• No results found

BENADERING TOT ONTWIKKELINGSKOMMUNIKASIE

3.2 DIE KWALITATIEWE NAVORSINGSBENADERING

In enige navorsingsproses moet die keuse gemaak word om óf 'n meer kwalitatiewe óf 'n meer kwantitatiewe benadering tot navorsing te gebruik. Die terme "kwalitatiewe" en "kwantitatiewe" verwys na die aard van die inligting wat gegenereer word in die navorsingsproses, asook na hoe die navorsingsproses benader word. Kwalitatiewe navorsing veronderstel om inligting in prosa- of teksvorm voor te stel en staan bekend as "sagte" navorsing, terwyl kwantitatiewe navorsing data in die vorm van syfers en statistieke daarstel en bekend staan as "harde" navorsing (Bauer et al., 2000:7). Die doel en aard van die studie is deurslaggewend in die keuse van die navorsingsbenadering (Durrheim, 2006:47).

Eerstens sal daar ondersoek gedoen word na eienskappe van die kwalitatiewe benadering.

HOOFSTUK 3

Na aanleiding daarvan sal die toepaslikheid van kwalitatiewe navorsing vir die huidige studie, bespreek word.

Denzin en Lincoln (2003:3) bespreek sewe historiese fases en tradisies van kwalitatiewe navorsing. Die sewende fase, wat vanaf die jaar 2000 tot die hede strek en die toekoms-fase genoem word, gaan oor morele diskoers. Hierdie sewende fase veronderstel dat sosiale wetenskappe en geesteswetenskappe 'n gespreksplatform word vir kritiese besprekings van demokrasie, rasse, geslag, klasse, globalisering, vryheid en gemeenskap. Hierdie fase van die kwalitatiewe benadering lê klem op die begrip en verstaan van die betrokkenes se persepsies. Die kwalitatiewe navorsingsbenadering word meestal gebruik wanneer daar 'n soeke na menslike belange en waardes in navorsing ontstaan (Hocking et al., 23:28). In hierdie studie word die menslike belange en waardes van bevoordeeldes wat deel uitmaak van KSV-programme, tydens die evaluasieproses van die program ondersoek. Dit is van belang dat die persepsies van die bevoordeeldes verstaan word en dat daar ook begrip is vir hulle omstandighede en situasies. Kwalitatiewe navorsing laat die navorser toe om opvolgvrae te vra en indiepte-terugvoer te ontvang en deeglik te bespreek. Hierdeur kan die navorser werklik begrip kry vir die betrokkenes se persepsies oor die kommunikasie tydens evaluasie.

Kwalitatiewe navorsing is naturalisties (realisties), holisties en induktief (Durrheim, 2006:47). Die naturalistiese eienskap van die kwalitatiewe benadering dui aan dat werklike-wêreld- situasies ondersoek word soos dit natuurlik plaasvind. By kwalitatiewe navorsing word 'n spesifieke (konteksgebonde) populasie bestudeer, die situasies of uitkomste word nie gemanipuleer of beheer nie, die navorsing is ook nie voortvarend en oormoedig nie, maar daar is oopheid en ontvanklikheid vir enige gebeurtenisse tydens die navorsing (Holland & Campbell, 2005:2; Durrheim, 2006:47). Die betrokke studie vind in 'n ontwikkelingskonteks plaas waar verskillende gemeenskappe besoek is en waar ondersoek ingestel is na hulle ervaring van die kommunikasie tydens KSV-evaluasieprosesse sonder dat deelnemers of die situasie gemanipuleer of beheer is.

Die holistiese eienskap dui daarop dat die hele fenomeen wat ondersoek word as 'n komplekse sisteem beskou word. Die navorsing fokus op komplekse onderlinge afhanklikhede; dit word nie met opset na 'n paar diskrete veranderlikes verander en gerig nie. Omdat die studie in 'n ontwikkelingskonteks plaasvind waar daar in talle kulturele en sosiale kontekste gewerk gaan word, is dit belangrik om 'n holistiese navorsingsbenadering te volg, sodat die konteks as 'n geheel hanteer word. Net soos die kwalitatiewe benadering bestaan deelnemende kommunikasie en dus deelnemende evaluasie ook uit verbandhoudende en wedersydse afhanklike konsepte en konstrukte wat nie in isolasie van

mekaar bestudeer kan word nie. Om hierdie rede sal die holistiese eienskap van die kwalitatiewe navorsingsbenadering ondersteuning bied vir die feit dat die betrokke studie se konteks as 'n geheel hanteer sal word en die verskillende kulturele en sosiale kontekste nie in isolasie bestudeer sal word nie. Elke gemeenskap se kulture, tale, tradisies en sosiale kontekste sal holisties benader word om sodoende 'n werklike beeld van hulle persepsies te probeer kry.

Die induktiewe aard van die kwalitatiewe benadering veronderstel dat die navorser nie vooropgestelde idees of hipoteses in die navorsing daarstel nie, maar dat gevallestudies eers bestudeer word en daar dan tot 'n gevolgtrekking gekom word. Kwalitatiewe navorsing is induktief wanneer die navorser poog om die betekenis van 'n besondere situasie(s) te bepaal sonder om reeds bestaande verwagtings op die navorsing af te dwing (Durrheim, 2006:47; Holland & Campbell, 2005:2). Blanche et al. (2006:272) beklemtoon dat kwalitatiewe navorsing gebruik word vir navorsing waar geen of beperkte veranderlikes vooraf bepaal kan word nie. Dit is dus in teenstelling met hipoteties-deduktiewe empiriese navorsing wat eis dat die belangrikste veranderlikes eers gespesifiseer moet word en dat navorsingshipoteses geformuleer moet word voor die insameling van gegewens. Omdat die ontwikkelingskonteks waarin die studie plaasvind so uniek en kompleks is, is dit nie moontlik om vooraf hipoteses te vorm nie, en moet elke program waarnemend verken word. Hoewel die studie nie hipoteses wil bewys nie, is daar wel teoretiese aannames geformuleer wat gebruik word om die insameling van inligting te rig en daarna die ingesamelde inligting te analiseer. Daar bestaan dus 'n kombinasie van die verkenning van besondere situasies en die analisering van bevindinge aan die hand van voorafbepaalde teoretiese stellings in hierdie studie.

Die kwalitatiewe benadering word ook geken aan die verklarende en verhelderende eienskappe daarvan; hierdie eienskappe bring mee dat daar ryk en indiepte-inligting gegenereer kan word (Gaskell, 2000:39). In plaas daarvan om die norm in terme van standaardisering te beskryf, stel kwalitatiewe navorsing juis ondersoek in om die verskille in terme van mense en situasies te verduidelik. In die soeke na begrip vir sosiale diversiteit en sosiale interaksie, soos in die geval van hierdie studie, tussen en in populasiegroepe, word die komplekse en meervoudige realiteite van gemeenskappe en die samelewing verken. Tydens kwalitatiewe navorsing het die navorsers geleentheid om die situasie en prosesse indiepte te begryp. Dit is ook 'n belangrike eienskap van kwalitatiewe navorsing dat hierdie indiepte-kennis en -begrip vanuit die deelnemer se perspektief verkry word (Flick, 2009:15- 16). Die deelnemende eienskap van kwalitatiewe navorsing sluit hierby aan.

Die gemeenskap wat ondersoek word deur kwalitatiewe navorsing, neem deel aan die navorsing (Holland & Campbell, 2005:3). Dit is van groot belang dat die deelnemers se

ervarings in ag geneem sal word ten einde sin te maak van mense se persepsies. Die kwalitatiewe benadering fokus op die deelnemers se perspektief. Om begrip te kry vir die persepsies van mense is interaksie nodig en die navorser moet veral aandag skenk aan wat die deelnemers vertel (Blanche et al., 2006:274). Om dié rede is die onderhoude en fokusgroepe só beplan dat daar slegs enkele wye vrae gevra word, sodat die deelnemers self kan uitbrei en vertel hoe hulle die kommunikasie tydens die evaluasie van die betrokke KSV-programme ervaar. Al die programme wat besoek is tydens die navorsing, is programme wat in arm gemeenskappe gesetel is en die deelnemers se ervarings van die evaluasieprosesse vorm die kern van die studie.

Die kwalitatiewe benadering het ook interpreterende en analiserende eienskappe, waarvan die fokus daarin lê om inligting binne konteks te interpreteer en om op die kwalitatiewe aspekte van kommunikasie te fokus (Du Plooy, 2009:30). Waar daar na verskillende programme uit verskillende gemeenskappe gekyk word in hierdie studie, is dit belangrik dat al die inligting wat ingesamel word, binne die bepaalde konteks geïnterpreteer en geanaliseer word.

Die kwalitatiewe benadering is ook 'n buigbare benadering tot navorsing, wat aanpas by die gegewe konteks en situasie. Dit dui daarop dat dié metode die navorser in staat stel om bewus te word van die verskeidenheid van perspektiewe en handelinge in die veld as gevolg van die subjektiewe perspektiewe en sosiale situasies of agtergronde van die deelnemers (Flick, 2009:16). Die navorser kan dus sy/haar metodes van navorsing aanpas by die omgewing en by die tipe mense en situasies wat ondersoek word. Hierdie eienskap is van groot belang vir die betrokke studie, omdat die aard van die programme en ook die omgewings waarin dit geskied, verskil. Die navorsing behoort dus te kan aanpas by die deelnemers en hul omgewing, soos wat dit nodig sou wees.

Na aanleiding van die bogenoemde eienskappe van kwalitatiewe navorsing kan duidelik gesien word waarom dié navorsingsbenadering gekies is vir die betrokke studie. In die studie is daar gepoog om op 'n kombinasie van induktiewe en normatiewe, naturalistiese en holistiese wyse inligting te genereer deur die persepsies van die deelnemers te probeer verstaan. Sodoende is ryk, indiepte-inligting vanuit hulle perspektief ingesamel, wat daartoe gelei het dat hulle opinies en ervaring van die evaluasieproses van die KSV-programme verkry is.

Vervolgens sal die navorsingsontwerp bespreek word om aan te dui wat die studie ondersoek en hoe dié verlangde inligting ingesamel en verwek sal word.