• No results found

Sentraal tot my benadering is die argument dat albei kunstenaars stories vertel deur hul kunswerke. Deur sekere narratiewe suggesties, wat daarop dui dat die narratief ontleen is aan herinnering maar opnuut gerekonstrueer word deur die aanskouer, beweeg die kunstenaars verby die storielyn en besonderhede van die gebeurtenis van hul persoonlike stories om dít wat hulle glo die storie van hulle vertel te artikuleer volgens McAdams en McLean (2013:236). Daarom bied ek ʼn interpretasie van narratiewe in Sibande en Mntambo se kunswerke. Die wyse waarop ervarings beskryf word behels ʼn narratiewe weergawe, iets van ʼn individu se persoonlikheid, neigings, doelwitte, vaardighede, probleme of patrone in hul lewens. Die manier waarop Sibande en Mntambo hul verhale uitbeeld, ontbloot dus die unieke benadering tot hul storievertelling.

Stap 1: Die outobiografiese narratiewe identiteit van die kunstenaars: Narratiewe identiteit word

deur verskeie elemente, persoonlik sowel as ekstern tot die individu, beïnvloed. Ricoeur (1994:114) is van mening dat narratiewe identiteit vanaf ʼn individu of gemeenskap afkomstig is. Die verhouding wat ʼn individu met ʼn gemeenskap, familielid, vriend of groep het, beïnvloed hierdeur die wyse waarop hierdie individu die wêreld waarneem en interpreteer. In die verband word daar na die verhouding tussen Sibande en Mntambo en hulle grootouers verwys en word ʼn ondersoek geloods na spesifiek die grootouers se invloed op hul narratiewe identiteit.

Die (outo)biografiese elemente van die kunstenaar word as paratekstuele narratiewe vir die kunswerkbespreking hanteer. Daar word op Joubert en Hattingh (2012:186) se vier karaktereienskappe van ʼn vrou se outobiografie gefokus, naamlik persoonlike huishoudelike details, verifiëring van die self deur stories, asook die verberging van emosies, en laastens die openbare persona.

Volgens Ricoeur (2006:105) word ʼn identiteit van die begin van ʼn individu se lewe gevorm en daarom word die outobiografiese narratiewe identiteit van die kunstenaars ondersoek om die karaktereienskappe van hul identiteit vas te stel. Die vraag wat hierdie afdeling rig is: watter uitwerking het die kunstenaars se outobiografiese elemente en herinneringe op die vergestalting van hul narratiewe identiteite?

Stap 2: Narratiewe identiteit as karakter: Karakters word volgens Stets en Burke (2002:24) en

Ricoeur (1994:140) as deel van identiteit beskryf. ʼn Karakter is ook ʼn deelnemer in ʼn storiewêreld (Jannidis, 2012:2). In hierdie hoofstuk word daar gevolglik ook na verskillende vergestaltings van

karakters verwys en hoe die skep van hierdie karakters tot die narratiewe identiteite van die kunstenaars bydra. Daar word op die ontologiese oorvleueling van die fiktiewe karakters asook hul werklike karakters en identiteite uitgebrei. ʼn Karakter en haar identiteit kan voorts nie sonder die lewenservarings, wat as narratiewe gekonstrueer, is bestaan nie. Sibande en Mntambo se lewenservaring word in hierdie geval gefynkam om die inspirasie tot die karakters en hul gewoontes te ondersoek. Daar word ook ʼn ondersoek geloods na die aard van karakters wat vanuit die kunstenaars se narratiewe identiteit en lewenservaring gevorm word.

Stap 3: Die idem en ipse soos gekonseptualiseer deur Ricoeur (1994:116) word benader om die

persoonlike identiteite van Sibande en Mntambo binne hulle kunswerke te ontgin. Die idem is die deel van die kunstenaar se identiteit wat deur die verloop van tyd dieselfde bly. Hierdeur word daar na herhalende ikonografiese en mediumverwante elemente in die werke verwys. Die ipse verwys na die kunstenaarskarakter en persoonlikheid waarmee hul geïdentifiseer word. Waar van toepassing, sal die groepe waaraan Sibande en Mntambo behoort ook in die konteks van die

idem en ipse bespreek word. Ek ondersoek die ontwikkeling van Sibande en Mntambo se idem

en ipse in hul werke sowel as in hul persoonlike narratiewe.

Stap 4: Die kunstenaars se groeps- en individuele identiteit: In hierdie stap word daar na die

individu se rol in die groep sowel as die tradisies en gebruike van daardie groepe verwys. Groepe is ʼn belangrike deel in die vorming van ʼn individu se identiteit omdat hulle eindelose inspirasie daaruit kan put (Ricoeur, 1994:121). Individue met eenderse persoonlikhede, gewoontes en maniere neig om tot mekaar aangetrokke wees, en hierdeur hulle eie (in)groepe vorm (Stets & Burke, 2000:225). ʼn Individu sal egter ook steeds haar eie identiteit kan behou en binne die groep uitleef om haar persoonlike identiteit te bevestig. Die narratiewe identiteite van Sibande en Mntambo word in hulle afsonderlike groepe bestudeer deur na tematiese en ander sake in hul kunswerke te kyk. Tradisies en gebruike in groepe moet, net soos herinneringe, onderhou word vir volgende geslagte of lede wat gaan aansluit onderhou word. Volgens Punt (2011:153) het kulturele groepe spesifieke tradisies waarbinne die individu haarself kan uitleef. ʼn Groep se tradisies kan ook met die karaktereienskappe van ʼn individu in verband gebring word. Die tradisies van Sibande en Mntambo se groepe word deur middel van hul kunswerkbespreking uitgelig. In hierdie gedeelte word die groep se invloed op die kunstenaar nagegaan. Ek voer aan dat die tradisies en gebruike van die groepe as narratiewe in hul werke voorkom.

Hierna word daar na Parekh (2008:9) se drie komponente van identiteit verwys, naamlik die persoonlike, maatskaplik-ingebedde en die individuele of algemene identiteit en hoe dit in die kunswerke sowel as die kunstenaars as paratekste figureer. In die bespreking van die kunswerke gaan die ondersoek gelei word deur Singer (2004:444) se mening dat verskeie demografiese aspekte soos gender, klas, ras, etnisiteit, godsdiens en seksuele oriëntasie ʼn invloed op narratiewe identiteit uitoefen. McAdams en Mclean (2013:235) verduidelik dat narratiewe identiteit groei en ontwikkel soos wat mense stories vertel. Hoe meer verhale kunstenaars gevolglik interpreteer, hoe meer mag sy of haar narratiewe identiteit progressie toon.

Vervolgens gaan ek oor tot die interpretasie en ʼn toepassing van die metode wat hierbo uiteengesit is.

4.2 Narratiewe identiteit in Titfunti emkhatsini wetfu (The shadows between us) van