• No results found

Watter rol (indien enige) taalaktivisme in die herwaardering van moedertaalonderrig speel Teorie wat die vraag onderlê

Onderskeid word hier tussen taalregteaktivisme (dit wil sê aktivisme wat gerig is op die bevordering van sprekers se taalkeuse) en taalaktivisme (dit wil sê aktivisme wat gerig is op die vermindering van sprekers se taalkeuse) gemaak. In die beantwoording van die vraag word uitgebrei op die teenwoordigheid van beide vorme van aktivisme en deur watter taalgemeenskappe die onderskeie vorme gedryf word sowel as die redes daarvoor

Vraag 2: Die vorme (indien enige) waarin taalaktivisme onder die verskillende taalgemeenskappe voorkom

Teorie wat die vraag onderlê

Daar word gelet op die instrumente van taalaktivisme soos deur die onderskeie taalgemeenskappe gebruik sowel as op die doelwitte wat daarmee beoog word.

Vraag 3: Of daar inderdaad ’n herwaardering van moedertaalonderrig is. Teorie wat die vraag onderlê

Hierdie vraag word beantwoord teen die agtergrond dat alles teen 1994 daarop gedui het dat die moedertaalideaal nie hoog op die prioriteitslys van die regering sou wees nie en dat die regering eerder op die oopstelling van voormalige wit skole en Engels as onderrigmedium sou fokus. Soos wat sosio-politieke praktyke en -strukture onder druk is om te verander, is dit die taak van aktiviste om kwessies waarop gelet moet word uit te lig (Martel, 1999). Taalaktiviste sal byvoorbeeld hul eie agenda en doelwitte onder die aandag van die regering wil bring. Hierdie navorsingsvraag is beantwoord inaggenome die siening dat daar ook ʼn ander tipe aktivisme bestaan wat in die teenoorgestelde rigting beweeg. Tekens van positiewe sowel as negatiewe taalbenaderings soos geïnisieer deur beide amptelike en nie-amptelike agentskappe is in die data geïdentifiseer en bespreek.

Vraag 4: Watter rol (indien enige) taalaktivisme in die herwaardering van moedertaalonderrig speel. Teorie wat die vraag onderlê

Die rol van taalaktivisme gedurende hierdie tydperk soos in die media gereflekteer is teen Schugerensky (2007) en andere se beskouing dat taalaktivisme enige bewustelike aksie is wat die skep van ʼn demokratiese bestel ten doel het geanaliseer. Die sukses van aktivistiese bewegings sal in die mate van sukses wat hulle daarin bereik gesetel wees.

Hierdie raamwerk is ontwikkel om as basis te dien vir die beantwoording van die probleemvrae. Dit is egter slegs ʼn basis en die volledige literatuuroorsig word in berekening gebring.

120 3.5. Beperkinge van die studie

3.5.1. Verteenwoordigendheid

Daar moet gemeld word dat SA Media nie toegang bied tot kleiner Afrikaanse of Engelse streekspublikasies nie, en ook nie vir Afrikataal koerante, byvoorbeeld Ilanga lase Natal (’n Zoeloekoerant wat in Kwa-Zulu-Natal verskyn) sowel as Unokhethwako (’n Seswatikoerant wat in Limpopo en Mpumulanga verskyn). Dieselfde geld ook vir ander koerante wat eksklusief in die behoefte van eentalige groeperinge voorsien, byvoorbeeld die African Jewish Newspaper (Yiddish), en die Chinese Express (Chinees). Die lys sluit ook nie die twee koerante Vuka SA en Mayibuye, wat beide Engelse koerante is, maar op die oog af as Afrikataal publikasies voorkom, in nie. Ander koerante wat ook uitgesluit word, is die nuwe ponie-formaat publikasies wat die laaste jare op die toneel verskyn het en in die behoeftes van ’n beduidende mark voorsien. Alhoewel slegs 13 uit die 45 publikasies wat in die studie gebruik is, Afrikaans is, kom die meeste van die gerapporteerde gevalle van taalaktivisme uit die Afrikaanse bronne, wat aanduidend kan wees van ’n groter gevoel van bedreiging uit die Afrikaanse gemeenskap. Alhoewel aktivisme uit die Afrikataalsprekende gemeenskap deur beide Afrikaanse en veral die Engelstalige media gedek word, is dit te betwyfel dat alle aktivistiese aktiwiteite en die gevolge daarvan, veral uit die grondvlak Afrikataalsprekende gemeenskappe, vermeld word. Geen koerante in die Afrikatale is in die studie gebruik nie. Geen aanspraak kan dus op volledigheid van die studie gemaak word nie.

3.5.2. Tydsraamwerk

Omdat die analise slegs tot 2005 strek, is dit nie moontlik om ’n meer hedendaagse verslag oor die groei en invloed van aktivistiese organisasies na hierdie datum te lewer nie. Veral die werk van die SBA en die invloed daarvan op die herwaardering van moedertaalonderwys verdien verdere navorsing. Belangrike hofuitsprake soos in die geval van die Hoërskool Ermelo, sowel as gevolge van die skole in Kuruman in die

121

Noord-Kaap en die Laerskool Mikro in die Wes-Kaap val ook buite die tydsraamwerk (Hoofstuk 5).

122 3.6. Slotsom

In hierdie hoofstuk is die empiriese fase van die studie bespreek. Dit gee ’n beskrywing van die basiese navorsingsontwerp, die etiese maatreëls, maatreëls om geldigheid en betroubaarheid te verseker en ’n beskrywing van die data-insameling en metode van data- ontleding.

Van die probleme eie aan dokumente-/mediarekordnavorsing is die kwessies van kredietwaardigheid en betroubaarheid. Hoewel ’n relatiewe groot aantal koerantberigte vir die doel van hierdie studie onder oë geneem is, kan die algemene geldigheid en betroubaarheid van die studie moontlik bevraagteken word. Daar moet egter in gedagte gehou word dat daar slegs op die treffende en dominante temas in die media se diskoers oor taalaktiviste vir taalaktivisme en moedertaalonderrig gekonsentreer is. Hisa (1988:318) se opmerking oor die dilemma van inhoudsanalise moet ook in ag geneem word: “When content analysis are free to choose the content, we may fault them for their biases; when they use random selection procedure, we may blame them for missing something important.”

Die navorser se taak is dus om seker te maak dat die bronne wat in die studie gebruik is eg is en nie blote historiese namaaksels nie. In hierdie studie is geen probleme daarmee ondervind nie omdat die rekords wat gebruik is teruggespoor kan word na die koerante wat dit oorspronklik geproduseer het. Dit kan ook gerekonsilieer word met die algemene kennis rakende moedertaalonderrig en taalaktivisme soos wat dit ten tyde van die verskyning daarvan bestaan het. Dit stem ook breedweg ooreen met inligting uit boeke, artikels en wetenskaplike vaktydskrifte verkry soos bespreek in die literatuur- en dokumentestudie. Daarby behoort nuusberigte, ooreenkomstig die Internasionale Organisasie vir Joernaliste se gedragskodes vir joernaliste onbevooroordeelde nuus te bevat (Merrill, Lee & Friedlander, 1990:403-405) en bestaan daar regsbeginsels insake die publisering van valse berigte en naamskending (Carey, 1999:72-77).

123