• No results found

HOOFSTUK 3 – PARADIGMATIESE SKUIWE OP EKKLESIOLOGIESE VLAK

4.3 VERANDERING OP PASTORAAL-ANTROPOLOGIESE

Louw (1999:17) sê tereg “Pastoral ministry is ministry to people”. Hierin opgesluit lê dus ook ‘n spesifieke siening van die mens (‘n antropologiese verstaan). Vir die doeleindes van hierdie studie is dit daarom ook noodsaaklik dat die navorser ‘n teologiese – en veral ‘n pastorale antropologie weergee wat as basis dien van

assumes people have many skills, competencies, beliefs, values, commitments and abilities that will assist them to reduce the influence of problems in their lives.“

hoe daar in die erediens oor die mens gedink behoort te word. Sonder die basis van ‘n pastorale antropologie loop die studie die gevaar om die mens slegs vanuit ‘n psigologiese invalshoek te beskou. So ‘n antropologie word dan gekonstrueer uit sekulêre persoonsteorieë en empiriese navorsing soos gevind in die menslike wetenskappe (vgl. Louw, 1999:18).

Die uitdaging in die saamstel van ‘n pastorale antropologie moet eerder wees om kernagtig beskou, die volgende vraag te beantwoord: Hoe sien ‘n volwasse geloof daarna uit en wat is die verband tussen ‘n psigologiese en teologiese verstaan van volwassenheid? Ons sou hierdie vraag verder kon uitbrei deur die stelling te maak dat: Pastorale antropologie aan die einde van die dag te make het met ‘n kwaliteit van lewe soos waargeneem deur die lens / perspektief van die Christelike geloof.

Dit was veral J. Adams wat in sy boek “More than redemption” (1979) gepoog het om in die lig van die humanistiese gees van die tyd, meer aandag aan ‘n sogenaamde Bybelse mensbeeld te gee. Hy verdeel sy antropologiese model in twee dele naamlik Adam voor die sondeval en Adam na die sondeval. Adams fokus dus veral op die Bybelse mens se sondige natuur voor God en gevolglik ook die soteriologiese perspektief (die redding van die mens). Ongelukkig is sy antropologiese benadering baie eng en word daar nie veel aandag gegee aan ‘n eskatologiese – en pneumatologiese perspektief nie. Heitink (1977:111) poog egter om hierdie gaping te vul. Volgens Heitink is dit belangrik om ook aandag te gee aan ‘n breër siening van antropologie. Dit behels dat daar ‘n vergelyking gemaak word tussen die geesteswetenskappe se siening van die mens en ‘n Bybelse perspektief van die mens (vgl. Heitink, 1977:109).

Hiermee kritiseer Heitink dus die tradisioneel-reformatoriese spreke oor die mens (simul justus et peccator) wat die spanning tussen die mens as tegelyk sondig en geregverdig deur God uitbeeld. Sy antropologiese benadering wil daarom die

tradisionele bi-polariteit wat bestaan tussen sonde en genade uitbrei met ‘n bi- polariteit van skepping en herskepping. Hy bou laasgenoemde verder uit deur ‘n Trinitariese benadering in die antropologie. Dit behels die volgende: (1) In verhouding tot God is die mens ‘n skepsel, (2) In verhouding tot Jesus Christus is die mens ‘n nuwe mens en (3) In verhouding tot die Gees is humaniteit vir menswees belangrik. (vgl. Louw, 1999:19)

Hoewel Heitink se bydra waardeer moet word, gee dit egter nog nie voldoende aandag aan Louw (1999:173) se vermoede dat die pneumatologiese perspektief47 die beste samebindingsfaktor is wanneer dit kom by ‘n verband tussen antropologie en Christologie nie. Die pneumatologiese perspektief is veral deur J. Rebel verken in sy werk “Pastorate in Pneumatologisch Perspektief” (1981). Hier poog hy om in die pastorale teologie veral weer aandag te gee aan die verhouding tussen Gees (pneuma) en mens (humanum). Sy uiteensetting help ons om te begryp dat die psigologie in die pastoraat, via die weg van die Gees, ‘n pad na pastorale bediening vind. (vgl. Louw, 1999:154).

Verder help dit ons ook om te verstaan dat daar in ‘n teologiese antropologie ‘n wisselwerking gehandhaaf behoort te word tussen die Christologie (die sogenaamde incarnatio verbi of vleeswording van God by mense) en Pneumatologie (die sogenaamde inhabitatio Spiritus of te wel inwoning van God in mense). ‘n Belangrike bydra wat die pneumatologiese perspektief tot ‘n pastorale antropologie maak, sê Louw (1999:212) is die feit dat die menslike

47

Die Pneumatologiese perspektief se fokus op die konstruering van ‘n pastorale antropologie maak nie uitsluitlik die keuse vir ‘n kerugmatiese model (‘n fokus op sonde en skuld) nie, want dit loop die gevaar om die Christologie tot soteriologie en die antropologie tot hamartologie (sondeleer) te vereng. Ook is dit nie ‘n perspektief wat uitsluitlik aanleiding gee tot ‘n fenomenologiese model (waar die fokus uitsluitlik val op menslike potensiaal) nie, want dan word die Christologie vereng tot inkarnasie en die antropologiese konsekwensie hiervan is dat Christus se Middelaarswerk verskraal word en Hy voorgehou word as die ideale model van humaniteit). Die pneumatologiese perspektief help wel om die konsekwensies van die Christologie binne die daaglikse eksistensiële orientering en sosiale konteks van die mens te konkretiseer (anders gestel: Die mens word waarlik mens wanneer hy / sy kom tot nuwe selfaanvaarding en ontdekking van sy / haar identiteit deur middel van die werk van die Heilige Gees).

potensiaal nou nie meer uitsluitlik psigo-fisies verstaan word in terme van eie potensiaal (wat kan lei tot egoïsme!) nie, maar wel in terme van charisma. Die klem op charisma gee aan die mens ‘n nuwe bestemmingsfunksie in die sin dat menslike potensiaal nou gestaltes word van dankbaarheid wat daarop gerig is om (deur middel van diensbaarheid en ‘n offergestalte) die konsekwensies van Christus se Middelaarswerk deur middel van getuienis (marturia), dankbaarheid (leitourgia) en offervaardige barmhartigheid (diakonia) verder te versprei.

Louw (1999:212-215) dui verder aan dat ‘n pneumatologiese perspektief ‘n pastorale antropologie op die volgende wyses verruim:

 Beïnvloedingsfaktor: Psigologie gebruik kommunikasietegnieke, -style en insig v/d hoorder om verandering te bring, maar die Heilige Gees gebruik die Skrif (vgl. Hebr.4:12) om ‘n nuwe visie en toekomsdimensie in die mens te bring.

 Heilige Gees skep nuwe dinamiese gerigtheid in menslike bestaan. Die tendens van ‘n na-binne-gerigte selfhandhawing word getransformeer in ‘n na-buite-gerigte selfverloëning.

 Heilige Gees pas die heilswerk van Christus in menselewens toe en daardeur kom ‘n proses van geloofsvolwassenheid.48

 Die nuwe bestaangerigtheid (teleïtiewe lewensoriëntasie) beteken ‘n radikale nuwe lewenspatroon en gedragsverandering.

 M.b.v. die gawes v/d Heilige Gees ontdek gelowiges ‘n nuwe moraal naamlik ‘n diensmoraal en ‘n koinonia beginsel (mense begin mekaar versorg omdat hulle lede van Jesus Christus se liggaam is).

 Relasies word geskep in gespreksituasies en die kommunikasie word verweef in die komponente van gevoel (affektiwiteit), rede (kognitief) en

48

Die begrip “Geloofsvolwassenheid” word deur Louw (1999:224) beskryf as “…die ontplooiing van die oorwinningsdimensie van die eskatologiese werklikheid binne alle vertakkinge van die gemeentelike lewe. Dit is die opstandingsoorwinning in aksie, met die oog op die heiliging van alle menslike verhoudings [relasies] en die ganse kosmos [ struktureel].

wil (konatief) wat inskakel by die groeiproses van geloofsvolwassenheid. Dit hou ook verband met die feit dat geloofsvolwassenheid ‘n korporatiewe aangeleentheid is wat nie individu gerig is nie, maar op die gemeente as liggaam van Christus.

 Die pastor kry ‘n nuwe identiteit. Hy word nou tolk, getuie, dienskneg en priester.

 Pastoraat word meer as psigologie toegepas binne ‘n Christelike konteks. Pastoraat beoog heilsterapie. Die herstel tot ‘n nuwe mens setel buite homself in Christus se heilswerk wat herskeppend, herstellend, vernuwend, transformerend, veranderend en genesend inwerk op alle vlakke van menslike bestaan.

Die waarde van Louw se pneumatologiese perspektief wanneer dit kom by die konstruering van ‘n pastorale antropologie lê (soos reeds aangedui) veral in die feit dat daar ‘n proses van geloofsvolwassenheid plaasvind. Samevattend word geloofsvolwassenheid deur die volgende vier funksies kwalitatief bepaal:

 ‘n Soteriologiese funksie (volwassenheid en verlossing v/d nuwe mens)  ‘n Pneumatologiese en sedelike funksie (volwassenheid en oorgawe =

oorgawe)

 ‘n Eskatologiese funksie: volwassenheid en doelgerigtheid (Christelike hoop)

 ‘n Korporatiewe funksie: volwassenheid en die opbou v/d liggaam van Christus

 Die funksie van groei en toewyding (spiritualiteit).

Hierdie afdeling word afgesluit deur kortliks te kyk na laasgenoemde punt wat handel oor “spiritualiteit”. Daar is ‘n toenemende poging om spiritualiteit te verbind met die kwaliteit van menswees. Dit beteken dat spiritualiteit ‘n term word wat die terreine van psigiese volwassenheid en geloofsvolwassenheid aan mekaar verbind en integreer. ‘n Integrale spiritualiteit moet die kwaliteit van

menswaardigheid sodanig verbeter dat die teenwoordigheid van God ‘n bydrae maak tot die sin van menslike bestaan en die kwessie van humaniteit. Binne die Skrif word spiritualiteit die beste verduidelik deur die begrip eusebia wat verwys na toewyding, vroomheid en godsvrug wat alles deel is van geloofsvolwassenheid. Die begrip eusebia help met die lê van verbande tussen geloofsvolwassenheid en spiritualiteit. Geloofsvolwassenheid en spiritualiteit word dan as volg geïntegreer:

 Spiritualiteit as Godsvrug dui op ‘n eksistensiële Godskennis met gehoorsaamheid aan God as basis.

 Spiritualiteit besit ‘n eskatologie dimensie sodat die mens in die lig van die komende einde, vroom en aan God toegewy kan lewe.

 Spiritualiteit dui op ‘n veranderende lewenstyl (nuwe etos) binne die daaglikse praktyk.

 Spiritualiteit is nie na-binne gerigte emosionaliteit nie, maar word coram Deo voltrek binne gemeenskaplike verband v/d koinonia (dit is dus ‘n korporatiewe verskynsel).

Die waarde van Louw se verruimde pastorale antropologie vir hierdie studie is baie belangrik. In Hoofstuk vyf sal daar in meer diepte gekyk word na die pastorale dimensies in die Gerefromeerde liturgie. Die Gereformeerde liturgie bestaan uit verskeie elemente soos onder andere skuldbesef, belydenis, vergifnis en versoening. Al hierdie elemente veronderstel ‘n ingeboude siening van die mens en beskik oor ‘n ingeboude terapeutiese dimensie. Om hierdie dimensies te beklemtoon is dit nodig om ‘n bepaalde antropologie daar te stel. Die keuse vir ‘n pastorale antropologie wat fokus op ‘n pneumatologiese perspektief poog juis om dit te bewerkstellig.

Hierdie verruimde antropologie help die studie verder in die sin dat dit in die lig van die probleemstelling en hipotese die leser se aandag daarop wil vestig dat die huidige krisisse wat die familie in die gesig staar nie net met behulp van bepaalde psigo-terapeutiese teorieë opgelos kan word nie, maar dat daar opnuut

gekyk moet word na die potensiaal wat geleë is in die feit dat die mens ‘n Geesvervulde wese is en daarom met ‘n nuwe bestemmingsfunksie leef wat die potensiaal het om bo bestaande aardse uitdagings / krisisse uit te styg en in die proses meer geloofsvolwasse te word en krisisse te interpreteer in die lig van Christus se oorwinning wat reeds behaal is.