• No results found

GESTREMDHEID, SEREBRALE GESTREMDHEID EN ADOLESSENSIE

3.5 DIE ADOLESSENT MET SEREBRALE GESTREMDHEID 1 Inleiding

3.5.2 Uitdagings tydens adolessensie

Die adolessent word met biologiese, kognitiewe, sielkundige, sosiale, morele en spirituele uitdagings gekonfronteer (Geldard & Geldard, 2005).

3.5.2.1 Biologiese uitdagings

Adolessensie neem ʼn aanvang met puberteit. Die biologiese veranderinge het fisiologiese, seksuele en emosionele veranderinge tot gevolg en die tydperk word deur wisselende emosies gekenmerk. Hormoonveranderinge tesame met ander veranderinge met betrekking tot sosiale verhoudings, oortuigings, houdings en selfpersepsie gee hiertoe aanleiding (Geldard & Geldard, 2005). Adolessente is bewus van hulle fisiese voorkoms en liggaamlike ontwikkeling. Soms kan ʼn chroniese toestand of gestremdheid (byvoorbeeld Turner se sindroom) tot vertraagde puberteit lei. Spina bifida en serebrale gestremdheid kan soms weer tot premature puberteit lei (CPS, 2006). Die adolessent wat fisies teen ʼn ander tempo as die portuurgroep ontwikkel, kan verleë en selfbewus voel. Sommige adolessente vergelyk hulle fisiese voorkoms ongunstig met die portuurgroep en sibbe. Die fisiese afhanklikheid van ander, behoefte aan privaatheid, fisiese beperkinge en die ervaring van “anders wees” kan hiertoe aanleiding gee (Geldard & Geldard, 2005; Young, Rice, Dixon-Woods, Colver, & Parkinson, 2007). Adolessente word met hulle persoonlike seksualiteit, asook die ontwikkeling van ʼn seksuele identiteit, gekonfronteer. Daar is egter min inligting beskikbaar en navorsing oor portuurgroepaktiwiteit, romantiese verhoudings, seksuele aktiwiteit van jeugdiges en jong volwassenes met serebrale gestremdhede is beperk (Wiegerink, Roebroeck, Van der Slot, Stam, & Cohen-Kettenis, 2010). Adolessente met fisiese gestremdhede het dikwels beperkte portuurgroepinteraksie en nie voldoende geleentheid vir eksperimentering nie. Dit kan aanleiding gee tot ʼn swakker selfbeeld met betrekking tot seksualiteit. Oorbeskerming deur die ouers en ʼn negatiewe ouerskapstyl het ook ʼn nadelige invloed op die jeugdige met serebrale gestremdheid se selfwerksaamheid en selfbeeld (CPS, 2006; Wiegerink, Roebroeck, Donkervoort, Stam, & Cohen-Kettenis, 2006; Wiegerink, Stam,

61

Ketelaar, Cohen-Kettenis, & Roebroeck, 2012). Hierdie aspek word in hoofstuk vier meer volledig bespreek.

3.5.2.2 Kognitiewe uitdagings

Tydens adolessensie vind die oorgang van konkrete operasionele denke na formele operasionele denke plaas (Piaget, 1966). Adolessente is toenemend tot kritiese en ondersoekende denke in staat en hulle leer om vanuit ʼn eie perspektief krities oor mense en interpersoonlike sake te dink. Besluite ten opsigte van interaksie met ander word op grond hiervan gemaak. Denke is egosentries en die adolessente voel dikwels dat hulle uniek en onaantasbaar is en sal soms doelbewus deur optrede en gedrag die aandag op hulle vestig. Dit is deel van die komplekse proses om ʼn onafhanklike unieke individu op pad na volwassenheid te wees (Engelbrecht, Kok, & Van Biljon, 1990; Geldard & Geldard, 2005). Die vermoë om inligting waar te neem, te begryp en te bewaar, verbeter namate die adolessente ouer word. Hulle kan geheuestrategieë beter gebruik en teenstrydighede identifiseer. Ouer adolessente is beter daartoe in staat om komplekse sosiale en etiese sake te hanteer. Die vermoë om inligting te verwerk, hang nou saam met die intellektuele funksionering van die adolessent (Geldard & Geldard, 2005).

Soos reeds gemeld, is kognitiewe inperking dikwels ʼn verwante probleem by serebrale gestremdheid. Die tipe serebrale gestremdheid word dikwels met intellektuele uitkoms geassosieer; so word hemiplegie byvoorbeeld met goeie intellektuele potensiaal vereenselwig. Daar word geraam dat 40 tot 60% van die populasie met serebrale gestremdheid oor normale intelligensie beskik. Hemiplegie is ook die mees algemene vorm van serebrale gestremdheid. By spastiese diplegie is die intellektuele uitkoms oor die algemeen goed. Minder as 30% van die populasie waar daar sprake van totale liggaamsaantasting is, beskik oor normale intellektuele vermoëns (Odding et al., 2006; Pellegrino, 1997). Diegene met atetose beskik gewoonlik oor hoër gemete intellektuele vermoëns (Cruickshank, 1976). Suris et al. (2004) wys daarop dat serebraal gestremdes se vermoë tot abstrakte denke dikwels swakker ontwikkel is. Hulle ondervind gevolglik beplanningsprobleme en vind dit moeilik om hulle vir verskillende situasies voor te berei, gevolge in die toekoms te antisipeer en by die algemene sosiale reëls van die lewe aan te pas. Die serebraal gestremde ondervind ook probleme met korttermyngeheue en

62

uitvoerende funksionering; dus vind hulle dit moeilik om strategieë te beplan, neem hulle langer om iets te leer, het hulle ʼn stadiger reaksietyd en is aandagafleibaar (Jenks et al., 2009; Straub & Obrzut, 2009).

Die navorser ervaar dikwels dat die algemene publiek onder die indruk verkeer dat ʼn serebraal gestremde noodwendig verstandelik gestrem is. Die persepsie kan waarskynlik verkeerdelik geskep word deur die persoon met ʼn serebrale gestremdheid se voorkoms, byvoorbeeld die vreemde loopgang, kwyling, onwillekeurige gesigbewegings, en spraakprobleme.

3.5.2.3 Sielkundige uitdaging

ʼn Reeks belangrike sielkundige aanpassings moet tydens adolessensie gemaak word. Adolessente is onseker oor hulle status en rol (Colemann & Hagell, 2007) en daarom is ontwikkeling van ʼn realistiese, positiewe persoonlike en etniese identiteit een van die belangrikste ontwikkelingstake van adolessensie (Geldard & Geldard, 2005). Die individuasieproses behels dat die adolessent begin wegbeweeg van ouer- en gesinsverhoudinge, en ʼn persoonlike identiteit vestig. Sosialisering is op ʼn balans tussen individuasie, die vestiging van ʼn persoonlike identiteit en integrasie met die samelewing gegrond (Adams & Marshall, 1996).

Laatadolessensie is ook ʼn tydperk van selfbeoordeling en vergelyking met ander. Adolessente met ʼn fisiese gestremdheid kan in hierdie tyd onvermydelik reflekteer op fisiese verskille en areas van bevoegdheid, wat weer ʼn invloed op hulle sukses en geluk in die lewe uitoefen (King et al., 2000). Eiewaarde en persepsie van bevoegdheid is areas wat dikwels in die literatuur rakende kinders met gestremdhede aangeroer word. Empiriese studies dui egter op min bewyse van verskille met betrekking tot selfwaarde tussen kinders met ʼn fisiese gestremdheid en niegestremdes (Fox, 2002). ʼn Fisiese gestremdheid is dus nie noodwendig ʼn groot risikofaktor vir ʼn swak selfbeeld nie. Verdere navorsing is egter nog op die gebied nodig (Schuengel et al., 2006).

63 3.5.2.4 Sosiale uitdagings

Die soeke na persoonlike identiteit en die sosialiseringsproses is interafhanklik en nou verwant. Die sosialiseringsproses sluit dus die adolessent se integrasie met die gemeenskap in. Die gemeenskap, ouers, gesin, uitgebreide familie en portuurgroep het verwagtinge van die adolessent. Hierdie verwagtinge, tesame met die verworwe psigologiese en kognitiewe veranderinge, stel uitdagings aan die adolessent om veranderinge in sosiale gedrag te maak. Die adolessent kan slegs in die konteks van verhoudings met ander ʼn persoonlike identiteit vestig (Geldard & Geldard, 2005). Sosiale vaardighede, selfhandhawing, vaardighede om vriende te maak en interpersoonlike probleemoplossingsvaardighede ontwikkel deur interaksie en observasie van ander. Indien die persoon met ʼn fisiese gestremdheid nie voldoende geleentheid vir sosialisering het nie, word hierdie belangrike vaardighede nie aangeleer nie. Sosiale isolasie gee aanleiding tot en is die gevolg van sosiale vaardigheidstekorte. Die adolessent met ʼn serebrale gestremdheid gaan dikwels onder veelvuldige gestremdhede (byvoorbeeld leerprobleme, epilepsie, kommunikasiegebreke en gehoorverlies) gebuk. Die gebrek aan sosiale deelname het tot gevolg dat die geleentheid vir observasie, leer en inoefening van vaardighede met ouderdomstoepaslike interaksie nie daar is nie. Die adolessente kry ook dikwels die minimum geleentheid om die sosiale vaardighede van die niegestremde portuurgroep te observeer. Adolessente met gestremdhede ontwikkel dikwels in ʼn wêreld wat hulle verskille bevestig en in stand hou, wat weer tot sosiale mislukking kan lei (Wadsworth & Harper, 1993).

Coleman en Hagell (2007) wys daarop dat sekere sosiale veranderinge oor die afgelope 20 jaar spesifiek ʼn impak op adolessente gehad het. Hier word veral na die transformasie van die arbeids- en werksituasie verwys. King et al. (2000) is van mening dat die arbeidsmark vir die ouderdomsgroep 18-25 jaar gekrimp het. Die toetrede tot voltydse indiensneming in die arbeidsmark neem dus langer as in vorige eras. Hierdie verandering het die grootste impak op persone wat die mees kwesbare is. Werkloosheid, lae inkomste, sosiale isolasie en gebrek aan voorligting is veral vir die jongmens met ʼn fisiese gestremdhede ʼn besonder uitdaging. Uit ondervinding maak hierdie navorser ook die waarneming dat toekoms- en beroepsbeplanning baie struikelblokke oplewer. Keuses word aansienlik deur die omvang van die gestremdheid en moontlike leeragterstande beperk. Dit is nie altyd moontlik dat persone met ʼn gestremdheid ʼn

64

beroepskeuse kan maak wat vir hulle vermoëns, persoonlikheid en belangstelling voorsiening maak nie. Die realiteit is steeds dat die gestremde fisiese struikelblokke sowel as houdingstruikelblokke (byvoorbeeld diskriminasie) in die arbeidsmark teëkom.

3.5.2.5 Morele en spirituele uitdagings

Die spirituele ontwikkeling van die adolessent met ʼn fisiese gestremdheid of chroniese toestand spruit dikwels voort uit die betekenis wat die adolessent en die gesin aan die gestremdheid of toestand gee. Die vlak van spirituele ontwikkeling het dikwels ʼn impak op die morele besluitneming. Tydens adolessensie word die adolessent deur morele besluitneming gekonfronteer en uitgedaag. Verskeie teorieë bestaan oor morele ontwikkeling, byvoorbeeld Kohlberg (1984) se model en Gilligan (1982) se werk. Dit blyk dat daar moontlike verskille tussen die geslagte se morele ontwikkeling bestaan. Volgens Lovat (1991) word morele ontwikkeling beïnvloed deur die konteks waarbinne die adolessent lewe en hang dit ook van die adolessent se intellektuele en emosionele ontwikkeling af. Tydens die vestiging van ʼn persoonlike identiteit poog die adolessent om betekenis in die lewe te vind (Geldard & Geldard, 2005; Lovat, 1991; Rew, 2006).

3.6 SAMEVATTING

Serebrale gestremdheid is ʼn oorkoepelende term om ʼn groep chroniese, nieprogressiewe afwykings van beweging en postuur te beskryf. Die afwykings begin in die kinderjare en word veroorsaak deur ʼn permanente wanfunksionering of beskadiging van die brein. Serebrale gestremdheid is ʼn lewenslange, permanente gestremdheid as gevolg van skade aan of disfunksie van die ontwikkelende brein. Die gestremdheid het implikasies vir elke lewensfase van die individu. Die verwante probleme strek oor ʼn wye spektrum met betrekking tot funksionele mobiliteit, vaardighede wat in die alledaagse lewe benodig word, kommunikasie en sosialiseringsvaardighede. ʼn Interdissiplinêre strategie word by die hantering daarvan gevolg ten einde optimale funksionering te bereik en alle aspekte tot volle potensiaal te ontwikkel. daar moet voortdurend gepoog word om nuwe geleenthede te skep en deelname te bewerkstellig om sodoende die lewenskwaliteit van die serebraal gestremde te verbeter.

65

Uit die voorafgaande bespreking is dit duidelik dat die tydperk van adolessensie met interne sowel as eksterne uitdagings en veranderinge gepaardgaan. Die adolessent met ʼn fisiese gestremdheid ervaar dieselfde fisiologiese, biologiese, seksuele en emosionele veranderinge as die niegestremde. Albei groepe is op voorligting en inligting aangewese ten einde ʼn suksesvolle oorgang van kind na volwassene te maak.

Die adolessent met serebrale gestremdheid ondervind volgens hierdie navorser wel ook eiesoortige probleme wat besondere eise aan al die betrokkenes stel ten einde suksesvolle aanpassing te verseker. Kennis sal tot die doelgerigte ondersteuning van die adolessent met serebrale gestremdheid bydra. Die subjektiewe belewing en selfrapportering deur persone met gestremdhede kan daartoe lei dat insig verkry word in die wyse waarop hulle betekenis aan die gestremdheid gee, die gestremdheid bestuur, en sosiale, fisiese en emosionele struikelblokke oorkom. Die psigososiale ontwikkeling van die adolessent en psigososiale faktore sal in hoofstuk vier volledig bespreek word.

66