• No results found

POSITIEWE SIELKUNDE EN PSIGOFORTOLOGIE

2.3 SIELKUNDIGE WEERBAARHEID 1 Inleiding

2.3.4 Risiko en beskermingsfaktore

Daar is ʼn wye reeks risiko- en beskermingsfaktore wat volgens die literatuur ʼn invloed op die individu se ontwikkeling het (Coleman & Hagell, 2007; Daniel & Wassel, 2002; Garmezy & Rutter, 1983; Goldstein & Brooks, 2006; Masten & Reed, 2002; McMurray et al., 2008; Newman & Blackburn, 2002).

2.3.4.1 Risikofaktore

Verskillende tipes risikofaktore word geïdentifiseer, byvoorbeeld premature geboorte, egskeiding, mishandeling, moederskap by tieners, sieklike ouers, psigopatologie, haweloosheid, gemeenskapstrauma, armoede, oorlog en natuurrampe (Coleman & Haggell, 2007; Masten & Reed, 2002). Studies dui daarop dat risikofaktore neig om saam te groepeer of gelyktydig voor te kom en met verloop van tyd te akkumuleer, wat as kumulatiewe risiko’s bekend staan (Masten & Reed, 2002).

Gest, Reed en Masten (1999) tref ʼn onderskeid tussen onafhanklike en nie-onafhanklike risikofaktore. Onafhanklike risikofaktore is buite die beheer van die individu, byvoorbeeld die dood van ʼn ouer of natuurrampe. Nie-onafhanklike gebeure hou verband met die individu se gedrag en sluit verhoudingsprobleme, die neem van risiko’s en ander soortgelyke gedrag in. Die voorkoms van nie-onafhanklike gebeure neem toe namate die kind ouer word.

24

Die mees algemene benadering is om risikofaktore binne die drie interafhanklike dimensies te plaas, naamlik individuele faktore, gesinsfaktore en wyer gemeenskapsfaktore (Coleman & Hagell, 2007; Luthar, 2006; McMurray et al., 2008).

Individuele faktore is onder meer ʼn angstige temperament, laer intelligensie, swak gesondheid, hiperaktiwiteit, beperkte aandagspan en lae frustrasietoleransie (Coleman & Hagell, 2007; Luthar, 2006; McMurray et al., 2008).

Gesinsfaktore verwys na swak gesondheid en/of geestesgesondheid van die ouers, ouerlike konflik, ouers wat by misdaad betrokke is, ongenadige en onkonsekwente dissipline, verlies van ʼn ouer weens dood of egskeiding, en ontwrigte sibbe (Coleman & Hagell, 2007; Luthar, 2006; McMurray et al., 2008). Volgens Cicchetti (2002) lei die faktore daartoe dat die kinders se basiese behoeftes vir fisiese sorg, ondersteuning, beskerming en emosionele sekuriteit nie bevredig word nie. Dit het dus ʼn effek op die:

“social, biological, and psychological conditions that are associated with maltreatment set in motion a probabilistic path of epigenesis for maltreated children characterized by an increase likelihood of failure and disruption in the successful resolution of major stage-salient tasks of development” (Cicchetti, 2002, p.1416).

Gemeenskaps- en sosiale faktore slaan weer op byvoorbeeld armoede, swak behuising, swakgehalte-onderrig en ander dienste, hoë voorkoms van misdaad, geweld, substansiemisbruik en ʼn gebrek aan gemeenskapsrolmodelle (Coleman & Hagell, 2007; Luthar, 2006; McMurray et al., 2008). Verwerping deur die portuurgroep het ʼn invloed op verskeie sisteme in die latere lewe, byvoorbeeld internalisering van probleme, vroeë skoolverlating en jeugmisdaad (Kupersmidt & Dodge, 2004). Navorsing toon dat, indien kinders in hulle vroeë ontwikkeling aan geweld en trauma blootgestel word, dit ʼn uitwerking op die ontwikkeling van die neurologiese sisteem kan hê. Blootstelling aan geweld kan die kind se vermoë om toepaslik op stres te reageer, beïnvloed (Cicchetti, 2010; Cicchetti & Walker, 2003).

25

Stalker (2007) is van mening dat risikofaktore spesifieke betrekking op jeugdiges met gestremdhede het. Hulle kom in hul daaglikse lewens teen ʼn verskeidenheid van struikelblokke te staan. Dit sou egter foutief wees om ʼn gestremdheid of persone met gestremdhede outomaties op grond van ʼn fisiese, sensoriese of kognitiewe gebrek aan risiko gelyk te stel. Persone met gestremdhede beskik dikwels oor sielkundige weerbaarheid en is dikwels baie vindingryk deur byvoorbeeld ʼn verskeidenheid strategieë te ontwikkel om uitdagings te hanteer.

Risikofaktore vir die persoon met ʼn gestremdheid is volgens Stalker (2007) op makro- en mikrovlak geleë. Op makrovlak is dit onder meer gesondheidstruikelblokke, afknouery, treitering en teistering deur ander kinders, asook onkunde van en vooroordeel deur volwassenes. Fisiese en materiële struikelblokke is byvoorbeeld die behoefte aan toeganklike vervoer, geboue en inklusiewe ontspanningsaktiwiteite.

Op mikrovlak behels die risiko’s waarmee gestremdes en hulle gesinne gekonfronteer word die volgende: werkloosheid, lae inkomste, armoede, en kostes wat met die gestremdheid gepaardgaan (soos hulpmiddels, woonhuisaanpassings en versorgers). Die gehalte van ondersteuningsdienste verskil en Bynner (2001) meld die sosiale uitsluiting van die persoon met ʼn gestremdheid as ʼn pertinente risikofaktor. Volgens Emerson (2012) dui data van nasionale opnames in Engeland aan dat jeugdiges met gestremdhede in vergelyking met die niegestremde portuurgroep meer aan ʼn reeks omgewingstressors blootgestel word, byvoorbeeld armoede, swak lewensomstandighede, afknouery en sosiale uitsluiting.

Risikofaktore verhoog die moontlikheid dat kinders nie die gewenste uitkomste sal bereik nie. Faktore wat met sielkundige weerbaarheid verband hou, verhoog die moontlikheid dat kinders weerstand sal bied en selfs sal herstel. Positiewe kinderontwikkeling is egter nie eenvoudig ʼn saak van uitskakeling en vermindering van risikofaktore en die bevordering van sielkundige weerbaarheid nie. Risiko’s moet dikwels bestuur word ten einde sielkundige weerbaarheid te bevorder. Newman en Blackburn (2002) stel dit soos volg: “The successful management of risk is a powerful resilience-promoting factor in itself” (p.3). Kinders oorkom gewoonlik ʼn enkele trauma of matige risiko. Sodra risiko’s egter akkumuleer, neem die kinders se vermoëns om

26

risiko te deurstaan drasties af. Oorgangstydperke is dikwels periodes van verhoogde risiko (Newman & Blackburn, 2002).

2.3.4.2 Beskermingsfaktore

Die sleutel tot sielkundige weerbaarheid is volgens die literatuur in beskermingsfaktore geleë (Coleman & Hagell, 2007; Daniel & Wassel, 2002; Garmezy & Rutter, 1983; Goldstein & Brooks, 2006; Masten & Reed, 2002; McMurray et al., 2008; Newman & Blackburn, 2002). Bynner (2001) omskryf beskermingsfaktore soos volg:

Protective factors work on the more malleable components of development reflecting the different kinds of resources that may help the child to resist adversity. They comprise the emotional, educational, social and economic influences on the child’s life operating singly, or more usually, in interaction with each other (p.286).

Beskermingsfaktore kan binne drie interafhanklike dimensies geplaas word, naamlik individuele faktore, gesinsfaktore en wyer gemeenskaps- en sosiale faktore (Coleman & Hagell, 2007; Garmezy & Rutter 1983; Luthar, 2006; McMurray et al., 2008).

Individuele faktore is byvoorbeeld gesonde verstand, hoër intelligensie, positiewe temperament en ʼn positiewe siening van die self, selfwerksaamheid en interne lokus van kontrole, empatie en altruïsme, verantwoordelikheid, sosiale vaardighede, positiewe selfkonsep, ingesteldheid op prestasie, waardes, humor en beplanningsvermoë (Daniel & Wassel, 2002; Gutman, Sameroff, & Cole, 2003; Howard & Johnson, 2000; Luthar, 2006; Masten 2001). Praktiese en emosionele intelligensie (Salovey, Stroud, Woolery, & Epel, 2002), optimisme, spiritualiteit en die stel van doelwitte (Smith, Tooley, Christopher, & Kay, 2010) word ook genoem.

Gesinsfaktore is onder meer warmte, kohesie/samehorigheid, gehegtheid, hoë verwagtinge en ouerlike betrokkenheid, gesinsharmonie, afwesigheid van gesondheid en substansie- afhanklikheidprobleme by ouers, aanmoediging tot outonomiteit (veral by dogters), voldoende finansiële en materiële hulpbronne (Daniel & Wassel, 2002; Luthar & Zelazo, 2003; Masten,

27

2001). Daar is ook bevind dat sibbe ʼn beskermingsfaktor in hoërisiko-gesinne kan wees. Die interaksie met ouer sibbe lei tot verbetering in taal, kognitiewe ontwikkeling en begrip vir ander se emosies en perspektiewe. Die omgekeerde is ook waar, naamlik dat ʼn negatiewe voorbeeld van die ouer sibbe tot antisosiale gedrag kan lei. Verder kan ouers in hulle optrede teenoor en hantering van die sibbe onderskeid tref. Hierdie differensiëring word met emosionele en gedragsprobleme by kinders vereenselwig (Brody, 2004). Die uitgebreide familie, byvoorbeeld grootouers, kan ook emosionele en materiële ondersteuning aan die kind verskaf (Taylor, 1996).

Wyer gemeenskaps- en sosiale faktore behels hoëgehalte-onderrig en -skole, positiewe verhoudings met onderwysers en betekenisvolle ander persone,kontak met die portuurgroep en sterk sosiale netwerke, positiewe ervaring van die sosiale rol, positiewe ervarings in die skoolomgewing, positiewe volwasse rolmodelle, lidmaatskap (godsdiens, gemeenskappe, jeugorganisasies, omgewings/woonbuurthulpbronne, (Coleman & Hagell, 2007; Daniel & Wassell, 2002; Howard & Johnson, 2000; Luthar, 2006; McMurray et al., 2008). Daar is bevind dat positiewe verhoudings met alternatiewe versorgers as beskermingsfaktor kan dien (Reis & Collins, 2004). Ander verhoudings, byvoorbeeld wederkerige en ondersteunende vriendskapsverhoudings en verhoudings met die portuurgroep, word met ʼn verhoogde siening van die self, selfaanvaarding en verbeterde sosiale vaardighede in verband gebring (Bolger & Patterson, 2003; Kupersmidt & Dodge, 2004).

Beskermingsfaktore is in interaksie met mekaar en word op alle vlakke van die jongmens se ekologiese en sosiale omgewing aangetref. Die individu se vlak van sielkundige weerbaarheid val volgens Daniel en Wassel (2002) in ʼn dimensie van kwesbaarheid en sielkundige weerbaarheid.

Figuur 1. Dimensies waarin individuele faktore van sielkundige weerbaarheid aangetref word. (Daniel & Wassel, 2002, p.11)

KWESBAARHEID 

SIELKUNDIGE 

28

Die dimensie verwys na die intrinsieke kwaliteite van die individu. Sommige individue is intrinsiek sielkundig meer weerbaar as ander vanweë ʼn wye reeks faktore (Daniel & Wassel, 2002). Die kind se reaksie op risiko’s en moeilike omstandighede word dus deur persoonlike eienskappe, biologiese eienskappe en sosiale faktore bepaal (Bynner, 2001).

Individuele verskille kan ook vanuit ʼn dimensie van teenspoed en ʼn beskermende omgewing verstaan word. Hierdie dimensie omvat die ekstrinsieke faktore en word aangetref in die buitenste ekologiese vlakke van die familie en wyer gemeenskap, byvoorbeeld hegte verhoudings en gehegtheidsekuriteit, asook die ondersteuning van ʼn lid van die uitgebreide familie (Daniel & Wassel, 2002).

Figuur 2. Dimensies waarin ekstrinsieke faktore van sielkundige weerbaarheid aangetref word. (Daniel & Wassel, 2002, p.11)

Die dimensies is met mekaar in interaksie en verskaf saam ʼn raamwerk waarbinne teenspoed en positiewe faktore op alle ekologiese vlakke van die kind se sosio-emosionele omgewing geëvalueer kan word.

Figuur 3. Raamwerk vir die evaluering van faktore van sielkundige weerbaarheid (Daniel & Wassell, 2002, p.11)

TEENSPOED 

BESKERMENDE OMGEWING 

BESKERMENDE