• No results found

Die vorming van ʼn narratiewe identiteit word met die hulp van narratiewe herinneringe saamgestel. In die geval van Mntambo se beesvelle het elkeen sy eie narratiewe identiteit bevat. Die beesvel is ʼn leë dop wat deur die aanskouer gevul word en die herinneringe en identiteit van die vel aan neem. In die geval van hierdie studie stel ek die beesvel aan my naam gelyk. Die beesvel word as die basis van my narratiewe identiteit beskou waarin ek deur my lewensnarratief die beesvel opvul met my eie ervarings om ʼn volledige figuur te skep. Aan die einde van my leeftyd word my herinneringe verminder na slegs die beesvel en aan my nasate oorgegee om hul eie narratiewe herinneringe en identiteit vanaf my te vorm.

Op ʼn soortgelyke wyse kan ek die beesvel met sy letsels en merke aan my eie narratief gelykstel. Daar waar ek foute en besluite gemaak het word op die oppervlak van die beesvel aangetoon. Hierdie vergelyking pas ek toe op The shadows between us van Mntambo. Die twee figure van eenderse patroon sweef na mekaar. Hierdie verwys na die gelaatstrekke van my familie wat ooreenstem maar met sekere eienskappe wat wel verskil. Die een figuur verteenwoordig die vroue in my familie terwyl die ander ʼn voorstelling is van my. Daar ontstaan konfrontasie in die wyse dat ek nie myself as ʼn kloon van hulle wil beskou nie, maar eerder gewoontes wat vir my

uitstaan in my eie lewe probeer toepas. Die vroue gee vir my die gereedskap om my eie narratiewe identiteit, deur my eie ervarings tesame met hul narratiewe herinneringe, te vorm.

Figuur 6-8 Nandipha Mntambo, Titfunti emkhatsini wetfu (The shadows between us), 2013. Beesvel en hars. Links: 125 x 134 x 29cm regs: 147 x 152 x 27cm.

Daar ontstaan ʼn verskeidenheid van karakters binne my eie narratief waarin ek myself as die hoofkarakter beskou. In hierdie studie fokus ek slegs op die vroulike karakters van my familie. Elke individu beskou hulself ook as die hoofkarakter in hul eie verhaal en sodoende ook die protagonis volgens Ricoeur (1994:122). Die belangrikste vroue karakters waarna ek verwys is my oumagrootjie, oumas, my ma sowel as die ander vroue wat in my familie is79. Tydens die aanskoue

van Sibande en Mntambo se werk is dit onmoontlik om nie deel van die kunswerk se narratief te vorm nie. Ek as aanskouer word sodoende deel van Sibande/Sophie en Mntambo se narratief. Die oomblik wanneer ek die kunswerk van Sibande of Mntambo betree is ek besig om die narratief van die kunswerk te voltooi. Ek neem die rol van Sophie en die pers figuur in die stryd tussen ou en nuwe identiteit in A reversed retrogress (Scene I) aan, maar ek is terselfdertyd ook ʼn aanskouer en getuie van Sibande se ontwikkelende karakter. In die werk van Mntambo vul ek die afwesige ruimte van die beesvel maar word ook ʼn aanskouer van die narratiewe karakters wat sy verteenwoordig. Ek word ʼn karakter in die interpretasie van die narratiewe wat deur middel van paratekste aan my bekendgestel is.

Volgens Ricoeur (1994:147) sal narratiewe die identiteit van ʼn karakter saamstel wat dan na verwys word as narratiewe identiteit. Hieruit is dit duidelik dat interne (familie) en eksterne (buite

79 Ander vroue wat my beïnvloed maar wat ek nie melding van maak nie is my ma se susters, my pa se

susters en my stiefouma (b). Vir die doel van hierdie studie fokus ek op soortgelyke familielede soos Sibande en Mntambo in hul werke na verwys.

die familiekring) narratiewe die individu se karatervorming beïnvloed. Eksterne narratiewe word hier ook beskou as die interpretatiewe proses van die kunswerke. Die oomblik terwyl ek die kunswerke ervaar het die narratiewe in my eie verweef. Ek is op hierdie wyse deel van Sophie se narratiewe identiteit tydens haar transformasie (Figuur 6-5) en sy deel van my transformasie.

Figuur 6-9 Mary Sibande, A reversed retrogress (Scene I), 2013. Poliëster, katoen, veselglas en hars. Grootte mag varieer.

Albei kunstenaars se werke het ek vir die eerste keer op universiteit beleef, ʼn fase wat as adolessensie80benader word. ʼn Tydperk wat myns insiens gepaardgaande is met innerlike konflik

en eksterne invloede vanaf die portuurgroep. Volgens Van Hoorn, Crone en Van Leijenhorst (2016:189) sal die teenwoordigheid van die portuur soms negatiewe invloede op die adolessent se impulsiewe besluitneming uitoefen. Hierdie was (en is steeds) ʼn tydperk waar ʼn individu se narratiewe identiteit deur verskeie opinies en ervarings gevorm word. ʼn Individu sal in hierdie tydperk ook bepaal in watter groep hul inpas.

Jannidis (2012:9) verduidelik dat ʼn karakter uit ʼn samestelling van karakters wat soortgelyke eienskappe bevat of die teenoorgestelde verteenwoordig bestaan. Elke individu se karakter is hierdeur ʼn samevoeging van ander karakters.

In Hoofstuk Twee word daar ook verwys na die postmoderne karakter van Fokkema (1991:62) wat ʼn versinnebeelding van meervoudige selwe is. Elke karakter (deelnemer) aan die kunswerk kan in hierdie opsig as ʼn postmoderne karakter beskou word. Sophie word meer as ʼn blote karakter in Sibande se kuns wanneer sy haar eie innerlike konflik ervaar en in ʼn identiteit transformasie betree. Sophie is ook ʼn samestelling van Sibande (as haar alterego), die vroue in

haar familie (as allegorie van huiswerkers) en ook ʼn karakter in haar eie reg. Sophie is ook ʼn huishoudelike werker, ʼn karakter in ʼn kunswerk en ʼn versorger van haar familie. Op dieselfde wyse kan ek myself as ʼn postmoderne karakter identifiseer. Ek is ʼn samestelling van verskeie eienskappe van die vroue in my familie. My meervoudige selwe behels my posisie as dogter, suster, niggie en kleinkind waar daar ook verskillende dimensies van verhoudings ontwikkel. As aanskouer en interpreteerder beskik ek ook oor ʼn idem en ipse in terme van die kunswerk. In Hoofstuk Twee word die idem as die permanente deel van identiteit beskryf terwyl die ipse die wese van die self is (Ricoeur, 1994:118). My idem word hierdeur as die basis van my identiteit beskou en is die gedeelte wat deur die vroue in my familie gevorm is. Hierdeur is al die bogenoemde invloede wat bespreek is dit wat aanleiding tot my narratiewe identiteit gee. Die ipse is my karakter en persoonlikheid en hierdeur die gedeelte van my identiteit wat deur die aanskoue van die werk beïnvloed word. Hierdeur word daar verwys na op watter wyse my ipse wel deur die kunswerke beïnvloed word.

Ricoeur (2006:81) maak ook ʼn verwysing na die broosheid van identiteit. ʼn Individu se identiteit is sodoende maklik vatbaar vir invloede wat dit permanent kan verander. In A reversed retrogress

(Scene I) word ek as die aanskouer met die identiteittransformasie van Sophie gekonfronteer.

Daar word introspeksie oor my narratiewe identiteit tot op hedendaags gedoen om hierdie oomblik in my lewe te identifiseer. Myns insiens ervaar individue daagliks ʼn soortgelyke konfronterende situasie wat hul narratiewe identiteit transformeer.

Tydens die aanskoue van die werk word Sophie, die pers figuur en my identiteit vatbaar vir invloede. My narratiewe word in hierdie proses oorgedra aan die karakters in die werk waar ek myself in beide Sophie en die pers figuur waarneem. Ek is bang en skepties net soos Sophie om te transformeer, maar daar word in dieselfde ruimte ʼn drang om in ʼn nuwe fase van my lewe in te beweeg81 geskep. Die broosheid van my identiteit in hierdie oomblik word met die konfrontasie

van die karakters geïnfiltreer en ek word herinner aan my eie innerlike konflik.

In Mntambo se The shadows between us word die aanskouer se aandag op die broosheid en manipuleerbaarheid van die medium gefokus. Die identiteit van die beesvel word, soos met narratiewe herinneringe, deur die individu se ervarings gevorm. Hierdeur word my narratiewe identiteit net soos die beesvel gevorm deur my ervarings. Op dieselfde wyse wat Mntambo die beesvel in die begeerde posisie in vorm, vorm ek my eie identiteit.

81 Hiermee verwys ek na die transformasie van denke wat ek tydens my universiteitsjare, en soortgelyke