• No results found

Nehemia, leier in die herbouing van Jerusalem se mure

HOOFSTUK 5: NORMATIEWE TAAK: PERSPEKTIEWE RAKENDE

5.4 LEIERSFIGURE EN DIE HANDELING VAN BEGELEIDING IN DIE OU

5.4.4 Nehemia, leier in die herbouing van Jerusalem se mure

5.4.4.1 Agtergrond

Die naam “Nehemia” beteken “compassion of Jehovah” (Lange, Schaff, Schultz et al., 2008:3). Die gebeurtenisse wat in die boek Nehemia beskryf word, het plaasgevind gedurende die regeringstyd van die Persiese koning Artasasta I, wat van 465 tot 424 v.C. aan bewind was (Elwell & Beitzel, 1988:1536; Wiersbe, 1996:12-13). Nehemia, die seun van Gakalja, is die hoofkarakter in die boek wat sy naam dra. Hy het ongeveer 470-399 v.C. gelewe en was ʼn tydgenoot van Esra en Maleagi, asook van Sokrates in Griekeland (Martin, 2003:1182). Nehemia het die vername pos as skinker vir koning Artasasta beklee (Wiersbe, 1996:13; vgl. Neh 2:1). Die verhaal wat hier beskryf word, begin met Nehemia toe hy in die vestingstad Susan was gedurende koning Artasasta se 20ste regeringsjaar (Neh. 1:1). Ganani en ʼn paar ander manne het uit Juda daar aangekom en Nehemia het by hulle navraag gedoen oor die Jode wat vry geraak het uit die ballingskap en na Jerusalem toe teruggegaan het. Hulle het hom vertel dat die ballinge wat teruggegaan het, groot ellende en smaad verduur en dat die muur van Jerusalem stukkend lê en die stadspoorte verbrand is (Woolfe, 2002:39; vgl. Neh 1:2-3). Nehemia was diep ontsteld oor die slegte nuus; hy het gehuil, dae lank getreur en gevas en tot God gebid (Neh 1:4-10).

5.4.4.2 Nehemia neem die leiding

Voordat enige herstel aan die stadsmuur kon begin, het Nehemia tyd afgestaan om homself en sy mense voor te berei. Nehemia het homself met die probleem van die vrygeraakte ballinge vereenselwig. Wiersbe (1996:25) is van mening dat hy ware geloof geopenbaar het om op God te wag terwyl hy tyd ingeruim het om te vas, te bid en sondebelydenis vir homself en sy volk te doen. Nehemia was ʼn Bybelse leier met ʼn doel, naamlik die herbouing van Jerusalem se mure. Woolfe (2002:39) meen dat met die herbouing van die muur, Nehemia ook in wese die simbool en struktuur van ʼn nasie herbou het. Nehemia het met deeglike voorbereiding begin. Hy het oor die vermoë beskik om deeglik te beplan en het langtermynplanne beraam om Jerusalem se muur te herbou. Hy kon die projek visualiseer, dit noukeurig bereken en mense tot aksie en ʼn gemeenskaplike doelwit oorhaal (Maxwell, 2007:109,541). Nehemia het invloedryke mense in sleutelposisies vir hulpbronne en ondersteuning genader (Neh 2:1-9). Hy het die beginsel van tydsberekening toegepas en vir die regte oomblik gewag om die koning te nader (Maxwell, 2007:541). Vier maande later het hy ʼn geleentheid gekry om met die koning oor die herbou van Jerusalem te praat. Omdat Nehemia alles alreeds fyn beplan het, kon hy dadelik die koning se vrae beantwoord oor die lengte van die reis en die tydstip waarop hy terug sou wees (Neh 2:6). Nehemia het geweet wat die reis sou behels en het vir die koning die nodige briewe gevra wat hulle vrye deurgang tot in Juda sou verseker (Neh 2:7). Hy het ook geweet wat nodig sou wees om die taak uit te voer en het ʼn brief aan die opsigter verkry vir die voorsiening van die nodige hout uit die staatsbos (Neh 2:8).

Met Nehemia se aankoms in Jerusalem kon hy uiteindelik ʼn eerstehandse indruk van die situasie kry en het hy die situasie geëvalueer (Maxwell, 2007:543). Voordat hy met die mense gepraat het, het hy eers drie dae daaraan bestee om vas te stel wat die omvang van die skade was en om die projek te beplan (Neh 2:11-15). Hierna het hy met die Jode, ampsdraers, priesters, vooraanstaande burgers en ander wat die werk moes doen, gepraat (Neh 2:16-17). Nehemia het aan hulle sy visie geskets om die stadsmuur te herbou, van God se seën oor die projek vertel, asook die uitvloeisels van die projek. Hy het aan verhoudings gebou voordat daar aan die muur gebou is. Nehemia het geweet dat hy nie die muur van Jerusalem self kon herbou nie; hy het van goeie spanwerk gebruik gemaak en bekwame en betroubare leiers gekies wat vir elke gedeelte van die werk verantwoordelik was (Woolfe, 2002:139,149).

Nehemia het hulle aangemoedig deur hulle op suksesse uit die verlede te wys, waarop hulle gesê het: “Kom ons bou” (Neh 2:8). Hy het die mense se harte gewen en toe ʼn beroep op hul sin vir eiewaarde, identiteit en verantwoordelikheid gedoen om met die herbou van die stadsmuur te help (Maxwell, 2007:541). Nehemia het die mense georganiseer en die werk het begin (Neh 3:1-

organisering, leiding en die motivering van andere om saam te werk en ʼn taak te verrig wat niemand op hul eie sou kon doen nie (Borek et al., 2005; Maxwell, 2007:542-543). Nehemia het ervaar dat min doelwitte in die lewe sonder struikelblokke of teenstand bereik kan word. Die koloniale amptenare in Jerusalem het Nehemia se pogings om die muur weer op te rig, bespot en teengestaan (Neh 4:3). Nehemia het geweet dat hy nie op sy eie sy doelwitte kon bereik nie en dat hy nodig gehad het om die doelwitte van die hele span te versterk. Hy het dit gedoen deur hulle daaraan te herinner dat hulle nie net besig was om ʼn muur te herbou nie, maar om hul families en ʼn nasie te herbou en te verdedig (Woolfe, 2002:40; vgl. Neh 4:14). Nehemia het sy oog op sy doelwit gehou. Uit vrees vir die Here het hy nie oor hulle geheers of baie geld, kos of grond verkry nie, maar het hy aangehou om by die werk aan die muur te volhard (Woolfe, 2002:40; vgl. Neh 5:15-16). Nehemia het die mense van Juda geïnspireer ̶ nie met geld nie, maar met ʼn doel wat groter as geld was en binne 52 dae kon hierdie vasberade span daarin slaag om die stadsmuur van Jerusalem, wat vir langer as 120 jaar omgeval gelê het, te herbou (Woolfe, 2002:13,113; vgl. Neh 6:15). Nehemia het nie net die muur herbou nie, maar ook die volk oortuig dat hulle ʼn nasie laat herleef en hul godsdiens en kultuur bewaar, terwyl hulle die lewe en welstand van hul families beskerm (Woolfe, 2002:44; vgl. Neh 7-13).