• No results found

PSIGOSOSIALE ONTWIKKELING EN DIE SUBJEKTIEWE BELEWING VAN GESTREMDHEID

4.1 PSIGOSOSIALE ONTWIKKELING

Psigososiale ontwikkeling het te make met die interaksie tussen ʼn individu en die omgewing, vanaf die babafase tot volwassenheid, en sluit psigoseksuele en kognitiewe ontwikkeling in. Die psigososiale ontwikkelingsproses “seeks to understand the internal experiences that are products of the interaction among biological, psychological, and societal processes” (Newman & Newman, 2003, p.9).

Psigososiale ontwikkeling het ʼn kumulatiewe effek. Dit beïnvloed die individu se vermoë om herhaalde blootstelling aan stres tydens die kinderjare en adolessensie te hanteer, maar dit het ook ʼn direkte en indirekte invloed op volwasse welstand. Volgens Murasko (2007) en Wallander

69

en Varni (1995) is daar ʼn verband tussen die psigososiale funksionering tydens adolessensie en die funksionering van die persoon met ʼn gestremdheid as volwassene.

Volgens die ekologiese perspektief van menslike ontwikkeling soos beskryf deur Bronfenbrenner (1977, 1980) word ontwikkelingsuitkomste deur die interaksie tussen genetiese, biologiese, psigologiese en sosiologiese faktore bepaal. Die interaksie vind in die konteks van ondersteuning in die omgewing plaas. Die integrasie van hierdie interaksie vind in die mikrosisteem (die kind se karaktereienskappe en onmiddellike omgewing), ekosisteem (sosiale faktore) en makrosisteem (wyer sosiale verhoudings) plaas.

4.1.1 Psigososiale ontwikkelingsteorie

Ontwikkeling word volgens die lewensloopbenadering as ʼn dinamiese geheel beskou waarin daar voortdurende wisselwerking tussen die persoon en omgewing is. Hierdie benadering het in die 1960’s binne die intellektuele tradisies van sosiologie en sielkunde ontstaan en word volgens Schoon (2006) steeds wyd aanvaar. Die kernelemente van die benadering is dat menslike ontwikkeling ʼn lewenslange proses is, dat die verloop van die proses deur die keuses en aksies van die individu bepaal word, en dat dit in sosiale strukture gesetel is. Die interafhanklikheid tussen strukture word beklemtoon en lewens word deur sosiale en historiese invloede geraak (Elder, 1998).

Erikson (1902-1994) het die invloed van sosiale en kulturele faktore en verandering in die gemeenskap op identiteitsontwikkeling en persoonlikheidsvorming ondersoek. Hy het Freud se psigoseksuele ontwikkelingsfases aangepas en uitgebrei en ʼn psigososiale ontwikkelingsteorie in eie reg geformuleer. Die Freudiaanse begrippe is nie fundamenteel in die teorie nie; dus staan Erikson se teorie onafhanklik van Freud se teorie. Waar Freud se teorie hoofsaaklik biologies en seksueel georiënteer is, inkorporeer Erikson die kulturele en sosiale aspekte.

Erikson onderskei tussen die volgende psigososiale krisisfases: vertroue – wantroue (suigeling, 0-18 maande); outonomie – skaamte en twyfel (peuter, 18 maande – 3 jaar); inisiatief – skuld (kleuter, 3-6 jaar); werksaamheid – ondergeskiktheid (skoolgaande kind); identiteit –

70

rolverwarring (adolessent); intimiteit – isolasie (jong volwassene); voortplanting – stagnering (middelvolwassene); integriteit – wanhoop (laat volwassene) (Erikson, 1968).

Elke fase omvat ʼn krisis van twee opponerende emosionele kragte wat met ʼn spesifieke lewensfase en uitdagings in die betrokke fase verband hou. Die ontwikkelingstake en gepaardgaande krisis van ʼn fase moet suksesvol of gedeeltelik bemeester word voordat die volgende fase bereik kan word. Erikson fokus vanuit ʼn optimistiese ingesteldheid op die psigologiese reserwekrag wat binne elke fase ontwikkel en het ondersteunende reserwekrag by elke fase geïdentifiseer. Indien die krisis nie voldoende of gedeeltelik bevredigend opgelos word nie, ontstaan ʼn ontwikkelingsagterstand. Die fases volg nie ʼn liniêre proses nie en is nie duidelik afgebaken nie. Die suksesvolle afhandeling van ʼn fase bring ʼn balans tussen die twee opponerende ingesteldhede wat in die krisis verteenwoordig is (Erikson, 1959, 1968).

Erikson se psigososiale teorie dui sistematiese verandering oor die lewensloop aan ten opsigte van die ontwikkelingsfase, ontwikkelingstake, psigososiale krisis, ʼn sentrale proses waardeur die krisis in elke fase opgelos word, ʼn netwerk van verhoudings met betekenisvolle persone wat hieruit vloei en die gedrag wat ontwikkel om die uitdagings te hanteer (coping). Tydens elke lewensfase moet die individu dus ʼn unieke groep sielkundige en ontwikkelingstake bemeester. Die bemeestering van die ontwikkelingstake is essensieel vir suksesvolle sosiale aanpassing in die samelewing. Elke lewensfase bring ʼn normatiewe krisis mee wat gesien kan word as spanning tussen die individu se vermoëns en die nuwe eise van die samelewing (Erikson, 1959, 1968; Newman & Newman, 2003).

Volgens Côtĕ (1996) bestaan die psigososiale identiteit, soos deur Erikson beskryf word, uit drie onderling verwante dimensies, naamlik:

 Die subjektiewe psigologiese dimensie (ego-identiteit)

 Die persoonlike dimensie (repertoire van gedrags- en karaktereienskappe wat individue van mekaar onderskei)

71

4.1.2 Psigososiale ontwikkelingstake tydens adolessensie

Soos reeds genoem, word adolessensie weens die talle veranderinge waarmee die fase gepaardgaan as ʼn kritieke tydperk beskou (Seltzer, 1989). Die adolessent moet ʼn unieke groep ontwikkelingstake bemeester om sosiaal in die samelewing aan te pas. Die biologiese, psigologiese en samelewingsisteme moet integreer ten einde suksesvolle aanpassing te verseker. Die psigososiale krisis tydens adolessensie word deur Erikson (1968) as identiteit versus rolverwarring omskryf. Waar die basiese en sekondêre deugde getrouheid en toewyding is, is die primêre fokus die soeke na ʼn eie identiteit (om ʼn persoonlike rol, standaarde en doel in die lewe, sosiale en persoonlike integriteit te vestig). Volgens Côtĕ (1996) verwys identiteit na wie en wat ʼn persoon is en die betekenis wat deur die individu self en ander gegee word. Twee dimensies van identiteit word onderskei, naamlik persoonlike identiteit (karaktereienskappe, optrede en gedrag) en sosiale identiteit (groeplidmaatskap). Tydens adolessensie is verhoudings met die portuurgroep dus uiters belangrik (Erikson, 1959, 1968; Newman & Newman, 2003; Rew, 2006; Ross & Deverell, 2005; Silverberg & Gondoli, 1996).

Samevattend word die volgende ontwikkelingstake met adolessensie (12-18 jaar) vereenselwig:

 Fisiese rypwording. Adolessente is behep met hulle liggaam en voorkoms en dit is vir hulle uiters belangrik om aantreklik en aanvaarbaar vir ander te wees.

 Ontwikkeling van formele denke (abstrakte denke en redenering).  Emosionele ontwikkeling.

 Vestiging van ʼn eie identiteit. Namate adolessente hulle eie identiteit vestig, word lidmaatskap van die portuurgroep meer belangrik. Vestiging van ʼn eie identiteit en sosiale rol is ʼn komplekse proses en word ook deur betekenisvolle ander buite die gesin beïnvloed.

 Vestiging van onafhanklikheid. Adolessente emansipeer hulleself van hulle ouers en neig in die algemeen om teen gesag rebelleer.

72

 Ontwikkeling van seksualiteit en meer intieme verhoudings. Bewuswording van en eksperimentering met die seksuele is ʼn nuwe dimensie waarmee die adolessent gekonfronteer word (Donna Falvo, 2005; Newman & Newman, 2003; Rew, 2006).

Die psigososiale ontwikkeling van die adolessent word deur Rew (2006) in drie arbitrêre fases verdeel, naamlik:

Vroeë adolessensie (10-13 jaar). In hierdie fase verskuif die adolessent se belange van die gesin na die portuurgroep, emosies is onstabiel, en daar is ʼn beheptheid met die liggaam en liggaamsveranderinge.

Middeladolessensie (14-17 jaar). Hierdie fase word gekenmerk deur ʼn verhoogde belangstelling in die portuurgroep en verhoogde konflik met ouers om onafhanklikheid te verkry. Die adolessent is minder behep met liggaamsveranderinge, meer in staat tot abstrakte denke en redenasie, en ervaar gevoelens van alvermoëndheid. Risikogedrag tree tydens hierdie fase meer op die voorgrond namate die jongmens by die portuurgroep se norme aanpas.

Laatadolessensie (18-21 jaar). Adolessente se identiteit is nou meer gevestig en besorgdheid oor hulle liggaamsbeeld neem af. Hulle stel meer realistiese doelstellings vir die toekoms en die fokus verskuif na die ontwikkeling van intieme verhoudings met ander.

Die fases neig om te oorvleuel en die volgende vier mylpale is kenmerkend van adolessensie: 1) Bereiking van onafhanklikheid van ouers; 2) aanpassing en skikking na die norme van die portuurgroep; 3) aanvaarding van die liggaam, en 4) vestiging van identiteit ten opsigte van ego, moraliteit, seksualiteit en beroep.