• No results found

Die verskille en ooreenkomste tussen Nandipha Mntambo en Mary Sibande

5.2 Hoofstuk Drie: Samevatting van Mntambo en Sibande se narratiewe

5.2.1 Die verskille en ooreenkomste tussen Nandipha Mntambo en Mary Sibande

aanskouer reflekteer op hul eie narratiewe herinneringe en sodoende ook waar hul posisie in die familie en samelewing is. In die konteks van albei kunstenaars se installasiewerke ontstaan daar ʼn geleentheid vir die aanskouer om die invloed van die narratiewe te verstaan maar ook om dit, deur deelnemende kontemplasie, op subjektiewe wyse te voltooi. Die aanskouer maak die proses ʼn werklikheid waar dit ervaar en die verhaal/narratief beliggaam word. Hierdeur ervaar aanskouers ook die narratiewe herinneringe van Sibande en Mntambo omdat hulle in die kunstenaars se “skoene” staan.

Die laaste element van narratiewe herinneringe wat bespreek word, is eietydse herinneringe. Beide Mntambo en Sibande se kunswerke skep ruimte vir die vorming van eietydse herinneringe by die aanskouer. Eietydse herinneringe verwys na die ervaring wat in die spesifieke ruimte geskep en gedokumenteer word. Tydens die aanskoue van Mntambo se beesvelwerke sal die sintuiglike (reuk en voel) eerste opvallend wees waar daar in Sibande se werke (met betrekking tot Sophie) op haar teenwoordigheid in die galery gelet word.

5.2.1 Die verskille en ooreenkomste tussen Nandipha Mntambo en Mary Sibande se narratiewe herinneringe

Die eerste verskil tussen die kunstenaars is dat Mntambo se werke meer op die verhale van narratiewe herinneringe vanuit haar groepskonteks fokus, terwyl Sibande se werke grootliks steun op haar hoogs persoonlike narratiewe herinneringe van haar familie. In terme van die kollektiewe blyk dit asof Mntambo meer op die kulturele kollektief steun, terwyl Sibande na ʼn subjektiewe blik op ʼn gesins- en sosiaal-maatskaplike kollektief verwys.

ʼn Verdere ooglopende verskil is die medium waarin hulle werk. Alhoewel die rok as tema gebruik is en prominent figureer is daar ʼn duidelike verskil tussen beesvel en lap. Die beesvel het ʼn duidelike tasbare element (Figuur 5-2) wat die aanskouer lok na die kunswerk om dit nader te aanskou. In terme van Sophie is daar ʼn mate van afstand wat ervaar word. Sophie moet slegs waargeneem word in die narratief wat sy uitbeeld. Die aanskouer kan nie te naby aan haar kom nie omdat die oordrewe rok (en soms platform waarop sy staan) ʼn onsigbare grens skep (Figuur 5-3 en Figuur 5-4). Mntambo het in vergelyking met Sibande ʼn breër spektrum van media waarmee sy werk. Mntambo se oeuvre bestaan uit brons, skilderye, video’s, fotografiese afbeeldings sowel as beesvel figure terwyl Sibande se werke slegs fotografiese afbeeldings en mannekyn standbeelde behels.

Figuur 5-2 Detail van Mntambo se beesvelwerk. Figuur 5-3 Voorbeeld van platform. Figuur 5-4 Voorbeeld van oordadige rok.

Daar is wel aspekte van die kunstenaars en hul werke wat ooreenstem. Die afleiding kan gemaak word dat Mntambo, soortgelyk aan Sibande (Figuur 3-13), ʼn kunswerk aan haar ma opgedra het omdat sy van haar narratief (haar liggaam) gebruik het. Deur hierdie vorm te gebruik, word hulle narratiewe herinneringe oorgedra. Beide Mntambo en Sibande se medium fokus op herinneringe of maak ʼn verwysing daarna. Die beesvel vang herinneringe as letsels vas terwyl die Victoriaanse-styl rok die historiese gebeure rondom die Victoriaanse era na vore bring. Albei kunstenaars gebruik narratiewe vanuit die apartheidsera in Suid-Afrika al is dit nie ʼn persoonlike narratiewe herinnering nie.

My bevinding in hierdie hoofstuk is dat Mntambo se hantering van medium en verwisseling tussen medium ʼn teken van ontwikkeling en transformasie in haar werk is. Sy is nie beperk tot beesvel as medium nie en sy beeld haar narratiewe uit in brons (Figuur 5-5), skilderye (Figuur 5-6) sowel as videoformaat72 (Figuur 5-7). Op hierdie wyse is Mntambo vry om te kies op watter wyse sy ʼn

narratief die beste wil uitbeeld. Haar gebruik van beesvel word in die algemeen as ʼn terug neiging na die tradisionele beskou. Myns insiens bemagtig sy haarself in ander mediums om nie in ʼn boks geplaas te word nie. Mntambo maak in Figuur 5-5 ʼn intertekstuele verwysing na die werk van John Everett Millais se Ophelia (Figuur 5-6). Hierdeur is ʼn voorbeeld van Mntambo se vermoë as kunstenaar om enige tema in haar werk suksesvol te inkorporeer.

Figuur 5-5 Nandipha Mntambo, Ophelia, 2015. Brons en water. 303 x 120,5 x 25cm.

Figuur 5-6 John Everett Millais,

Ophelia, 1851-1852. Olie

op doek. 76,2 x 111,8cm.

Figuur 5-7 Nandipha Mntambo, Past present 3, 2015. Olie op doek. 199,9 x 98cm.

Die konsepte en temas in Mntambo se werk oorvleuel en herhaal deurgaans. Daar is altyd elemente van dierlikheid (as tema) of medium (dierevel) in die werke. ʼn Voorbeeld hiervan is Zeus (Figuur 5-8) waar Mntambo ʼn hibridiese beeld van haarself en ʼn bul geskep het. Sy gee haarself hierdeur die dierlike mag van die bul. ʼn Voorbeeld van die medium as dierlikheid is in al haar beesvelkunswerke te sien (Figuur 5-1).

Figuur 5-9 Nandipha Mntambo, Zeus, 2009. Brons. 88 x 84 x 58cm.

Die bevinding oor Sibande in hierdie hoofstuk is dat sy die meeste van haar narratiewe vanuit persoonlike narratiewe herinneringe in haar familie ontgin. Sy verwerk verhale van haar grootouers en beeld dit deur haar alter ego Sophie uit. Daar is hierdeur werke opgedra aan haar oumagrootjie, ouma, ma, pa en selfs haar oupa. Sibande se narratiewe herinneringe vorm hierdeur die kern van haar werk as kunstenaar.

ʼn Volgende element wat in albei se werke ooreenstem is die invloede wat in hul kinderjare plaasgevind het. Mntambo het as kind reeds bewondering gehad oor haar portuurgroep se fassinasie met liggaamshare – ʼn tema wat duidelik in haar beesvelrokwerke voorkom. Sibande het die herinneringe van haar ouma en ma as huiswerkers as wegspringpunt vir haar tema gebruik. Albei kunstenaars maak ook melding van hul pa’s, Mntambo verwys na haar pa in haar Meestersverhandeling (2007)73terwyl Sibande ʼn kunswerk aan haar pa opdra (Figuur 5-9).

Figuur 5-10 Mary Sibande, Lovers in tango, 2011. Veselglas en katoen. 10 000 x 300cm.

ʼn Laaste oorvleueling in die narratiewe herinneringe van die kunstenaars is dat beide “standbeelde” vir vroue uitgebeeld het. Mntambo het die werk Indlovukati aan Phila Ndwandwe opgedra terwyl Sibande vir Sophie op die rug van ʼn perd in The reign uitgebeeld het. The reign sinspeel hier op openbare standbeelde wat hoofsaaklik vir mans opgerig is.