• No results found

Die rol van die versorger as voorspraakmaker

3.2 OPVOEDINGSROLLE VAN DIE VERSORGER

3.2.9 Die rol van die versorger as voorspraakmaker

Die rol van die voorspraakmaker word deur Kadushin (1970; 1974; 1980:9-10) gesien as die van ‘n tussenganger tussen die kind en die buitewêreld. Hiervolgens moet die versorger as tussenganger die kind se regte in die gemeenskap verdedig en so ook die kind beskerm teen onregverdige eise wat deur die gemeenskap gestel word. Westman (1979:44) beskryf die rol van die versorger as voorspraakmaker as die verantwoordelikheid om die kind se behoeftes as individu te ontwikkel, te bevorder en te versterk.

In hulle definisie verwys Waterston en Tonniges (2001) na die Oxford Dictionary se verklaring van die woord voorspraak as ‘n pleidooi; om ‘n stem te verhef om ‘n saak te

verdedig of om ‘n aanbeveling in die openbaar te maak. Volgens die skrywers is die belangrikste komponent die bevordering van ‘n aksie om effektiewe verandering te maak. Volgens Von Canada (2005:20) en Mack (2008) sal die versorger van kinders met FAS altyd vir hulle kinders moet voorspraak maak en die gemeenskap moet opvoed te opsigte van FAS. In baie gevalle sal die versorger namens hulle kinders moet optree om toegang tot die nodige dienste te verseker.

Navorsers (Graeffe, 1999; Kellerman, 2004b; Singer, 2003) argumenteer dat versorgers die beste voorspraakmakers vir hul FAS-adolessente is en sal om hierdie rede bereid moet wees om inligting oor FAS met ander professionele persone te deel. Professionele persone beskik dikwels nie oor genoegsame kennis oor FAS of FASA nie, daarom word van die versorgers in hulle rol as voorspraakmakers verwag om toe te sien dat die professionele persone in hierdie kinders se lewens opgevoed word. Voorspraakmakers kan bestaan uit familie, vriende, ouers, versorgers en professionele persone wat betrokke is by die adolessent met FAS. Hierdie kriteria maak voorsiening vir versorgers wat nie self as voorspraakmakers kan optree nie, maar beklemtoon dat ‘n goed opgeleide koördineerder nodig is om as tussenganger tussen die gesin en instansies soos byvoorbeeld die regering op te tree (TARE, 1999).

Singer (2003) waarsku egter dat wanneer die versorgers van kinders met spesiale behoeftes nie bewus is van hulle regte nie en hulle nie as sterk voorspraakmakers vir hulle kinders kan optree nie, die moontlikheid kan bestaan dat hierdie kinders slagoffers kan raak van doelbewuste mishandeling deur veral die skoolsisteme. Sonder sterk voorspraakmakers om FAS-adolessente te verteenwoordig en namens hulle voorspraak te maak, kan die beste opvoedkundige geleenthede van hulle ontsê word en sal hulle nie hul volle potensiaal bereik nie.

In die lig hiervan voer Kellerman (2001) aan in haar samestelling van riglyne wat ontwerp is om binne die VSA se opvoedingsisteem voorspraak te maak vir kinders met FAS en FASA, dat deur die versameling van inligting die versorger rekord moet hou van probleme wat in die verlede ondervind is en wat ‘n ongunstige uitwerking op die adolessent se leervermoë gehad het. Volgens Kellerman (2001) kan die gevaar bestaan dat wanneer dienste ten

opsigte van die FAS-adolessent verlang word, behoeftes gesien word as algemene gedragsprobleme wat deur swak ouerskap veroorsaak word en die adolessent as lui beskou word. Die versorger word ook dikwels geklassifiseer as te genadig of oorbeskermend.

Wright (2008) voer aan dat die insameling van inligting die voorspraakmaker se kennis kan verbreed oor die kind se toestand en opvoedkundige kennis. Hierdie kennis kan gebruik word om misverstande op te los. Volgens Kellerman (2001) sal versorgers hulleself moet bemagtig. Die versorger as voorspraakmaker moet weet wat hul regte is. Von Canada (2005:21) is van mening dat die versorger dikwels die kundige is ten opsigte van FAS en kan so geloofwaardigheid verdien by professionele persone en diensverskaffers.

Die navorser se siening is dat die opvoedingsrolle van versorgers met FAS-adolessente ‘n braak area is in navorsing en veral ten opsigte van ondersteuning deur maatskaplike werkers. Navorsers (Kellerman, 2001; Singer, 2003; Von Canada, 2005:1; Wright, 2008) argumenteer dat ouers, en vir die doel van hierdie studie versorgers, die beste voorspraakmakers vir FAS-adolessente is. Die realiteit in Suid-Afrika is egter dat die versorgers in armoede leef en in baie gevalle nie in staat is om self as voorspraakmakers op te tree nie (McKechni, 2000:10). Die versorgers in Suid-Afrika word deur May et al. (2005:1190) beskryf as laag geskoold, handhaaf ‘n lae sosio-ekonomiese leefstyl en woon in armoede. Hierdie omstandighede kan daartoe lei dat versorgers van FAS-adolessente baie uitdagings in die gesig kan staar in hul rol as voorspraakmaker.

3.3 SAMEVATTING

Hoofstuk 3 gee ‘n omvattende beskrywing van die opvoedingsrolle waaroor versorgers van FAS-adolessente moet oor beskik om voldoende in die behoeftes van die FAS-adolessent te kan voorsien. Dit is duidelik dat daar inderdaad aanpassings gemaak moet word op verskeie vlakke van versorging om in die FAS-adolessent se behoeftes te voorsien. Die literatuur beskryf dat die versorger ‘n rol het om te speel in die opvoedingsrolle wat bespreek is. In Suid-Afrika word die versorgers van FAS-kinders beskryf as vroue wat laag geskoold is en in armoede woon. Hierdie vroue sal deur die maatskaplike werker ondersteun moet word om insig en ondersteuning in die uitvoering van hul opvoedingsrol te verkry. Deur die

adolessent met FAS se ontwikkelingsagterstande met die opvoedingsrolle te integreer, is die verband onderstreep van die breinskade wat opgedoen is as gevolg van voorgeboortelike inname van alkohol. Die maatskaplike werker het dus ‘n belangrike rol om te speel, nie net in die voorkoming van FAS nie, maar ook in die aanleer van effektiewe opvoedingsvaardighede en strategieë vir die versorgers ten einde hul opvoedingsrol suksesvol toe te pas.

HOOFSTUK 4

EMPIRIESE ONDERSOEK NA DIE OPVOEDINGSROLLE WAAROOR

VERSORGERS VAN FAS-ADOLESSENTE MOET OOR

4.1 INLEIDING

Die doel van hierdie navorsing is om begrip te ontwikkel vir die opvoedingsrolle waaroor versorgers van adolessente met FAS moet oor beskik, ten einde aanbevelings aan maatskaplike werkers te kan maak vir effektiewe hulpverlening aan die versorgers.

Hierdie hoofstuk sal fokus op die derde doelwit van die studie, naamlik die verwerking van die resultate soos verkry deur middel van die data van die onderhoudskedule. Die resultate van die empiriese ondersoek word deurlopend gekoppel met die twee literatuur hoofstukke, naamlik: hoofstukke 2 en 3. Vervolgens sal ‘n bondige oorsig van die navorsingsmetodiek gegee word om te verseker dat die konteks van die studie korrek geïnterpreteer word. Eerstens sal die hoofstuk ‘n oorsig bied oor die voorbereiding vir die ondersoek. Daarna sal ‘n verduideliking volg oor hoe die data ingesamel en verwerk is. Daarna word die resultate van die empiriese studie uiteengesit.