• No results found

HOOFSTUK 2- PARADIGMATIESE SKUIWE OP EPISTOMOLOGIESE VLAK

2.7 SAMEVATTING

In hierdie gedeelte is daar gepoog om aan te toon dat daar ‘n klemverskuiwing plaasgevind het ten opsigte van die wyse waarop die mensdom die realiteit verklaar. In ‘n Modernistiese samelewing word sterk gefokus op die menslike rede en die wetenskap om sin aan ons bestaan te gee maar vandag word daar sterker voorkeur gegee aan verhoudings en die erkenning van verskillende stemme wat saam poog om ‘n greep te probeer kry op wat waar en eg is. Hierdie oorgang van ‘n sogenaamde Modernisme na ‘n Postmodernisme het ‘n invloed op die hele samelewing (hierby ingesluit is dan ook die lidmate en spesifiek dan ook families in die NG Kerk). Hierdie invloed op die familie / gesin kan nie gering geskat word nie. Volgens Louw (1989:13) is die basiese behoefte van die hedendaagse familie / gesin ‘n behoefte aan diepteverhoudinge, medemenslike erkenning, emosionele sekuriteit en interpersoonlike intimiteit. Binne ‘n tegnokratiese samelewing het laasgenoemde behoeftes egter tot ‘n groot mate verlore gegaan. Gesinne word opgeslurp in ‘n verbruikersmaatskappy waar die ekonomie (en nie basiese familiewaardes nie) die toonaangewende rol speel. Laasgenoemde het verrykende gevolge aangesien die gesin se waarde ook dus nou saamhang met materiële prestasies (‘n verdere gevolg van die verstedelikingsproses en industrialisasie). Louw (1989:18) sê dat daar ‘n verdere verskynsel ontstaan het ten opsigte van materialisme wat ons sou kon noem

“kwaliteitsmaterialisme” (ek wil dus nie net meer hê nie, maar ek moet telkens verbeter op dit wat ek voorheen gehad het). Kwaliteitsmaterialisme floreer op persoonlike en individuele behoeftebevrediging. Die uiteinde is dat die klem in die gesin verskuif van die gesin se wees-funksies na die gesin se doen-funksies. In die sisteem gaan dit dus ook meer gepaard met ‘n ongevoeligheid vir mense se gevoelens en ‘n uiterste sensitiwiteit vir mense se vermoëns (vgl. Louw, 1989:19). Ander faktore wat ‘n wesenlike invloed op families het en ook uitvloeisels is van die paradigmaskuif wat tans plaasvind word mooi saamgevat deur Louw (1989:21) wanneer hy verklaar: “...die eintlike krisis van die hedendaagse gesin is gesinstabiliteit wat saamhang met ‘n verlies aan konstruktiewe, gemeenskaplike gesinsbindinge, ‘n toenemende verlies aan wedersydse toewyding van huweliksmaats, onderlinge emosionele slytasie en

toenemende vervreemding as gevolg van minimum intimiteit en

dieptekommunikasie.”

Die kerk sal na aanleiding van bogenoemde deeglik moet kennis neem van hierdie paradigmaskuif en die implikasies daarvan vir die bediening. Steyn (2005:553) beskryf die invloed van hierdie nuwe paradigma verder na aanleiding van die beeld van dryfsand waarin die lidmate van die NG Kerk hul bevind20. Tydens die modernisme, waar konstruksie, feite, verifieerbaarheid en rasionaliteit hoogbloei gevier het en waar die NG Kerk ook binne die vastigheid van die Algemene Sinode se uitsprake, eenvormigheid in die erediens en algemeen aanvaarde geloofstellings geopereer het, was daar min onsekerheid. Met die opkoms van dekonstruksie, relativisme, voorlopigheid en gedurige verandering is daar egter nie meer duidelike grense nie. Elkeen is geregtig op sy / haar eie interpretasie en algemeen aanvaarde geldende waarhede (ewige waarhede) verander in relatiewe waarhede wat in die konteks van tyd, situasie en persone

20

Steyn (2005:551-554) dui deeglik aan hoe die NG Kerk deur verskeie faktore haarself tans in ‘n identiteitskrisis bevind. Hierdie faktore sluit onder andere in: (a) Demokrasie & apartheid, (b) Outonomie van gemeentes & die Arbeidswet, (c) die invloed van die “Nuwe Hervormers”, (d) Charismatiese invloede, (e) die opkoms van die Postmodernisme, (f) Regstellende aksie & blanke verarming, (g) Verstedeliking & veranderende gemeentelike geografie, (h) Oorweldigende maatskaplike behoeftes, (i) die Homoseksualiteitdebat en (j) die Kerkherenigingsdebat en die Belydenis van Belhar.

relasioneel voorlopig is. Vir sommige lidmate is die Postmodernisme ‘n groot bedreiging, want dit beweeg weg / transformeer alles wat vir ons oor baie jare sekuriteit gebied het. Tog bied die Postmodernisme baie meer geleenthede21 as wat dit bedreigings inhou!

Een van die grootste invloede van die Postmodernisme is dat daar ‘n honger na spiritualiteit is. Om hierdie uitdaging aan te spreek sal die kerk moet besef dat daar ‘n groter openheid moet wees vir diversiteit en andersheid in ons geledere. In plaas van om te spring na antwoorde, kitsoplossings en selfs ‘n “laer-trek” mentaliteit waar ons, ons afsonder / wegkruip en probeer vlug voor die veranderinge, sal ons moet bereid wees om in dialoog met die Postmoderne mens te gaan en ‘n begrip vir sy / haar behoeftes te ontwikkel. Een van die ruimtes waar hierdie dialoog die mees effektiefste kan plaasvind is die kerk en spesifiek dan ook die Erediens. Om dit te kan doen is dit dus ook nodig dat daar gefokus word op die veranderinge wat waargeneem kan word in ons Ekklesiologiese verstaan en die rol wat die kerk kan speel in ‘n Postmodernistiese samelewing.

21

Steyn (2005:555-557) toon deeglik die terreine aan wat beïnvloed is deur die faktore wat gelei het tot die NG Kerk se identiteitskrisis. Hierdie terreine sluit veral twee aspekte in naamlik (a) Skrifbeskouing en (b) Dogmas en belydenisskrifte (dit sluit in aspekte soos Godsbegrip, die Belydenisskrifte, die Liturgie en Etiek). Hierdie terreine is grotendeels volgens die navorser se mening deur die invloed van die postmodernisme op die tafel van die NG Kerk geplaas en baie van die terreine word sinvol deur konstruktiewe dialoog bespreek en verfyn met die oog op die rol wat die NG Kerk binne ‘n post- apartheid Suid-Afrika kan vertolk.

HOOFSTUK

3

PARADIGMATIESE

SKUIWE

OP