• No results found

UITSTAANDE KENMERKE VAN FETALE-ALKOHOLSINDROOM (FAS)

In die omskrywing van FAS word daarop gewys dat FAS deel is van ʼn groep afwykings wat veroorsaak word deur alkoholgebruik tydens swangerskap. FAS het uitstaande kenmerke wat ʼn belangrike bydrae lewer tot ’n begrip van FAS in sy totaliteit en wat die opvoeders van FAS-adolessente se rol kan vergemaklik indien hulle bewus is van hierdie kenmerke.

FAS se kenmerke sluit permanente skade aan die brein in as gevolg van voorgeboortelike alkoholgebruik en het volgens Duquette et al. (2006:119) ʼn blywende effek op individue met

FAS se kognitiewe, sosiale en emosionele funksionering. Van Rooyen (2003:35) sluit hierby aan deur die mening te lug dat gestremdheid as gevolg van FAS kan manifesteer in die vorm van neurologiese gedrag wat vir die moeder, kind en selfs ander persone naby individue met FAS moeilik is om te hanteer.

Kenmerke van hierdie gedrag vir die FAS-adolessent bring hoë vlakke van frustrasie, ’n lae selfbeeld, swak motivering en depressie mee. Kwesbaarheid vir alkohol- en dwelmmisbruik kom voor. Hiperaktiwiteit lei daartoe dat geen oorweging aan die gevolge van aksies geskenk word nie. Adolessente met FAS word maklik oorgestimuleer in sosiale situasies, en blyk onsimpatiek te wees teenoor sosiale gedragspatrone.

Adolessente met FAS ervaar ʼn leemte aan wedersydse vriendskapsbande en toon swak oordeelsvermoë oor wie om te vertrou. Gebrekkige kommunikasie en sosialiseringsvermoë veroorsaak dat adolessente met FAS altyd die middelpunt van aandag wil wees en gedurig aandag op hulself vestig. Adolessente met FAS het swak redenerings- en begripsvermoë, wat dit moeilik maak om take te voltooi. Hulle is swak akademiese presteerders, veral in wiskunde en ten opsigte van leesvaardighede. Negatiewe gedrag soos leuens vertel, steel en impulsiwiteit kom algemeen voor by adolessente met FAS (Duquette et al., 2006; Fascets Information, n.d; Fasfacts, 2006).

Die uitstaande kenmerke van FAS sal verder bespreek word deur te verwys na die volgende komponente: sentrale senuweestelsel; intelligensie; leeragterstande; vertraagde groei; en gesigskenmerke.

2.3.1 Sentrale senuweestelsel

Gerberding, Cordero en Floyed (2005:13) beweer dat daar oor die afgelope 30 jaar meer as 2 000 wetenskaplike studies gepubliseer is oor die effek van alkohol as ʼn teratogeen en die implikasies daarvan op die sentrale senuweestelsel. Hierdie implikasies kan presenteer in kort- en langtermyn-kognitiewe en gedragsabnormaliteite.

Hierdie abnormaliteite is lewenslank as gevolg van voorgeboortelike blootstelling aan alkohol en manifesteer in strukturele en funksionele afwykings en gedrag. Die sentrale senuweestelsel sal verder bespreek word aan die hand van strukturele en funksionele agterstande.

2.3.1.1 Strukturele agterstande

Strukturele agterstande verwys ook na sekondêre skade. Hierdie agterstande ontstaan wanneer daar geen diagnose en intervensie in plek is om ʼn ondersteuningstelsel vir die funksionele agterstande in plek te stel nie (Carrier et al., 2005:11). Scheepers (2009:50) is van mening dat strukturele agterstande op ʼn later stadium by persone met FAS voorkom.

Randall-Mkosi et al. (2008:53-54) sluit hierby aan deur die mening te lug dat strukturele agterstande nie oorgeërf is nie, maar later in die lewe van ʼn persoon met FAS ontstaan as gevolg van skade aan die sentrale senuweestelsel. Strukturele agterstande ontstaan as gevolg van ʼn verkeerde passing tussen die strukturele agterstande en die verwagtinge wat die samelewing het van die persoon met FAS.

Strukturele agterstande ontwikkel met verloop van tyd, maar kan verbeter deur vroeë intervensie en effektiewe ondersteuning. Strukturele agterstande kan manifesteer in die volgende gedrag: onderbreekte skoolopleiding, kriminele aktiwiteite, geestelike gesondheidsprobleme, dwelm-afhanklikheid, onvanpaste seksuele gedrag, swak korttermyngeheue, onvermoë om te onderskei tussen werklikheid en fantasie, lae IK, probleme met spraak en gehoor (Carrier et al., 2005:11; Scheepers, 2009:50-51; Von Canada, 2005:12).

2.3.1.2 Funksionele agterstande

Funksionele agterstande word ook na verwys as primêre skade as gevolg van skade aan die senuweestelsel en gaan gepaard met FAS. Hierdie skade word gereflekteer in lae intelligensie, swak akademiese prestasie as gevolg van intellektuele gestremdheid en probleme met aanpasbaarheid (Carrier, 2005:11; Scheepers, 2009:48-49).

Probleme met aanpasbaarheid word veroorsaak deur adolessente met FAS se onvermoë om die reëls en gedrag wat sosiaal aanvaarbaar is te verstaan. Hierdie gebrek aan vaardighede met betrekking tot sosiaal aanvaarbare gedrag word gereflekteer in swak impuls beheer, swak begrip van persoonlike grense, opdringerige gedrag, swak beheer oor aggressie, hardkoppigheid en oorvriendelikheid teenoor vreemdelinge (Carrier, 2005:11; Scheepers, 2009:48-49).

2.3.2 Intelligensie

Die gemiddelde intelligensie van individue met FAS is tussen 70 en 79 (Adnams et al., 2001:557; Duquette et al., 2006:119). Kalberg en Buckley (2007:279) is van mening dat hoewel persone met FAS soms normale IK-tellings het, hulle kenmerkende agterstande toon, veral ten opsigte van aandag, geheue en hul uitvoerende funksionering.

2.3.3 Leeragterstande

Nevid, Rathus en Greene (in Van Rooyen, 2003:30) verwys na leeragterstande as verskynsels wat algemeen voorkom binne ʼn spesifieke leerarea en wat veral baie opmerklik is binne verskillende leergeleenthede. Adolessente met FAS ervaar nie net leeragterstande nie, maar ook akademiese mislukkings, emosionele probleme en agterstande in taal- en grammatikavaardighede (Adnams et al., 2007:404; Duquette et al., 2006: 220).

Adnams et al. (2007:404) en Scheepers (2009:26) spreek die kommer uit dat baie leerders met FAS in Suid-Afrika publieke skole bywoon en in hoofstroomonderrig ingesluit word. Daar word van hierdie leerders verwag om die nasionale kurrikulum te volg sonder dat hulle spesifieke leeragterstande ondersteun word. Die gevolg hiervan is dat die las van FAS-hantering swaar steun op die onderwysstelsel, wat swak toegerus is met onvoldoende bronne en dus nie in staat is om genoegsaam in hierdie kinders se behoeftes te voorsien nie.

2.3.4 Vertraagde groei

Voor- en nageboortelike groeivertraging word gesien as die hoofrede waarom ʼn kind se gewig, lengte en/of kopomtrek minder is as wat verwag word vir hul ouderdom. Die 10de persentiel van die plaaslike standaardgroei-verwysingskaarte (Departement van Gesondheid

se “Road to Health”-kliniekkaart) word gewoonlik gebruik om die afsnypunt te bepaal ten opsigte van gewig, lengte en kopomtrek wanneer ʼn diagnose by graadeenleerders gemaak word. Vertraagde groei word as permanent beskou, hoewel adolessente se gewig vermeerder soos hulle ouer word, maar hulle sal hoofsaaklik kort wees met ʼn klein kopomtrek en ’n lae liggaamsmassa-indeks (De Villiers, 2009:28; Randall-Mkosi et al., 2008:10; Viljoen, 2001: 681).

2.3.5 Gesigskenmerke

Gesigskenmerke word gesien as die uitstaande kenmerk of eienskap van FAS en sluit die volgende kenmerke in: nou of klein ogies; verkorte boonste ooglidvoue; ’n onduidelike philtrim, wat verwys na die gladde parallelle groef tussen die neus en die bolip; ʼn dun bolip vermillion; afgeplatte wangbene en ʼn kort neus. Aanvullende kenmerke verwys na die volgende: epikantiese voue by die oë, ’n lae neusbrug, oog-abnormaliteite, bysiendheid en gehoorverlies.

Die gesigskenmerke raak minder opsigtelik soos kinders ouer word en kan die ontdekking en diagnose van FAS kompliseer (Armstrong, 2003:5; De Villiers, 2009:29; Randall-Mkosi et al, 2008:10; Van Rooyen, 2003:20). Streissguth (1994:76) is van mening dat hoewel fisiese kenmerke van FAS mettertyd verdwyn, die skade aan die senuweestelsel blywend is, omdat die brein die vatbaarste orgaan in die liggaam is vir die effek van alkohol.