in God besit verskillende gemeenskaplikhede sowel as ʼn onmededeelbare eiesoortigheid en daarmee ʼn onverwisselbare identiteit. Elkeen van die drie Persone word ook tot ’n besondere werksaamheid verbind sonder dat die ander twee heeltemal daarvan uitgesluit word. Die Heilige Gees is vir die voleinding verantwoordelik, maar saam met Hom ook die Vader en die Seun (Heyns, 1978:49; vgl. Gal 4:6; Ef 1:10,13,23; 3:19; 1 Kor 1:30; Rom 8:23; 2 Kor 1:21).

Op die vooraand van sy kruisiging het Jesus Christus in die bokamer belangrike beloftes rondom die Heilige Gees aan sy dissipels meegedeel. Hy het aan hulle gesê dat Hy weggaan, maar dat Hy die Vader sal vra om aan hulle ʼn ander Voorspraak te gee (Joh 14:16). Verder het Jesus Christus aan sy dissipels gesê dat wanneer Hy weggaan, die Vader “die Voorspraak, die Heilige Gees” na hulle toe sal stuur (Joh 14:26; vgl. 15:26; 16:7,17) om by hulle te bly. In die Afrikaanse Vertaling van 1953 word daar na die Heilige Gees in hierdie gedeeltes as die “Trooster” verwys, terwyl die Direkte Vertaling van 2014 na die Heilige Gees as die “Parakleet” verwys. Die woord

Paraklētos (παράκλητος) is die Griekse woord vir ʼn titel van die Heilige Gees. Die woord bevat die voorsetsel para, wat “naas/langsaan” beteken en ʼn wortel van die werkwoord kletos, wat “om te roep” beteken (Sproul, 2012:31). In hierdie teks word daar na die rol van die Heilige Gees verwys as iemand wat aan ʼn ander een se sy geroep is om te help, Een wat langsaan kom, wat bystand verleen deur op te tree as die gelowige se Voorspraak, Trooster, Pleitbesorger, Raadgewer, Helper, Aanmoediger en Middelaar (Louw & Nida, 1996:141; vgl. Sweet, 2008:222).

5.8.1

Begeleiding deur die Heilige Gees tot sondebewustheid

Die werk van die Heilige Gees in die hart van die sondaar is om die persoon tot oortuiging van sonde te begelei omdat hulle nie in Jesus Christus glo nie (Joh 16:8-9; vgl. Hand 2:37-38). Fee (1996:80) meen dat die Heilige Gees beide die oorsaak en gevolg van die geloof is (2 Kor 4:13; Gal 5:5). Die Heilige Gees sal die wêreld van geregtigheid oortuig, omdat Jesus Christus na sy Vader gaan en nie meer gesien sal word nie (Joh 16:10). Die taak van Jesus Christus op aarde was nie net om hierdie geregtigheid deur sy dood te bewerk nie, maar ook om daarvan te getuig. Die verlore sondaar word deur die Heilige Gees gelei tot die oortuiging dat sy eie geregtigheid niks beteken nie (Calvin & Pringle, 2010:140-141; Torrey, 1910:91; vgl. Jes 64: 6; Rom 10:3); hy word ook oortuig dat Christus ons geregtigheid is en dat dit in Hom alleen gevind kan word (1 Kor 1:30; Rom 3:22-25; Rom 4:1-22; 2 Kor 5:14-21). Die Heilige Gees oortuig ook die sondaar van

oordeel, want die owerste van hierdie wêreld is met die opstanding van Jesus Christus uit die dode klaar veroordeel (Calvin & Pringle, 2010:141; Torrey, 1910:92-93; vgl. Joh16:11).

5.8.2

Die Heilige Gees se begeleiding in die lewe van die gelowige

Jesus Christus noem die Heilige Gees die “Gees van Waarheid” wat ons in die hele waarheid sal lei (Joh 16:13). Die Heilige Gees word op gesag van Jesus deur die Vader gestuur om die gelowiges te onderrig en te herinner aan alles wat Jesus gesê het vir die vorming van sy geestelike liggaam, asook vir leiding en beskerming van sy Kerk op aarde (Berkhof, 1996:270; Stark, 2005:36; vgl. Joh 14:26; 15:26; 16:13-14; Hand 2:33). Dit is deur die getuienis van die Heilige Gees dat mense tot ware kennis van Christus kan kom (Berkhof, 1996:96-97; vgl. 1 Kor 12:3). Die wêreld kan nie die Gees ontvang nie omdat hulle Hom nie ken nie (Joh 14:17), maar almal wat deur die Heilige Gees gelei word, is kinders van God (Rom 8:14). Fee (1987:204) verduidelik dat die gelowige in die huidige bedeling in die Gees lewe omdat hy die Gees wat uit God is, ontvang het (1 Kor 2:12-13); daarom is die persoon een gees met die Here (1 Kor 6:17), sodat die gelowige ʼn tempel kan wees van die inwonende Heilige Gees wat van God verkry is (1 Kor 6:19). Fee (1996:31) is van mening dat die Gees van God op die teenwoordigheid van God self in ons lewe en in ons midde dui, terwyl Hy ons op paaie van geregtigheid lei (1 Kor 3:16-17; 2 Kor 3:5-6; 2 Kor 6:16; Ef 2:22).

Deur die proses van heiligmaking in die lewe van die gelowiges bevestig God voortdurend die werk wat Christus vir en namens die gelowige verwerf het (Lotter, 1993:38; 2005:490; vgl. 2 Kor 1:22; 2 Kor 5:17). Hierdie bevestiging behoort die gelowige aan te spoor om maniere te vind om self in die geloof te groei en te onwikkel in die nastrewing van ʼn heilige lewenswandel in Christus (Lotter, 2005:489-490). Geestelike groei vind plaas wanneer ons in alle omstandighede deur God gelei word en in interaksie met die Here verkeer, en elke oomblik van die dag in sy teenwoordigheid lewe (Stark, 2005:37). Nouwen (1979:70) skryf oor gebed (soos aangehaal in Stark, 2005:37):

To pray, I think, does not mean to think about God in contrast to thinking about other things, or to spend time with God instead of spending time with other people. Rather, it means to think and live in the presence of God. Praying is not an isolated activity; it takes place in the midst of all things and affairs that keep us active.

5.8.3

Die Heilige Gees se betrokkenheid as ons mees intieme lewensbegeleier

Mense wat nie meer ʼn doel of “iets” het om voor te lewe nie, verloor soms motivering en die wil om te lewe. Die waarde van lewensbegeleiding lê daarin om ʼn pad te stap naas die persoon wat

graag ʼn waardevolle lewensdoel wil vind en dit wil handhaaf (Collins, 2009:190). Die gelowige persoon wat ʼn lewensdoel wil bereik, of in sy geloofslewe of sy verhouding met God of die liggaam van Christus wil groei, beskik oor so ʼn lewensbegeleier in die persoon van die inwonende Heilige Gees en die Woord van God (Stark, 2005:37). Die Gees self is heilig (Rom 1:4); Hy is die Gees van die lewe (Rom 8:2) en van genade (Heb 10:29); Hy is “die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here” (Jes 11:2). As begeleier is die Heilige Gees in staat om die gelowige toe te rus en te begelei om met volharding die wedloop te loop met ons oë op Jesus Christus gevestig (Heb 12:1-2), wat vir ons ʼn aansporing is om aan die hoop vas te hou (Rom 8:24-25; Heb 6:18).

Die Heilige Gees begelei die gelowige op sy geestelike reis om in geloof te groei en om in ʼn dieper en intiemer verhouding met God te staan. Hy maak die gelowige in Christus vry van die wet van die sonde en die dood (Rom 8:2). Die Heilige Gees ondersoek alle dinge, gee insig en openbaar die diep dinge van God; Hy gee aan gelowiges die vermoë om dit wat hy geleer het, te onderskei, te ken en te waardeer (1 Kor 2:9-14). Hy lei die gelowige in die hele waarheid omtrent Christus (Joh 16:13) en bring die woorde van Jesus Christus in gedagtenis (Joh 14:26). Die Heilige Gees woon in die gelowige (Rom 8:11; 1 Kor 3:16; 2 Tim 1:14) en versterk die gelowige na die innerlike mens (Ef 3:16-19). Die Gees maak lewend (2 Kor 3:6), lei die gelowige in die weë van God (Fee, 1996:34; vgl. Gal 5:18; Rom 8:14) en bring die geestelike vrug in die lewe van die kind van God voort (Gal 5:22). Hy heilig die gelowige (Rom 15:16; 2 Tess 2:13), staan hulle by in hul swakhede (Hobbs, 1990:136) en wanneer hulle nie weet wat of hoe om te bid nie, pleit Hy self vir hulle volgens die wil van God (Fee, 1996:30; vgl. Rom 8:26-27). Die Heilige Gees rus die gelowiges vir hul taak toe met geestelike kennis en genadegawes vir ʼn verskeidenheid van bedieninge om die liggaam van Christus op te bou sodat die gelowige tot geloofseenheid kan kom en in geloofsvolwassenheid kan toeneem (Lotter, 2005:490-491; Sweet, 2008:170; vgl. 1 Kor 12:1-11; Gal 5:13; Ef 4:11-13). God het die gelowiges vir Homself afgesonder en as sy eiendom beseël; daarom het Hy die Heilige Gees in die gelowiges se harte gegee as waarborg en seël van wat hulle nog sal ontvang (2 Kor 1:22). Lotter (2005:491) brei verder uit dat die gelowiges se verseëling van die Heilige Gees daarop neerkom dat die Heilige Gees die gelowiges se veiligheid bewaar sodat hulle nie enige vrees vir die tyd hierna hoef te hê nie. Die pastorale implikasie van die verseëling word deur Lotter (2005:504) verduidelik as die versekering deur die Heilige Gees dat die gelowiges sekerheid van redding deur die bloed van Jesus Christus verkry het. Tweedens val verseëling saam met geloof (Ef 1:3), wat beteken dat die gelowiges, die oomblik dat hulle tot geloof gekom het, deur die waarborg van die Heilige Gees as egte gelowiges verseël is. Derdens kan die gelowiges met die oog op die toekoms van hul veiligheid en bewaring verseker wees, omdat niks en niemand hulle van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is, kan vernietig

5.8.4

Die Heilige Gees se teenwoordigheid in die begeleidingsgesprek

Begeleiding het persoonlike lewensverandering ten doel wat net effektief kan plaasvind wanneer die begeleide homself aan die Heilige Gees oorgee om die verandering te bewerk (Collins, 2009:285). Lotter (2005:495-496) is van mening dat die verandering wat die Heilige Gees vir die gelowige in die pastorale begeleidingsgesprek bewerk, ingrypend is, want verharde harte word verander en is ontvanklik vir die werk van die Heilige Gees, wat positiewe implikasies vir die gelowige se verhoudings in sy lewe inhou. Eerstens bring die hartsverandering ʼn groter bewussyn en betrokkenheid by die gelowiges mee en sodoende word lewensuitinge daarop gerig om die Here te ken, te bely en lief te hê. Tweedens laat die hartsverandering die gelowiges ook anders reageer teenoor hul medemens deur groter vergewingsgesindheid, goedgesindheid en sensitiwiteit te openbaar. Derdens verander die gelowiges se selfgesentreerdheid en beheptheid met hulself na ʼn openheid om na hulself te kyk uit ʼn skoon en verruimde hart waaruit die vrug van die Gees na vore sal kom (vgl. Gal 5:22).

Verandering is die werk van die Heilige Gees. Pastorale begeleiding moet in harmonie met die herskeppende en heiligmakende werk van die Heilige Gees gedoen word (Adams, 1970:20; MacArthur, 2005:87). Pastorale begeleiding word in die lig van die Skrif onder leiding van die Heilige Gees gedoen, asook deur gebed om leiding. Die Heilige Gees verklaar die Skrif en die openbaring van God. Adams (1970:24) gaan van die standpunt uit dat die Heilige Gees se teenwoordigheid in die pastorale gesprek ook die teenwoordigheid van die Heilige Skrifte impliseer, want die Heilige Gees verklaar derhalwe die Skrif en die openbaring van God. Die mees effektiewe begeleiding vind plaas wanneer die begeleier en die begeleide bid om die leiding en transformerende krag van die Heilige Gees in die gesprekvoering en verandering van lewensrigting (Collins, 2009:349). Gebed is eerstens ʼn verhouding van vertroue in die God wat waar en betroubaar is en tweedens veronderstel gebed dat die bidder ʼn gemeenskaplike deel saam met ander gelowiges aan geheiligde dinge het (Louw, 1999:498-499). Terwyl die begeleier die persoon is wat die pad saam met die begeleide stap, is die Heilige Gees die derde Persoon wat binne die pastorale begeleidingsproses teenwoordig is en wat die ware leiding gee en ʼn impak op die begeleidingsgesprek het (Creswell, 2006:13; Collins, 2009:25). Onder sy leiding stel Hy die begeleier en begeleide in staat om die regte keuses en besluite te neem (Collins, 2009:49). Die Heilige Gees lei die begeleier se verhouding met die persoon wat begelei word, maar Hy is die een wat die werk doen om die begeleide tot innerlike en blywende verandering en doelgerigte resultate te lei (MacArthur, 2005:87).