• No results found

Narratiewe identiteit as karakter in die werk van Nandipha Mntambo

4.2 Narratiewe identiteit in Titfunti emkhatsini wetfu (The shadows

4.2.2 Narratiewe identiteit as karakter in die werk van Nandipha Mntambo

In Mntambo se oeuvre figureer daar nie ʼn enkele prominente karakter soos Sophie (by Sibande) nie, daarom word die beesvelfigure, Mntambo en haar ma as die “karakters” beskou. Hierdie karakters word op ʼn spesifieke wyse geplaas om Mntambo se gekose narratief in die galery te vertolk. Deur hierdie proses word Mntambo ʼn karakter in haar eie kunswerk. Sanger (2013:69) verduidelik dat deur Mntambo se benadering om haarself as objek en onderwerp te beskou, dwing sy ʼn self-refleksiewe verhouding van waarneming af. Hierdeur reflekteer sy op haarself deur na aspekte waarmee sy nie noodwendig met gelukkig is nie te kyk.

Die beesvelle word deur McIntosh (2008:3) beskou as iets wat ʼn individu kan bedek soos ʼn kombers, maar dat hierdie vel ook eens met ʼn lewende karakter (dier) gevul was. Hiervolgens is die bees van wie die vel geneem is, ook ʼn karakter in die narratief.

Postmoderne karakters word volgens Fokkema (1991:62) as gefragmenteer beskryf omdat hulle

uit ʼn samevoeging van elemente bestaan. Hierdie elemente verwys na die skeppingsproses van Mntambo, die ruimte waarin die werke uitgestal word, sowel as die aanskouers wat aan die uitstalling deelneem. Deur die samevoeging van hierdie elemente word postmoderne karakters geskep. In Titfunti emkhatsini wetfu is daar twee “onvoltooide” karakters wat na mekaar sweef en wat verbeeldingryk deur die aanskouer “ingevul” moet word. Op hierdie wyse ontstaan daar ʼn vlak van narratiewe identifikasie waar karakter identifikasie empatie by die aanskouer kweek (Keen, 2013:1). Hierdie narratief kan aan Mntambo se droom oor haar keuse van medium in verband gebring word omdat sy die leë ruimte met haar kunswerke invul. Tedford (2013:5) beskryf hierdie beelde as geeste eerder as ʼn vaste entiteit. Die koplose, swewende figure het ʼn spookagtige voorkoms wat op onderliggende konflik in Mntambo kan dui. Dit kom voor as ʼn gewete oor ʼn keuse wat gemaak moet word. Hierdeur word daar oor ʼn balans en spanning tussen haar Westerse en Nguni invloede besin. Die spanning wat sodoende ontstaan word as narratief in haar werk gebruik.

In die fotografiese (en video60)-reeks Praça de touros (Figuur 4-3 tot Figuur 4-5) tree Mntambo as

meer as een karakter in haar eie werk op. Sy word die bul sowel as die bulvegter, en verduidelik in ʼn verklaring aan Ecclestone (2012:73) dat sy meer as een element of karakter in die stuk wou uitbeeld. Deur beide die bul en bulvegter te speel, problematiseer Mntambo volgens Vikram (2016:81) die verhouding tussen manlik en vroulik. In ʼn bulgeveg sal die man gewoonlik teen die bul tot stand kom, maar hier neem Mntambo die rol in. Mntambo skep hierdie storie wêreld waarin sy as karakter deelneem aan hierdie narratief. Die kunstenaar is van mening dat almal komplekse persoonlikhede het wat daartoe lei dat ʼn mens oor ʼn wye spektrum van persoonlikheidselemente

beskik. Deur introspeksie na hierdie persoonlikheidselemente sal ʼn individu myns insiens tot ʼn dieper verstandhouding met haarself kan kom.

Figuur 4-3 Nandipha Mntambo, Praça

de touros I, 2008.

Fotografiese afdruk. 111 x 166cm.

Figuur 4-4 Nandipha Mntambo, Praça

de touros II, 2008.

Fotografiese afdruk. 111 x 166cm.

Figuur 4-5 Nandipha Mntambo, Praça

de touros III, 2008.

Fotografiese afdruk. 111 x 166cm.

Vikram (2016:81) verduidelik dat Mntambo in kruiskultuurbeelde soos die manlike argetipe van Spanje gebruik om juis hierdie rol uit te daag. Mntambo se bulvegterreeks getiteld Faena61 verwys

verder na die “mooiste” en mees intrinsieke elemente van die bulgeveg (Bambalele, 2011:2). In hierdie “dans van die dood” moet die matador sy dapperheid en ratsheid bewys, waarna hy die bul met sy swaard doodsteek.

Vanuit die bogenoemde word dit afgelei dat Mntambo karakters in haar werke plaas om ʼn sekere narratiewe identiteit te vervul. Lewenservarings word as die kern inspirasie vir hierdie karakters beskou. In Praça de touros was Mntambo gefassineer deur die arena (waarin die foto’s geneem is) terwyl sy in Mosambiek ʼn besoek afgelê het. Hierdie arena in Maputo was voorheen gebruik vir die vermaak van die (koloniale) Portugese waar swart Mosambiekers teen bulle geveg het (Maudet, 2006:6). Mntambo het verskeie bulvegters dopgehou om die bewegings te leer waarna sy teruggekeer het na Suid-Afrika, ʼn choreograaf gekry het en weer Mosambiek besoek het om die kunswerk op te voer – die werke kan daarom gelees word as ʼn vorm van gedokumenteerde

performance art.

Die gewoontes van Mntambo as karakter in haar werk: Gewoontes is ʼn gebruik of eienskap wat

deur ʼn individu aangeleer word. Mntambo se gewoonte as kunstenaar is myns insiens die uitbeelding van konflik as tema soos waargeneem in haar oeuvre. Praça de touros, The shadows

between us en The fighters se onderliggende tema word as konflik geïdentifiseer, alhoewel die

kunstenaar nie die werklike oomblik van konflik uitbeeld nie.

Volgens Ricoeur (1994:114) word ʼn individu se identiteit deur ʼn groep se kultuur en gewoontes sowel as die oorgeërfde, aangenome of aangeleerde eienskappe beïnvloed. ʼn Individu kies eienskappe vanuit die bogenoemde om hul eie unieke identiteit te vorm. Op dieselfde wyse word lande (as groepe) deur kulturele imperialisme ook beïnvloed. Mntambo verduidelik dat Afrika deur Europese en Amerikaanse produkte, televisie, musiek, klere en lewenstyl gebombardeer word (Ecclestone, 2012:77). Myns insiens word hierdie leefstyl geïnkorporeer en as deel van Afrikakultuur geag. Gevolglik inkorporeer Mntambo sekere hibriede invloede in haar werke, spesifiek die vorm van ʼn moderne formele aandrok en die skynbaar dierlike suggesties van die beessterte. Die mees prominente voorbeeld hiervan is Lelive Lami (Figuur 4-6). Mntambo (2007:68) verduidelik dat die kledingstuk bedoel is om beperkend en ongemaklik voor te kom. Die rok blyk soos ʼn korset en die verharde beesvel ondersteun en beheer die vorm van die rok tesame met die bewegings van die potensiële draer. Die kan as ʼn hibriede samestelling tussen die formele (Westerse) en Nguni (Afrika) gewoontes gelees word.

Figuur 4-6 Nandipha Mntambo, Lelive lami, 2007. Beesvel, hars en poliëster gaas. 80 x 290 x 200cm.

Mntambo is uiteraard nie die enigste kunstenaar wat met diervel werk nie. Die kontemporêre kunstenaar Janine Antoni (Figuur 4-7) skep soortgelyk werke as díe van Mntambo, alhoewel Antoni se hele oeuvre nie op hierdie medium gebaseer is nie. Daar is unieke elemente in Mntambo se werk wat haar tipeer soos karakters uniek aan haar persoonlike narratief. Dit word meer persoonlik deurdat die figure vanaf haar en haar ma se liggaam gevorm word. Mntambo en haar ma maak hierdeur ʼn persoonlike konneksie met die werke en die narratief wat daaruit gevorm is.

Die karakters in Mntambo se werke het verder ʼn individuele aard omdat nie een diervel ʼn identiese patroon bevat of hare wat in eenderse rigtings groei nie. Elke beesvel wat Mntambo gebruik tydens die voorbereiding- en vormingproses van die kunswerk het daarom sy eie voorkoms. Malcomess (2008:129) en Sanger (2013:64) verduidelik dat die beesvelle tydens die rek-en- vormproses steeds na sy oorspronklike vorm wil terugkeer. Die beesvel suggereer op hierdie wyse ʼn mate van “aangeleerde gedrag” om na ʼn oorspronklike vorm terug te keer. Mntambo leer deur die proses vir die beesvel/karakter nuwe gewoontes aan.