• No results found

BENADERING TOT ONTWIKKELINGSKOMMUNIKASIE

4.2 KONTEKS VAN PROGRAMME

In hierdie studie is daar vyf programme, soos reeds bespreek is in afdeling 1.3, ondersoek, wat deel uitmaak van die twee betrokke maatskappye (Maatskappye X en Y) se KSV- inisiatiewe. Daar is ook ondersoek ingestel na die evaluasiemaatskappy wat deur Maatskappy Y aangestel is om die evaluasie van die KSV-programme te behartig. In al die

programme is daar twee prominente kommunikasiekanale gevind – die eksterne kommunikasie tussen die bevoordeeldes en die maatskappy en die interne kommunikasie tussen die bevoordeeldes en die programleier.

Program X1

Program X1 is die program waar vroue uit die gemeenskap opgelei word om verpleegsters en verpleegkundiges te word wat na Vigs-pasiënte omsien. Volgens die KSV-Jaarverslag van Maatskappy X is daar baie fondse vir hierdie program (en soortgelyke programme in dieselfde fokusarea) beskikbaar gestel. Die rede wat die maatskappy hiervoor aanhaal is die feit dat MIV lei tot armoede en ongeletterdheid omdat die las van die geïnfekteerdes uiteindelik op die kinders in die familie rus. Dit lei daartoe dat kinders gedwing word om tuis te bly om na die siekes om te sien, en dus verhoed word om skool toe te gaan en skoolopvoeding te geniet (Maatskappy X Jaarverslag, 2011:12 en 30-31).

Die kontrak wat onderteken word deur die bevoordeeldes met hulle aansluiting tot die program beklemtoon dat elke bevoordeelde onder ’n senior bevoordeelde sal werk en dat alle probleme, struikelblokke of navrae aan dié bevoordeelde gerig moet word. Uit dié kontrak, kan ook afgelei word dat die bevoordeeldes se werkskedules en roetines reeds vasgestel is en dat hulle aanvaar om daarvolgens te werk (Kontrak van Program X1, 2011: afdeling 7.1).

Maatskappy X maak grootliks staat op die verslae wat een keer 'n kwartaal deur die programleiers ingestuur word om hierdie program mee te evalueer. Daaruit sien hulle die behoeftes van die bevoordeeldes en programleier en spreek dit ooreenkomstig aan (Maatskappyverteenwoordiger, 2011). Die maatskappyverteenwoordiger het ook beklemtoon dat die verslae dié doel in al die programme dien, dus word die verslag in Program X2 en X3 ook gebruik om die behoeftes van die bevoordeeldes vas te stel en sodoende aan te spreek.

Program X2

Program X2 lei vroue uit 'n arm gemeenskap op om brood, koekies en ander lekkernye te bak. Hulle word voorsien van 'n infrastruktuur om 'n bakkery in hulle gemeenskap te open en te onderhou. Program X2 is 'n uitsondering tussen die KSV-programme van Maatskappy X omdat 'n ontwikkelingsinstansie hulle eie evaluasiesisteme daarstel en uitvoer. Die ontwikkelingsinstansie het baie soortgelyke programme regoor Suid-Afrika en is al baie jare

in die bedryf (Beleidsdokument van ontwikkelingsinstansie, 2011:1). Maatskappy X het hulle aangestel oor die program en voorsien net in die finansiële behoeftes van die program. Die ontwikkelingsinstansie hanteer dus al die prosesse in die program, insluitende die evaluasieproses (Programleier, 2011).

Uit die dokumentasie wat deur die programleier (die bestuurder van die ontwikkelingsinstansie) beskikbaar gestel, word duidelik uiteengesit dat elke KSV-program unieke evaluasiemetodes en –prosesse het. Maatskappy X maak egter slegs staat op die verslae wat een keer 'n kwartaal deur die programleier ingestuur word om hierdie program mee te evalueer.

Program X3

Program X3 fokus op die verbetering van wiskunde- en wetenskapsvaardighede van onderwysers van skole uit arm gemeenskappe. Hierdie program werk op 'n vasgestelde wiskunde- en wetenskapkurrikulum. Volgens die maatskappyverteenwoordiger is die enigste doel van die programme om bevoordeeldes se wiskunde- en wetenskapvaardighede te verbeter en om sodoende toe te sien dat die slaagsyfer van die skole waarby die bevoordeeldes betrokke is, verhoog.

In die KSV-Jaarverslag van Maatskappy X word Program X3 wel genoem, maar spesifieke inligting oor hierdie program ontbreek. Daar word slegs melding gemaak van die feit dat Maatskappy X ’n finansiële bydrae lewer tot die program, maar hulle betrokkenheid andersins word nie bespreek nie. Maatskappy X maak grootliks staat op die verslae wat een keer per kwartaal deur die programleier ingestuur word vir die evalusie van hierdie program (Maatskappy X Jaarverslag, 2011:2).

Program Y1

Die fokus van Program Y1 is mentorskap- en onderrig-ontwikkeling van dans vir die jeug. om jeugdiges met danstalent as professionele dansers op te lei en ook ander gemeenskapslede te kan oplei om professioneel te kan dans (Inligtingsblad, Program Y1, 2012:2).

In die brosjure/inligtingsblad van Program Y1 word verduidelik dat die program bevoordeeldes in staat stel om ekonomiese wins uit die kunsindustrie te genereer. Volgens

die beleidsdokument van Maatskappy Y ondersteun die kuns, kultuur en erfenis-KSV- programme jeug uit gemeenskappe om verskillende kultuurdissiplines onder die knie te kry. Hierdie dissiplines sluit musiek, dans, drama en visuele kuns in. Hierdie program word op drie verskillende wyses geëvalueer: Daar bestaan maandelikse groepbesprekings rondom die groei en probleme van die program. Tydens hierdie bespreking word spesifieke en lukrake vrae bespreek. Die tweede evaluasieproses is ’n een-tot-een gesprek tussen elke bevoordeelde en die programleier. By laasgenoemde is die maatskappy nie betrokke nie terwyl die maatskappyverteenwoordiger gereeld die eergenoemde evaluasieproses bywoon. Die laaste evaluasieproses vind deur ’n evaluasiemaatskappy plaas en Maatskappy Y is ook nie hier betrokke nie.

Program Y2

Program Y2 fokus op die verbetering van wiskundevaardighede van graad 12-leerders van skole in arm gemeenskappe. Hierdie program werk op 'n vasgestelde wiskundekurrikulum. Volgens die beleidsdokument van Maatskappy Y ondersteun die maatskappy ’n verskeidenheid van inisiatiewe wat op die verbetering van wiskundevaardighede fokus, onder andere Universiteitsprogramme, Beurse en Uitreikprogramme wat deur onafhanklike skole geïnisieer word (Beleidsdokument, Maatskappy Y, 2011:14). Hierdie program word op grond van vasgestelde vrae deur beide die programleier en die valuasiemaatskappy geëvalueer.

Evaluasiemaatskappy

In die beleidsdokument, sowel as die jaarverslag van Maatskappy Y is verduidelik dat die maatskappy ander instansies gebruik, wat reeds goeie en gewaarborgde modelle in plek het om elke program se spesifieke behoeftes aan te spreek. ’n Groot deel van maatskappy Y se KSV-fonds word in dié eksterne instansies, soos die evaluasiemaatskappy belê. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat Maatskappy Y gebruik maak van die evaluasiemaatskappy en baie staatmaak op die terugvoer van dié maatskappy af (Jaarverslag, Maatskappy Y, 2011:13).

Uit die bogenoemde inligting word daar geskets hoe die KSV-programme van die verskillende maatskappy geëvalueer word en hoe die maatskappy daarby betrokke is. Die volgende afdeling van die studie sal fokus op hoe die bevoordeeldes die evaluasie van die

programme sien en beleef.