• No results found

HOOFSTUK 3 – PARADIGMATIESE SKUIWE OP EKKLESIOLOGIESE VLAK

4.4 VERANDERING OP LITURGIES-TEOLOGIESE VLAK

Volgens Strydom (1994:131) is die kerklike toneel in die Weste die afgelope eeu en ‘n half gekenmerk deur verskeie pogings om die “stiefkind” van die teologiese wetenskap na te vors. Onder hierdie pogings om die Liturgie weer haar regmatige plek te laat inneem wanneer dit kom by navorsing, moet die opkoms van die Liturgiese beweging en spesifiek die vernuwingsbeweging wat in die Rooms-Katolieke Kerk plaasgevind het ook genoem word. Spoelstra (1994:114) beweer dat P. Guéranger (1805-1875) beskou word as die persoon wat laasgenoemde beweging in die Rooms-Katolieke Kerk geïnisieer het. Wat Guéranger se bydra besonders maak is die feit dat hy nie net gefokus het op die historiese perspektief van die Liturgie nie, maar ook ‘n Pastorale perspektief belig het. Irwin (1994:19) bevestig dit wanneer hy sê: “That Guéranger’s interest was also pastoral is seen in his repeated references to the beauty, dignity and mystical character of the liturgy.” Verder is die beweging verstewig deur die uitvaardiging van ‘n dokument deur Pous Pius X in 1903 wat groter deelname van lidmate aan die misliturgie bevorder het en op die ou end ‘n hoogtepunt bereik het met die aanvaarding van die “Constitutio de Sacra Liturgia” deur die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962-1966). Daneels (2003:8) sluit aan by bogenoemde en sê dat die sleutelterm in Vatikanum II die term “active participation” was. ‘n Groot voordeel was die feit dat die liturgie na die mense toe geneem is deurdat “Vatican II satisfied this desire by introducing the use of the vernacular, by simplifying liturgical symbolism to make it more transparent, by returning to the praxis of the early church and dropping elements which had later

come to overshadow the essentials and by a correct distribution of roles in the service of the liturgy.”

Vorster (1996:203) brei verder uit as net deur die Liturgiese bewegings as rede aan te voer waarom daar ‘n hernude belangstelling in die Liturgiek ontstaan het. Benewens bogenoemde noem hy nog vier redes. Hy verwys na die ontwikkeling van die Ekumeniese Teologie, die opkoms van Postmodernisme, die feit dat die erediens al hoe meer gesien word as sentrale dimensie van totale diens aan God en dat vernuwing in die erediens beskou word as wesensbelangrik in die prosesse van kerkvernuwing en evangelisering van nominale Christene.

Die feit bly staan egter dat die Liturgiese bewegings wêreldwyd ‘n baie groot rol gespeel het in die hernude belangstelling van die Liturgiek. De Klerk (1999:312- 313) beskryf dit daarom ook as die “herontwaking van die kerk”. Verder vra hy die vraag: Wat is die tipiese karaktertrekke van hierdie bewegings? Daar word ses trekke geïdentifiseer naamlik:

(1) die nuwe klem wat val op die eenheid van die Woorddiens en tafeldiens as die twee groot dele van die samekoms van die gemeente (2) ‘n hewige protes teen individualisme

(3) ‘n nuwe klem op gemeenskapsbeoefening en gemeentedeelname aan

die Liturgie, omdat daar van die standpunt af uitgegaan word dat die Liturgie aan die gemeente behoort

(4) ‘n hernude waardering vir die eietydse en kontekstuele aard van aanbidding &

(5) die herontdekking en waardering van mekaar se tradisies en van die krag wat daar in transkulturele verryking is.

De Klerk (1998:75) wys egter ook op die gevare wat bogenoemde trekke van die Liturgiese beweging vir die hoofstroom kerke kan inhou. Daar moet in die eerste plek gewaak word teen die inkorporering van leerstellinge wat vreemd is aan die Gereformeerde identiteit (met spesifieke verwysing na die Rooms-Katolieke en

charismatiese leerstellinge). Verder bestaan die gevaar dat die Woord op relativisties of selfs fundamentalistiese wyse gebruik kan word in die bepaling van norme in die liturgiese handelinge. Gemeenskapsbeoefening en deelname kan lei tot informaliteit in die Erediens wat die oog afhaal van die transendente dimensie wat daar geleë is in die ontmoeting met God. Laastens bestaan die moontlikheid ook dat daar krampagtig vasgehou sou kon word aan bestaande harde formalistiese tradisies wat weer ‘n ongesonde na binne-gekeerdheid teweegbring en die eredienslewe versmoor.

Wat voordele betref moet die herontdekking van die Woord, die gemeente se deelname aan die Liturgie en die invloed van die liturgie op die gelowige se alledaagse lewe nie buite rekening gelaat word nie. Dit bly steeds belangrik om op ‘n krities verantwoordelike wyse d.m.v. gereformeerde beginsels na hierdie beweging te kyk en uit te haal dit wat ‘n konstruktiewe bydrae kan lewer tot die huidige tendense in ons eie konteks.

Rossouw (1990:53) help in bogenoemde verband deur ‘n paar rigtingwysers in die Gereformeerde liturgie uit te lig en die ondersoeker noem dit kortliks:

(1) die klem op ‘n Godgesentreerdheid – die aksent in die liturgie val dus op die werk van die Drie-enige God

(2) die aanwesigheid van die Liturgiese grondtrekke van eerbiedigheid (waarin die heerlikheid van die Here raakgesien en bely word) ; wederkerigheid (waar die verbondsverkeer tussen die Troonvors en die bondsvolk plaasvind) ; feestelikheid (waar daar op die feesdag volgens die feesreëling fees gevier word) en ordelikheid.

(3) Die handhawing van die ereposisie van die Woord van God as genademiddel van die heil vir die gemeente van die Here.

(4) Klem op die antwoord van die gemeente as verbondsgemeenskap. ‘n Antwoord wat tot uitdrukking kom in die lied (deur sang), gebed, belydenis en dankbaarheidsoffers.

(5) Afskaffing van Kerklatyn en die gebruik van volkstaal waardeur die Liturgie verstaanbaar, begryplik en kontekstueel word.

(6) Die bediening van die sakramente in die vorm van die doop aan verbondskinders en die nagmaal as dis van die verbond.

Beide liturgie en die kerk het gemene delers naamlik lidmate / gelowiges se verhouding met mekaar en lidmate / gelowiges se verhouding met God. Mense wat dus tegelykertyd deel van die kerk is en in ‘n bepaalde religieuse verhouding staan, maar ook inwoners in die wêreld is wat weer gekenmerk word deur sekulêre verbintenisse. Daarom is dit logies dat die druk wat ‘n veranderende samelewing plaas op die tradisionele verstaan van kerkwees ook ‘n direkte invloed het op lidmate van kerke en gevolglik ook die aard en karakter van die liturgie raak. Die rede hiervoor is dat die liturgie (en dit is deels ook die uitgangspunt van die navorser) ‘n instrument is waardeur God die mens ontmoet en waardeur versoening bewerk word. As ons dus die waarde en kwaliteit van die liturgie wil meet binne ‘n Postmoderne samelewing is dit nodig om voortdurend die vier komponente in gedagte te hou naamlik (1) Die kerk, (2) God (3) die mens en (4) die belangrikste paradigmatiese skuiwe binne die gegewe realiteit.

Thomas Long (2001) maak ook ‘n belangrike bydrae in die veranderinge wat waarneembaar is binne die Liturgiese beweging. Hoewel sy bydrae meer gefokus is op die veranderinge wat die herwaardering van die Liturgie op die Amerikaanse kerke gehad het, kan daar tog ‘n paar belangrike opmerkings gemaak word wat ook vir hierdie studie van waarde kan wees.

Een van die grootste invloede van Vaticanum II was volgens Long (2001:4) dat die rewolusie wat plaasgevind het binne die Rooms-Katolieke verstaan van aanbidding ook oorgespoel het na die Protestante. Groter ekumeniese konsensus en ‘n herwaardering van ‘n gemeenskaplike identiteit was maar twee van die belangrike skuiwe wat plaasgevind het as gevolg hiervan. ‘n Verdere ontwikkeling was ook die herbevestiging van die belangrikheid dat daar ‘n

onlosmaaklike eenheid tussen die verkondiging van die Woord en die sakramente bestaan.

Die ontdekking van die gemeenskaplike erfenis en die herwaardering van ekumeniese konsensus was egter van korte duur.49 ‘n Volgende belangrike kulturele skuif (vanaf die laat twintigste eeu) het stadig maar seker begin plaasvind en die gevolg was ‘n ontvolking van die tradisionele / geïnstitusionaliseerde kerke. Met die aanbreek van die Postmodernisme en die mens se ontnugtering met subjektiewe grepe op die waarheid en terselfdertyd ook ‘n eensydige “verpakking” van God het mense stadig maar seker die kerk begin verlaat. Hoewel mense steeds godsdienstig was, het hulle buite die grense van denominasies, reëls en strukture begin dink. Die fokus het baie meer begin val op die individuele soeke na geestelike ervarings op ‘n onkonvensionele en praktiese wyse. Een van die eerste kerke wat hierdie tendens verstaan het was die Willow Creek Church onder leiding van Bill Hybels. Dienste was baie meer kontemporêr, visueel en tegnologies gevorderd. Al die sintuie van die mens is betrek. Meer klem is gelê op sang en aanbidding. Die Woord is prakties-relevant verkondig met baie voorbeelde en toepassing op die alledaagse lewe.

Volgens Long (2001:9-13) is die twee pole wat tans heers – ons sou dit die Hippolytus-invloed en die Willow Creek invloed kon noem – egter nie voldoende om die uitdagings wat tans aan die kerk en spesifiek die Liturgie gestel word, te hanteer nie.50

Long (2001:13) stel ‘n derde benadering voor wat hy noem “Vital and faithful congregations”. Kerke wat in hierdie kategorie val is kerke waar die Liturgie ‘n

49

Long (2001:3-5) noem hierdie ontwikkeling die Hippolytus-invloed. Hippolytus verwys na ’n gebed wat meer as 1700 jaar oud is en bevat elemente wat dui op die eenheid van die kerk wat geheers het voor al die bitterheid en verdeling.

50

Long (2001:9,11) stel die tekorte van hierdie twee invloede as volg: “The Willow Creek approach puts to much distance between itself and the Christ-centered, historically informed, theologically shaped worship that constitutes the great tradition of Christian prayer and praise that is obedient to the Gospel.”….”the Hippolytus style of worship, as actually practiced in local churches is, frankly, often quite boring. It can plod along its once majestic path from gathering to blessing without much spirit, verve or life.”

kreatiewe spanning behou tussen die aktuele vraagstukke van die eietydse kultuur, maar terselfdertyd ook die Liturgiese erfenisse van die kerk oor die eeue daarmee kan inkorporeer. Ten slotte noem die navorser bloot net hierdie eienskappe wat Long onderskei het. Die idee is dat dit aanvullend kan wees tot die doel van hierdie studie naamlik die herwaardering van die verband tussen die Liturgie en die Pastorale dimensie daarin.