• No results found

Binne die sisteemteorie speel die wêreldbeskouing van organisasies ʼn groot rol in die aard van die organisasie se kommunikasie. ʼn Organisasie se wêreldbeskouing bepaal watter kommunikasiemodel implementeer word in die organisasie. Grunig en White (1992:33) gebruik Kearney (1984) se definisie waar wêreldbeskouing beskryf word as ʼn stel beelde en aannames van die wêreld. ʼn Wêreldbeskouing kan ook gesien word as ʼn „makrogedagte‟, wat dui op groot, abstrakte strukture van kennis wat mense gebruik om kennis te organiseer en sin te maak van nuwe inligting (Grunig & White, 1992:33). Volgens Grunig en White (1992:32) is wêreldbeskouings onlosmaaklik deel van korporatiewe kommunikasiebestuur omdat korporatiewe kommunikasiepraktisyns probeer sin maak van menslike gedrag en dit word beïnvloed deur aannames oor moraliteit, etiek, menslike aard, politiek, geloof en gender. ʼn Gepaste wêreldbeskouing vir korporatiewe kommunikasiebestuur, volgens Grunig en White

(1992:38), is een wat effektief organisatoriese en menslike probleme oplos en eties is (om organisasies te help verhoudings bou met ander groepe). ʼn Wêreldbeskouing wat organisasies in staat stel om uitnemende korporatiewe kommunikasiebestuur toe te pas moet logies, samehangend, verenigd (in terme van idees wat onderling verband hou met mekaar en ʼn geheel vorm) en georden wees (Naudé, 2001:68). ʼn Organisasie sal ʼn kommunikasiemodel implementeer wat ooreenkom met sy wêreldbeskouing (Naudé, 2001:67).

Volgens Grunig en White (1992:43) asook Naudé (2001:67) is organisatoriese wêreldbeskouings gebaseer op sekere aannames, wat meer simmetries of asimmetries van aard kan wees. Die asimmetriese beskouing van korporatiewe kommunikasiebestuur berus op die effek van massa-oorreding, gedrags- en oorredingskommunikasieteorieë (Naudé, 2001:68). In organisasies met hierdie wêreldbeskouing sal eenrigtingkommunikasiemodelle (sien afdeling 2.4.) toegepas word wat asimmetries van aard is en korporatiewe kommunikasiepraktisyns sal die gedrag van belangegroepe probeer aanpas, sonder om hul eie gedrag te verander (Naudé, 2001:68). Aannames van die asimmetriese wêreldbeskouing word deur Grunig en White (1992:43) sowel as Naudé (2001:69) beskryf as:

Interne oriëntasie: Lede van die organisasie kyk van binne die organisasie en sien nie die organisasie soos buitestaanders dit sien nie.

Geslote sisteem: Inligting vloei na buite die organisasie en vloei nie in nie.

Doeltreffendheid: Doeltreffendheid en kostebeheer is belangriker as innovasie.

Elitisme: Die leiers van die organisasie weet wat die beste is en het meer kennis as belangegroepe.

Konserwatisme: Verandering is ongewens en druk van buite vir verandering word weerstaan.

Tradisie: Tradisie voorsien stabiliteit en help om die organisasie se kultuur te onderhou.

Sentrale outoriteit: Mag word beperk tot ʼn paar topbestuurders en werknemers het min outonomie. Organisasies word outokraties bestuur.

Simmetriese korporatiewe kommunikasiebestuur word gesien as ʼn simmetriese proses van onderhandeling en kompromieë om begrip te fasiliteer tussen organisasies en belangegroepe (Naudé, 2001:70). Organisasies kan só op die lang duur meer baat as hulle soms ook van hul eie belange opgee. So ʼn organisasie sal navorsing en dialoog gebruik om konflik te bestuur en om ʼn deeglike begrip te kry van hul belangegroepe se behoeftes en sienswyses. Deur hierdie

proses word verhoudings gebou op die fondasie van wederkerige begrip (Naudé, 2001:70). Die organisasie en sy belangegroepe kan dan oorreed word om hul gedrag te verander. In teenstelling met asimmetriese aannames, stel Grunig en White (1992:43-44) en Naudé 2001:71) die volgende aannames vir ʼn simmetriese wêreldbeskouing:

Interafhanklikheid: Organisasies kan hulself nie isoleer van die omgewing nie. Hoewel daar grense is wat organisasies skei van hul omgewing, kan belangegroepe en ander organisasies in dieselfde omgewing steeds die organisasie beïnvloed.

Oop sisteem: Die organisasie is oop vir interaksie met sisteme van buite en ruil inligting uit met daardie sisteme.

Bewegende ekwilibrium: Organisasies streef daarna om in ekwilibrium te wees met ander sisteme, wat gedurig saam met die omgewing verander.

Gelykheid: Mense word gelyke geleenthede gegun en enige persoon kan waardevolle insette lewer.

Outonomie: Mense is meer innoverend, konstruktief en selfvervuld wanneer hulle die outonomie het om hul eie gedrag te beïnvloed eerder as wat dit beheer word. Dit verhoog werknemertevredenheid binne die organisasie.

Innovasie: Nuwe idees en aanpasbare denke word beklemtoon, eerder as tradisie en doeltreffendheid.

Desentralisasie van bestuur: Bestuurders moet koördineer, eerder as dikteer. Dit verhoog outonomiteit, werknemertevredenheid en innovasie.

Verantwoordelikheid: Mense en organisasies moet verantwoordelikheid neem vir die gevolge van hul dade.

Konflikoplossing: Konflik word opgelos deur onderhandeling, kommunikasie en kompromie, en nie deur geweld, manipulasie of dwang nie.

Belangegroepliberalisme: Die politiese sisteem word gesien as ʼn meganisme vir onderhandeling met ander belangegroepe sodat daar omgesien word na die belange van „gewone mense‟.

Deatherage en Hazelton (1998:68) kritiseer die aannames van Grunig en White (1992) omdat dit nie gebalanseerd is nie (daar is agt aannames vir ʼn asimmetriese wêreldbeskouing en dertien vir ʼn simmetriese wêreldbeskouing) en nie teenoorgestelde kante van ʼn kontinuum voorstel nie. Hulle stem egter saam met Grunig en White (1992) dat korporatiewe kommunikasiepraktisyns wat ʼn asimmetriese wêreldbeskouing aanneem, belangegroepe wil

beïnvloed op wyses wat die organisasie bevoordeel en nie noodwendig die belangegroepe nie (Deatherage & Hazelton, 1998:58). ʼn Simmetriese wêreldbeskouing sal dan volgens Deatherage en Hazelton (1998:58) „gedeelde begrip‟ as primêre doelwit vir korporatiewe kommunikasiebestuur stel.

ʼn Organisasie se wêreldbeskouing beïnvloed die tipe kommunikasiemodel wat die organisasie sal gebruik, soos vroeër genoem, en tweerigtingkommunikasiemodelle word assosieer met uitnemende kommunikasiebestuur (Naudé, 2001:68). Organisasies met ʼn asimmetriese wêreldbeskouing sal grootliks asimmetriese kommunikasiemodelle implementeer (persagentskapmodel of openbare inligtingsmodel in Amerikaanse literatuur, inligtingsmodel in Europese literatuur), terwyl organisasies met simmetriese wêreldbeskouings eerder simmetriese kommunikasiemodelle (tweerigting asimmetriese model of tweerigting simmetriese model in Amerikaanse literatuur en reflektiewe model, verhoudingsmodel en dialoogmodel in Europese literatuur) sal implementeer, soos bewys deur die IABC Excellence Study.

Soos genoem aan die begin van hierdie afdeling bepaal ʼn organisasie se wêreldbeskouing watter kommunikasiemodel implementeer word in die organisasie. In die volgende afdeling word kommunikasiemodelle in meer diepte bespreek,