• No results found

Hoofstuk 4 Taalaktivisme en taal in die onderwys in Suid-Afrika

4.2. Die verskillende tydperke

4.2.1. Koloniale Tydperk (1652 – 1910)

4.2.1.4. Republikeinse Tydperk (1834 – 1899/1902)

Ten spyte van Brittanje se vroeëre besluit om die kolonies in die binneland prys te gee, het hernude imperiale belangstelling weer begin posvat. Dit het tot die Britse anneksasie van Basoetoland in 1868 en van die ZAR in 1877 gelei. Die anneksasie is teengestaan en die verset het uiteindelik tot die Anglo-Boereoorlog gelei. Na die oorlog het Transvaal weer in 1881 in die hande van die Boere beland. Volgens Steyn (1995:99) is grootse pogings na die Anglo-Boereoorlog aangewend om die onderwys en die staatsdiens Hollands te hou.

Die verhollandsing van die staatsdiens het tot groot ontevredenheid onder die groeiende Engelssprekende bevolking van Transvaal gelei. Dit was egter vir die Kruger-party belangrik om Hollands ten alle koste te handhaaf en om Engels so ver as moontlik in die onderwys en staatsdiens aan bande te lê. Wet no. 10 van 1888 het die gebruik van Hollands in alle amptelike stukke van die ZAR verpligtend gemaak (Zietsman, 1992:16).

In 1890s het die griewe teen die verhollandsingsbeleid toegeneem. In 1895 het Charles Leonard, namens die Transvaal National Union, ’n reeks griewe gepubliseer. Uitlanderdrukgroepe het daarop voortgebou deur aan te dring dat Engels ʼn regmatige plek in die howe en Volksraad moes inneem.

Die stryd in die ZAR het gevolge vir die ander kolonies gehad. Die Kaapse Afrikaners sowel as die Vrystaters het sterker bewus geraak van hul bande met hul taalgenote in die

134

noorde. Verskeie aktivistiese groepe het in die Kaapkolonie ontstaan. Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig om vir taal en volk te veg. Volgens Kamwangamalu (2001:369) het hierdie toedrag van sake (in die ZAR) aanleiding gegee tot die eerste stap om positiewe inhoud aan Afrikaans te gee. Die eerste vergadering wat die grondslag gelê het vir die vervanging van Nederlands met Afrikaans het in 1875 plaasgevind en is deur die GRA georganiseer. Hierdie organisasie het die grondslag gevorm vir die stigting van die latere Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Die doel vir die stigting van laasgenoemde was eerstens, om die belange van Afrikaans te bevorder en tweedens, om die basis vir politieke eenheid binne die wit Afrikaanssprekende gemeenskap te lê. Kamwangamalu beskou die werksaamhede van die GRA as beide ’n stap weg van Hollands sowel as ’n opstand teen die oorheersing van Engels.

In 1878 is die Kaapse Afrikanerbond gestig en daarna het die stigting van die nasionalistiese Afrikaner Bond in 1879 onder leiding van ds. S.J. du Toit gevolg. As instrument in hul verset teen Engelse oorheersing het die Kaapse Afrikaners die koerant

Di Patriot effektief gebruik. In 1882 is die mosie van Jan Hofmeyr om Hollands in die

parlement te praat, sonder teenstem deur die Kaapse Wetgewende Vergadering aanvaar. Vanaf 1884 kon Hollands op versoek in laerhowe sowel as in die hooggeregshof gebruik word. Om vir permanente aanstelling te kwalifiseer moes magistrate sedert 1895 kennis van Hollands hê. Dit blyk egter, volgens Steyn (1995:99), dat nie al die beleidsveranderinge in die praktyk neerslag gevind het nie. Die toestande vir die Afrikaner in die Kaapkolonie het na 1900 in werklikheid baie versleg.

Na die Groot Trek het gemeenskappe hulle oor ’n wye gebied in die binneland gevestig. Onderwysers is van Holland af ingevoer en een van hulle is opdrag gegee om die eerste skoolregulasies saam te stel. Die regulasies wat in 1852 gepromulgeer is kan as die eerste geskrewe poging beskou word om ’n onderwysbeleid in die ZAR te formuleer. Alhoewel Hollands die amptelike taal was, was daar ’n groot aanvraag na Engels in die skole. Die

Onderwyswet van 1866 het vir die eerste keer voorsiening gemaak vir die onderrig van

135

agt distrikskole en vier plaasskole wat onder die jurisdiksie van die ZAR geval het. Dit het agt persent van die kinders van skoolgaande ouderdom uitgemaak. Van die distrikskole was vier Engelsmedium, drie Hollandsmedium en een dubbelmedium. Volgens Zietsman (1992:12) het meer kinders in 1876 in die dorpskole onderrig deur die medium van Engels as Hollands ontvang.

Die anneksasie van die ZAR in 1877 het ’n groot invloed op die onderwys gehad. Vacy Lyle is as Engelse Superintendent van Onderwys aangestel. Volgens Lyle was daar ’n groeiende behoefte by mense om Engels aan te leer. Hy het voorgestel dat aparte skole vir Engels en Hollands gestig moet word en dat die keuse om voertaal vas te stel eerder by die ouers as by die regering moes berus (Malherbe, 1925:526).

Die Britse anneksasie het ’n sterk anti-Britse gevoel onder die Boereleiers aangewakker. Een van die stigterslede van die Afrikaner Bond, ds. S.J. du Toit, is na die Eerste Vryheidsoorlog as Superintendent van Onderwys aangestel. Hy het hom, as redakteur van

Di Patriot, vir Afrikaans as onafhanklike taal beywer. Die nuwe Onderwyswet van 1882

het bepaal dat Hollands die enigste medium van onderrig in die skole sou wees. Dit het tot ’n groot toename in leerlinggetalle gelei.

Dr. Nicolas Mansvelt, wat Du Toit in 1891 as Superintendent van Onderwys opgevolg het, was baie vyandiggesind teenoor enige Engelse invloed. Taal en volk was vir hom sinoniem, daarom moes die moedertaal van die Afrikaner die kern van die onderwys uitmaak. Die Onderwyswet van 1892 het dan ook bepaal dat Hollands die enigste medium van onderrig in die skole sou wees. Daar moes ook slegs van Hollandse boeke gebruik gemaak word, behalwe in die geval van vreemde tale. Daar kon ook nie voor standerd drie met ’n vreemde taal begin word nie. Vanaf standerd vier kon hoogstens 6 van die amptelike 25 uur in die week, aan ’n vreemde taal bestee word. Hierdie bepalings is stiptelik uitgevoer en skole wat nie daaraan voldoen het nie, het hul subsidies verloor.

Die bepalings het tot geweldige konflik tussen die Uitlanders en die regering gelei. Hulle het geweier dat hulle kinders deur in Hollands onderrig word. In reaksie hierop het die

136

Transvaalse Volksraad in Junie 1892 per spesiale besluit voorsiening gemaak vir skole wat nie die landstaal as voertaal wou gebruik nie. Hierdie skole kon wel subsidies kry, maar moes dan Hollands as vak tot die bevrediging van die superintendent onderrig. Voorts moes die leerders ook ’n Hollandse inspeksie slaag om tot die volgende standerd bevorder te word (Zietsman, 1992:13). As verdere reaksie teen die inperkende beleid het die Uitlanders in 1895 die Witwatersrand Council of Education gestig en privaatskole begin. Die regering het hierop gereageer deur Engelse staatskole te begin waar Hollands op ’n toevoegende basis vanaf die eerste jaar bygebring sou word, totdat dit vanaf die vierde jaar as voertaal gebruik moes word. Dit het egter nie aftrek onder die Uitlanders gekry nie, en meer Engelse privaatskole is gestig. Die ZAR se onderwysbeleid het ook onder kwaai kritiek van die opposisiepartye deurgeloop. Volgens Zietsman (1992:13-15) het die regering se harde beleid teenoor Engels ook van binne eie geledere teenstand gekry omdat sommige ZAR-burgers gevoel het dat dit vir die jeug belangrik was om Engels aan te leer, aangesien hulle gevoel het dat Engels reeds die taal in die sakewêreld en die mynbou was.

In die Vrystaat het die Volksraad aanvanklik ’n akkommoderende stelsel oor taal gehandhaaf. Veral ouers in Bloemfontein het Engels as onderrigmedium verkies omdat hulle Engels as die taal van die sakewêreld beskou het. ’n Ordonnansie wat in 1863 by die Volksraad ingedien is, het vir moedertaalonderrig voorsiening gemaak. Die studie van Engels is sterk aangemoedig. Ds. John Brebner wat in 1874 as die inspekteur-generaal van onderwys aangestel is, was nie ’n oortuigde voorstander van Hollands as enigste voertaal in die onderwys nie. Hy het dus ’n stelsel voorgestel waarin beide Engels en Hollands as vakke aangebied moes word en enige van die twee tale as onderrigtaal gebruik kon word. Die meeste van die skole het toe Engels as onderrigtaal verkies.

Afrikaanse ouers het hulle egter algaande teen hierdie denkrigting begin verset. In 1889 het die Volksraad bepaal dat Hollands die voertaal in alle staatskole moes wees en dat die onderrig van Engels opsioneel sou wees. Die beleid is egter nie streng toegepas nie.

137

Onderwys vir swart mense in die ZAR het as gevolg van die filantropiese belangstelling van die sendelinge begin. Eers na die eerste Britse besetting het die Transvaalse regering subsidies aan die sendingskole betaal. Dit het onderwys vir swart mense gestimuleer. Hierdie skole was egter teen hierdie tyd steeds nie onder regeringsbeheer nie. In hierdie stadium was die ontwikkeling van swart onderwys in die Vrystaat nog ver agter dié in die ander provinsies. Teen 1910 was daar slegs een staatskool vir swart mense in hierdie provinsie. Die res was onder die bestuur van sendelinge.

Taalaktivisme het in die Republieke grootliks van die Kaapkolonie verskil in die sin dat dit meestal vir Engels en teen Hollands gerig was en deur Engelstaliges aangespoor is. Volgens die diglossiese model het Hollands in die twee Boererepublieke die plek van H- variëteit en Engels die L-variëteit beklee. Die Afrikatale het glad nie ’n plek in die wetgewing gehad nie.

In 1863 is ’n bepaling uitgevaardig wat in ’n sekere opsig as die eerste ‘skoolwet’ van die Vrystaat beskou kan word (Truter, 2004:18). Die bepaling het onder meer die beginsel van moedertaalonderrig onderskryf, maar het ook voorsiening gemaak vir tweetalige onderrig deur die studie van Engels aan te moedig. Van die ouers, onder andere die van Grey Kollege in Bloemfontein, was teen moedertaalonderwys gekant. As alternatief tot die staatskole, wat Hollands georiënteerd was, het hulle verkies om hul kinders na Engelse privaatskole te stuur. Omdat die vlak van onderrig in dié skole oor die algemeen beter as in die staatskole was, het die privaatskole redelik floreer in vergelyking met die kwynende staatskole (Truter, 2004:19). Hollands het, ondanks wetgewing ten gunste van moedertaalonderrig, steeds nie tot sy reg gekom nie. Dit was deels as gevolg van ouers wat Engelsonderrig beskou het as in die beste belang van hul kinders en deels as gevolg van die Vrystaatse regering se versuim om ’n ferm houding ten gunste van moedertaalonderrig in te neem. Uit die geledere van die voorstanders van Hollandse moedertaalonderrig is vertoë herhaaldelik tot die Volksraad gerig dat Hollands meer tot sy reg moet kom. Dit het tot die Onderwyswet van 1891 gelei wat moedertaalmedium tot Graad 4 verpligtend gemaak het en ook bepaal het dat minstens die helfte van die vakke daarna deur die medium van Hollands onderrig moes word. Kort voor die uitbreek van

138

die Anglo-Boereoorlog is, onder druk van die ouers, ander wysigings aan die wet aangebring wat Hollands op skool versterk het. Die staat het ook ’n kommissie aangestel wat belas was met die opstel van Hollandse handboeke vir Aardrykskunde, Geskiedenis, Bybelgeskiedenis en Hollandse taalkunde.

Alhoewel die Grondwet van 1858 van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) in Hollands opgestel is, het dit geen bepalinge oor die amptelike taal bevat nie (Truter, 2004:24). ’n Latere onderwyswet, Wet 1 van 1882, het Hollands die uitsluitlike medium van onderwys gemaak. In laerskoolonderwys is Engels glad nie erken nie, terwyl dit in die middelbare onderwys wel as vak aangebied kon word. Dr. N. Mansvelt, wat in 1891 die Superintendent van Onderwys in Transvaal geword het, het die Hollandse inslag van die openbare onderwys versterk. Dit het tot die stigting van meer Engelse privaatskole gelei as gevolg van die groeiende Engelsspekende gemeenskap (na aanleiding van die ontdekking van goud aan die Rand). Die Uitlanders het geweier dat hul kinders in Hollands onderrig word en het uit verset ’n finansieel onafhanklike Council of Education met hul eie Director of Education tot stand gebring. Hierdie liggaam het ’n aantal skole met Engels as medium van onderrig gestig, onderhou en beheer. Waarskynlik as reaksie hierop het die regering kragtens Wet 15 van 1896 staatskole vir Engelssprekende leerlinge gestig waar hulle teen geringe of geen betaling onderwys in hul eie taal kon ontvang (Truter, 2004:26).

Anders as in die twee voorafbespreekte gebiede het Engels in Natal die H- variëteitsposisie beklee met Hollands as L-variëteit. Al die Natalse skole, behalwe die rondgaande skole, wat Hollands was, was Engelsmedium. Onder druk van die regering het dié skole ook later van die toneel verdwyn. Die versoek van Hollandssprekende ouers in 1875 om hul moedertaal ingevoer te kry, is deur die regering geïgnoreer. Na ’n petisie en versoekskrif dat Hollands in die Nieu-Duitslandstreek onderrig moet word, het die Sentrale Raad van Onderwys die instelling van Hollandse klasse in ʼn skool in Greytown toegelaat. Na soortgelyke versoeke aan die Sentrale Raad van Onderwys en later selfs direk aan die Natalse Parlement is verskeie wysigings aan die onderwysordonnansies van 1877 aangebring en in Ordonnansie 2 van 1889 vervat. Veranderinge wat in werking

139

getree het, was dat alle kennisgewings aan die plattelandse skole in sowel Engels as Hollands gedruk moes word. ’n Tweetalige assistentinpekteur is aangestel. In Januarie 1890 is die eerste twee Hollandse onderwysers in Natal aangestel. Engelse leesboeke vir Grade 6 tot 9 is met Duitse en Hollandse leesboeke vervang. Na pogings deur S.I. Russel, die Superintendent van Onderwys in Natal, om Hollandse onderrig te bemoeilik, was die 1890s die keerpunt vir Hollandse verset (Truter, 2004:34). Verskeie Boereliggame en die Hollandse Kerk het hulle van 1894 af in so ’n mate verset dat Hollands uiteindelik as opsionele vak toegelaat is.