• No results found

Die versorger se rol as emosionele ondersteuner

5.2 GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

5.2.5 Opvoedingsrolle waaroor versorgers van FAS-adolessente

5.2.5.2 Die versorger se rol as emosionele ondersteuner

Hierdie afdeling fokus op die eienskappe van emosionele funksionering wat die FAS-adolessent openbaar.

Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking wat uit die bevindinge gemaak word, is dat daar ‘n hoë voorkoms van humeurigheid, impulsiwiteit, buierigheid en onvoorspelbaarheid as eienskappe van emosionele funksionering van die FAS-adolessent geïdentifiseer is. Die gevolgtrekking word verder gemaak dat die deelnemers kon identifiseer met die eienskappe van emosionele funksionering van die FAS-adolessent.

Aanbeveling

In die lig hiervan word daar aanbeveel dat tegnieke soos effektiewe en empatiese luister vaardighede, die aanbied van troos, die gee van erkenning en die beskikbaarheid van die versorger aan die FAS-adolessent suksesvolle kommunikasie kan bewerkstellig waarby die versorgers baat kan vind in hulle rol as emosionele ondersteuners.

Maatskaplike werkers sal versorgers meer moet ondersteun deur die aanbieding van byvoorbeeld programme soos emosionele intelligensie waar versorgers meer kan leer oor gesonde emosionele ontwikkeling.

5.2.5.3 Die versorger se rol as opvoedkundige stimuleerder

Hierdie afdeling fokus op die skolastiese vordering van die versorger wat die hoogste graad of standerd deur die versorger geslaag, bespreek; die gebruik van eenvoudige taal deur die versorger wanneer daar met die FAS-adolessent gekommunikeer word en die mate van toesig deur die versorger.

Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking wat uit die bevindinge gemaak word, is dat die meerderheid van die deelnemers graad 3 geslaag het wat daarop dui dat hierdie versorgers oor ‘n baie lae vlak van opvoeding beskik. ‘n Verdere gevolgtrekking kan gemaak word dat die meerderheid van die versorgers eenvoudige taal gebruik wanneer daar met die FAS-adolessent gepraat word. Die gevolgtrekking word gemaak uit die bevindinge dat die versorgers die persepsie het dat hulle nie gedurig toesig hoef te hou oor die FAS-adolessent nie, aangesien hulle selfstandig optree en na hom-/haarself kan kyk. Die gevolgtrekking kan verder gemaak word dat die versorgers weet wat van hulle verwag word in hul rol as opvoedkundige stimuleerders deurdat die FAS-adolessent sekere goed doen volgens die verwagtinge van die versorger.

Aanbeveling

Maatskaplike werkers moet versorgers deur middel van ouerleidingsprogramme opvoed oor aspekte soos: kommunikasietegnieke met die FAS-kind, die belangrikheid van die vestiging van patrone, struktuur en roetine asook die belangrikheid van toesig.

5.2.5.4 Die versorger se rol as positiewe rolmodelleerder

In hierdie afdeling is die kenmerke van positiewe rolmodellering bespreek, naamlik: die handhawing van ‘n gesonde leefstyl, modellering van ‘n liefde van leergierigheid, die handhawing van ‘n positiewe houding teenoor ander en die lewe, selfverantwoordelikheid, goeie probleemoplossings vaardighede, die modellering van welwillendheid en respek, etiese optrede, goeie hanteringsvaardighede, betroubaarheid en diensbaarheid.

Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking vanuit die bevindinge is dat die meerderheid van die versorgers in die studie kan identifiseer met die eienskappe van positiewe rolmodellering hoewel hulle nie noodwendig oor die vaardighede beskik om dit aan die FAS-adolessent te modelleer nie.

Aanbeveling

Die maatskaplike werker moet versorgers van FAS-adolessente ondersteun in die verstaan en toepassing van die rol as positiewe rolmodelleerders in ouerleidingsprogramme wat ontwerp is volgens die behoeftes van die versorger van die FAS-adolessent. Daar word verder aanbeveel dat vir die suksesvolle vervulling van positiewe rolmodellering die versorgers ‘n goeie rolmodel moet wees wat die FAS-adolessent kan navolg.

5.2.5.5 Die versorger se rol as dissiplineerder

In hierdie afdeling is daar gefokus op hoe gereeld die versorger sekere gedrag toepas en hoe die versorger die FAS-adolessent dissiplineerder.

Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat meer as die helfte van die versorgers soms die outoritêre ouerskapstyl volg. ‘n Groot aantal van die versorgers dissiplineer die FAS-adolessent deur die gesaghebbende ouerskapstyl. Die meerderheid van die versorgers dissiplineer die FAS-adolessent vanuit die permissiewe ouerskapstyl wat gekenmerk word deur die ouers wat konfrontasie vermy en hulle kinders alles gee wat hulle vra.

Verdere gevolgtrekkings wat uit die bevindinge gemaak kan word, is dat die meerderheid van die versorgers dissipline toepas deur negatiewe gedrag te ignoreer. Fisiese straf maak ook ‘n groot deel uit van die manier van dissiplinering. Die gevolgtrekking word verder gemaak dat die versorgers weet wat hul rol as dissiplineerder ten opsigte van die FAS-adolessent behels.

Aanbeveling

Versorgers van FAS-adolessente moet ingeskakel word in intensiewe ouerleidings-programme wat spesifiek gerig is op FAS aangesien algemene dissiplineringstegnieke soos fisiese straf, nie effektief is vir persone met FAS nie. Maatskaplike werkers sal die versorgers moet bekend stel aan alternatiewe ouerskapstegnieke soos byvoorbeeld die modellering van gepaste gedrag, die stel van duidelike verwagtinge aan die FAS-adolessent, en die handhawing van ferm grense en konsekwente toepassing van dissipline in die gesin. Versorgers en FAS-kinders sal daarom meer prioriteit moet geniet op maatskaplike werkers se gevalleladings.

5.2.5.6 Die versorger se rol as beskermer

Hierdie afdeling fokus op die versorger se suksesvolle vervulling van haar rol as beskermer van die FAS-adolessent.

Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking wat uit die bevindinge gemaak is dat die versorgers in hierdie studie daarin slaag om die adolessente voldoende te kan versorg deurdat hulle in die FAS-adolessente se behoeftes voorsien en hulle beskerm na die beste van hulle vermoëns.

Aanbeveling

Die maatskaplike werker moet die versorger van FAS-adolessente ondersteun in hul versorgingsrol. Die maatskaplikewerk-sisteem moet verbeter want as gevolg van personeeltekort en te groot gevalleladings kan maatskaplike werkers nie voldoende dienste lewer aan die gesinne van FAS-adolessente nie. Die maatskaplike werker kan gemeenskapsbetrokkenheid aanmoedig om FAS-gesinne te ondersteun deur bewusmaking.