• No results found

NUWE-TESTAMENTIESE LEIERSFIGURE BINNE DIE KONSEP VAN

HOOFSTUK 5: NORMATIEWE TAAK: PERSPEKTIEWE RAKENDE

5.6 NUWE-TESTAMENTIESE LEIERSFIGURE BINNE DIE KONSEP VAN

5.6.1

Barnabas, die een wat ander aangemoedig het

In die Nuwe Testament vind ons ʼn voorbeeld van ʼn besondere man wat ʼn bekwame leier en begeleier was met die vermoë om ander mense te bemoedig en aan te spoor (Sweet, 2008:71). Hierdie man was Joses, ʼn Leviet en inboorling van die eiland Ciprus, met die bynaam Barnabas, wat “seun van aansporing” beteken (Brooks, 2003:172; Elwell & Comfort, 2001:149; vgl. Hand 4:36). Hy was in die vroeë kerk ʼn bemoediger van ander mense en het groot invloed op die groei en ontwikkeling van prominente leiers in die vroeë kerk gehad (Ogne & Roehl, 2008:59). Barnabas was ʼn ophelper en het elke geleentheid benut om ander mense te bemagtig en te help om te groei (Maxwell, 2007:1270). Hy was ʼn goeie man met ʼn standvastige geloof en vervul met die Heilige Gees (Hand 11:24). Hy het die moed gehad om hom oor Paulus te ontferm toe hy as ʼn nuwe gelowige in Jerusalem onsuksesvol probeer het om op sy eie by die dissipels aan te sluit (Brooks, 2003:173). Barnabas was die aanmoediger en begeleier wat saam met Paulus ʼn pad gestap het, as sy voorspraak opgetree het en verantwoordelik was vir Paulus se bekendstelling en aanvaarding in die gemeentes (Hand 9:26-28). Hy het ʼn reputasie gehad as ʼn man van integriteit, met die gevolg dat Paulus deur die Christengemeenskap aanvaar is (Maxwell, 2007:1271). Selfs nadat Paulus na Tarsus toe teruggegaan het (Hand 9:30), was hy steeds in Barnabas se gedagtes en het laasgenoemde selfs later na Tarsus toe gegaan om Paulus te vind. Barnabas het Paulus saam met hom na Antiogië gebring, waar hulle saam in ʼn jaarlange bediening betrokke was om te onderrig en dissipels te maak (Sweet, 2008:71). In Antiogië is die gelowiges dan ook vir die eerste keer Christene genoem (Elwell & Comfort, 2001:149; vgl. Hand 11:25-26).

In Antiogië is Barnabas en Saulus afgesonder vir die werk waarvoor die Heilige Gees hulle geroep het en is hulle op die eerste sendingreis uitgestuur om die Woord van God te verkondig (Hand 13:1-4). By Pafos het die goewerneur vir Barnabas en Saulus laat roep en hulle versoek om die Woord van God te hoor. Saulus, vervul met die Heilige Gees, het leiding in die gesprekvoering geneem, met die resultaat dat die goewerneur gelowig geword het (Hand 13:7-12). In hierdie stadium het Barnabas vir Saulus na die voorpunt geskuif om die leierskap op hom te neem en met hul vertrek van Pafos na Perge (Hand 13:13) lees ons nie meer van Barnabas en Saulus nie, maar verander dit na Paulus en sy metgeselle (Creswell, 2006:116; Sweet, 2008:72). Barnabas het die potensiaal in Paulus raakgesien; hy het hom vertrou, aangemoedig en geïnspireer om sy Godgegewe rol as leier en begeleier uit te leef (Maxwell, 2007:1271).

5.6.2

Paulus, ʼn begeleier wat ander toerus om te lei

Die naam “Paulus” (Παῦλος)is van Latynse oorsprong (Strong, 2001, #3972), terwyl Σαῦλος of

Saulus van Hebreeuse oorsprong is (Strong, 2001, #4569). Paulus se agtergrond en geskiktheid het hom besonder goed te pas gekom in die werk waartoe hy geroep was (Donne, 2012; Toussaint, 1985:375):

1. Hy het die Joodse kultuur en taal baie goed geken (Hand 21:14; Fil 3:5).

2. Hy was as “Saulus” in Tarsus, Silisië, gebore, maar het in Jerusalem grootgeword en was goed met die Griekse kultuur en filosofie bekend (Hand 17:22-31; Tit 1:3).

3. Hy het oor die voorregte van ʼn Romeinse burger beskik (Hand 16:37; 22:23-29; 25:10-12). 4. Hy was ʼn leerling van die geestelike leier Gamaliël en is volgens die streng opvatting van die

wet opgevoed en geskool as ʼn Fariseër (Hand 22:3; Gal 1:14).

5. Hy was in ʼn sekulêre beroep as tentmaker bekwaam en was in staat om homself te onderhou (Hand 18:3; 1 Kor 9:4-18; 2 Kor 11:7-11; 1 Tess 2:9; 2 Tess 3:8).

6. God het hom met ywer, leierskapsvermoëns en teologiese insig geseën.

Paulus, ʼn prominente leiersfiguur in die Nuwe Testament, is ʼn goeie voorbeeld van iemand wat begeleiding ontvang het en op sy beurt die geestelike leier en rolmodel van vele ander geword het. Nadat Paulus en Barnabas se paaie geskei het (Hand 15:35-39), het Paulus saam met Silas deur Sirië en Silisië gereis, en in Derbe en Listra aangekom waar hy die jong man, Timoteus, ontmoet het (Hand 16:1).

5.6.3

Paulus begelei Timoteus as opkomende leier

Die naam “Timoteus” beteken “eerbiedig aan God” (Dean, 2003:15). Timoteus het ʼn Joodse ma en ʼn Griekse pa gehad (Hand 16:1). Volgens Joodse wette het ʼn kind die geloof van sy ma aangeneem, terwyl die pa volgens Griekse wette die huis regeer het (Gangel, 1998:266). Onder die begeleiding van sy gelowige grootmoeder Loïs en sy moeder Eunice is hy van kleins af in die Ou-Testamentiese Skrifte onderrig, wat die kennis openbaar het van die weg tot verlossing deur geloof in Christus Jesus (Lange, Schaff & Van Oosterzee, 2008:9; Van Zyl, 1993; vgl. 2 Tim 1:5; 3:14-15). Timoteus se ongeveinste geloof het in so ʼn mate in sy lewenswandel na vore gekom dat die gelowiges in Listra en Ikonium goeie getuienis oor hom gelewer het (Elwell & Comfort, 2001:1258; Price & Powell, 2011:1047; vgl. Hand 16:2).

Maxwell (2007:1281) is van mening dat Paulus ʼn oplettende, optimistiese persoon was wat oor goeie onderskeidingsvermoë beskik het. Hy het Timoteus se potensiaal en vermoëns raakgesien en besluit om hom as ʼn voltydse werker saam met hom op sy tweede sendingreis te neem (Hand

16:3). Paulus het beplan om die Evangelieboodskap in beide Joodse en heidense gemeenskappe te verkondig. Om voorsorg te tref dat Timoteus se gemengde afkoms nie enige struikelblokke sou veroorsaak nie en uit welwillendheid teenoor die Joodse Christene in ander gemeentes, het hy hom eers laat besny (Dean, 2003:1598; Gangel, 1998:267; Lange, Schaff & Van Oosterzee, 2008:9; vgl. Hand 16:2-3). Timoteus het by Paulus aangesluit en dit was die begin van ʼn lang begeleidingsverhouding en vennootskap waarin Paulus as leier, gids, vertroueling en rolmodel vir Timoteus begelei het (Borek et al., 2005). ʼn Hegte band van toegeneentheid het tussen hulle ontwikkel, terwyl Paulus voortgebou het op die werk van die vroue wat vantevore Timoteus se lewe help vorm het (Maxwell, 2007:1402).

Paulus het die bedieningswerk prakties aan Timoteus gemodelleer deur aan hom ʼn voorbeeld te stel van leer, lewenswandel, lewensdoel, geloof, geduld, liefde en selfs volharding te midde van vervolging en ontbering, ‘n voorbeeld wat deur Timoteus waargeneem en nagevolg kon word (Borek et al., 2005; Maxwell, 2007:1327; vgl. 2 Tim 3:10-11). Timoteus het saam met Paulus in Berea bedien en in Masedonië agtergebly (Hand 17:10-15), maar het weer by Paulus in Korinte aangesluit (Hand 18:5). In Paulus se brief wat hy aan die gemeente van die Tessalonisense geskryf het terwyl hulle in Korinte gewerk het, word Timoteus se naam ook genoem (1 Tess 1:1; 3:2,5,6). Paulus het dikwels aan Timoteus opdrag gegee om sekere take te verrig wat hom in sy bediening aan die gemeentes en in sy persoonlike groei as dienskneg van Jesus Christus gehelp het (Borek et al., 2005). Terwyl Paulus op sy derde sendingreis in Efese gewerk het, het hy Timoteus na Korinte gestuur om hulle namens Paulus te bedien (1 Kor 4:17; 16:10), en daarna na Masedonië (Hand 19:22). In Paulus se brief aan die Korintiërs wat hy in Masedonië geskryf het, word daar van Timoteus melding gemaak (2 Kor 1:1,19). Timoteus is uit Masedonië na Troas gestuur (Hand 20:4). Hy het weer aan die einde van die derde sendingreis saam met Paulus in Korinte gewerk, net voordat hulle die dankoffer Jerusalem toe sou neem (Rom 16:21). Paulus het erkenning gegee aan die werk van Timoteus en hy word as die medeskrywer en dienaar van Christus vermeld in Paulus se brief uit Rome aan die Filippense (Borek et al., 2005; vgl. Fil 1:1; 2:19,22). Paulus het weer van Timoteus melding gemaak in die brief aan die Kolossense (Kol1:1) en aan Filemon (Fil 1:1). Met die skrywe van Paulus se briewe aan Timoteus was hy waarskynlik die pastor van Efese, die plek waar Paulus ook vroeër lank gewerk het (Hand 18-20).

Borek et al. (2005) wys daarop dat Barnabas vir Paulus ʼn begeleier was en dat Paulus op sy beurt weer ʼn nuwe generasie leiers opgelei het soos Timoteus, Titus, Silas en vele ander. Paulus was ʼn mentor vir talle leiers en het hulle met hom saamgeneem en hulle geleer en gelei, waar hy ook al onder mense gewerk het; daarna het hy hulle op hul eie laat aangaan en soms ook agtergelaat om met verantwoordelikheid en gesag die dienswerk voort te sit (Maxwell, 2007:1416; vgl. 1 Kor 4:17; 16:10). Hy het effektiewe opleidingstrategieë geïmplementeer waardeur hy nie

net dissipels gemaak en begelei het om hom in sy bediening by te staan nie, maar ook om effektiewe leiers van die opkomende generasie te word (Borek et al., 2005; Maxwell, 2007:1416). Paulus het van Timoteus verwag om die dinge wat hy van hom geleer en gehoor het, weer op sy beurt aan getroue manne toe te vertrou wat self bekwaam moes wees om ook ander te leer (Maxwell, 2007:1415; vgl. 2 Tim 2:2). Sweet (2008:92) beskryf Paulus as die tipe begeleier wat mense in ʼn dinamiese verhouding met Christus kon lei en stuur, en hulle kon help om in die genade en in kennis van Jesus Christus te groei om in ʼn daaglikse verhouding met Hom te lewe.