• No results found

BENADERING TOT ONTWIKKELINGSKOMMUNIKASIE

C. Behoefte-georiënteerd

5.2 BEANTWOORDING VAN DIE SPESIFIEKE NAVORSINGSVRAE

5.2.2 Vraag 2: Evaluasieprosesse

Wat behels die evaluasieproses van die KSV-programme in die betrokke maatskappye?

Om die tweede navorsingsvraag te beantwoord is daar eerstens gebruik gemaak van kwalitatiewe inhoudsanalise van die dokumente wat relevant vir die programme is. Tweedens is semigestruktureerde onderhoude met maatskappyverteenwoordigers en programleiers gevoer, en fokusgroepe is met die bevoordeeldes van die verskillende programme gehou ten einde volledige inligting oor die evaluasieproses te kon insamel. Albei maatskappye het hulle KSV-jaarverslae aan die navorser beskikbaar gestel vir analise. Maatskappy Y het ook ’n beleidsdokument wat fokus op die deursigtigheid van die

maatskappy se handelinge beskikbaar gestel vir die navorser om te gebruik. Die jaarverslae van albei maatskappye beklemtoon die belangrikheid van die bevoordeeldes se opinies in alle fasette van die funksionering van die program. Hoewel die evaluasieproses nie spesifiek vermeld word nie, kan daar aangeneem word dat dit hierby ingesluit word. Daar word op verskeie wyses gepoog om die bevoordeeldes se insette te verkry, meestal deur voorafbepaalde evaluasieprosesse. In hoofstuk 4 is beklemtoon dat die maatskappyverteenwoordigers onder die indruk is dat die bevoordeeldes aangemoedig word om idees en oplossings vir probleme met die maatskappye te bespreek ten einde gesamentlik ’n beter lewe vir die bevoordeeldes en hulle gemeenskappe te kan skep. In die jaarverslae kon ’n opsommende beskrywing van elke program wat deel van hulle KSV- inisiatief uitmaak, verkry word, maar geen inligting wat spesifiek op die evaluasie van die programme fokus is in die verslae gevind nie. Die beleidsdokument het meer inligting in terme van die evaluasie van die programme ingesluit en die maatskappyverteenwoordigers het albei omvattend verduidelik wat die evaluasieproses van elke program behels, sodat die evaluasieproses van albei maatskappye duidelik aan die lig gekom het.

Terwyl Maatskappy X grootliks staatmaak op kwartaallikse verslae wat deur die programleiers ingestuur word na die maatskappy om die betrokke KSV-program te evalueer, voel Maatskappy Y se verteenwoordiger dat dit nie voldoende is om net staat te maak op die verslae wat die program instuur nie. Om hierdie rede maak Maatskappy Y ook gebruik van ’n evaluasiemaatskappy om by al die programme aparte evaluasieprosesse te fasiliteer.

Volgens die maatskappyverteenwoordigers het elke programleier ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat die bevoordeeldes insette lewer by die samestelling van die kwartaallikse verslae. Elke programleier bepaal sy eie evaluasieprosesse sonder die betrokkenheid van die maatskappyverteenwoordigers. Hierdie evaluasieprosesse bied dan geleentheid vir die bevoordeeldes se insette al dan nie. Maatskappy Y se verteenwoordiger woon meestal hierdie evaluasieprosesse by, maar nie die verteenwoordiger van Program X nie. Oor die algemeen is die aard van die evaluasieprosesse van Maatskappy Y se KSV-programme meer deelnemend as dié van Maatskappy X. Soos dit in die beleidsdokument beskryf is, het die verteenwoordiger van Maatskappy Y ’n goeie en oop verhouding met al die programleiers en ken sy ook al die bevoordeeldes van die verskillende programme.

By drie van die programme wat ondersoek is in die studie word daar slegs op die verslae staatgemaak vir evaluasie. Twee van die programme is die wiskundeprogramme; dit is interessant om te sien dat albei maatskappye die wiskundebevorderingsprogramme uitgesonder het by die bespreking van die evaluasieprosesse. Albei verteenwoordigers is van mening dat plaaslike kennis nie belangrik is in die geval van hierdie tipe programme nie

en gevolglik dat bevoordeeldes se deelname aan die evaluasieproses onnodig is. Die rede hiervoor is dat daar reeds vooraf bepaal word hoe die onderrig en opleiding gaan plaasvind en dat die resultate en punte van die bevoordeeldes se studente op sig self evaluasie van die program is. By die derde program vind daar ook geen bespreking van die vraelyste van die verslae plaas nie. In hierdie drie programme vind daar slegs eenrigtingkommunikasie plaas en daar bestaan min of geen deelname deur die bevoordeeldes in die evaluasieproses nie.

Die ander twee programme wat deel uitmaak van die studie se spesifieke evaluasieprosesse is meer deelnemend van aard. Die evaluasieprosesse bestaan uit interaktiewe sessies een maal per kwartaal. Die een program se evaluasie vind heeltemal onafhanklik van die maatskappy plaas terwyl die maatskappyverteenwoordiger die evaluasie van die ander program gereeld bywoon. Dié program het ook ’n tweede evaluasieproses waarby die maatskappyverteenwoordiger nie betrokke is nie en wat bestaan uit ’n een-tot-een-gesprek met elke bevoordeelde. Tydens die evaluasieprosesse van die twee programme is daar geleentheid vir besprekings rondom die verpligte vrae van die verslag asook addisionele vrae wat die programleier en bevoordeeldes daarstel en word die bevoordeeldes aangemoedig om behoeftes te kommunikeer en inisiatiewe aan die lig te bring.

Die evaluasiemaatskappy besoek ook een keer per kwartaal die programme van Maatskappy Y. Die evaluasiemaatskappy is van mening dat die evaluasiedokumente en vraelyste van die verskillende programme vertroulik is, en daarom kon dit nie aan die navorser verskaf word nie. Die dokumente is wel almal bespreek en ’n duidelike uiteensetting van die evaluasieproses wat deur die evaluasiemaatskappy gedoen word, is verkry. Elke program het ’n unieke vraelys, wat deurlopend aangepas word en wat tydens elke evaluasiesessie bespreek word. Hierdie vraelyste bestaan meestal uit besprekingsvrae wat poog om ’n gemaklike atmosfeer te skep, sodat die bevoordeeldes hulle behoeftes en verwagtinge sal deel. Die programleiers en die bevoordeeldes van programme Y1 en Y2 het egter nie oor die evaluasiemaatskappy se betrokkenheid uitgebrei nie, maar dit is duidelik dat hulle geen waarde hieraan heg nie en ook nie die doel van die evaluasieproses wat deur die evaluasiemaatskappy hanteer word, begryp nie. Hoewel die evaluasiemaatskappy van mening is dat die evaluasieproses deelnemend plaasvind, is dit nie die geval nie en bestaan daar geen deelname van die bevoordeeldes af in die evaluasie nie.

Uit die bogenoemde bespreking kan die volgende rakende die aard van die evaluasie van die betrokke programme afgelei word: Elke program se evaluasie verskil omdat die verskillende programleiers verantwoordelik gehou word om die bevoordeeldes by die evaluasie van die programme te betrek. Elke programleier het sy of haar eie manier om die

bevoordeeldes te betrek al dan nie. By drie van die vyf programme word daar geen waarde aan deelname deur die bevoordeeldes geheg nie, en word hulle gevolglik ook nie by die evaluasieproses betrek nie. Die bevoordeeldes van slegs twee van die programme word dus tot ʼn mate by die evaluasieproses van die KSV-programme betrek. Oor die algemeen lyk dit of Maatskappy Y wel ʼn groter premie op deelname deur die bevoordeeldes plaas as Maatskappy X.

Dit is duidelik dat die maatskappyverteenwoordigers van die twee maatskappye verskillende sienings oor die evaluasieproses het. In vraag 3 word dié sienings bespreek.