• No results found

Die rol van die versorger as positiewe rolmodel

3.2 OPVOEDINGSROLLE VAN DIE VERSORGER

3.2.4 Die rol van die versorger as positiewe rolmodel

Kinders kyk op na die volwasse persone in hulle lewens. Hulle kyk na ouers of versorgers vir beskerming, antwoorde en leiding en vir wenke oor hoe om op te tree in hulle daaglikse lewens situasies (Carney, 2007). Silverman (2011) beskryf ʼn rolmodel as mense wat ander naboots en navolg of na hulle opsien vir leiding. Lad (2011) definieer ʼn goeie rolmodel as iemand wat ander inspireer met hulle voortreflike eienskappe en hulle verbintenisse tot ʼn goeie saak. Yancey, Grant, Kurosky, Kravitz en Mistry (2011:36) beskryf ʼn rolmodel as ʼn persoon wat beskou word as voorbeeldig en waardig om nageboots te word. Weldon (2008) stem hiermee saam deur ʼn rolmodel te definieer as ʼn waardige persoon wat ʼn goeie voorbeeld vir ander is. ʼn Persoon met ʼn buitengewone uitwerking of inspirasie binne ʼn sekere sosiale rol of taak wat op so ʼn manier as ʼn rolmodel vir ander dien. Vasser (2011) voer aan dat die teenwoordigheid van ʼn rolmodel betekenisvolle impak op die ontwikkeling van die adolessent kan hê.

Maartens (2007:40) voer aan dat adolessente geneig is om te herhaal wat hulle geleer is of gedrag wat hulle sien van hulle versorgers of rolmodelle, ongeag of die gedrag positief of negatief is. Carney (2007) waarsku dat daar goeie rolmodelle is wat groter inspirasie vir ander is, maar daar is ook slegte rolmodelle wat beskryf word as slegte invloede.

Elke versorger wil hê hulle kinders moet positiewe rolmodelle hê wat die kenmerke het om hulle te inspireer om die beste te wees. Vasser (2011) is van mening dat adolessente wat gesonde rolmodelle het, toon selfvertroue in hulle vermoë om te kan onderskei tussen reg en verkeerd, se waardes en norme is goed gevestig, het reeds ʼn wye reeks ervarings opgedoen en toon die vermoë om doelgerig te kan werk. Volgens Carney (2007) en Lad (2011), sluit die kenmerke van goeie rolmodelle aspekte in soos die handhawing van ʼn gesonde leefstyl, die modellering van ʼn liefde vir leergierigheid, die handhawing van ʼn positiewe houding, selfverantwoordelikheid, goeie probleemoplossings vaardighede, modellering van welwillendheid en respek, etiese optrede, goeie hanteringsvaardighede, betroubaarheid en diensbaarheid.

Volgens Carney (2007) kan die versorger deur die handhawing van ʼn gesonde leefstyl wyse keuses ten opsigte van voedsel en oefening modelleer deur hulleself goed te versorg. Negatiewe opmerkings moet vermy word aangesien dit die kinders ook negatief kan beïnvloed om goed oor hulle eie liggame te voel. In die modellering van ʼn gesonde leefstyl word dit aanbeveel dat versorgers nie in die kinders se teenwoordigheid praat of deelneem aan enige dwelm- alkohol-, of tabakgebruik nie.

Stephens (2004) verduidelik dat kinders wat in huise grootword waar versorgers rook ook meer geneig sal wees om te rook en so ook ouers wat alkohol en dwelms misbruik se kinders sal heel waarskynlik ook dieselfde doen. Weldon (2008) is van mening dat goeie rolmodellering ʼn belangrike deel van ouerskap is en dit behels onder andere ook die modellering van belangrike lewenslesse soos om nie enige vorm van dwelmmiddels te gebruik nie.

Carney (2007) voer aan dat deur ʼn liefde vir leergierigheid te modelleer, kinders se waardestelsels beïnvloed kan word deur hul interaksie met volwassenes. ʼn Positiewe gesindheid teenoor opvoeding en leer van die kant van die versorger kan soortgelyke gesindhede koester. Die versorger kan die adolessent daarvan bewus maak dat hulle baie waarde aan opvoeding heg en die voorstel word gemaak dat die versorger leersituasies as ʼn uitdaging moet sien. Wanneer die versorger voortgaan om steeds nuwe dinge aan te leer stel dit die adolessent in staat om die waarde van lewenslange opvoeding te ervaar.

Die realiteit in die Suid-Afrikaanse huishouding met ʼn FAS-adolessent is egter dat die versorgers van hierdie kinders laag geskoold is en die adolessent aan beperkte leerervarings sal kan blootstel (May et al., 2008:742).

Carney (2007) beveel aan dat versorgers as positiewe rolmodelleerders ʼn positiewe houding moet behou. Die skrywer waarsku dat negatiwiteit aansteeklik is, maar deur die houding van “ek kan” modelleer die versorger deur moeilike tye die mag van positiewe denke aan hul kinders. Stephens (2004) voer aan dat versorgers hulleself moet uitdaag om positiewe dinge te identifiseer om aan hulle kinders te modelleer soos byvoorbeeld geluk, bedagsaamheid, selfrespek, geduld, mededeelsaamheid, selfdissipline, ywer, vriendelikheid, dapperheid en medelye. Die versorgers in hierdie studie word beskryf as depressief met swak lewensdoelwitte (May et al. 2005:1190; Lewis, Shipman & May, 2011:3). Hierdie faktore kan daartoe bydra dat die versorger van die FAS-adolessent nie positiewe houdings en denke in hulle kinders sal kan modelleer nie.

Die versorger kan self verantwoordelikheid modelleer deur nie ander mense of eksterne faktore vir hulle probleme te blameer nie. Die voorstel word gemaak dat wanneer die versorger gefouteer het, die versorger sy/haar fout moet erken, dit moet korrigeer en daaraan moet werk (Carney, 2007). Silverman (2011) verduidelik dat niemand perfek is nie, maar voer aan dat die ideaal sal wees dat wanneer ʼn versorger ʼn fout gemaak het deur ʼn swak keuse dit goed is om diegene wat na hom/haar opkyk steeds van die versorger kan leer, weet hy/sy het ʼn fout begaan en beplan om dit reg te stel.

Hierdie aksie sal die adolessent help om te verstaan dat: (a) almal foute maak (b) om ‘n fout te maak is nie die einde van die wêreld nie (c) foute kan reggemaak word, en (d) foute moet aangespreek word en die persoon wat die fout maak moet verantwoordelikheid daarvoor neem. Deur verskoning te maak vir die fout wat gemaak is, dit te erken en die fout reg te stel sal die versorger ʼn baie belangrike komponent van rolmodellering demonstreer (Ajimera, 2011; Carney, 2007; Silverman, 2011). Selfverantwoordelikheid word deur Ajimera (2011) as ʼn baie belangrike eienskap van positiewe rolmodellering beskou omdat die versorger ook menslikheid toon wanneer foute erken word. Dit wys ook dat die versorger as rolmodel hom-/haarself nie verhewe of bo die FAS-adolessent stel nie.

Versorgers as positiewe rolmodelleerders behoort oor goeie probleemoplossings-vaardighede te beskik. Wanneer probleme hanteer word, moet dit op ʼn volwasse wyse gedoen word. Kinders kyk op na die versorger oor die wyse waarop hulle in moeilike situasies reageer en hulle neem ook leidrade van wat hulle sien en boots emosionele intensiteitsvlakke na. Daarom beveel Carney (2007) aan dat stres tot die minimum beperk word deurdat die versorger kalm reageer in moeilike situasies. Ajimera (2011) beklemtoon dat versorgers as goeie rolmodelle vir hul kinders moet optree aangesien die kinders eerste na hulle versorgers kyk vir leiding oor hoe om ʼn situasie te benader.

Deur die modellering van welwillendheid en respek maak die versorger die adolessent daarvan bewus hoe om teenoor ander mense op te tree. Carney (2007) maak die voorstelling dat versorgers nie ander mense neerhalende name of terme noem nie, selfs al is dit vir pret, aangesien dit die idee kan skep dat dit reg is om nie respek teenoor ander mense te betoon nie. Stephens (2004) is van mening dat ʼn rolmodel eienskappe soos bedagsaamheid en selfbeheersing verg.

Weldon (2008) voer aan dat versorgers as goeie rolmodelle aan hulle kinders moet wys hoe om ander persone met vriendelikheid en begrip te behandel asook hoe om ʼn eerbare en produktiewe lid van die gemeenskap te wees. Eties-korrekte optrede deur die versorger verwys na die verwagtinge wat die versorger ten opsigte van die adolessent se gedrag verlang. Carney (2007) beveel aan dat die versorgers hulleself ook aan dieselfde standaard kan onderwerp deur daagliks bewus te wees dat hul aksies eerlikheid, regverdigheid, deernis en verdraagsaamheid moet weerspieël.

Deur betroubaarheid modelleer die versorgers aan die adolessent dat hulle op die versorgers kan vertrou. Baie kinders het al ondervind dat volwassenes hulle in die steek gelaat het, daarom is dit belangrik dat wanneer die versorger onderneem om iets te doen, dit deurgevoer moet word. Hierdeur sal die versorger respek en bewondering verdien (Ajimera, 2011; Carney, 2007). Volgens Carney (2007) kan versorgers deur die modellering van diensbaarheid aan ander maniere vind om ʼn bydrae te lewer tot die samelewing. Versorgers kan hulle ervarings deel met hulle kinders en seker maak dat die kinders

verstaan hoekom ʼn sekere saak vir die versorgers belangrik is, asook hoe goed dit die versorger laat voel.

Versorgers kan die adolessent inspireer om betrokke te raak by ʼn saak waarin hulle glo. Die meeste adolessente voel baie passievol oor sekere goed soos byvoorbeeld die regte van diere, die omgewing, om haweloses te voed of om kinders te leer lees. Vasser (2011) waarsku egter dat wanneer adolessente nie kan identifiseer met ʼn rolmodel wat hulle kan naboots nie dit kan lei tot die volgende: kroniese verwardheid, depressie of angstigheid om take te voltooi, nie in staat wees om vir hulleself doelwitte te stel nie, geneig wees om ongeorganiseerd, slordig en bedruk wees, dit moeilik vind om besluite te neem, dit moeilik vind om etiese of morele waardes en gedrag na te volg. Die skrywer is van mening dat die rede vir positiewe rolmodellering is om aan die adolessent van ʼn toonbeeld te voorsien wat hulle kan naboots en bestudeer.

Wanneer die adolessent die vermoë ontwikkel om te kan waarneem en te idealiseer sal hulle hulle eie doel en betekenis van hulle lewens en rigting kan hê (Vasser, 2011). Versorgers het dus die opvoedingsrol om positiewe rolmodelle vir hul kinders te wees. Binne die konteks van hierdie navorsingstudie is dit belangrik dat versorgers van adolessente met FAS kennis dra van die eienskappe van positiewe rolmodellering, hoewel hulle nie noodwendig oor die vaardighede sal beskik om dit aan hulle FAS-adolessente te kan leer nie. In die hulpverleningsproses sal die maatskaplike werker hierdie versorgers kan ondersteun met hul opvoedingsrol in positiewe rolmodellering.