• No results found

Die rol van die versorger as emosionele ondersteuner

3.2 OPVOEDINGSROLLE VAN DIE VERSORGER

3.2.2 Die rol van die versorger as emosionele ondersteuner

Die rol van die versorger as emosionele ondersteuner word deur Kadushin (1970; 1974; 1980:10) beskryf as die voorsiening in die emosionele behoeftes van die kind deur liefde, sekuriteit en toegeneentheid. Die versorger bied hierdeur ook emosionele ondersteuning wat gesonde emosionele ontwikkeling sal bevorder. Die versorger word as die primêre

emosionele ondersteuningsisteem gesien wat aan die kind beskikbaar is om vertroosting, lof, empatie en simpatie te bied.

In die versorger se rol as emosionele ondersteuner, ondersteun die versorger die adolessent om ook aspekte soos vrees, angs en trauma te hanteer. As emosionele ondersteuner word daar van die versorger verwag om die adolessent met respek te behandel en hom/haar as ʼn individu te erken, geleenthede te skep om risikogedrag te beheer asook geleenthede vir die uitoefening en maak van keuses (Hoghughi & Long, 2004:7).

De Klerk en Le Roux (2003:13) verduidelik dat die gesin die eerste plek is waar kinders oor hulleself leer en die wêreld waarin hulle hulself bevind. Binne die gesin leer die kinders ook om uitdrukking aan hulle gevoelens te gee of om gevoelens te onderdruk. Die mate waarop die versorger reageer op die intense gevoelens wat deur die kind ervaar word, sal bepaal hoe hulle oor die algemeen die konsep van emosies sal aanvaar. Hierdie emosies van die kinders word dikwels geïgnoreer deur die siening dat kinders te klein, minder selfstandig en onervare is. Die rol van die versorger as emosionele ondersteuner sal dus beteken dat die versorger hulleself toerus met die nodige vaardighede om negatiewe situasies te hanteer en dat die versorger die belangrikheid van emosies moet erken deur empatie te toon en deur sorgvuldig na die kinders te luister (De Klerk & Le Roux, 2003:13).

Die ontwikkeling van emosies word deur Rovet (2009) beskryf as die verstaan en ontwikkeling van inligting wat aan emosies gekoppel word. Hierdie begripsontwikkeling sluit die vermoë in om die emosies van die persoon self en ander persone se emosies te erken en te onderskei. Die erkenning en onderskeiding tussen emosies word gesien as ʼn belangrike tegniek om suksesvol met ander te kommunikeer binne sosiale situasies. Die eienskappe van die emosionele funksionering van ʼn persoon met FAS word volgens Miller (2006, in Campbell, 2007:13) beskryf as impulsief, onvoorspelbaar, buierig, humeurig of woedeuitbarstings. Duquette et al. (2006) voeg by dat adolessente met FAS emosioneel geneig is om te oorreageer en veral probleme ervaar binne emosionele funksionering. Emosionele onvolwassenheid, selfmoordneigings, swak beheer oor emosies en seksuele drange was van die bevindinge in ʼn studie oor die ervarings van adolessente en jong volwassenes met FASD wat probeer om hul hoërskoolloopbaan te voltooi (Duquette et al.,

2006). FASA het ʼn negatiewe effek op die emosionele ontwikkeling van die adolessent met FAS.

Jones en Cunningham (2003:22) is van mening dat dit noodsaaklik is om emosies aan te leer om goeie kommunikasie te verseker, maar omdat emosies ʼn abstrakte begrip is, sal die versorger konkrete metodes nodig hê om die adolessent met FAS te leer om hul gevoelens te erken. Jones en Cunningham (2003:22) verduidelik dat omdat adolessente met FAS betekenisvolle agterstande in hulle kognitiewe ontwikkeling toon soos in hoofstuk 2 bespreek is dit vir hulle baie moeilik om abstrakte begrippe te verstaan. Volgens die skrywers is dit daarom belangrik om byvoorbeeld na ʼn uitbarsting ʼn gesprek met die adolessent te voer oor die emosies wat die adolessent tydens die uitbarsting ervaar het soos byvoorbeeld dat sy/haar hart baie vinnig geklop het, hul hande het gesweet of dat sy/haar gesig baie warm was. Sodoende verbind die versorger die konkrete gevoel aan die uitbarsting en help die versorger die adolessent verstaan watter gevoelens aan ʼn sekere gedrag verbind word (Jones & Cunningham, 2003:22).

3.2.2.1 Verkeerde interpretasie van gedrag

Misinterpretasie van die adolessent met FAS se gedrag kan baie maklik voorkom. Die volgende misinterpretasies kan gemaak word ten opsigte van die adolessent met FAS se emosionele funksionering: wispelturigheid kan verkeerdelik geïnterpreteer word as die oorsaak van swak ouerskap, aggressiwiteit en buierigheid deur die adolessent. Indien die versorger genoegsame kennis oor FAS beskik, sal die regte interpretasie van die gedrag wees dat die adolessent wispelturig is omdat hy/sy uitgeput is as gevolg van spanning en of dat die adolessent oorgestimuleer is (Evenson, 2002; Hanscom, 2008:57, Jones & Cunningham, 2003:18).

Die misinterpretasie van inkonsekwente werkverrigtinge kan verkeerdelik geïnterpreteer word as die adolessent se manier om persone op ʼn slinkse manier te manipuleer of dat die adolessent nie hard genoeg probeer nie. Die regte interpretasie van die gedrag sal wees dat die adolessent kroniese probleme met geheue ondervind en ʼn onvermoë het om een situasie met ʼn ander te veralgemeen (Evenson, 2002; Hanscom, 2008:58; Jones & Cunningham, 2003:18).

Die gedrag wat waargeneem word, is dat die adolessent nie gemotiveerd is nie. Die misinterpretasie van hierdie gedrag kan dui op swak ouerskap deur die versorger of dat die adolessent lui is en glad nie omgee nie. Die nodige kennis ten opsigte van FAS sal ‘n groot bydrae kan maak in die regte interpretasie van hierdie gedrag soos dat die adolessent nie voorspellings of vooruitskattings in die toekoms kan maak nie, en nie in staat is om huidige besluite met toekomstige geleenthede kan verbind nie (Evenson, 2002; Hanscom, 2008:58; Jones & Cunningham, 2003:18). Hierdie misinterpretasies verwys terug na die adolessent met FAS se agterstande in die kognitiewe ontwikkeling soos bepreek in hoofstuk 2.

Ter samevatting kan gesê word die rol van die versorger as emosionele ondersteuner behels dus om in die adolessent met FAS se emosionele behoeftes te voorsien ten einde gesonde emosionele ontwikkeling te bevorder. Die versorger as emosionele ondersteuner sal die adolessent met FAS moet leer om negatiewe gevoelens te hanteer. Die adolessent moet ook leer om hulle eie gevoelens te erken en dit word as ʼn belangrike komponent gesien om probleme in die emosionele ontwikkeling van die adolessent te verminder en goeie kommunikasie te bevorder. Dit is egter baie duidelik dat die adolessent nie abstrakte begrippe soos emosies sal verstaan nie as gevolg van hul agterstand in die kognitiewe ontwikkeling en dit kan dus nuwe uitdagings meebring vir die versorger binne die rol as emosionele ondersteuner.