• No results found

Vraag 3: Persepsies van maatskappyverteenwoordigers

BENADERING TOT ONTWIKKELINGSKOMMUNIKASIE

C. Behoefte-georiënteerd

5.2 BEANTWOORDING VAN DIE SPESIFIEKE NAVORSINGSVRAE

5.2.3 Vraag 3: Persepsies van maatskappyverteenwoordigers

Wat is die persepsies van die KSV-bestuurders (maatskappyverteenwoordigers) van die twee maatskappye rakende die kommunikasie tydens die evaluasie van KSV- programme?

Die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy X het kwartaallikse verslae as voldoende beskou en het nie die belangrikheid van verdere interaktiewe kommunikasie ingesien nie. Sy was van mening dat die verslag genoegsame, indiepte-kennis van die programme bied, aangesien al die bevoordeeldes betrokke behoort te wees by die samestelling van die verslae. Die kwartaallikse verslae is dus die enigste vasgestelde kommunikasiemiddel ten opsigte van die evaluasie van die programme en dit is as toepaslik en voldoende beskou. Die verteenwoordiger van Maatskappy Y, aan die ander kant, was oortuig dat die verslae nie genoeg geleentheid bied vir interaktiewe, tweerigting- en dialogiese kommunikasie met die bevoordeeldes en veral die programleier nie. Sy het deurgaans die belangrikheid van plaaslike kennis en betrokkenheid beklemtoon. Om hierdie rede is daar ander evaluasieprosesse in plek wat aanvullend tot die kwartaallikse verslae gedoen word. Sy was daarvan oortuig dat daar deur die kombinasie van evaluasieprosesse genoegsame geleentheid vir die bevoordeeldes en programleiers bestaan om hulle opinies te lug om sodoende die aktiewe betrokkenheid van die bevoordeeldes en programleiers mee te bring. Daar kan tot die gevolgtrekking gekom word dat die maatskappyverteenwoordigers verskillende persepsies rondom die evaluasie van KSV-programme het, maar dat albei tevrede is met die huidige evaluasieprosesse wat gevolg word. Hulle persepsies rondom die evaluasie van die wiskunde- en wetenskapprogramme stem ooreen – interaktiwiteit en plaaslike kennis en insette word nie in dié programme as belangrik beskou nie, omdat die vakvaardigheid die enigste bemagtigingsdoel is en daar nie veranderinge in die programme

gemaak sal word op grond van evaluasieprosesse nie. Die ander programme se evaluasie word “oorgelaat” aan die inisiatiewe van die programleiers. Albei maatskappy- verteenwoordigers het geglo dat die programleiers die bevoordeeldes betrek by die evaluasieprosesse. Maatskappy X se verteenwoordiger se persepsie was dat dit nie vir haar nodig is om deel te wees van hierdie evaluasie nie, omdat sy genoegsame inligting en ook die bevoordeeldes se insette deur middel van die kwartaallikse verslag kry. Maatskappy Y se verteenwoordiger aan die ander kant se persepsie was dat sy betrokke moet wees by die evaluasie, sodat sy ’n verhouding kan bou met die betrokkenes van elke program en dat sy tweerigting-, interaktiewe kommunikasie tussen die programme en die maatskappy kan fasiliteer. Deur die betrokkenheid van die bevoordeeldes veronderstel sy dat bemagtiging deur evaluasie plaasvind en dat veranderinge ook op grond van evaluasie plaasvind.

Die persepsies van die maatskappyverteenwoordigers sal nou onder die beginsels van deelnemende evaluasie bespreek word.

5.2.3.1 Vennootskap

Oor die algemeen het die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy X klem gelê op die belangrikheid van die bevoordeeldes se stemme in al die programme. Sy het verduidelik dat die programleiers van die begin af aangemoedig word om die bevoordeeldes te betrek by hulle evaluasieprosesse en spesifiek by die invul van die kwartaallikse verslae. In al drie die programme geskied die enigste kommunikasie tussen die maatskappyverteenwoordiger en die programleier deur middel van die kwartaallikse verslae en daar is geen kommunikasie direk tussen haar en die bevoordeeldes nie. Die maatskappyverteenwoordiger is tevrede met die beperkte kommunikasie, omdat sy onder die indruk is dat die kwartaallikse verslae omvattend en gereeld genoeg is op grond daarvan dat die bevoordeeldes deelneem aan die samestelling daarvan.

Uit die resultate wat in paragraaf 4.3.1 bespreek is, kan tot die gevolgtrekking gekom word dat die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy Y oortuig is dat deurlopende kommunikasie tussen haar en die programleiers belangrik is en daarom besoek sy gereeld die programme. Sy maak nie slegs op die verslae wat hulle moet indien staat nie. Die maatskappyverteenwoordiger kommunikeer gereeld met die bevoordeeldes en sy het die kommunikasie tydens evaluasie as oop en interaktief, beskryf.

Daar kan tot die gevolgtrekking gekom word dat albei maatskappyverteenwoordigers van mening was dat die bevoordeeldes genoegsame geleentheid het om aan dialoog rondom die programme deel te neem, maar dit is nie duidelik of hulle daarvan oortuig is dat die

bevoordeeldes in die verantwoordelikhede deel en betrokke is by besluitneming rondom die evaluasieproses nie. Die gevolgtrekking word gemaak dat albei maatskappyverteenwoordigers onder die indruk is dat daar ’n vennootskap tussen hulle en die programme bestaan aangesien daar, volgens hulle genoegsame oop en interaktiewe kommunikasie plaasvind en hulle sodoende op hoogte is van gebeure in die programme.

5.2.3.2 Betrokkenheid

Die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy X is nie betrokke by die evaluasieprosesse van die programme nie, en evalueer die programme slegs op grond van die verslae wat sy ontvang (sien paragraaf 4.3.3). Sy was van mening dat die programleier ’n verantwoordelikheid het om toe te sien dat die bevoordeeldes betrek word by die evaluasie van die programme en dat die behoeftes en inisiatiewe van die bevoordeeldes op die wyse aan haar en Maatskappy X bekend sal word. Die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy Y het dieselfde persepsie rondom die betrokkenheid van die bevoordeeldes by die evaluasieprosesse gehad, naamlik dat dit die verantwoordelikheid van die programleiers is om die bevoordeeldes by die evaluasie te betrek. Sy is egter self ook betrokke by die evaluasieproses.

Albei maatskappyverteenwoordigers was daarvan oortuig dat die bevoordeeldes wel betrokke is by die evaluasieprosesse. Dit wil egter nie voorkom asof hulle gedink het dat dit noodsaaklik is om die bevoordeeldes te betrek by besluitneming in terme van die doelwitte en prosesse van evaluasie nie.

5.2.3.3 Plaaslike kennis

Na aanleiding van die bespreking in paragraaf 4.3.3 word die gevolgtrekking gemaak dat die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy X die waarde van plaaslike kennis baie hoog geag het. Tweedens is haar persepsie dat die kwartaallikse verslae voldoende is om die plaaslike kennis van die betrokkenes aan die lig te bring en die maatskappy op hoogte te hou van die programverwikkelinge en betrokkenes se behoeftes. Daar word ook baie waarde geheg aan die kennis en insette van die bevoordeeldes van die KSV-programme van Maatskappy Y (sien paragraaf 4.3.3). Volgens die maatskappyverteenwoordiger is dit belangrik dat die evaluasieproses deurlopend aangepas en verander word na aanleiding van die bevoordeeldes se insette en die verteenwoordiger het bevestig dat dit ook so gebeur. Die maatskappyverteenwoordiger was oortuig dat die evaluasiemaatskappy alle kennis vanuit die gemeenskappe gebruik om die program mee te evalueer. Die evaluasiemaatskappy se verteenwoordiger was van mening dat die evaluasiemaatskappy

die evaluasie fokus op plaaslike kennis en dat hulle bewus is van die unieke en komplekse aard van die verskillende programme.

Die maatskappyverteenwoordigers was albei daarvan oortuig dat die bevoordeeldes se plaaslike kennis in ag geneem en gerespekteer word tydens die evaluasieproses. Dit wil egter nie voorkom asof hulle gedink het dat dit nodig is vir die bevoordeeldes om betrokke te wees by die bepaling van indikatore vir evaluasie nie.

5.2.3.4 Bemagtigingsdoelwitte

Uit paragraaf 4.3.4 het dit duidelik geword dat die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy X ’n positiewe persepsie rondom die bemagtiging van bevoordeeldes deur die betrokke programme het. Aangesien die maatskappyverteenwoordiger nie self betrokke is by die evaluasie van die KSV-programme nie, kon sy nie uitbrei oor die bemagtiging wat spesifiek op grond van die evaluasie plaasvind nie. Die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy Y het die evaluasieproses as ’n bemagtigingsproses beskou; sy het gevoel dat die bevoordeeldes deur middel van die evaluasie leer om hulle behoeftes te kommunikeer en ook aan oplossings te dink en voor te stel. Die maatskappyverteenwoordiger het ook die persepsie dat die evaluasiemaatskappy daarop fokus om die evaluasieproses ’n bemagtigingsproses te maak.

Daar kan gevolglik afgelei word dat een van die maatskappyverteenwoordigers glo dat die evaluasieproses tot die bemagtiging van die bevoordeeldes bydra, terwyl die ander verteenwoordiger nie ʼn duidelike persepsie hieromtrent het nie. Dit is nie duidelik of die verteenwoordigers daarvan oortuig is dat die bevoordeeldes deur hul deelname aan evaluasie in staat gestel behoort te word om beheer oor hul eie situasie te kan uitoefen nie.

5.2.3.5 Verandering

Die verteenwoordiger van Maatskappy X was van mening dat die metodes en aktiwiteite van die verskillende KSV-programme voortdurend verander (sien paragraaf 4.3.5). Sy het ’n persepsie dat die kwartaallikse verslae van elke program die grootste bydrae tot hierdie veranderinge lewer. Volgens die maatskappyverteenwoordiger gebruik hulle die verslae om bewus te word van die probleme wat tans in die programme ondervind word. Sy het bevestig dat die programleier en ook die bevoordeeldes betrokke is met die skryf van die verslag en daarom is dit die beste plek om probleme te identifiseer. Die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy Y se persepsie rakende die verandering wat meegebring word deur die evaluasie verskil van Maatskappy X se verteenwoordiger, omdat sy oortuig was dat verslae nie voldoende is nie en dat die veranderinge wat daar in die

program gemaak word eers met die onderskeie programleiers bespreek behoort te word. Albei maatskappyverteenwoordigers was dit egter eens dat die bevoordeeldes se deelname aan die evaluasieproses bydra tot behoefte-georiënteerde programme wat voortdurend aangepas word na gelang van die bevoordeeldes se insette.

Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat albei maatskappyverteenwoordigers ’n persepsie het dat hulle in vennootskappe met die verskillende programme staan waardeur die bevoordeeldes betrokke is in die evaluasie. Die maatskappyverteenwoordigers is oortuig daarvan dat die bevoordeeldes se plaaslike kennis gebruik word in die evaluasie van die programme, maar dit is nie duidelik of hulle oortuig is dat hierdie evaluasie bemagtiging van die bevoordeeldes meebring nie. Volgens die maatskappyverteenwoordigers vind daar deurlopende veranderinge in die programme plaas op grond van die evaluasie en die insette vanaf die bevoordeeldes deur die jaarverslae en/of persoonlike kontak. Die wiskundeprogramme van albei maatskappe is egter uitgesonder en dit is duidelik dat albei maatskappyverteenwoordigers gevoel het dat ’n vennootskap en ander deelnemende elemente tussen hulle en die spesifieke programme nie nodig is weens die aard van dié programme nie.

Nou sal daar gefokus word op die sienings van die bevoordeeldes en die programleiers om vraag 4 te beantwoord. Die persepsies van die betrokke bevoordeeldes sal weer volgens die beginsels van deelnemende evaluasie uiteengesit word.