• No results found

BENADERING TOT ONTWIKKELINGSKOMMUNIKASIE

C. Bestaande hulpbronne

4.3.4.4 Bemagtigingsdoelwitte: Program Y

A. Selfonderhoud

Die bevoordeeldes van Program Y1 en die programleier het baie uitgebrei oor die bemagtiging van elke bevoordeelde deur die program; hulle voel dat die program hulle op verskeie maniere bemagtig: die program fokus nie net op spesifieke vaardighede nie, maar

bou ook hulle selfvertroue en karakter. Een van die bevoordeeldes het die volgende gesê:

Program Y1 leer ons om vir onsself te sorg, en om die beste van ons lewens te maak; hier sien mens eers jou talents en dan kan jy die ander mense ook help om hulle talents raak te sien.

Die verteenwoordiger van Maatskappy Y het die volgende aanmerking oor bemagtiging gemaak:

Bemagtiging is die oorhoofse doel van Maatskappy Y se KSV-programme; dit is vir ons belangrik dat elke bevoordeelde wat deel van die program is tot so 'n mate sal ontwikkel dat hy of sy werklik bemagtig word om alleen 'n bestaan te kan maak.

Uit die bogenoemde is dit reeds duidelik dat die bevoordeeldes bemagtig word om ander ook uit hulle omstandighede te probeer help. Hulle kan ook beheer neem oor hulle ontwikkeling deur die evaluasieprosesse wat vir hulle geleentheid bied om hulle opinies te lug en nuwe idees en inisiatiewe aan die lig te bring. Hierdeur word selfonderhoud meegebring en kan die afleiding gemaak word dat die bevoordeeldes deur die evaluasie, wat deur die programleier uitgevoer word, selfonderhoudend word. Dit is egter duidelik dat die evaluasie deur middel van die evaluasiemaatskappy nie selfonderhoud meebring nie.

B. Kognitiewe dimensie

Die bevoordeeldes van Program Y1 is baie betrokke by die evaluasieproses en leer om krities en rasioneel te dink, sodat hulle voorstelle die program sal verbeter. Hierdie stelling word gemaak na aanleiding van een van die bevoordeeldes se woorde:

Voor ons kan change aan die dinge hier, moet ons eers kan dink dat dit gaan werk, dit help nou nie ons change die hele setup en dit maak nie die dinge makliker nie.

Al die bevoordeeldes het saam met die bogenoemde stelling gestem, en dit het duidelik geword dat die bevoordeeldes bemagtig word in terme van die kognitiewe dimensie om self die evaluasie te kan uitvoer.

C. Bestaande hulpbronne

Die bevoordeeldes en die programleier het vertel van verskeie geleenthede waar ouers van die bevoordeeldes betrek is by die program om toesig te hou oor die bevoordeeldes; daar is ook verwys na geleenthede waar daar in die gemeenskappe opgetree is en dat daar in een van die gemeenskappe van 'n saal gebruik gemaak word tydens vakansietye om klein kinders uit die gemeenskappe te leer dans. Volgens die maatskappyverteenwoordiger van

Maatskappy Y is dit meestal die bevoordeeldes se idees om die program na die gemeenskappe toe te neem en volgens haar is dit een van die hoogtepunte van die sukses van Program Y1. Hieruit is dit duidelik dat daar gepoog word om natuurlike en bestaande hulpbronne te gebruik en ook van lede uit die gemeenskap se energie en vaardighede. Dit is nie duidelik of die vaardighede en hulpbronne ook in die evaluasie gebruik word nie.

Gevolgtrekking oor bemagtigingsdoelwitte: Program Y1

Uit die bogenoemde inligting is dit duidelik dat die bevoordeeldes meer selfonderhoudend raak en kognitiewe dimensies van bemagtiging ook ontwikkel deur middel van hulle betrokkenheid by die evaluasieproses. Daar word ook op bestaande hulpbronne staatgemaak na aanleiding van die bevoordeeldes se voorstelle tydens die evaluasieproses. Aangesien al die konsepte wat onder bemagtigingsdoelwitte uiteengesit is teenwoordig is in die evaluasie van Program Y1, word die gevolgtrekking gemaak dat die evaluasieproses bemagtigingsdoelwitte voor oë het.

4.3.4.5 Bemagtigingsdoelwitte: Program Y2

A. Selfonderhoud

Net soos by Program X3 het die programleier verduidelik dat die bemagtiging in Program Y2 uitsluitlik slegs gemik is op die wiskundevaardighede wat die bevoordeeldes aanleer. Die bevoordeeldes het die programleier se opinie versterk deur daarna te verwys dat hulle bemagtig word deur die vaardighede wat hulle aanleer, maar hulle is van mening dat die evaluasieproses van die program nie tot hulle bemagtiging bydra nie.

Die bevoordeeldes het die besoeke van die evaluasiemaatskappy as "tydmors" en "irrelevant" beskryf. Hulle het erken dat daar wel geleentheid is vir hulle om hulle opinies te lug tydens hulle gesprekke met die programleier, maar dit bring geen verandering mee in die program nie. Dit is ook duidelik dat hulle geen insette lewer in die manier waarop die evaluasie plaasvind of wat geëvalueer word nie. Uit die onderhoude en fokusgroep het dit duidelik geword dat die bevoordeeldes nie beheer neem oor hulle eie situasies nie, en veral nie oor die wyse waarop evaluasie in die program geskied nie. Hulle stemme word glad nie verlang of gehoor rondom die evaluasieprosesse nie en selfonderhoud kan nie meegebring word nie wat beteken dat die bevoordeeldes nie in die toekoms self die program sal kan evalueer nie.

B. Kognitiewe dimensie

Aangesien die bevoordeeldes nooit geleentheid het om veranderinge aan die program voor te stel nie, en ook nie deel uitmaak van enige besluitnemingsprosesse nie, kan die afleiding gemaak word dat daar geen kognitiewe stimulering deur middel van die evaluasieproses van Program Y2 plaasvind nie.

C. Bestaande hulpbronne

Die klaskamers van die skool waar die kinders skoolgaan word gebruik vir die onderrig van die program en ook vir die evaluasiegeleenthede, in dié sin word daar van bestaande hulpbronne in die gemeenskap gebruik gemaak. Die kennis en energie van die bevoordeeldes en die gemeenskap word egter nie gebruik in die evaluasieproses nie.

Gevolgtrekking oor bemagtigingsdoelwitte: Program Y2

Na aanleiding van die bogenoemde en ook op grond van die vasgestelde sistematiese prosesse waarvolgens die uitvoering van Program Y2 geskied, is dit duidelik dat daar nie selfonderhoud deur middel van evaluasie meegebring word nie. Dit is ook duidelik dat die bevoordeeldes nie 'n kognitiewe dimensie ontwikkel deur die evaluasie van Program Y2 nie. Daar word ook nie werklik op bestaande hulpbronne staat gemaak nie. Hieruit word die gevolgtrekking gemaak dat die evaluasie van die program nie tot bemagtiging bydra nie. Die vierde teoretiese stelling veronderstel dat deelnemende evaluasie behoort te getuig van bemagtigingsdoelwitte wat beide emosionele en motiverende dimensies asook kognitiewe of intellektuele dimensies aanspreek en waar gemeenskappe in staat gestel word om beheer oor hul eie situasie uit te oefen. In die twee programme waar deelnemende evaluasie waargeneem is, is dit duidelik dat daar 'n groter neiging na kognitiewe dimensies van bemagtiging is as by die ander drie programme. Die vennote wat deel is van deelnemende evaluasie, begin vir hulleself praat en besluite neem (sien afdelings 2.3.2 en 2.5.4).

4.3.5 VERANDERING

Deelnemende evaluasie gaan daaroor dat alle vennote betrokke is in die evaluasieprosesse van die program. Hierdie betrokkenheid kan daartoe lei dat aksie geneem word oor probleme wat geïdentifiseer word tydens evaluasie (sien afdeling 3.7.5) Die literatuur verduidelik dat effektiewe, deelnemende evaluasie daartoe lei dat metodes anders geïmplementeer word om die huidige probleme op te los en toekomstige probleme te voorkom. Wanneer die bevoordeeldes deel is van die evaluasieproses en verstaan waaroor dit gaan, behoort die program dus meer behoefte-

georiënteerd te word. Verandering behoort sodoende

plaas te vind in die fokus en uitvoering van die program nadat die bevoordeeldes deel geword het van die evaluasieproses (sien afdeling 3.5.7). Die rede vir dié verandering is die gemeenskap (bevoordeeldes) se

bydrae; hulle behoort insette te lewer by die definiëring van

probleme wat voorkom in die fasiliteite, by die daarstelling van doelwitte betrokke te wees en ook by die oplossing van probleme. By hierdie beginsel is daar dus vier sekondêre konsepte geïdentifiseer, naamlik aksie, implementering van

metodes, behoefte-georiënteerde fokus en

gemeenskapsbydrae. Onder elkeen van hierdie sekondêre

konsepte is weer konstrukte gevorm, soos in die blokkie aangedui word. Hierdie konstrukte het weer as riglyn gedien

in die semigestruktureerde onderhoude en fokusgroepe met al die bevoordeeldes. Die vraag wat aan almal gestel is, is:

Verduidelik hoe metodes en aktiwiteite verander na evaluasie plaasgevind het.