• No results found

HOOFSTUK 3 – PARADIGMATIESE SKUIWE OP EKKLESIOLOGIESE VLAK

3.2 WAT BRING HIERDIE TRANSFORMASIE IN ONS

3.2.2 Verandering as groeigeleentheid

Burger (1995) verwys na die aspek van verandering in ‘n boek getiteld “Gemeentes in transito – vernuwingsgeleenthede in ‘n oorgangstyd”.

Burger (1995:22-24) sê dat dit noodsaaklik is om bewus te wees en te onderskei tussen sogenaamde fases en seisoene in die lewensloop van individue, groepe en samelewings. Dit is noodsaaklik wanneer ons wil ondersoek wat die effek van verandering op die Institusionele kerk is.

Om die effek van verandering op die hedendaagse interpretasie van kerk beter te verstaan is dit (1) noodsaaklik om verandering skematies voor te stel ten einde verskillende kragte / invloede wat ‘n rol hierin speel, beter te kan identifiseer & (2) ‘n profiel saam te stel23 van die persone wat in die samelewing geraak word deur verandering (hierdie profiel sluit alle mense, gelowig en ongelowig, in)

Om bogenoemde te kan doen word daar aangesluit by die werk van Victor Turner (1967) asook navorsing van William Strauss en Neil Howe en die gevolgtrekkings wat hulle gemaak het in verskeie publikasies soos onder andere : “Generations: The history of America’s Future 1584-2069” (1991) en “The Fourth Turning” (1997).

Vervolgens sal daar eers aandag gewei word aan die werk van Victor Turner: Turner maak die onderskeid tussen communitas-situasies (afgelei van “community” wat ‘n meer informele samelewingsvorm voorstel) en societas- situasies (afgelei van “society” wat ‘n meer formeel-gestruktureerde samelewingsvorm voorstel).

Kenmerkend van laasgenoemde era is dat so ‘n samelewing ‘n voorspoedfase beleef wat gekenmerk word deur rustigheid, veiligheid , ‘n algehele positiewe ingesteldheid teenoor die toekoms en die institusionalisering van bepaalde rolle, strukture, netwerke, stelsels en regulasies. Hierdie samelewingsvorm word egter ook beskou as ‘n baie onpersoonlike, funksionele sisteem, ook beter bekend as ‘n burokrasie.24

23

Die Erediens impliseer ‘n groepering van mense. Binne die tradisionele Erediens vind ons ‘n verteenwoordiging van mense uit verskillende ouderdomsgroepe, klasse en spiritualiteite (dieselfde kan egter nog nie van rasse gesê word nie). As ‘n mens dus die Pastorale waarde van die Erediens / Liturgie wil ondersoek in ‘n veranderende samelewing is dit volgens die ondersoeker noodsaaklik om eers ‘n begrip te hê vir die behoeftes van die verskillende groeperinge mense wat binne die ruimte van die Erediens gevind word voordat die waarde van die Erediens / Liturgie bepaal kan word.

24

Burger (1995:25) verwys na die regeringstyd van Dawid as ‘n sogenaamde societas- situasie.

Daarteenoor is ‘n communitas-situasie ‘n tydperk wat gekenmerk word deur onsekerheid en oorgang. ‘n Verdere kenmerk is die ongestruktureerdheid daarvan (daar word gepraat van ‘n “anti-structure” sentiment wat heers) en die feit dat baie mense hierdie tydperk negatief beskou. Tog het hierdie era ook bepaalde voordele in die sin dat die mens tot ‘n mate geforseer word om sekere lewenswaardes en beskouinge te ondersoek, aan te pas en herformuleer.25 Verskillende redes gee aanleiding daartoe dat ‘n societas-situasie oorgaan in ‘n communitas-situasie. Turner onderskei hierdie redes in twee hoof groeperinge wat hy sogenaamde buite faktore en binne faktore noem. Met ander woorde sekere samelewingskragte plaas van buite af druk op ‘n gegewe groep en veroorsaak ‘n krisistydperk. Net so kan die oorgang ook ‘n natuurlike proses wees wat binne die groep ‘n oorsprong het en dan lei tot dekonstruksie en disintegrasie (dink in hierdie verband byvoorbeeld aan sogenaamde oorgangsrituele en natuurlike ontwikkelingsfases vanaf kinderjare tot en met bejaardheid26).

Wat belangrik is om te onthou in ‘n mens se vergelyking met ‘n communitas- en societas-fase is dat die lewensgevoel in die twee situasies hemelsbreed verskil (vgl Burger 1995:26). Daarmee saam is dit ook belangrik om daarop te let dat bepaalde ordeninge en geïnstitusionaliseerde gedragsisteme wat in ‘n societas- situasie gewerk het dalk nie so goed in ‘n communitas-situasie gaan werk nie.27

25

Burger (1995:26) verwys na die volk Israel se jare in Egipte, die woestyntog en die ballingskap as sogenaamde communitas-situasies.

26

Die navorser is oortuig dat daar nie net gefokus kan word op die sogenaamde samelewingskragte wat van buite af druk plaas op die sisteem nie, maar dat die natuurlike kragte binne die sisteem ook aandag moet kry. Daarom sal daar spesifiek ook gelet word op navorsing wat gedoen is deur sielkundiges en sosioloë wat betref die ontwikkelingstadia van die mens.

27

In die verband kan verwys word na iets soos die posisie van die blanke man binne die openbare arbeidsektor. Binne die apartheidsjare (‘n sterk societas-situasie) het die blanke man hom boaan die hiërargie bevind en is die beste poste en geleenthede aan hom toegeken. Huidiglik bevind die blanke man hom in ‘n krisis (‘n communitas-situasie) en bevind hom onder aan die hiërargie weens regstellende aksie.

Turner het hierdie oorgangsproses tussen bogenoemde fases verder ondersoek en verfyn. Hieruit het hy ‘n teorie ontwikkel oor die wyse waarop so ‘n oorgang verloop.28 Daar word onderskei tussen vier fases naamlik:

a. Die afbreekmoment b. Die werklike krisis

c. Die lang herrangskikking-fase d. Die herintegrasie-fase

Gerald Arbuckle (1991) ‘n Katolieke teoloog en kulturele antropoloog brei hierdie argument verder uit. Laasgenoemde het Turner se werk aangepas en verwerk met die oog op die oorgange wat tans binne die Christelike gemeenskap en spesifiek die kerk, plaasvind. Volgens Arbuckle (1991) is daar in werklikheid slegs drie fases onderskeibaar in ‘n gegewe oorgangstyd. Hierdie fases is:

a. Die skeidingsfase

b. Die werklike communitas-tyd (met ander woorde ‘n kombinasie van Turner se krisis- en herrangskikking-fase)

c. Die herintegrasie of hersamestellingsfase

In beide die werke van Turner en Arbuckle word dit duidelik dat die communitas- fase ‘n drempel29 ervaring is. Dit is ‘n oorbeweeg van die ou, tradisionele en bekende na ‘n nuwe en onbekende fase. ‘n Uitstaande kenmerk van hierdie onbekende, minder gestruktureerde tydperk is die feit dat daar ten spyte van ‘n negatiewe ervaring van verlies, krisis en ontwrigting ook ‘n klomp positiewe faktore is wat in ag geneem moet word en wat bydra tot ‘n beter gebalanseerde societas-fase wat gewoonlik na die communitas-fase aanbreek. Hierdie positiewe faktore noem Burger (1995:31) energiepunte. Die volgende energiepunte is kenmerkend van so ‘n communitas-fase of liminaliteit-periode:

28

Turner (1974) praat in die verband van ‘n “social” drama.

29 Verskeie antropoloë, onder andere Turner en Arbuckle praat in die verband ook van ‘n

liminaliteit-periode. Die woord limen is die Grieks vir drempel en dui op die oorsteek van ‘n grens van die bekende na die minder bekende.

a. Klem word geplaas op ‘n soeke na verdiepte verhoudings

b. Selfondersoekende inkeringsprosesse (of te wel ‘n strewe na verdiepte spiritualiteit) vind plaas.

c. Die kreatiewe invloed van grens- of drempel ervarings word beleef.

d. ‘n Refleksieproses kom na vore wat lei tot ‘n nuwe verstaan van jouself, van die wêreld en van die sin van die lewe.

Een van die groot voordele van bogenoemde energiepunte is die feit dat bestaande geloofsgemeenskappe deeglike selfondersoek moet begin doen en dit loop uit op die herdefiniering van bestaande posisies, rolle en status in ‘n gegewe samelewing. Die ander belangrike punt wat ‘n groot fokus van hierdie studie uitmaak is die feit dat relativering van rolle en posisies in die samelewing ook terselfdertyd ‘n groter openheid en gelykheid tussen gelowiges teweegbring wat ‘n ruimte skep waar die waarde van en die definiëring van familie binne die kerk ‘n nuwe betekenis kan kry. Volgens die ondersoeker is bogenoemde ‘n baie belangrike doelwit wat nie anders aangespreek kan word as juis deur die lense van die pastoraat en die liturgie daarna te kyk nie. Daar word vervolgens in latere hoofstukke meer aandag hieraan gewei.

Sedert die werke van Turner en Arbuckle is daar ook verskeie ander teorieë gevorm wat navorsers help om die invloed van samelewingskragte op gegewe generasies te ondersoek. Navorsers wat ‘n baie belangrike bydra in dié verband gemaak het is, soos reeds vroeër genoem, William Strauss en Neil Howe in hulle boek “The fourth turning” (1997).

Vervolgens kyk die navorser na hulle bydra:

Bogenoemde navorsers poog om met behulp van ‘n sogenaamde Generasionele siklus teorie sekere patrone in die verloop van die geskiedenis te onderskei met die oog op die verstaan van die verlede, hede en toekoms. Dit is natuurlik ‘n handige hulpmiddel om aan te wend, omdat dit (1) die leser help om hom / haar te posisioneer ten opsigte van verandering (2) nie ‘n rigiede sisteem is wat

onbuigbaar is nie, maar ‘n alternatiewe siening verteenwoordig en (3) op dieselfde tyd ook ‘n begrip teweeg sal bring van die aard en wese van die Institusionele kerk in die toekoms.

In die volgende gedeelte sal daar gepoog word om in meer diepte die Generasionele siklus teorie30 voor te hou, dit van toepassing te maak op die huidige konteks in Suid-Afrika en die implikasies daarvan vir ons verstaan van “kerk” weer te gee.

3.3

Generasionele siklus teorie en die implikasies vir die