• No results found

4.2 Narratiewe identiteit in Titfunti emkhatsini wetfu (The shadows

4.2.1 Persoonlike narratiewe identiteit: Nandipha Mntambo

Figuur 4-1 Nandipha Mntambo, Titfunti emkhatsini wetfu (The shadows between us), 2013. Beesvel en hars. Links: 125 x 134 x 29cm regs: 147 x 152 x 27cm.

Persoonlike narratiewe identiteit: Mntambo se vermoë om verhale vanuit haar eie narratiewe te

skep word hier onder die loep geneem. Een van hierdie “karakters” is die beesvelrokke wat as vroulike figure uitgemaak kan word weens die figure se kurwes. Die vroulike figuur is ʼn prominente verskynsel in Mntambo se werk.

Mntambo (2007:4, 6) verduidelik dat sy as vrou tussen twee kulturele ruimtes, naamlik die Westerse en Nguni-kulture, bestaan. Sodoende definieer Mntambo haarself as iemand wat op hibriede wyse tussen verskeie wêrelde bestaan, maar weier om in een spesifieke identiteit gekategoriseer te word (Malcomess, 2008:128). Dié gedagte word as een van die moontlike konflikterende of paradoksale elemente in Mntambo se werke beskou. Volgens McIntosh (2008:1) bring Mntambo deur haar kunsskepping die organiese aard van haar identiteit terug. Hiermee word bedoel dat sy op haar persoonlike narratiewe fokus om daar ʼn narratiewe identiteit in haar werk te skep. Mntambo (2007:36) beklemtoon dat sy nie direk na die kulturele aktiwiteite van die Nguni-kultuur verwys nie, maar dat sy van haar ervaring en erfenis58 se teenwoordigheid bewus

is. Myns insiens suggereer Mntambo dat die aanskouer ʼn verbintenis tussen haar ras, kulturele agtergrond en beoefening as kunstenaar sal maak. As aanskouer word daar ʼn verbintenis oor haar werke gemaak na aanleiding van die beskikbare paratekste oor haar biografie.

Die gebruik van beesvel as medium het, soos bespreek in Hoofstuk Een, vir Mntambo in ʼn droom gefigureer. Hieruit word afgelei dat die droom ʼn onderbewustelike metafoor vir haar bied oor haar afwesigheid en vervreemding van haar Nguni-erfenis. Daar is sy “afwesig” in haar eie werke. Die konteks rondom haar keuse is deur die beskikbare paratekste, naamlik haar nagraadse verhandeling sowel as onderhoude wat met haar gevoer is, bekombaar.

Mntambo se verhouding met haar ouers en grootouers: Die liggaamsvorme van die figure is vanaf

Mntambo en haar ma af gevorm. Mntambo (2007:45 en 51) het hierdeur beheer oor hoe die aanskouer die materiaal/medium en installasie ervaar. Mntambo (2007:51) verduidelik dat dit wat die aanskouers waarneem is nie net die afwesigheid van haar en haar ma se liggame nie, maar ook dié van die bees wie se vel sy gebruik. Mntambo verduidelik aan Moret (2013:3) dat sy deur haar gebruik van ʼn beesvel nie vroue aan beeste gelykstel nie. Die medium bevat wel deeglik baie moontlikhede tot narratiewe vir Mntambo.

Mntambo se huisgesin het ʼn ander struktuur as díé van Sibande gehad. Haar pa was ʼn predikant in die Metodistekerk waar een van sy groot dryfkragte konflikoplossing was. Mntambo verduidelik dat sy as kind met “teenoorgesteldes”59 grootgeword het waar die oplossing vir hierdie konflik

gewoonlik ʼn soeke vir die “tussenin ruimtes” of ʼn tipe middeweg vir die partye was (in Jolly, 2011:8). Daar word afgelei dat Mntambo se ma ʼn groot ondersteuningsbron vir haar pa was, omdat sy hom deur die oplos van ander individue/groepe se konflikte bygestaan het. Vanuit die bogenoemde gedagte word dit afgelei (deur die hulp van paratekste) dat Mntambo uit ervaring kennis het van konflikoplossing en dit as onderwerp inkorporeer in haar werk.

Mntambo het hierdeur geleer om nie broeiende konflik en emosies te verberg nie, omdat dit op ʼn later stadium ʼn groter konflik kan veroorsaak. Ek wil beweer dat Mntambo slegs die oomblik voor die werklike konflik uitbeeld omdat geen party (karakters in die werk, Mntambo en die aanskouer) die uitkoms hiervan kan voorspel nie.

Outobiografiese narratiewe identiteit: Ngwenya (2000:1) verduidelik dat outobiografieë (in die

historiese dimensie van die Suid-Afrikaanse gemeenskap) ʼn belangrike funksie dien waar daar op die rasse, etniese, klas- en gender verskille weerspieël, ontleed en geïnterpreteer word. Outobiografie kan hierdeur as ʼn helende narratief beskou word. Individue reflekteer oor die verlede deur versoening in hulself te bewerkstellig. Die bogenoemde stellings val onder Joubert en Hattingh (2012:186) se eerste karaktereienskap van die samestelling van vroue se outobiografiese narratiewe. Daar word op Mntambo se lewensgeskrifte met persoonlike en huishoudelike details as paratekste gefokus.

Volgens Joubert en Hattingh (2012:186) sal vroue deur hul lewe sif vir stories om hul plek in die samelewing te verifieer. Die proses waardeur Mntambo beesvelle uitkies werk op ʼn soortgelyke wyse waar sy deur ʼn hoop beesvelle werk om ʼn gepaste een vir haar narratief te identifiseer. Myns insiens is díe “uitsortering” ʼn proses wat ʼn individu ook aanpak om deur verskeie invloede te sif om ʼn unieke en individuele narratiewe identiteit te vorm. Mntambo verduidelik dat sy nie altyd met die aanvang van ʼn kunswerk ʼn klinkklare eindpunt het nie (in Van Rooyen, 2014:5). Namate die vorm van die figuur duideliker word, argumenteer ek dat Mntambo toenemend ontwikkel ten opsigte van die outobiografiese narratief wat sy uitbeeld.

Tedford (2013:3) is van mening dat Mntambo se belangstellings en waarnemings as kind die fondasie vir verskeie bepalende karaktereienskappe van haar werk lê. Een van hierdie belangstellings verwys na haar portuurgroep se fassinasie met die verwydering van liggaamshare en die verband daarvan met skoonheidsbeskouings. Mntambo het moontlik paradoksaal vanuit hierdie beskouing kunswerke gekonseptualiseer wat slegs deur hare bedek is.

Die volgende karaktereienskap waarna Joubert en Hatting (2012:186) verwys is die opberging van emosies. Daar word in hierdie verband na ʼn narratief wat reeds bespreek, is naamlik Mntambo se pa, verwys.

Die laaste outobiografiese narratief verwys na die openbare aspek van ʼn individu se lewe wat sy as minder belangrik ag. Myns insiens besef Mntambo haar rol in die groter samelewing deur haar konflik tussen Westerse en Nguni narratiewe te vertel. Mntambo maak egter selde melding van haar familie en haar gesin, wat toon dat sy hulle privaatheid respekteer en slegs nodige narratiewe vanuit hul lewe vir die publiek ontbloot. Sodoende maak Mntambo slegs bekend aan die publiek wat sy verkies om oor te vertel – dus word die outobiografiese elemente ook

gefiksionaliseer deur die seleksie en keuse van watter aspekte om in die narratiewe te inkorporeer.

Die elemente van outobiografiese narratiewe in Mntambo werke is die gebruik van haar ma as vorm sowel as die beesvel se Nguni-verbintenis. Mntambo (2007:52) is van mening dat haar kuns die teenwoordigheid maar ook die afwesigheid van haar Nguni-erfenis beklemtoon. Daar word vanuit die bogenoemde afgelei dat Mntambo deur middel van haar kuns teruggryp na die tradisionele en haar wortels as Nguni.

Negatiewe ervarings: Daar word in hierdie studie daarna verwys dat die beesvelle as karakter in

sy eie reg staan en hierdeur oor sy eie narratiewe identiteit beskik. Die beesvelle wat Mntambo uitkies vir haar kunswerke is nie almal in ʼn goeie toestand nie, weens die krapmerke op die vel as gevolg van beserings tydens die bees se leeftyd. Hierdie krapmerke suggereer negatiewe ervarings wat ʼn permanente invloed op die individu se narratiewe identiteit uitoefen.

Beeste word deur hul eienaars gemerk met ʼn nommer op die pels of ʼn etiket aan die oor om hul makliker te identifiseer (Swanepoel, 2007:70). Untitled (Figuur 4-2) deur Mntambo bestaan uit ʼn versameling van beesore wat uit die dak gehang word. So verteenwoordig elke oor ʼn identiteit waar die kunswerk as ʼn geheel ʼn individu kan voorstel. Die eenheid van al die ore dui op die saamvoeg van verskillende invloede om een komplekse identiteit te suggereer.

Figuur 4-2 Nandipha Mntambo, Untitled, 2006. Beesore, staalpyp, waskoord en poliëster gaas. 80 x 80 x 400cm.