• No results found

HOOFSTUK 2: INSTELLINGS 2.1 BOTSWANA

2.1.1 Die Bestaan van ʼn Regstaat?

Die regstelsel in Botswana word gekenmerk deur ʼn dualisme tussen die tradisionele howe, met hul gesamentlike maar ondergeskikte status, wat parallel geïnstitusionaliseer is tot die regstelsel wat die Romeins-Hollandse Reg toepas (Du Toit: 1995: 91).

Daar is 15 moderne hoër howe wat die Romeins-Hollandse Reg toepas, waaronder die Hooggeregshof en Appèlhof. Die Hooggeregshof het jurisdiksie oor kwessies wat verband hou met die Handves van Regte en die Grondwet, en is verantwoordelik aan President van die Appèlhof. Die Hoofregter en die President van die Appèlhof word deur die President aangestel, so ook die gewone regters en die regters van Appèl. Advies word gegee deur die Regsdienskommissie (JSC), wat ʼn onafhanklike liggaam is en deur die Grondwet geskep is. Hierdie JSC is veronderstel om die medium te wees waardeur die onafhanklikheid van regterlike aanstellings van politieke invloede verseker word (Saunders: 1983-1984: 352).

Verder is daar ʼn addisionele 210 tradisionele howe, wat die siviele en strafreg wette van Botswana toepas. Hierdie tradisionele howe is onder die toesig van die stamhoofde, hul verteenwoordigers en hoofmanne (Du Toit: 1995: 91).

Die Grondwet waarborg onafhanklike en onpartydige howe (Government of Botswana: 2006). In Botswana word die regstelsel in die algemeen as vry en regverdig beskou, sonder enige direkte politieke inmenging. Verhore vind gewoonlik in die openbaar plaas, en beskuldiges wat aangekla word van ernstige en geweldadige misdade word van openbare verdediging voorsien. Sommige siviele sake word egter soms in die tradisionele howe aangehoor, waar beskuldigdes nie regshulp het nie (Freedom House: 2005b).

Die Grondwet wat in 1966 met onafhanklikheid ontwikkel is, word nie deur enige politieke leier, opposisiegroep of deur die groter bevolking uitgedaag nie. Hierdie groepe is hoofsaaklik tevrede met die Grondwet, tot op die punt van apatie. Grondwetlike kwessies, uitsluitend besprekings oor die rol van hoofmanne en hul howe, word selde bespreek. Argumente met betrekking tot Botswana se Handves van Regte is ongehoord, nie omdat daar nie ruimte vir sulke besprekings is nie, maar eerder omdat die algemene bevolking onbewus is van die inhoud daarvan (Saunders: 1983-1984: 351).

Hoofstuk 2 van die Grondwet, subseksies 3 tot 19, waarborg die beskerming van die fundamentele regte en vryhede van die individue, waaronder daar vir beskerming deur die reg en eiendom voorsiening gemaak word (Government of Botswana: 2006). Die Grondwet bevat ook ʼn verskanste en bekratigbare Handves van Regte (Saunders: 1983-1984: 352).

Artikel 65A van die Grondwet maak voorsiening vir die aanstel van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, wat verantwoordelik is vir die uitvoering en supervisie van verkiesings ten einde die lede van die Nasionale Vergadering en plaaslike gesagsliggame te verkies. Hierdie Kommissie moet verseker dat verkiesings effektief, voldoende, vrylik en regverdig plaasvind (Government of Botswana: 2006).

Alhoewel die Grondwet beskerming van die reg aan burgers verseker, bepaal Artikel 41(1) van die Grondwet dat daar geen kriminele prosedures teen enige persoon ingedien, of voortgesit, kan word wat die posisie van die President beklee, of wat presidensiële funksies uitoefen nie, ten opsigte van enige iets wat hierdie individu gedoen het, of nie gedoen het, in sy amptelike of private kapasiteit nie (Government of Botswana: 2006). Hierdie artikel maak dit dus problematies vir burgers om hulself teen aksies van die President te beskerm indien hulle daardeur benadeel sou word.

In Botswana word die uitvoerende en wetgewende gesag, asook die regbank van mekaar geskei en opereer hulle onafhanklik van mekaar. Die wetgewer, bestaande uit die President en Nasionale Vergadering, het die mag om wette te maak vir die behoud van vrede, orde en die goeie bestuur van Botswana. As ʼn wet vir moontlike goedkeuring voor die President gebring word, het hy die mag om daartoe toe in te stem, of hy kan sy toestemming weerhou. Artikel 89 (1) van die Grondwet gee ook aan die parlement die mag om die Grondwet te wysig (Government of Botswana: 2006).

Artikel 47 (1-2) van die Grondwet setel verder aansienlike mag in die President, aangesien hy die hoof uitvoerende gesag in Botswana is. Die uitvoerende gesag in Botswana word direk deur hom uitgeoefen, of deur persone wat deur hom aangestel is om sy funksies te verrig. By die uitoefening van hierdie funksies wat deur die Grondwet of enige ander wette voorgesê word, tree die President egter volgens sy eie doelbewuste oordeel op, en is hy nie verplig om die advies van enige ander persoon of gesag te oorweeg nie (Government of Botswana: 2006). Linz en Stepan (1996: 20) dui daarop dat sommige presidensies met hul delegerende en populistiese karakter, tesame met ʼn vaste ampstermyn en reël van nie-herkiesbaarheid, verantwoordbaarheid teenoor die kiesers verminder, asook ongrondwetlike gedrag bevorder. Hierdie ongrondwetlike gedrag bedreig op die ou einde die oppermag van die reg, die demokrasie, en demokratiese konsolidasie. Dit blyk asof Botswana se presidensie ook hierdie karakter eienskappe, soos beskryf deur Linz en Stepan, toon. Die President het ʼn vaste ampstermyn wat nie 10 jaar mag oorskry nie, en dus kan hy nie herkies word na 10 jaar nie. Geen regsaksies kan teen hom ingestel word tydens sy termyn nie, en hy kan ook sy verantwoordelikhede delegeer na ander persone. Nsereko (1996: 100) is van mening dat die President in Botswana in effek ʼn blanko tjek het omdat die uitvoerende gesag in hom alleenlik gesetel is, en alle kwessies wat verband hou met die bekragtiging van regeringsbeleide, die implementering van

die reg, asook die algemene bestuur van die land, val onder sy verantwoordelikheid.

Howe se rol as arbiter tydens regsgebonde dispute tussen burgers, en tussen burgers en die staat, gee aan hulle die geleentheid om ʼn mate van beheer oor die uitvoerende gesag uit te oefen. Howe kan dit doen op appel deur individue wat gegrief is deur besluite geneem deur administratiewe owerhede, of deur die uitoefening van hul inherente mag om besluite van minderwaardige tribunale of regeringsliggame te hersien (Nsereko: 1996: 104).

Uit die bostaande literatuur kan die afleiding gemaak word dat Botswana nie ʼn regstaat is nie, ten spyte daarvan dat die Grondwet die onpartydigheid en onafhanklikheid van howe waarborg. Daar is nie ʼn Grondwetlike Hof, soos in Suid-Afrika, nie, en howe kan net die wette wat deur die parlement gemaak word interpreteer. Howe kan ook nie hierdie wette verwerp nie. Die uitvoerende gesag wat gesetel is in die President, is ook tot die nadeel van die bestaan van ʼn regstaat.

Die siening dat Botswana nie ʼn regstaat is nie, kan gestaaf word deur die voorval waar Kenneth Good, ʼn professor van Politieke Studies in Botswana, as onwettige immigrant deur die President in 2005 verklaar is. Good het reeds in 1990 in Botswana aangekom, waar hy sedertdien aaneenlopend ʼn wettige inwoner was. Nadat hy egter in Februarie 2005 ʼn artikel “Presidential Succession in Botswana: No Model for Africa” gesirkuleer het, is hy volgens seksie 7(f) van die Immigrasie Wet as ʼn ongewensde persoon verklaar, en ʼn bevel van deportasie is teen hom uitgereik (Fritz: 2005).

Good is nie toegelaat om in ʼn verhoor op te tree en sy saak te stel met betrekking tot hoekom hy nie gedeporteer moet word nie. Hy beweer egter dat seksies 11(6) en 36 van die Immigrasie Wet, wat verhoed dat enige hof die geldigheid van presidensiële verklarings mag bevraagteken, en ook verhoed dat

persone wat as verbode immigrante verklaar is ʼn verhoor mag hê en dat sulke persone nie die gronde vir die verklaring mag uitdaag nie, in konflik is met die Grondwet, wat regsbeskerming aan elke burger van Botswana waarborg (Ditshwanelo: 2005).

Aangesien howe slegs die kapasiteit het om wette wat gemaak is deur die parlement te interpreteer, het die Hoër Hof gevind dat die President die kapasiteit het om ʼn persoon as verbode immigrant te verklaar, en dat die Grondwetlike beskerming wat verleen word aan alle persone nie absoluut is nie, en dat hierdie beskerming ondergeskik is aan die openbare belang in Botswana. Aangesien Good se artikel krities was teenoor die regering van Botswana, kan daar aangeneem word dat die regering hom beskou het as iemand wat hulle nie in Botswana wil hê nie, en dat sy deportasie as in nasionale belang beskou was (Ditswanelo: 2005). ʼn Geval soos hierdie benadeel die moontlikheid dat Botswana as ʼn regstaat gesien word.