• No results found

HOOFSTUK 2- PARADIGMATIESE SKUIWE OP EPISTOMOLOGIESE VLAK

2.6. DIE RESPONS VAN DIE KERK MET BETREKKING TOT

Daar is verskillende opinies oor hoe die kerk haar moet posisioneer ten opsigte van die verskynsel van Postmodernisme. Sommige mense voel dat daar weer sterk terugbeweeg moet word na sekere karaktertrekke van die Modernisme en die promovering van universele rede en realiteit. Ander het hulself al reeds tuisgemaak in hierdie era en poog nou om die beste te maak van die saak. Die feit bly staan dat die Postmodernisme ‘n groot impak het op die kerk en haar lidmate en daarom moet haar posisionering in hierdie era as uitdaging en geleentheid beskou word vir die kerk. Okholm (1999:4-6) wys op ‘n paar skuiwe wat die kerk behoort te maak ten einde haar so goed as moontlik te posisioneer binne hierdie era.

2.6.1 Erken die feit dat sekere skuiwe reeds plaasgevind het

Die kerk leef tot ‘n groot mate nog in ontkenning. Regele (1995:15) maak die kerk leiers attent daarop dat hulle regeer in ‘n wêreld wat buite beheer geraak het. Indien daar nie beter begrip getoon word vir die kragte van verandering wat huidiglik op die kerk inwerk nie, sal die kerk totaal daardeur oorweldig word. Gibbs (2000:24) sluit hierby aan wanneer hy sê “The transition from modernity to postmodernity represents a seismic shift that can result in churches becoming paralysed in the midst of the shock waves. The changes are deep-rooted, comprehensive, complex, unpredictable and global.”

Eers wanneer die kerk bereid is om te erken dat dit nie werklik slaag ( met in ag neming van die groot hoeveelhede lidmate wat die kerk verlaat) in die wyse hoe die mens bedien word nie en daar gevolglik radikaal anders gedink moet word oor bestaande strukture en wyses waarop die Evangelie verkondig word sal daar weer kan groei plaasvind.

2.6.2 Verwelkom die Postmodernisme se kritiek op die

Modernisme se eensydige fokus op die menslike rede

Die Modernisme het sy ontstaan te danke aan ‘n klomp prosesse waarvan die grootste rolspeler sekerlik die aanbreek van die Verligting was in die Sewentiende eeu. Volgens Hendriks (1996:491-492) het vier manne basies hierdie nuwe periode ingelei. Elkeen se bydrae word net genoem:

• Copernicus (1473-1543): Sy bewering dat die aarde in 24 uur om sy eie as en in 365 dae om die son draai het baie mense verward en onseker gehad. • Columbus (1446-1506): Hy maak bekend dat die aarde rond is en lei

gevolglik die periode in waar groot ontdekkingstogte onderneem word na nuwe wêrelddele.

• Caxton (1422-1492): As een van die grondleggers van die boekdrukkuns in Brittanje maak hy ‘n groot bydrae sodat gewone mense begin lees. So word die Bybel in verskillende tale vertaal en gepubliseer, kennis versprei en mense word toenemend skepties oor ou gevestigde idees.

• Calvyn (1509-1564): Hy word beskou as een van die groot Reformatore en deur sy bydrae word die Rooms-Katolieke kerk se mag gebreek. Elke land bepaal dus nou sy eie Godsdiens en stig sy eie kerk om dit te huisves (in teenstelling met die gesag van die Pous en die hiërargie van die Rooms- Katolieke kerk).

Die Verligting en tot ‘n groot mate dan ook die voortvloeiende Modernisme is gebou op ‘n paar teoretiese vertrekpunte wat ‘n groot invloed op die mens gehad het. Hierdie punte is reeds genoem op bladsy 6-8 van hierdie hoofstuk en kan weer vir kennisname gelees word.

In teenstelling met die vertrekpunte van die Modernisme het die Postmodernisme ‘n skeuring gebring met die menslike rede. Hierdie skeuring bied groot geleenthede vir die kerk om ontnugterde mense weer hoop te gee. In die plek van subjek-objek skema denke het daar weer ‘n noodsaaklikheid vir egte verhoudings ontstaan wat die mens nie degradeer tot ‘n objek van studie nie, maar iemand wat gevoel en emosies het en derhalwe gerespekteer moet word. In die plek van die menslike verstand (kognitiewe en rede) as enigste norm het die kerk geleentheid om die Evangelie aan te bied aan mense op kognitiewe, konatiewe en affektiewe vlakke.

2.6.3 Die kerk moet die meta - narratief van die Evangelie ken en

verkondig

‘n Baie belangrike punt wat verreken behoort te word in die poging om sinvol aan te sluit by die Postmodernisme is die meta narratief van die Christelike geloof. Die kerk hoef nie verskoning te vra vir die feit dat God as skepper van mens en aarde voorgestel word, dat die mens in sonde gebore is en inherent verlore is, dat Christus mens geword het en deur Sy kruisdood ons met die Vader versoen het en dat die koninkryk van God weer sal kom om die finale mag oor die Bose te bewys. Die kerk het die verantwoordelikheid om deur die geskiedenis telkens ‘n alternatiewe narratief voor te stel wat aanvullend kan wees tot die verskeie ander meta-narratiewe in die wêreld wat heel dikwels geen permanente sin of hoop bied vir mense nie. Dit is ‘n narratief wat, soos vroeër in hierdie afdeling reeds genoem, nie slegs verstaan kan word deur die menslike rede en intuïsie nie. Okholm (1999:6) verklaar verder dat “The incarnation is not only God entering

into our world as resident, but entering into it as an alien.” Neem byvoorbeeld die Gelykenisse van Jesus: Jesus het deur die gelykenisse op dieselfde tyd Sy leringe openbaar sowel as geheim gemaak. Maak ons hierdie beginsel vantoepassing op die kultuur waarin die kerk haar vandag bevind dan is dit baie belangrik dat die kerk ‘n alternatiewe meta narratief moet uitleef wat nie op ‘n onmiddellike vlak sal sinmaak vir almal nie. Daarom sê Okholm moet die kerk bekommerd wees as die wêreld presies verstaan wat die kerk doen tydens aanbidding / Eredienste, presies verstaan wat bedoel word met verlossing, presies verstaan wat bedoel word met genade alleen en nie verdienste nie ensovoorts. Die kerk se moraliteit en dit waarvoor sy leef behoort met ander woorde nie noodwendig sin te maak buite ‘n verhouding met Jesus Christus nie. Die kerk se dade en woorde behoort op die oog af te lyk na ‘n vreemde taal en vreemde kultuur vir die wêreld, maar behoort terselfdertyd ook die ruimte te bied vir mense om met hierdie meta narratief gekonfronteer te word en deel te word daarvan.

2.6.4 Die kerk moet as getuie sigbaar word in woord en daad in

die publieke wêreld

Die feit dat die kerk die meta narratief van die Christelike geloof ten alle koste moet verdedig beteken nie dat die kerk los van haar konteks funksioneer en daarom nie die verantwoordelikheid het om die Postmoderne kultuur van hierdie konteks te ondersoek en bestudeer nie. Grondige kennis van laasgenoemde is baie belangrik indien die kerk die Christelike boodskap effektief wil verkondig. In die verband kan ons veral dink aan die waarde wat Postmodernisme inhou wanneer dit kom by die uitdaging om mag te relativeer en op ‘n meer holistiese wyse te werk te gaan wanneer dit kom by die toepassing en implementering van hierdie meta narratief in die lewens van mense.

Die uitdaging vir die kerk in die verkondiging van hierdie meta narratief is om te ontdek en te besef dat hoewel die Christelike storie stewig geanker is in spesifieke historiese momente, die verkondiging daarvan nie langer gedoen kan word op ‘n wyse wat bloot aanneem dat almal wat dit hoor op ‘n rasionele manier sal aanvaar nie. Prakties beteken dit dat die kerk eers hierdie meta narratief se kernbeginsels moet gaan uitleef tussen mense en op hierdie wyse die reg verdien (deur die aankweek van egte verhoudings) om die Christelike boodskap te deel.