• No results found

Inhoudsanalise van SEESA hoofkantoor se kommunikasiestrategie

Uit die semi-gestruktureerde onderhoude wat gevoer is met SEESA se besturende direkteur, korporatiewe ontwikkelingsbestuurder en korporatiewe kommunikasiepraktisyn blyk dit dat SEESA geen vorm van formele kommunikasiestrategie het nie. Vir die doeleindes van hierdie studie is die kommunikasie aktiwiteite van SEESA hoofkantoor gekategoriseer aan die hand van Hon en Grunig (1999) se verhoudingsboustrategieë om te bepaal watter van SEESA hoofkantoor se bestaande kommunikasie aktiwiteite moontlik bydra tot die vestiging van sterk verhoudings met bestuurders van landswye takke. Dit word in die onderstaande tabel weergegee:

Tabel 4.1. Inhoudsanalise van SEESA hoofkantoor se kommunikasie aktiwiteite

Verhoudingsboustrategie Implementering deur SEESA hoofkantoor

Toegang  Oop deur beleid

 Elektroniese sisteem genaamd Goofy, waarop alle SEESA werknemers met toegang tot rekenaars inligting stoor en kan beheer wie toegang het tot elke lêer in die hele organisasie.

 Intranet, waar alle werknemers met rekenaars toegang het tot organisatoriese beleide, asook alle takke se foto‟s van sosiale geleenthede en ander hulpbronne soos ʼn leave calculator en verlofvorms.

Openlikheid  Jaarlikse bestuurskonferensie

 Takbesoeke deur nasionale bestuurders twee keer per jaar

 Takbesoeke deur direkteure een keer per jaar

Roadshows na takke (by uitsondering)

Positiwiteit  Maandelikse funksie vir alle werknemers van elke tak.

 Baie sosiale geleenthede, veral tydens takbesoeke deur bestuurders en direkteure.

 Kleiner spanbougeleenthede jaarliks vir elke tak, elke departement van die hoofkantoor sowel as ʼn groot spanbougeleentheid vir alle departemente van die hoofkantoor.

 Innovasie werkswinkels

Versekering van egtheid  Geen formele implementering

Netwerkvorming  Korporatiewe Sosiale Verantwoordelikheid (KSV)

skenkings in soveel moontlik takke se onmiddellike omgewing aan organisasies wat identifiseer is deur die betrokke tak se werknemers

Deel van take  Geen formele implementering

Samewerking  Takbesoeke deur nasionale bestuurders twee keer per jaar

 Takbesoeke deur direkteure eenkeer per jaar

 Jaarlikse bestuurskonferensie

Onvoorwaardelike konstruktiwiteit

 Geen formele implementering

Wen-wen of geen onderhandeling

Uit die inhoudsanalise van die SEESA hoofkantoor se kommunikasie aktiwiteite blyk dit dat sekere strategieë gebruik word om sterk verhoudings te vestig met bestuurders en ander werknemers van SEESA. ʼn Gebrek aan ʼn formele kommunikasiestrategie laat moontlik ruimte vir sekere werknemers (soos werknemers wat nie toegang tot rekenaars of die intranet het nie, of werknemers soos bemarkingskonsultante en regsadviseurs wat selde op kantoor is) om uitgelaat te word tydens verhoudingsbou aksies vanaf die hoofkantoor.

Die verhoudingboustrategieë van versekering van egtheid, deel van take, onvoorwaardelike konstruktiwiteit en wen-wen of geen onderhandeling vind wel nie gestruktureerd en strategies plaas nie, maar kan spontaan plaasvind deur ander aktiwiteite van die hoofkantoor. So kan dit byvoorbeeld tydens takbesoeke20 of jaarlikse bestuurskonferensies21 plaasvind op ʼn informele wyse. SEESA se oop deur beleid kan ook bydra tot hierdie strategieë, maar sal dan moontlik meer van toepassing wees op bestuurders wat werksaam is by die hoofkantoor omdat dit makliker is vir hierdie bestuurders om persoonlik na hul onmiddellike bestuurder of direkteure te gaan om gedeelde probleme op te los.

Die hoofkantoor gebruik wel sosiale aktiwiteite om sekere verhoudingsboustrategieë te bewerkstellig. Takbesoeke deur direkteure en nasionale bestuurders sowel as jaarlikse bestuurskonferensies word gebruik om samewerking te bewerkstellig, terwyl innovasie werkswinkels, maandelikse funksies en jaarlikse spanbougeleenthede positiwiteit bewerkstellig. Hierdie gereelde sosiale aktiwiteite kan ook aanleiding daartoe gee dat tweerigtingkommunikasie en verhoudingsboustrategieë, soos versekering van egtheid, wel informeel plaasvind. Die hoofkantoor gebruik die SEESA intranet, ʼn elektroniese sisteem genaamd Goofy, roadshows na takke (per geleentheid) en ʼn oop deur beleid by topbestuur om toegang te vestig (hoewel die intranet geen tweerigtingkommunikasie aanmoedig nie omdat dit nie interaktief is nie – werknemers kan byvoorbeeld nie self inligting op die intranet plaas nie en die hoofkantoor besluit watter inligting op die intranet geplaas word). Deur KSV skenkings te doen aan organisasies wat gekies is deur werknemers van SEESA takke moedig die SEESA hoofkantoor tot ʼn mate netwerkvorming aan.

20 Takbesoeke deur SEESA se direkteure en nasionale bestuurders is hoofsaaklik ʼn sosiale geleentheid. Tydens takbesoeke word bestuurders van takke (of alle personeel, in die geval van kleiner takke) deur die nasionale bestuurders of direkteure onthaal. Dit skep ook geleentheid vir bestuurders van takke om persoonlik te kommunikeer met direkteure en nasionale bestuurders oor werksaamhede van die tak. 21 Tydens jaarlikse bestuurskonferensies kom alle bestuurders van SEESA bymekaar vir ʼn tydperk en word kwessies en strategieë vir die jaar, bespreek. Dit is ook ʼn sosiale geleentheid vir bestuurders.

Daar is sekere leemtes in die SEESA hoofkantoor se kommunikasiestrategie om sterk verhoudings met bestuurders van die landswye takke te vestig. Omdat daar geen formele kommunikasiestrategie is nie, kan die hoofkantoor nie hul aktiwiteite evalueer om die sukses daarvan om sterk verhoudings te vestig, te bepaal nie. Die aktiwiteite wat wel deur die hoofkantoor implementeer word, is nie gefokus op alle werknemers nie. Slegs sekere werknemers (tipies bestuursvlak) word ingesluit by verhoudingsbou aktiwiteite soos jaarlikse bestuurskonferensies en takbesoeke deur nasionale bestuurders en direkteure. Werknemers wat nie rekenaars het nie, word uitgesluit by aktiwiteite om toegang te bewerkstellig. Die SEESA hoofkantoor poog dus tot ʼn sekere mate om sterk verhoudings met werknemers te vestig deur sekere verhoudingsboustrategieë te implementeer, maar dit is beperk tot sekere werknemers en die effektiwiteit daarvan kan nie maklik bepaal word nie. Dit blyk dat al hierdie aktiwiteite werknemers op bestuursvlak sal insluit. Omdat hierdie studie fokus op verhoudings met bestuurders van SEESA, kan daar effektief bepaal word tot watter mate hierdie verhoudingsboustrategieë suksesvol toegepas word deur die hoofkantoor deur te kyk na die kwaliteit van verhoudings wat die hoofkantoor gevestig het met bestuurders (sien Hoofstuk 5).