• No results found

BENADERING TOT ONTWIKKELINGSKOMMUNIKASIE

C. Behoefte-georiënteerd

4.3.5.4 Verandering: Program Y

A. Aksie

Die inligting wat tydens beide die programleier en die bevoordeeldes se onderhoude ingesamel is, het 'n positiewe gevoel en gesindheid teenoor die veranderinge wat aangebring word na afloop van die evaluasie, weerspieël.

Die programleier is van mening dat die maatskappyverteenwoordiger baie keer self die probleemareas of behoeftes uitlig wanneer sy op gereelde basis die program besoek. Die maatskappyverteenwoordiger het beaam dat sy gereeld probleme uitwys in Program Y1 omdat sy die program goed ken en verstaan. Volgens die programleier het sy baie selde nodig om in die verslag of op 'n formele geleentheid Maatskappy Y te nader oor behoeftes wat daar ontstaan en nie aangespreek word nie. Indien dit wel nodig is, bespreek die programleier dit eers mondelings met die maatskappyverteenwoordiger. Indien dit 'n klein probleem of verandering is, sonder groot finansiële implikasies, word die verandering

sommer dadelik aangebring. Die bevoordeeldes het ook verduidelik dat daar meestal vinnig aksie geneem word na afloop van die evaluasie. Voorbeelde wat hier aan orde gekom het, is geleenthede waar die bevoordeeldes vir nuwe dansskedules vra of danslokale onder mekaar wil uitruil, hierdie tipe voorstelle en versoeke word altyd tydens die evaluasie bespreek en oplossings word dadelik beplan en bevestig. Daar is ook ’n geleentheid genoem waar die bevoordeeldes nuwe klanktoerusting wou bekom. Hiervoor het hulle ’n kar- was-aksie voorgestel om die fondse in te samel. Die maatskappyverteenwoordiger was dié dag ook betrokke by die evaluasie en het die versoek ondersteun. Die tyd en plek waar die fondsinsameling sou plaasvind is vasgestel en dit het die daaropvolgende week gebeur. Die bevoordeeldes voel dat daar deur middel van die evaluasie altyd verbetering tot die program meegebring word.

Uit die bogenoemde kan afgelei word dat daar vinnig, gemaklik en gereeld aksie geneem word oor probleme wat ervaar word of nuwe inisiatiewe wat uitgetoets wil word.

B. Implementering van metodes

Die programleier het verduidelik dat wanneer daar nuwe behoeftes of inisiatiewe onder die bevoordeeldes ontstaan, sal hulle dit tydens die een-tot-een gesprekke of in die gesamentlike evaluasiesessies met haar bespreek. Hierdie voorstelle sal dan bespreek word, en die maatskappyverteenwoordiger is meestal by in hierdie besprekings. Wanneer daar finansiële implikasies by die verandering is, moet die programleier 'n skriftelike versoek rig aan die maatskappy.

Die programleier het verduidelik dat wanneer sy 'n geskrewe versoek inhandig, daar altyd 'n besprekingsessie met die maatskappyverteenwoordiger en haar span plaasvind. Na afloop van die bespreking gee die maatskappy nooit dadelik hulle beslissing oor die goedkeur of afkeur van die versoek nie, maar sy en die bevoordeeldes word op hoogte gehou van die besluitnemingsproses. Na aanleiding hiervan is dit duidelik dat die programleier sowel as die bevoordeeldes gemaklik is om hulle behoeftes en inisiatiewe met die maatskappyverteenwoordiger te deel. Hoewel die bevoordeeldes se boodskap meestal deur ’n filter na die maatskappy beweeg, blyk dit tog of hulle groot insette tot nuwe metodes en implementering daarvan in die program het. Ander versoeke, probleme en inisiatiewe wat nie ’n finansiële implikasie vir die maatskappy het nie, word vinnig en effektief bespreek en die metodes en die implementering daarvan sal verander of aanpas by hierdie inisiatiewe of probleemoplossings, soos daar reeds gesien is by die klanktoerusting voorbeeld.

C. Behoefte-georiënteerd

Na aanleiding van die bogenoemde lyk of die Program Y1 behoefte-georiënteerd is en of die fokus en uitvoering van die program deurgaans volgens die behoeftes van die bevoordeeldes aangepas en verander word.

D. Gemeenskapsbydrae

Dit is ook duidelik dat daar baie geleentheid is vir die programleier, en sodoende die bevoordeeldes deur haar, om behoeftes aan Maatskappy Y te kommunikeer en ook insette te lewer by die identifisering van oplossings. Die fondsinsamelingsprojek is ’n sprekende voorbeeld hiervan, waar die bevoordeeldes self ’n oplossing vir ’n probleem identifiseer en ook die geleentheid het om dit uit te voer. Verder blyk dit of daar ook veranderinge op grond van hulle insette plaasvind. Hoewel die bevoordeeldes nie direk met die maatskappy kommunikeer nie, blyk hulle tevrede te wees met die kommunikasiekanale soos dit tans is.

Gevolgtrekking oor verandering: Program Y1

Uit die bogenoemde inligting is dit duidelik dat daar gereelde en gunstige aksie na afloop van die evaluasie van Program Y1 plaasvind. Alledaagse besluite rakende die

implementering van metodes word tydens evaluasie geneem en die maatskappyverteenwoordiger, die programleier en die bevoordeeldes lewer insette oor die veranderinge hiervan. Die program kan as behoefte-georiënteerd beskryf word, aangesien die fokus en uitvoering daarvan verander en aangepas word op grond van die

gemeenskapsbydrae. Die gevolgtrekking word gemaak dat die evaluasie van Program Y1

verandering in die funksionering en die evaluasie van die program meebring.

4.3.5.5 Verandering: Program Y2

A. Aksie

Die programleier van Program Y2 het daarna verwys dat die enigste veranderinge wat aan die program aangebring word, deur Maatskappy Y bepaal word. Hy het weer uitgelig dat die program van so 'n aard is dat die behoeftes nie voortdurend verander nie. Volgens die programleier is daar 'n vasgestelde manier van onderrig en hy gee al jare lank volgens die manier klas. Die bevoordeeldes het ook gesê dat hulle tevrede is met die manier waarop die programleier vir hulle klas gee. Hulle is van mening dat hulle nie behoeftes in terme van die onderrig het waarin daar nie voorsien word nie.

Die maatskappyverteenwoordiger van Maatskappy Y het, net soos Maatskappy X, genoem die aard van dié program nie toelaat dat daar deurgaans aan die struktuur en die metodes van onderrig en opleiding kan verander word nie. Die afleiding wat hieruit gemaak word, is dat daar nie aksie geneem word teenoor probleme wat in die program ondervind word wat nie direk betrekking het op die aanleer van wiskundevaardighede nie.

B. Implementering van metodes

Die programleier het ook verduidelik dat daar geen veranderinge in die Program Y2 sal plaasvind as dit nie 'n oorhoofse verandering oor al die soortgelyke programme in die land is nie. Hy is van mening dat die verteenwoordiger van Maatskappy Y baie kere vir hom die volgende woorde gesê het:

Al die wiskunde- en wetenskapsontwikkelingsprogramme in die land werk op dieselfde stelsel en almal loop hand aan hand.

Die metodes wat in die program gebruik word, word bepaal deur die vasgestelde kurrikulums waarvolgens die Program Y2 funksioneer en die programleier en die bevoordeeldes het geen insette by hierdie metodes of by die verandering van hierdie metodes nie.

C. Behoefte-georiënteerd

Na aanleiding van die bogenoemde inligting kan afgelei word dat daar 'n vaste en eenvormige plan en idee is vir al die wiskunde-ontwikkelingsprogramme waarby Maatskappy Y betrokke is. Geen unieke behoeftes van die programme word ondersoek of erken nie; dit gaan suiwer oor die aanleer van die vak.

Die oorhoofse behoefte van die program en ander soortgelyke programme van Maatskappy Y – die verbetering van wiskundevaardighede – word aangespreek, maar die program is nie behoefte-georiënteerd nie. Dit fokus op een doel en hierdie doel word alleenlik op grond van die Maatskappy se bepalings bereik.

D. Gemeenskapsbydrae

Hierdie afdeling word reeds beantwoord deur die voorafgaande; die feit dat daar in geen ander behoeftes as die wiskundevaardighede belanggestel of voorsien word nie, dui daarop dat die bevoordeeldes en die programleier absoluut geen bydrae tot die identifisering of oplossing van probleme in die program, en spesifiek in die evaluasie het nie.

Daar word nie aksie geneem oor probleme wat tans in Program Y2 ondervind word nie en daar word ook nie verandering in die implementering van metodes aangebring tensy dit deur die vasgestelde kurrikulum voorgestel word nie. Die program kan nie as behoefte- georiënteerd beskou word nie, aangesien dit nie op grond van die bevoordeeldes se behoeftes verander nie - dus lewer die gemeenskap geen bydrae tot veranderinge in die program nie. Die gevolgtrekking word gemaak dat die evaluasie van Program Y2 nie tot verandering in die program of in die evaluasieproses lei nie.

Die vyfde teoretiese stelling veronderstel dat deelnemende evaluasie behoort by te dra tot 'n behoefte-georiënteerde program waar die implementering van metodes en aktiwiteite voortdurend verander na aanleiding van die gemeenskapslede se insette. In enkele van die betrokke programme is daar verandering waargeneem wat op grond van deelnemende evaluasie meegebring word. Die behoefte-georiënteerde aard van die programme waar deelnemende evaluasie plaasvind, lei daartoe dat bevoordeeldes tevrede voel oor die meeste van die aspekte van die program, omdat hulle insette tot aksie lei en daar sodoende verandering plaasvind in die implementering van metodes in die program wat probleme help oplos (sien afdeling 2.5.5).

4.4 SAMEVATTING

In hoofstuk 2 het dit duidelik aan die lig gekom dat 'n deelnemende benadering tot evaluasie as die ideale metode beskou word om ontwikkelingsprogramme, soos KSV-programme, te evalueer. Deur die empiriese navorsing wat in hierdie hoofstuk bespreek is, kan ook afgelei word dat bevoordeeldes van programme waarin 'n deelnemende benadering tot evaluasie gevolg word, gelukkiger is, meer selfvertroue het en ook tot 'n groter mate bemagtig word deur die evaluasieproses.

Die resultate van die studie is aan die hand van die beginsels van deelnemende evaluasie bespreek, en daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die meerderheid van die betrokke KSV-programme nie deelnemend geëvalueer word nie.

In hoofstuk 5 sal die navorsingsvrae wat vir die studie gestel is beantwoord word, en daar sal tot ʼn gevolgtrekking oor die aard van die evaluasieproses van KSV-programme in die finansiële sektor gekom word.

5.1 INLEIDING

In hoofstuk 1 is die agtergrond van ontwikkelingskommunikasie en spesifiek die deelnemende benadering tot ontwikkelingskommunikasie geskets. Daar is ook gefokus op KSV en die bydrae wat KSV-programme tot ontwikkeling in Suid-Afrika maak, waarna daar geredeneer is dat KSV-programme in wese ontwikkelingsprogramme is wat as sodanig hanteer behoort te word. Twee maatskappye binne die finansiële sektor en vyf verskillende KSV-programme van hierdie maatskappye is in die studie ondersoek. Die aard van hierdie programme is kortliks in hoofstuk 1 verduidelik. ’n Algemene navorsingsvraag is ook in hoofstuk 1 geformuleer. In hoofstuk 2 is daar geredeneer dat KSV-programme op ’n deelnemende wyse geëvalueer behoort te word om in die betrokkenes se behoeftes te voorsien en sodoende tot volhoubare ontwikkeling by te dra. Die beginsels van deelnemende ontwikkeling wat vir hierdie studie relevant is, is ook in hoofstuk 2 geïdentifiseer en bespreek. Hoofstuk 3 het die navorsingsmetodes wat gevolg is om hierdie KSV-programme te ondersoek, uiteengesit en bespreek. Daar is ook gefokus op teoretiese konsepte en konstrukte wat die basis van die onderhoudskedules gevorm het en gebruik is om die kwalitatiewe inhoudsanalise uit te voer. In hoofstuk 4 is die resultate van die ingesamelde inligting aan die hand van die teoretiese konsepte en konstrukte bespreek. Hierdie hoofstuk het ten doel om die algemene navorsingsvraag, naamlik wat die aard van

kommunikasie tydens die evaluasie van KSV-programme in die finansiële sektor is, te

beantwoord. Om hierdie vraag te beantwoord sal daar gefokus word op die beantwoording van die spesifieke navorsingsvrae wat in hoofstuk 1 gestel is.