• No results found

HOOFSTUK 4: SOSIALE FAKTORE 4.1 BOTSWANA

4.1.2 Die Bestaan en Grootte van die Middelklas

Die verstedelikingsyfer en vlakke van volwasse geletterdheid is twee faktore wat tot die grootte en bestaan van ʼn middelklas bydra. Dit is dus nodig om die vlakke van verstedeliking en volwasse geletterdheid te ondersoek.

4.1.2.1 Verstedelikingsyfer

Die persentasie stedelike bevolking in vergelyking met die totale bevolking word deur die onderstaande tabel aangedui.

Tabel 20: Stedelike Bevolking in Botswana (%): Geselekteerde Jare

Jaar 1960 1995 2000 2003 2010 (verwag) Stedelike bevolking (%) 2 35 42 49 53

(Du Toit & Jacobs: 1995: 8; Breytenbach: 2003: 7).

Sedert 1960 het die totale stedelike bevolking toegeneem in Botswana, vanaf 2% in 1960 tot ʼn verwagte 53% in 2010. Die gemiddelde persentasie stedelike bevolking jaarlikse groeikoers vanaf 1960 tot 1993 was 12, 3% per jaar, maar het vanaf 1993 tot 2000 teen ʼn stadiger groeikoers van 6,6% per jaar toegeneem (Human Development Report: 2000).

In ʼn studie deur Breytenbach (2003:7), is die sosiale basis vir veelparty stelsels sedert hul onafhanklikheid ondersoek. Die veelpartystelsels van Senegal, Botswana, Mauritius, Zimbabwe en Namibië is bestudeer, en Breytenbach het gevind dat die gemiddelde persentasie stedelike bevolking 41% is. Botswana het

in 2003 die hoogste persentasie stedelike bevolking (49%) gehad. Alhoewel Botswana se verstedeliking syfer hoër is as die ander vyf state, is die land se algemene persentasie stedelike bevolking redelik laag, en dit dui nie op ʼn noemenswaardige potensiaal vir die ontwikkeling van ʼn robuuste middelklas nie. 4.1.2.2 Volwasse Geletterdheid

Die vlak van volwasse geletterdheid in Botswana word deur die onderstaande tabel aangedui.

Tabel 21: Volwasse Geletterdheid in Botswana (%): Geselekteerde Jare

Jaar 1993 1998 2000 2003 Tendens Volwasse Geletterdheid (% vanaf ouderdom 15) 68 75.6 77.2 78.9 Stygend

(Human Development Report: 1996: 136; Human Development Report: 2000: 159; Human Development Report: 2002: 151; Human Development Report: 2005a).

Botswana word deur ʼn hoë, en stygende, vlak van volwasse geletterdheid gekenmerk. Die gemiddelde vlak van volwasse geletterdheid in vyf veelparty stelsels, sedert hul onafhanklikheid, in Afrika (Senegal, Botswana, Mauritius, Zimbabwe en Namibië), is 75% (Breytenbach: 2003: 7), en dus het Botswana, met 78,9% van die bevolking geletterd in 2003, ʼn hoër persentasie geletterde volwassenes as die gemiddeld vir hierdie vyf state. Omdat hierdie syfer hoër as die verstedelikingskoers is, impliseer dit ʼn relatief geletterde platteland, wat ‘n goeie onderwysstelsel illustreer. Dit is egter nie ʼn konvensionele middelklas nie. 4.1.3 Die Bestaan en Rol van die Burgerlike Samelewing

Die samelewing in Botswana is gepolariseer in verskillende burgerlike organisasies wat as mondstukke vir hul etniese groepe dien. Voorbeelde hiervan

is die Vereniging vir die Bevordering van die Ikalanga Taal (SPIL), Pitso ya Batswana (PYB), Kamanakao Assosiasie en Eerste Mense van die Kalahari (FPK) (Molomo: 2004: 60).

SPIL dien as voertuig vir Kalanga nasionalisme, en poog om deur die bevordering van die Ikalana taal ʼn Kalanga identiteit en self-beskikking te vestig. PYB is ʼn organisasie wat die dominasie van die Tswana kultuur manifesteer, en het die ideaal om die bewussyn van die Tswana-sprekende Batswana te verhoog. Dit word gedoen omdat hulle voel dat, alhoewel hulle hulself as ʼn numeriese meerderheid beskou, hulle toenemend gemarginaliseer word deur ander etniese groepe, spesifiek die Bakalanga, met betrekking tot strategiese posisies in die regering, asook in ander belangrike ekonomiese sektore. Die FPK artikuleer die behoeftes van die Basarwa, aangesien hierdie samelewing baie gemarginaliseerd is in Botswana (Molomo: 2004: 60).

Die private media het ʼn rol gespeel in die demokratiseringsproses van Botswana, waar etiese bevraagtekening die sentrale domein was waardeur die media aan die bovermelde proses deelgeneem het. So het die ‘Gazette’, ‘Mmegi wa Dikgang’ en die ‘Sun/Guardian’ koerante ʼn sentrale rol gespeel om sekere skandale te publiseer tydens die 1994 verkiesing, waar byvoorbeeld sommige prominente individue nie hul skuld aan die Nasionale Ontwikkelingsbank betaal het nie. Die pers het ook ʼn groot rol gespeel om korrupsie, wanbestuur en menseregte- skendings te ontbloot (Maundeni: 2004: 47).

Die ‘Botswana Centre for Human Rights – Ditshwanelo’ is ʼn organisasie wat aktief protesteer teen beleide wat die herlokasie van die Basarwa of die San van die Sentrale Kalahari Wildtuin wil bewerkstellig; die doodstraf; MIV/Vigs; en menseregte (Maundeni: 2004: 63).

Die bogenoemde organisasies verteenwoordig wel ʼn deel van die burgerlike samelewing in Botswana, maar in die algemeen word die burgerlike samelewing

in Botswana as swak en a-polities beskryf (EISA: 2004: 10). Burgerlike organisasies is veral swak in terme van hul verhouding met die staat, en is primêr bemoeid met die bevordering van hul eie belange, en nie met hul verhouding met die staat nie. Verder projekteer die staat die burgerlike samelewing as organisasies wat openbare beleid wil beïnvloed, vreemde belange bevorder, en ook as organisasies wat deur die opposisie geïnfiltreer is (Solomakae: 1998: 10).

Taylor (2003: 79) is van mening dat die politieke en ekonomiese stabiliteit wat in Botswana heers, deels die verduideliking is waarom die burgerlike samelewing in Botswana swak ontwikkeld is. Die afwesigheid van ʼn onafhanklikheidstryd, ʼn gebrekkige tradisie waar die status quo bevraagteken word, gekombineer met ʼn bo-na-onder tradisionele kultuur van gehoorsaamheid aan dié wat superieur in die samelewing is, het waarskynlik ook bygedra tot Botswana se swak ontwikkelde burgerlike samelewing. In addisie tot bogenoemde, het die regering in Botswana ook ʼn ondemokratiese geneigdheid teenoor sekere organe van die burgerlike samelewing getoon wat nie deur die regering beheer kon word nie (Maundeni: 2004: 10).

Die staat het verder ook vakbonde gedruk om te federeer, nie- regeringsorganisasies (NRO) om sambreelliggame te vorm en beide die vakbonde en NRO’s is aangemoedig om weg van opposisie politieke partye te beweeg, en eerder met die huidige verkose regering saam te werk. Die staat het van die vakbonde vereis om polities neutraal te bly, en aangesien vakbonde die enigste organisasie is wat werklik die potensiaal het om die mag van die staat te verminder, is hul bedreiging vir die staat effektief afgeweer (Maundeni: 2004: 68).

Die regering het dus daarin geslaag om hul eie staatsmag te versterk. Burgerlike organisasies het misluk om die druk van die regering af te weer, en gee toe aan regeringseise. Vakbonde het hulself van opposisie partye gedistansieer ten einde deur die staat aanvaar te word. Dus, in kontras tot vakbonde in byvoorbeeld

Suid-Afrika en Zimbabwe, het dié in Botswana hulself van die opposisie gedistansieer, en hierdie nie-affiliasie tot ʼn politieke party dien as basis om opposisie partye swak te hou (Maundeni: 2004: 67-69).

Ditshwanelo het as NRO ook slegs beperkte sukses behaal, as gevolg van ʼn verskeidenheid redes. Eerstens is die spesifieke organisasie baie klein en swak befonds. Tweedens word plaaslike besighede gelei deur die regering se beleid dat geen befondsing verskaf moet word aan organisasies wat ʼn politieke ondertoon het nie, of wat gemarginaliseerde groepe wil bemagtig nie. Derdens, het Botswana se status as ʼn bo-middel inkomste land veroorsaak dat internasionale donateurs hul fondse onttrek het en dit na lande met groter behoeftes verskuif het (Maundeni: 2004: 64).

Toegevoeg tot die druk wat die regering op NRO’s en vakbonde uit oefen, vind burgerlike organisasies dit al hoe moeiliker om genoeg fondse tot hul beskikking te hê ten einde hul aktiwiteite suksesvol uit te voer. Soos wat die voorbeeld van Ditshwanelo hierbo aandui, sukkel NRO’s om genoeg fondse in te samel. Slegs die vakbonde steun eksklusief op interne befondsing. Ten spyte van die feit dat hierdie vakbonde intern befonds word, bly hulle a-polities. Dit beteken dat hulle nie hul finansiële onafhanklikheid kan omskep in ʼn formidabele krag wat die verantwoordbaarheid van die staat effektief kan verseker nie. Hulle kan nie kragte saamsnoer met ander burgerlike organisasies, soos ander politieke partye, nie ten einde die politieke basis van die regerende gesag uit te daag nie. Ander burgerlike organisasies word of deur die staat of donateur organisasies befonds. Hierdie befondsing word egter eksklusief beperk tot polities neutrale projekte (Maundeni: 2004: 75-76).

Die druk wat deur die regering uitgeoefen word op burgerlike organisasies om te federeer en nie met opposisie partye saam te werk nie, asook die gebrekkige befondsing beskikbaar vir hierdie organisasies, is twee van die hoofredes waarom die burgerlike samelewing as swak en a-polities beskryf word. Hierdie

organisasies word basies geforseer om met die regering saam te werk indien hul enigsins met hul aktiwiteite wil voortgaan. Die tekort aan werklike deelname van die burgerlike samelewing in Botswana het veroorsaak dat opposisie groepe toenemend gemarginaliseer word, en die status quo in Botswana is behou. Maundeni (2004: 79) argumenteer selfs dat hierdie toedrag van sake Botswana se veelparty demokrasie verswak het tot ʼn operasionele een-party stelsel.

4.1.4 Samevatting

Botswana is ʼn multi-etniese land, maar etnies kompak aangesien die Tswana groep 79% van die bevolking verteenwoordig. Sekere dele van die bevolking voel dat daar teen hulle gediskrimineer word, en daar word van nie-Tswana groepe verwag om tot die Tswana kultuur te assimileer en hul eie kultuur te onderdruk ten einde nasiebou te bevorder. Die Grondwet gee ook ex-officio status aan die hoofmanne van die agt Tswana stamme, met die ander stam hoofmanne wat slegs die status van sub-hoofmanne het, en sporadies tot die Huis van Kapteins verkies word. Hierdie tekort aan verteenwoordiging aan nie-Tswana stamme het veroorsaak dat die tradisionele Tswana patriargale wette op hierdie stamme ingestel is, ten spyte van hul eie gewoontes en gebruike.

Verstedeliking in Botswana het vanaf 2% in 1960 toegeneem tot ʼn verwagte 53% in 2010. Die persentasie stedelike bevolking groei vanaf 1993 tot 2000 teen 6,6% per jaar, en Botswana het die hoogste persentasie stedelike bevolking van die vyf veelparty stelsels in Afrika, alhoewel die syfer steeds nie baie hoog is nie. Die vlak van geletterdheid het ook toegeneem sedert onafhanklikheid, en is hoër (79%) as die gemiddeld van 75% gevind in die ander vyf veelparty state in Afrika. Die grootste swakheid in Botswana rakende die rol wat sekere sosiale faktore speel, is egter gebrekkige politieke opposisie tesame met ‘n swak burgerlike samelewing. Daar is verskillende burgerlike organisasies in Botswana, maar hierdie organisasies word beskryf as swak en a-polities. Die regering in Botswana toon ondemokratiese neigings teenoor hierdie organisasies, veral dié

met politieke ondertone. Organisasies met politieke ondertone ontvang ook geen befondsing van die staat nie. Vakbonde is gedwing om te federeer, NRO’s moes sambreelliggame vorm en beide hierdie organisasies is aangemoedig om weg van opposisie politiek te beweeg en eerder met die huidige regering saam te werk. Die staat het dus daarin geslaag om hul mag teenoor burgerlike organisasies te versterk, en die organisasies wat nie regeringsdruk suksesvol kon afweer nie, is gedwing om aan regeringseise toe te gee.

4.2 MAURITIUS

4.2.1 Etniese Homogeniteit of Heterogeniteit

Mauritius word gekenmerk deur ʼn buitengewone diverse samelewing en kultuur. Daar is vele mense met verskillende agtergronde wat van Europa, Afrika, Indië, en Oos- Asië afkomstig is (Bowman: 1991: 33). Mauritius is dus ʼn multi-etniese land, maar een groep, naamlik die Indo-Mauritiane, verteenwoordig ʼn numeriese meerderheid van meer as 50%. Die etniese struktuur in Mauritius is dus etnies kompak (Breytenbach: 2002: 97). Hierdie etniese struktuur bestaan uit die Indo- Mauritiane, wat 68% van die bevolking verteenwoordig; die Kreole, wat 27% van die bevolking verteenwoordig; en die Sino-Mauritiane en Franco-Mauritiane, wat onderskeidelik 3% en 2% van die bevolking verteenwoordig (CIA: 2006b).

Die Indo-Mauritiane is die regerende klas, terwyl die Kreole, wat oorwegend swart mense is, ook die gemarginaliseerdes in die samelewing is. Hierdie ongelykheid kan moontlik ‘n bron van onstabiliteit in die geval van byvoorbeeld ‘n ekonomiese opswaai wees. Dus hang stabiliteit in Mauritius in ‘n mate af van die mate waartoe die swart Kreole in die hoofstroom samelewing geïnkorporeer word (Yung Yoon & Bunwaree: 2006: 234). Ongelykheid tussen die verskillende rasgroepe in Mauritius is dus nie heeltemal uitgewis nie.

Hierdie moontlike onstabiliteit is egter grootliks afgeweer deurdat die hoof etniese groepe in die politieke proses ingesluit word, wat fragmentasie en polarisasie binne Mauritius voorkom het (Yung Yoon & Bunwaree: 2006: 234). Alhoewel

Mauritius se etniese samestelling kompak is en een groep meer as 50% van die totale bevolking konstitueer, het ʼn burgerlike netwerk in Mauritius ontwikkel as ʼn manier om groter deelname tydens beleidmaking te bewerkstelling. Etnies- gebaseerde organisasies is by die bogenoemde netwerk geïnkorporeer as ʼn belangrike manier waarop etniese diversiteit in Mauritius geakkommodeer kan word. Hierdie inkorporasie het veroorsaak dat interkommunale spanning en konflik aansienlik verminder het, en daar is begin om aan ʼn Mauritiaan identiteit te bou, iets wat sedert onafhanklikheid ontbreek het (Carroll & Carroll: 1999: 190- 191).

In addisie tot die bogenoemde burgerlike netwerk, het institusionele voorsienings, ontluikende politieke konvensies, asook werklike en simboliese gebare bygedra tot ʼn gevoel onder die oorgrote meerderheid van gemeenskappe dat hul regte erken en beskerm word. ʼn Voorbeeld van bogenoemde institusionele voorsiening en politieke konvensies, is die kiesstelsel wat aangepas is om meer beskerming en verteenwoordiging aan minderheidsgroepe te gee. So word die agt beste verloorders tydens ʼn verkiesing ook in die Nasionale Vergadering aangestel ten einde groter verteenwoordiging aan moontlike minderheidsgroepe te gee. Hierdie agt beste verloorders word aangestel op grond daarvan dat hulle die mees suksesvolle kandidate is wat aan gemeenskappe en politieke partye behoort wat onder verteenwoordig is in die Nasionale Vergadering (Carroll & Carroll: 1999: 190-191).

Alhoewel daar ʼn verskeidenheid van etniese groepe in Mauritius is, is daar ʼn afwesigheid van grootskaalse antagonisme en konflik tussen die verskillende groepe. Die ontwikkeling van ʼn burgerlike netwerk, en die reeds bespreekte institusionele voorsienings het in ʼn groot mate daartoe bygedra. Bowman (1991: 43) dui ook daarop dat daar geen inheemse groep in Mauritius is nie, en dus kan geen groep eis dat hulle die ware en oorspronklike Mauritiane is nie. Hierdie toestand het in alle waarskynlikheid ook bygedra tot die afwesigheid van konflik tussen die verskillende groepe.

4.2.2 Die Bestaan en Grootte van die Middelklas

Die verstedelikingsyfer en vlakke van volwasse geletterdheid is twee faktore wat tot die grootte en bestaan van ʼn middelklas bydra. Dit is dus nodig om die vlakke van verstedeliking en volwasse geletterdheid te ondersoek.

4.2.2.1 Verstedelikingsyfer

Die persentasie stedelike bevolking in vergelyking met die totale bevolking word deur die onderstaande tabel aangedui.

Tabel 22 : Stedelike Bevolking in Mauritius (%): Geselekteerde Jare

Jaar 1960 1995 2000 2003 2010 (verwag) Stedelike bevolking (%) 33 41 42 42 47

(Du Toit & Jacobs: 1995: 8; Breytenbach: 2003: 7).

Mauritius het reeds in 1960 ʼn redelike persentasie stedelike bevolking gehad (33%), maar in die opvolgende jare het die persentasie nie dramaties toegeneem nie, met ʼn verwagte stedelike bevolking van 47% in 2010. Hierdie neiging kan deur die jaarlikse groeikoers van die stedelike bevolking geïllustreer word. Vanaf 1960 tot 1993, het die totale persentasie stedelike bevolking met 2,2% per jaar gegroei, maar tussen 1993 en 2000 teen slegs 1,5% per jaar (Human Development Report: 2002).

Die gemiddelde persentasie stedelike bevolking in Afrika se vyf state wat sedert onafhanklikheid ʼn veelpartystelsel gehad het, naamlik Senegal, Botswana, Mauritius, Zimbabwe en Namibië, was in 2003 41%, en Mauritius se koers van 42% in 2003 is nie veel hoër nie. Daar is dus ook nie in Mauritius regtig die potensiaal vir ʼn robuuste middelklas om te ontwikkel nie.

4.2.2.2 Volwasse Geletterdheid

Die toename in die vlakke van volwasse geletterdheid word deur die onderstaande tabel aangetoon.

Tabel 23: Volwasse Geletterdheid in Mauritius (%): Geselekteerde Jare

Jaar 1993 1998 2000 2003 Tendens Volwasse Geletterdheid (% vanaf ouderdom 15) 81.7 83.3 84.5 84.3 Stygend

(Human Development Report: 1996: 136; Human Development Report: 2000: 159; Human Development Report: 2002: 151; Human Development Report: 2005).

Mauritius word gekenmerk deur ʼn hoë en toenemende vlak van volwasse geletterdheid. Die gemiddelde vlak van volwasse geletterdheid in vyf veelparty stelsels, sedert hul onafhanklikheid, in Afrika (Senegal, Botswana, Mauritius, Zimbabwe en Namibië), is 75% (Breytenbach: 2003: 7), en dus het Mauritius, met 84.3% geletterde volwassenes, ʼn hoër persentasie as die gemiddeld vir hierdie vyf state.

Die persentasie van volwasse geletterdheid in Mauritius is baie hoër as die koers van verstedeliking, en dus net soos in die geval van Botswana, impliseer dit ʼn geletterde platteland en ʼn onkonvensionele middelklas.