• No results found

Dissiplinering van die adolessent met fetale-

3.2 OPVOEDINGSROLLE VAN DIE VERSORGER

3.2.5 Die rol van die versorger as dissiplineerder

3.2.5.5 Dissiplinering van die adolessent met fetale-

Malbin (2004:56) is van mening dat tegnieke ten opsigte van dissiplinering wat algemeen gebruik word nie effektief is vir persone met FASA nie, aangesien die breinfunksionering van hierdie persone nie die konsep van negatiewe gevolge vir onvanpaste gedrag verstaan nie. Kellerman (2004b) verduidelik dat vir suksesvolle ouerskap van adolessente met FAS dit belangrik is om te verstaan en te weet hoe die brein funksioneer, beide in ʼn gesonde persoon en veral in diegene wat geaffekteer is deur alkohol, aangesien die brein ook gedurende die adolessente jaregeweldige verandering ondergaan.

Volgens Fryer en Woznaik (2008) is daar een deel van die brein wat spesifiek sensitief is vir die effek van alkohol, naamlik die wit stof. Die wit stof is in die senuweevesels geleë waardeur inligting verwissel word na die verskillende areas van die senuweestelsel. Die brein se wit stof bestaan uit senuweebondels wat inligting verplaas tussen die areas van die brein. Fryer en Woznaik (2008) verduidelik die funksionering van die brein van ʼn FAS-adolessent as volg: wanneer die FAS-adolessent met FAS ʼn drang het om iets te doen, en die brein daarvan bewus raak, het die aksie reeds plaasgevind. Die adolessent is dan heel waarskynlik ook besig om die gevolge van sy/haar aksie te dra.

Maure (2003) verduidelik dat hierdie drang per definisie gesien word as gedrag sonder rede en wanneer die adolessent gevra word waarom hy/sy iets verkeerds gedoen het “ek weet nie” as antwoord sal gee. Dit lei daartoe dat die versorger sal aanneem dat die adolessent leuens vertel, maar die waarheid is dat die hierdie adolessent nie weet waarom hulle goed verkeerd doen nie.

Kersey (1994) beskryf dissiplinering as die proses van leer en om op te lei. Goeie dissiplineerders vereis vaardighede om doelwitte te bereik wat versorgers vir hulleself in die rol as dissiplineerders stel, en waardeur hulle kinders leer om hulleself te beheer en om

standaarde vir hulleself te stel. Volgens Kersey (1994) sal die versorger konsekwent moet wees in die verwagtinge wat hulle aan die adolessent stel. Die versorger sal gepaste gedrag aan die adolessent moet modelleer en duidelike verwagtinge aan die adolessent moet stel.

Die skrywer stel voor dat positiewe gedrag beloon behoort moet word en negatiewe gedrag geïgnoreer word tensy dit gevaarlik, destruktief of ʼn verleentheid kan wees. Dit is beter om die gevolge van onaanvaarbare gedrag dadelik aan te spreek nadat ongewenste gedrag uitgevoer is; versorgers behoort ferm dog liefdevol en regverdig op te tree; binne die proses van dissiplinering word die voorstel gemaak dat die versorger die adolessent laat voel dat hy/sy ʼn persoon met selfwaarde is, geliefd en suksesvol.

Jones en Cunningham (2003:11) stel voor dat die versorger die redes heroorweeg en hersien waarom dissipline toegepas moet word in die geval van adolessente met FAS, en so ook die rede vir die toepassing van die dissipline. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die adolessent nie dinge moedswillig doen nie. In die versorger se rol as dissiplineerder word die volgende strategieë voorgestel in die toepassing van dissipline naamlik: die versorger sal ferm grense moet handhaaf en dissipline konsekwent moet toepas. Konsekwentheid kan gesien word as ʼn groot uitdaging vir die versorger, maar dit is noodsaaklik.

Emosionele belonings werk goed in die vorm van ʼn groot glimlag of aanraking aan die skouer en beteken meer as materiële belonings. Guinta (1999) voer aan dat wanneer belonings voortdurend verander dit die belonings meer interessant maak. Volgens Connor (2005) is die doel van belonings om goeie gedrag aan te moedig en in die meeste gevalle sal versorgers ʼn spesifieke gedrag met ʼn spesifieke geskenk beloon. Dreigemente moet sover moontlik vermy word aangesien persone met FAS woorde baie letterlik opneem. Die beste hantering van hierdie gedrag is om op te tree voor die gedrag toeneem en die tekens van ʼn probleem te herken voor dit begin. Dit sal ook beter wees om situasies te vermy waar die adolessent oorgestimuleer word.

Guinta (1999) voer aan dat die versorger die adolessent teen blootstelling sal moet beskerm aangesien hulle baie naïef kan wees. Tegnieke wat nie effektief sal wees vir die versorger as dissiplineerder van FAS-adolessente nie, is volgens Jones en Cunningham (2003:12) die

tradisionele gedragsbestuurstegnieke en tradisionele beloningsisteme wat plakkers en geld insluit. Die sukses van hierdie beloning word bepaal deur die kind se begrip ten opsigte van toekomstige leer en die kind se vermoë om beheer toe te pas in toekomstige gedragsverandering. Die adolessent met FAS beskik nie oor hierdie vermoë nie.

Ander tegnieke wat ook nie effektief is met adolessente en kinders met FAS nie, is fisiese straf, wegneem van artikels, kontraksluiting, wegneem van voorregte en dreigemente (Jones & Cunningham, 2003:12). Kersey (1994) stem saam en voeg die volgende tegnieke van oneffektiewe dissiplinering by naamlik: metodes van dissiplinering wat die adolessent in ʼn verleentheid sal plaas, versorgers wat betrokke raak in ʼn magstryd met die adolessent, argumentering en dreigemente. Metodes soos die beloning van wangedrag, vaagheid teenoor opdragte wat aan die adolessent gegee word, om nie konsekwent te wees nie en om die adolessent skuldig te laat voel, vorm deel van dissiplineringmetodes wat nie effektief is nie.

3.2.5.6 Verkeerde interpretasie van gedrag

Evenson (2002), Hanscom (2008:57) en Jones en Cunningham (2003:8) bespreek die volgende misinterpretasies van gedrag van die FAS-adolessent wat kan voorkom. In die versorger se rol as dissiplineerder is dit belangrik dat die versorger bewus moet wees van hierdie misinterpretasies, sodat tegnieke rondom die dissiplinering van sodanige gedrag ontwikkel kan word. Die gedrag wat waargeneem word, is dat die adolessent weier om reëls na te kom. Die misinterpretasie van hierdie gedrag is dat die adolessent dit moedswillig en kwaadwillig doen, aandag soek en hardkoppig is. Die korrekte interpretasie van hierdie gedrag sal wees dat die adolessent sukkel om verbale opdragte om te skakel in aksies en nie verstaan wat van hulle verwag word nie.

Gedrag wat waargeneem word, is dat die FAS-adolessent dieselfde foute herhaal: die misinterpretasie van hierdie gedrag is dat dit moedswillig gedoen word en dat die adolessent die versorger manipuleer. Die korrekte interpretasie van hierdie gedrag sal wees dat die FAS-adolessent geen verbindings tussen oorsaak en effek kan maak nie en sukkel om veralgemenings tussen situasies te tref. Gedrag wat waargeneem word, is dat die adolessent met FAS altyd laat is: die misinterpretasie van hierdie gedrag is dat die adolessent lui of

stadig is, hierdie gedrag word gesien as die oorsaak van swak ouerskap en dat die adolessent dit moedswillig doen. Die korrekte interpretasie van hierdie gedrag is dat die adolessent met FAS nie die abstrakte konsep van tyd verstaan nie en ondersteun sal moet word om aktiwiteite te orden (Evensen, 2002; Hanscom, 2008:57; Jones & Cunningham, 2003:8).

Die gedrag wat waargeneem word, is dat die adolessent nie kan stilsit nie: die misinterpretasie van hierdie gedrag is dat die adolessent aandag soek, ander pla en dit moedswillig doen. Die korrekte interpretering van hierdie gedrag is dat die adolessent met FAS neurologies nodig het om te beweeg terwyl hulle leer. Die adolessent kan ook sensories oorlaai wees. Gedrag wat waargeneem word, is dat die adolessent met FAS steel: die misinterpretasie van hierdie gedrag is dat die adolessent met FAS opsetlik oneerlik en gewetenloos is. Die adolessent verstaan nie die konsep van eienaarskap nie en toon ʼn onvolwasse denkpatroon met die verstaan van “finders are keepers”.

Die gedrag wat waargeneem word, is leuens vertel: die misinterpretasie van hierdie gedrag is dat die adolessent moedswillig en oneerlik is, gewetenlose en psigopatiese gedrag openbaar. Die korrekte interpretasie van hierdie gedrag sal wees dat die adolessent met FAS sukkel met geheue asook volgordebepaling, is nie in staat om gebeure te herroep nie en kan nie oorsaak met gevolg verbind nie (Evensen, 2000 in Evensen, 2002; Hanscom, 2008:57; Jones & Cunningham, 2003:8). Die versorgers van die FAS-adolessent sal dalk nie oor die vaardighede en vermoë beskik om effektiewe dissiplineringstegnieke te kan toepas nie. Die maatskaplike werker sal binne die hulpverleningsproses ondersteuning aan hierdie versorgers moet verleen, om sodoende versorgers te kan toerus om hul rol as dissiplineerders uit te voer.