• No results found

HOOFSTUK 2- PARADIGMATIESE SKUIWE OP EPISTOMOLOGIESE VLAK

2.5. DIE BYDRAE WAT DIE POSTMODERNISME LEWER

Bosch (1997:355-362) en McLaren (1998:172-184) handhaaf ‘n minder kritiese standpunt op die verskynsel van Postmodernisme. Hoewel die verskynsel van Postmodernisme ’n skuif verteenwoordig wat groot onsekerheid behels is die voordeel dat paradigmaskuiwe nie oornag plaasvind nie, maar dekades en selfs

eeue neem om volwaardig aan te breek. In die proses word daar duidelike kontoere gelaat waarlangs geloop kan word om verandering te bespeur. Met dit in gedagte is dit ook belangrik uit die bydrae van beide navorsers dat daar ook bepaalde positiewe eienskappe te bespeur is in die paradigmaskuif genaamd “Postmodernisme” en die kerk sal moet leer om hierdie positiewe eienskappe te omarm. Die navorser gee kortliks ’n samevatting van hulle bevindinge:

1. Daar word verby die subjek-objek skema van interpretasie

beweeg

Die subjek-objek skemas waarmee daar in die modernisme gewerk is het vernietigende gevolge ingehou. Bosch (1997:355) beskryf dit as volg: “It resulted in a world that was closed, essentially completed and unchanging...simple and shallow, and fundamentally unmysterious – a rigidly programmed machine”.

In plaas daarvan dat hierdie benadering die mensdom bevry en verlig het, het dit die mensdom verslaaf. Die mensdom het slawe van die masjiene geword (industrialisasie) en in die proses het produksie die hoogste doel geword om menslike waarde te meet. Die ekologie beleef ook ’n krisis vanweë die mensdom se hantering daarvan as objek.

In teenstelling met bogenoemde bring die Postmodernisme ’n groeiende bewussyn dat daar meer holisties en in terme van relasie gedink behoort te word. Dit is in teenstelling met die analitiese denke wat vroeër geheers het. Dit hou verreikende implikasies vir die rol van die kerk in. Laasgenoemde verandering impliseer dat die kerk ’n nuwe rasionaliteit kan help skep (wat nie gebaseer is op die tegnologie, manipulasie en uitbuiting van die mens en die natuur nie) wat ons kan identifiseer as die heerskappy van God. Sy heerskappy staan in kreatiewe spanning met die geslote sisteme van die Modernisme.

2. Die Teleologiese dimensie word herontdek

Die eliminasie van die liniêre en kousale denke van die Modernisme het tot gevolg gehad dat alles nie meer so bewysbaar, voorspelbaar en uitgesorteer blyk te gewees het nie. Daar is vanuit ’n Postmodernistiese benadering al hoe meer begin fokus op prosesse en die onvoorspelbaarheid van alles.

Dit het die weg gebaan om nie langer uitsluitlik te leef volgens uitgewerkte formules en vasgestelde patrone nie, maar om ook die teologiese en sosiologiese dimensies meer in ag te neem. In die verband sê Bosch (1997:356): “The notions of repentance and conversion, of vision of responsibility, of revision of earlier realities and positions, long submerged by the suffocating logic of rigid cause and effect thinking, have surfaced again and are inspiring people who have long lost all hope.”

Net soos wat bogenoemde skuiwe binne die Modernisme plaasgevind het, word die kerk ook voor die groot uitdaging gestel om ’n Christenskap te openbaar wat ook gestroop is van rigiede, subjektiewe denke oor geloof. Die Postmodernisme beklemtoon die feit dat gelowiges oor kultuurgrense bereid moet wees om hulle voorveronderstellings en subjektiewe aannames oor geloof te dekonstrueer en ’n ruimer dialoog te skep waarbinne meer stemme gehoor kan word.

3. Progressiewe denke word uitgedaag

Progressiewe denke tydens die Verligting het grotendeels aanleiding gegee tot kolonialisasie en grootskaalse industriële ontwikkeling. Die 1960’s staan bekend as die “sekulêre era” en is gekenmerk deur optimisme en ontwikkeling. Ryk lande het egter ryker geword en arm lande armer. Ongelukkig het hierdie idee van ontwikkeling en progressiewe denke ook na die kerk oorgespoel (spesifiek die missiologie). Mense van ander rasse en

kulture as die westerlinge is as sendingobjekte beskou wat bekeer moes word tot die Christelike geloof en westerse manier van dink en doen.

Die Postmodernisme het egter ’n breek hiermee bewerkstellig. In plaas van die idee van ontwikkeling ten koste van ander is daar al hoe meer gefokus op die kreatiewe spanning tussen afhanklikheid van mekaar en bevryding. Hoewel laasgenoemde ook foute het, het dit die weg gebaan vir ’n groter respek en waardering van die ander se kultuur en ’n meer sensitiewe benadering gebring.

Die kerk kan baie leer hieruit. Dit is veral insiggewend om te weet dat die Postmoderne mens nie ’n objek is wat oorgehaal moet word na “ons span” nie, maar dat daar in ’n verhouding gegaan moet word met laasgenoemde en dat sy / haar stem ook belangrik is. Dit het implikasies vir hoe ons byvoorbeeld Erediens hou. Neem die kerk byvoorbeeld genoeg in ag dat almal wat op ’n Sondag die Erediens bywoon nie noodwendig eenders dink en doen nie? Is daar ruimte vir die “soekers” en diegene wat nie noodwendig binne die tradisionele kerk opgegroei het nie? ensovoorts.

4. Die eens vertroude raamwerk van feite en waardes word

bevraagteken

Waar die Modernisme baie sterk gefokus het op die radikale onderskeiding tussen feite en waardes, het hierdie benadering grotendeels plek gemaak vir interpretasie van die feite. Voorheen is die wêreld oorheers deur bepaalde ideologie soos Marxisme, Kapitalisme, Fascisme en Sosialisme. Mettertyd het dit egter duidelik geword dat die mens se siening van die waarheid ook slegs ’n interpretasie daarvan kan wees en dat dit grotendeels gebaseer is op en beïnvloed word deur jou opvoeding en kultuur.

Daar is meer ruimte begin laat vir die oënskynlik “onbewysbare” waarhede en ’n groter verdraagsaamheid heers tans tussen bewysbare en onbewysbare feite. Hierdie verandering maak dat daar ook ’n groter toleransie is teenoor die Christelike geloof. Hierdie geleentheid moet aangegryp word en skep die ruimte om ook met mense van ander gelowe / oortuigings in gesprek te tree.

5. ‘n Oordrewe klem op Optimisme word uitgedaag

Die Modernisme het vir baie lank die wêreldbeeld in stand gehou dat alle probleme oplossings het. Die strewe na ’n sg. Derde Wêreld waar vrede, vryheid en geregtigheid seëvier het verval in wat Bosch (1997:361) noem: “...a nightmare of conflict, bondage and injustice.” Optimisme het plek gemaak vir pessimisme en ontnugtering. Die kerk het hier ook ’n gulde geleentheid om meer te fokus op haar eskatologiese visie en ’n alternatiewe realiteit voor te stel waaraan mense kan vashou.

6. Groter interafhanklikheid word voorgestaan

Modernisme het gelei tot verhoogde individualisme en selfsug. Die individu het net sy / haar eie geluk vooropgestel en niemand anders behalwe hom - / haarself ernstig opgeneem nie. dit het aanleiding gegee tot nihilisme. Die mens het sy vryheid misbruik, onverantwoordelik begin optree en in die proses selfs van hom - / haarself vervreem geraak.

Postmodernisme het grotendeels hiermee gebreek in die opsig dat die waarde van interafhanklikheid, samewerking, netwerke en verhoudings meer beklemtoon is. Vir die kerk en vir die doeleindes van hierdie studie is dit van onskatbare belang. Binne die ruimte van die Erediens en veral die Pastorale dimensie daarvan bring dit die belangrike herontdekking na vore van die

waarde wat daar geleë is in die Liggaam van Christus en die gemeenskap van gelowiges.

2.6. Die respons van die kerk met betrekking tot die verskynsel