• No results found

Die Mate Waartoe Verkiesings Vry, Regverdig en Mededingend is Botswana het sedert onafhanklikheidswording daarin geslaag om vry, regverdige

HOOFSTUK 2: INSTELLINGS 2.1 BOTSWANA

2.1.4 Die Kiesstelsel: Enkellid Kiesafdelings

2.1.5.1 Die Mate Waartoe Verkiesings Vry, Regverdig en Mededingend is Botswana het sedert onafhanklikheidswording daarin geslaag om vry, regverdige

en mededingende verkiesings, volgens die reëls van die kiesstelsel, te hou (Clapham: 1993: 429). Daar is 14 geregistreerde partye in Botswana, maar slegs vier het verteenwoordiging in die parlement, naamlik die BDP, BNF, BCP en NDF (Molomo: 2004: 61). Sebudubudu & Osei-Hwedie (2005: 43) argumenteer dat verkiesings vry van intimidasie en geweld is, en dat die hele elektoraat kan deelneem. Hulle argumenteer egter dat die 2004 verkiesings deels onregverdig was omdat dié verkiesing gekenmerk was deur ʼn tekort aan werklike party mededinging, ongelyke toegang vir politieke partye tot die openbare media, die afwesigheid van openbare befondsing vir politieke partye en die FPTP kiesstelsel wat kleiner partye benadeel.

Du Toit (1995: 102-103) identifiseer twee kenmerkende patrone met betrekking tot die mededingende verkiesings in Botswana. Eerstens word daar aangedui dat die BDP sedert onafhanklikheidswording die dominante party tydens verkiesings

was. Tweedens ontbreek daar duidelike ideologiese verskille ten opsigte van die posisies wat verskillende partye inneem.

Du Toit (1995: 102-105) se patrone (aangepas tot 2004) kan waargeneem word indien die verkiesingsuitslae (sien tabelle 1 en 2) sedert onafhanklikheidswording bestudeer word.

Tabel 1: Hoeveelheid setels gewen deur partye in Botswana: 1965-2004

Party 1965 1969 1974 1979 1984 1989 1994 1999 2004 BDP 28 24 27 29 29 31 24 33 44 BNF - 3 2 2 4 3 13 6 12 BBP 3 3 2 1 1 0 0 - 0 BIP 0 1 1 0 0 0 - - - BAM - - - 0 0 BCP - - - 1 1 MELS - - - 0 0 NDF - - - 0 TOTAAL 31 31 32 32 34 34 40 40 57 (Solomakae: 2005: 10)

Dit is duidelik dat die opposisie gefragmenteer is. Hierdie fragmentasie het hoofsaaklik ontstaan as gevolg van onoorbrugbare intra-party faksie bakleiery, interne verdelings, die ongunstige FPTP kiesstelsel en ʼn swak kapasiteit om alternatiewe beleide te ontwikkel. Botswana het in effek ontwikkel in ʼn de facto predominante partystelsel, waar die regerende party elke keer die verkiesing gewen het. Die BDP regering se eie agterbankers tree dikwels as opposisie op ten einde die kabinet te adviseer (Taylor: 2003: 73).

Hierdie fragmentasie van die opposisie het twee belangrike gevolge. Eerstens, indien die hoeveelheid setels wat die onderskeie partye gewen het (tabel 1) vergelyk word met die persentasie stemme wat die partye gewen het (tabel 2),

word die disproporsionaliteit tussen die hoeveelheid stemme en setels gewen aangedui.

Tabel 2: Persentasie van die populêre stem wat deur elke party gewen is tydens Botswana se algemene verkiesings (1965-1999)

Party 1965 1969 1974 1979 1984 1989 1994 1999 BDP 80 68 77 75 68 65 55 54 BNF - 14 12 13 20 27 37 25 BBP 14 12 6 8 7 4 4 - BIP 5 6 4 4 3 2 4 - BCP - - - 11 BAM - - - 5 Ander 1 0 1 0 2 2 0 0 Verwerp - - - 5 (Taylor: 2003: 74)

Indien Tabel 1 en 2 vergelyk word, is dit duidelik dat daar ʼn groot disproporsionaliteit is tussen die hoeveelheid setels gewen en persentasie stemme ontvang deur die verskillende partye. Veral sedert 1984 is hierdie tendens duidelik. In 1984 het die BDP 68% van die stemme getrek, maar 31 uit die 34 setels gewen, met die opposisie BNF, wat 20% van die stemme getrek het en slegs 5 setels gewen het. In 1989 het die BNF, ten spyte van ʼn 7% styging in stemme ontvang, twee minder setels in die Nasionale Vergadering ontvang. Hierdie tendens het voortgeduur in 1994 en 1999, waar die BDP onderskeidelik 55% en 54% van die stemme ontvang het, maar 31 setels in 1994 en 33 setels in 1999 ingeneem het.

Die tweede gevolg van hierdie fragmentasie onder die opposisie is dat, indien daar eenheid onder opposisie groepe sou wees, hulle aansienlik beter by die stembusse sou gevaar het. Die onderstaande tabel staaf hierdie siening.

Tabel 3: Algemene Verkiesingsresultate vir ʼn geselekteerde groep kiesafdelings in Botswana: 2004 BDP OPPOSISIE MARGE Kgatleng- Wes 3934 6319 2376 Suid-Oos 37691 5363 1594 Mogoditshane 2375 3649 1274 Gaborone Wes 2480 3753 1273 S/Pikwe Wes 3100 4291 1191 S/Pikwe Oos 2629 3709 1080 Ngami 5291 6283 992 F/Town Suid 2843 3432 589 Nkange 4246 4531 285 Kweneng 4658 4808 146 (Solomakae: 2005: 15).

Hierdie tabel gee ʼn duidelike aanduiding van die kiesafdelings waar die BDP nie sou gewen het as die opposisie nie verdeel was nie. Fragmentasie onder die opposisie kan dus as die rede beskou word waarom die opposisie nie meer setels wen nie (Solomakae: 2005: 14).

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (IEC) is in die lewe geroep om verkiesings te hou, oorsig oor die proses te hou en te verseker dat verkiesings vry en regverdig is (EISA: 2005a). Die onafhanklikheid, legitimiteit, kredietwaardigheid en kapasiteit van die IEC is van kardinale belang in die demokratiese proses. Dit is veral die kapasiteit van die IEC om gehoorsaam te wees aan die kieswette met betrekking tot die stemproses, en om ongerymdhede te vermy, wat belangrik is. Die IEC word egter beperk deur onvoldoende en tydelike personeel. Opposisiepartye het ook die IEC se onpartydigheid en onafhanklikheid bevraagteken, omdat die President die Sekretaris van die IEC

aanstel, en IEC werknemers is ondergeskik aan die regeringsregulasies, en word ook vanuit die regering gewerf (Sebudubudu & Osei- Hwedie: 2005: 11-13). 2.1.5.2 Die Hoeveelheid Keer wat ʼn Insittende Party sy Magsposisie Verloor het

Die verkiesingsuitslae soos aangedui in afdeling 2.1.5.2, maak dit duidelik dat sedert onafhanklikheidswording een party, die BDP, al die verkiesings gewen het, sonder enige ernstige uitdagings deur opposisie partye (Clapham: 1993: 429). Daar was dus nog geen verandering in die magsposisie van Botswana nie, en volgens Huntington kan Botswana dus nie as ʼn gekonsolideerde demokrasie beskou word nie.

Die politieke sfeer in Botswana word duidelik deur die BDP gedomineer. Alhoewel dit wel die geval is, kontrasteer Du Toit (Randall & Svåsand: 2002: 37) egter twee soorte dominante partye met mekaar. Eerstens is daar die soort dominante party wat brûe kan bou tot ʼn werklike en effektiewe veelparty stelsel, en tweedens is daar die soort dominante party wat die terugkeer na ʼn eenparty stelsel voorstel. Botswana se BDP word in die brugbou klassifikasie geklassifiseer. Die afleiding kan dus gemaak word dat eenparty dominasie nie op sigself ʼn kontradiksie is tot demokratiese regeringsbestuur nie, maar dit is wel ʼn strukturele kenmerk van ʼn partystelsel wat nie bevorderlik vir demokratiese konsolidasie is nie.

2.1.6 Staatsburokrasie

Na onafhanklikheidswording het Botswana probleme ervaar om ʼn sterk burokrasie op te bou. Onder die Britse koloniale bestuur is min pogings aangewend om ʼn Tswana burokratiese klas te ontwikkel. Daar was ook te min sekondêre en universiteitsgraduandi om aan die behoeftes van die openbare sektor te voldoen. Die gevolg hiervan was dat die BDP uitgewekenes genader het om besluitnemingsposisies in die staatsburokrasie in te neem. Die voordeel van hierdie stap was dat hierdie uitgewekenes reeds ondervinding in die werking

van die burokrasie gehad het en kon dus meer produktief optree. Die nadeel verbonde aan hierdie stap was egter dat hierdie buitelandse kaders onsensitief was teenoor openbare opinies en dus onverskillig teenoor plaaslike gebruike opgetree het (Holm: 1988: 203-204).

Nietemin het ʼn outonome burokrasie, in koalisie met die BDP, ontwikkel. Tegnokratiese prioriteite van groei en stabiliteit is gestel, met die gevolg dat ʼn solvente staat geskep is wat openbare goedere, byvoorbeeld paaie, skole en klinieke, kan lewer. Hierdie goedere word nie op ʼn streeks- of stambasis gelewer nie, met die gevolg dat die minimum vereistes van gesamentlike aanbod en die nie-uitsluitbaarheid van hierdie openbare goedere verseker word (Du Toit: 1995: 121). ʼn Kantoor van die Ombudsman is ook opgerig as gevolg van klagtes deur die publiek met betrekking tot hoe die burokrasie met die publiek omgaan en werk. Hierdie Kantoor verskaf aan die Botswana bevolking ʼn forum waar hulle hul klagtes kan indien (Solomakae: 2005).