• No results found

Vryheid van die Pers soos aangedui deur Freedom House In die tydperk 1979 tot 1987, is die gedrukte media in Botswana deur Freedom

HOOFSTUK 2: INSTELLINGS 2.1 BOTSWANA

2.1.7 Freedom House: Tendense

2.1.7.2 Vryheid van die Pers soos aangedui deur Freedom House In die tydperk 1979 tot 1987, is die gedrukte media in Botswana deur Freedom

House (2006b) as ‘vry’ beskou, maar die uitsaaimedia as ‘deels vry’. In 1988 is persvryheid in Botswana as ‘deels vry’ beskou, maar sedert 1989 word Botswana weer as ‘vry’ beskou (Freedom House: 2006b). Die onpartydige howe in Botswana is ʼn bydraende faktor tot Botswana se status, aangesien die vryheid van die pers deur die howe beskerm word. Sedert 2002, tot 2005, word ʼn konstante punt van 30 aan Botswana toegeken (Freedom of the Press: 2005: 43).

Die Grondwet van Botswana waarborg vryheid van spraak (Solomakae: 2005), maar daar is ʼn verskeidenheid van regsgebonde instrumente wat deur die staat gebruik kan word om toegang tot informasie te beperk en opinies te beheer. So bepaal die Nasionale Veiligheidswet dat dit ʼn kriminele misdryf is om enige informasie te publiseer wat deur die Regering as geklassifiseerd of konfidensieel beskou word (Good: 1997: 9-13). Op hierdie manier word die pers van hul Grondwetlike reg en vryheid ontneem om hul eie opinies te stel, asook van hul vryheid om idees en informasie te ontvang en vrylik met die publiek daaroor te kommunikeer (Solomakae: 2005).

Freedom House (Freedom of the Press: 2005: 43) beskou die staatsdominasie van die uitsaaimedia, spesifiek die nasionale radio- en televisiestasies, as die hoof beperking wat die media in die gesig staar. Die staatsbeheerde uitsaaimedia beperk hulself gewoonlik tot die dekking van beleide wat ondersteunend is van amptelike regeringsbeleide, en dek nie die aktiwiteite en opinies van die opposisie, en ander kritici, voldoende nie.

Radio Botswana word deur die regering besit, terwyl privaat radiostasies slegs ʼn beperkte gehoor bereik. Die “Daily News”, wat onder die direkte beheer van die Presidentskantoor is, het ʼn monopolie in Botswana as die enigste dagkoerant, en word nasionaal teen geen koste aan lesers verskaf (Good: 1997: 17). Daar is wel ʼn aantal dag- en weekkoerrante wat in die belangrikste stede versprei word wat wel die regering kritiseer, maar hul finansiële lewensvatbaarheid word aanhoudend deur die gratis verspreiding van die “Daily News” benadeel (Freedom of the Press: 2005: 43).

Alhoewel die Grondwet die vryheid van die pers en spraak verseker, is dit duidelik dat dit moeilik is vir opposisiepartye en regeringskritici om toegang tot die staatsbeheerde media te verkry.

2.1.8 Samevatting

Die Grondwet in Botswana waarborg onafhanklike, onpartydige howe en die aanstel van ʼn Onafhanklike Verkiesingskommissie, maar ten spyte hiervan word Botswana nie as ʼn regstaat beskou nie. Die wetgewende gesag het die mag om die Grondwet te wysig, en die uitvoerende gesag in Botswana word eksklusief in die President gestel, teen wie daar ook geen kriminele prosedures gebring mag word nie. Die Kenneth Good geval dien as stawing vir die siening dat Botswana nie ʼn regstaat is nie

Botswana is ʼn parlementêre republiek, met die president wat beide die regerings- en staatshoof is. Die twee-kamer parlement in Botswana bestaan uit die

Nasionale Vergadering en die Huis van Kapteins, wat slegs ʼn adviserende kapasiteit het. Botswana is ook ʼn veelparty demokrasie, alhoewel een party (BDP) die politieke sfeer domineer. Die hoeveelheid partye het sedert onafhanklikheid toegeneem, hoofsaaklik as gevolg van skeurings in opposisie partye. Geen politieke party is ʼn werklike bedreiging vir die BDP nie, alhoewel die wetgewende omgewing bevorderend is vir die opbou van effektiewe politieke partye en dit is maklik om ʼn nuwe party te registreer. Politieke partye ontvang egter geen finansiering van die staat nie.

Politieke posisies word gevul volgens ʼn enkellid kiesafdeling, FPTP kiesstelsel en ʼn outonome burokrasie het in koalisie met die BDP ontwikkel. Botswana word as ʼn ‘vry’ land deur Freedom House geklassifiseer, en het ook ʼn ‘vry’ media, alhoewel daar regsgebonde instrumente is wat die staat gebruik om informasie te beperk en opinies te beheer. Die uitsaaimedia word deur die staat gedomineer, so ook radio stasies en die gedrukte media. Dit is tydens verkiesings egter moeilik vir opposisie partye om toegang tot die staatsbeheerde media te verkry. Daar is dus geringe, maar nie wesenlike probleme rakende die teenwoordigheid van sekere instellings in Botswana nie.

2.2 MAURITIUS

2.2.1 Die Bestaan van ʼn Regstaat?

Die regstelsel is ʼn samestelling van Franse en Britse regstradisie (Freedom House: 2005c). Daar is een Hooggeregshof, asook ʼn Burgerlike – en Kriminele Appèlhof, waarvan beide ʼn onderafdeling van die Hooggeregshof is (Government of Mauritius: 2006).

Mauritius word gekenmerk deur ʼn skeiding tussen die magte van die wetgewende en uitvoerende gesag en die regbank. Die Grondwet bepaal dat elke Hof wat deur die wet bemagtig is, onafhanklik en onpartydig sal wees (Government of Mauritius: 2006). Freedom House (2005d) het gevind dat howe

in Mauritius onafhanklik van enige politieke invloed is. Dit blyk dus asof daar in Mauritius gehoor gegee word aan die Grondwet-gewaarborgde onpartydigheid en onafhanklikheid.

Die Grondwet stel dit eksplisiet dat die Grondwet die opperste wet in Mauritius is, en dat alle wette wat teenstrydig daarmee is, tot die mate van die teenstrydigheid, ongeldig sal wees (Government of Mauritius: 2006). Hoofstuk 2 van die Grondwet waarborg die beskerming van die fundamentele regte en vryhede van die individu, waardeur beskerming deur die reg en eiendomsreg verseker word. Die Beskerming van Menseregte Wet is aangeneem om verdere voorsiening te maak vir die beter beskerming van menseregte, asook vir die beter ondersoek van klagtes teen polisiemagte en alle verbandhoudende kwessies (Human Rights Law in Africa: 2002).

Die Grondwet verwys na die wyse waarop sekere politieke ampte gevul moet word, byvoorbeeld die agt beste verloorders tydens verkiesings (Darga & Joomun: 2005: 8), maar die verkiesingsproses is geanker in die Verkiesingswet. Hierdie Wet maak voorsiening vir die skep van die Verkiesingsgrensekommissie, die Verkiesingsoorsigkommissie, en die Verkiesingskommissaris, wat verantwoordelik is vir die voorbereiding, bestuur en oorsig van die verkiesingsproses (EISA: 2005c).

Beskerming deur die reg word aan alle burgers verseker, maar Artikel 30 (1) van die Grondwet bepaal dat daar geen burgerlike of kriminele prosedures teen die President of Vise-president ingestel kan word in terme van sy aksies terwyl hy die funksies van sy amp vervul nie. Dit is dus moeilik vir burgers om hulself tot die howe te wend indien hul gegrief voel deur die optrede van die President. Artikel 29 tref egter wel voorsiening daarvoor dat die President en Vise-president uit hul ampte verwyder kan word indien hul teenstrydig met die Grondwet optree, of hulself aan enige ander ernstige oortreding skuldig maak (Government of Mauritius: 2006).

In Mauritius word die amp van regeringshoof en staatshoof geskei. In teenstelling met presidensies waar die president baie mag het, vervul die President in Mauritius hoofsaaklik ʼn simboliese politieke rol, met die Eerste Minister wat die hoof politieke figuur is (EISA: 2005c). Dit maak die moontlikheid van magsmisbruik en ongrondwetlike gedrag minder, omdat die Eerste Minister makliker sy posisie kan verloor indien hy hom aan sulke gedrag skuldig maak. Hy kan sy posisie verloor deur byvoorbeeld stemme te verloor of deurdat ʼn mosie van wantroue teen hom ingestel word.

Uit die literatuur wat bestudeer is, kan die afleiding gemaak word dat Mauritius wel ʼn regstaat is. Geen teendeel tot hierdie siening kon gevind word nie, en die bewoording in die Grondwet stel dit eksplisiet dat die Grondwet die oppermagtige wet in Mauritius is.

2.2.2 Die Bestaan van óf ʼn Presidensiële of Parlementêre Stelsel

Mauritius is ʼn parlementêre republiek. Die President, tans President Jugnauth, is die hoof van die staat, en sy rol is hoofsaaklik simbolies. Die President word gekies deur die Nasionale Vergadering in reaksie op ʼn mosie voorgelê deur die Eerste Minister, en ondersteun deur die stemme van die meerderheid van al die lede van die Nasionale Vergadering (Darga & Joomun: 2005: 7). Die Eerste Minister, tans Eerste Minister Berenger (EISA: 2005c), tree op as die hoof politieke figuur (Carroll & Carroll: 1999: 180). Die President stel die Eerste Minister aan, wat volgens konvensie die leier van die sterkste party of alliansie van partye is, asook die Kabinet (Raad van Ministers), maar met aanbevelings gedoen deur die Eerste Minister.

Mauritius word gekenmerk deur ʼn eenkamer parlement. Die Nasionale Vergadering bestaan uit 70 setels, waarvan 62 verkies word tydens verkiesings, en die oorblywende agt word aangestel deur die verkiesingskommissie om verteenwoordiging aan verskillende etniese minderhede te gee. Die Nasionale Vergadering is daarvoor verantwoordelik om die President en Vise-President te

kies vir ʼn tydperk van vyf jaar. Die ampstermyn van die Nasionale Vergadering is vyf jaar (CIA: 2006).