• No results found

GESTREMDHEID, SEREBRALE GESTREMDHEID EN ADOLESSENSIE

3.3 DEFINIËRING VAN GESTREMDHEID VOLGENS VERSKILLENDE MODELLE

3.3.2 Sosiale model

Dié model is reeds in die vroeë 1900’s ontwikkel, maar het weer in die 1970’s sterk op die voorgrond getree (Olkin, 1999). Die model het uit die gemeenskap van persone met gestremdhede ontstaan. Hiervolgens word gestremdheid as deel van die diversiteit van die menslike bestaan gesien en nie noodwendig as ʼn probleem wat genees of herstel moet word nie (Adams, Swain, & Clark, 2000; Gilson & Depoy, 2000). Volgens Olkin (1999) impliseer die model ook dat persone wat gestrem is self by besluitneming oor persone met gestremdhede betrokke moet wees. Die fokus verskuif dus na die wyse waarop gestremdheid deur die samelewing geskep en onderhou word deur die sosiale, ekonomiese, politieke, kulturele, relasionele en sielkundige uitsluiting van persone met gestremdhede (Goodley & Lawthom, 2006). Volgens hierdie model is die probleem dus nie in die persoon self geleë nie, maar in die omgewing wat nie daarin slaag om vir persone met gestremdhede voorsiening te maak nie, asook in die negatiewe houding en vooroordeel van niegestremdes (Olkin, 1999; Tregaskis, 2006). Die fokus verskuif dus van die persoon met ʼn gestremdheid en ʼn probleem in isolasie na die groep, omgewing en diskriminerende houding van die samelewing; dus van individuele patologie tot

41

sosiale onderdrukking (Olkin, 1999). Volgens Pahad (2002) is ʼn persoon gestrem wanneer die sosiale omgewing nie die persoon se fisiese, sensoriese of verstandelike verskille in ag neem nie. Na sy mening word die dag-tot-dag-probleme wat deur die persoon met ʼn gestremdheid beleef word, veroorsaak deur die feit dat hulle in ʼn vyandige wêreld leef wat hoofsaaklik volgens niegestremde mense se behoeftes ontwerp is. Oplossings is dus geleë in die verwydering van sosiale en omgewingstruikelblokke ten einde sosiale, fisiese, beroeps- en spirituele deelname van die persoon met ʼn gestremdheid te verseker (Gilson & Depoy, 2000). In die sogenaamde sterk sosiale model word ʼn onderskeid tussen benadeling/aantasting (“impairment”) en onvermoë/ongeskiktheid (“disability”) getref (Olivier, 1990). Benadeling/aantasting word gedefinieer as die funksionele beperkings van ons liggaam en verstand, en onvermoë/ongeskiktheid as stremmende struikelblokke van ongelyke toegang en negatiewe houdings (Morris, 2001). Gestremdheid, soos omskryf deur die sosiale model, omvat dus ʼn sosiale, politieke, kulturele, relasionele en sielkundige fenomeen. Daar is komplekse interaksie tussen die individu met ʼn gestremdheid en die sosiale en kulturele konteks (Olkin, 1999; Read et al. 2012).

Die kwessie van ontologie word in navorsing oor gestremdheid sterk beklemtoon (Bichenbach, Chatterji, Badley, & Ustün, 1999; Turner, 2003). Hierdie benadering filosofeer dat broosheid, kwesbaarheid, verganklikheid en sterflikheid ʼn universele kenmerk van die menslike bestaan is. Almal is dus vasgevang in die beperkinge van die menslike liggaam: daar is geen kwalitatiewe verskil tussen gestremde en niegestremde mense nie aangesien almal belemmering ervaar (Shakespeare & Watson, 2002). Tisdall (2012) stel dit soos volg: “most people have impairments at some point in their lives and capacities varies widely” (p.183). Universalisme is gebaseer op die erkenning dat elkeen in die samelewing ʼn risiko het om ʼn aantasting of ʼn chroniese siekte op te doen. Behoeftes varieer, maar is grootliks voorspelbaar in die lewensloop (Imrie, 2004).

Hughes (2007) lewer kritiek op die universalistiese benadering deur te beweer dat die liggaam hiervolgens as ʼn beperking beskou word en dat die persoon met ʼn gestremdheid se liggaamlike potensiaal en moontlikhede gevolglik nie voldoende uitgedaag word nie. Die liggaam word nie as objek erken nie en die lewende liggaam word gereduseer tot ʼn meganisme wat tot niet sal gaan. Die subjektiewe belewing van liggaamlikheid gaan dus verlore, gestremdheid as ʼn

42

identiteit word vernietig en daar is dus geen plek vir die mens se verskille en diversiteit nie. Reynolds (2012) stel dit soos volg: “And justice and dignity necessitate that personhood should neither be defined by nor reduced to disability as if t is something only and always negative” (p.37).

Dit blyk dat daar twee duidelike perspektiewe met betrekking tot gestremdheid in die akademiese literatuur bestaan, naamlik die mediese en sosiale perspektief (Imrie, 2004). Volgens die mediese perspektief word gestremdheid vanuit ʼn biologiese, individuele benadering gesien. Navorsing en intervensie fokus op herstel, rehabilitasie en verbetering van funksionaliteit. Die sosiale perspektief definieer gestremdheid as ʼn probleem vanuit ʼn gemeenskapsperspektief. Individue is dus gestrem as gevolg van die diskriminerende en bevooroordeelde gemeenskap wat persone met gestremdhede van die hoofstroom en sosiale aktiwiteite uitsluit. Die oplossing is dus geleë in beleidsverandering om diskriminasie en vooroordeel uit te skakel en om hindernisse met betrekking tot toegang tot gemeenskapsdienste te verwyder (Imrie, 2004; Ross & Deverell, 2005).

Albei bogenoemde sieninge is egter problematies omdat die interafhanklikheid en verwantskap tussen die individu en die gemeenskap, asook die subjektiewe belewenis van die persoon met ʼn gestremdheid, nie erken word nie. Die teoretiese modelle konseptualiseer gestremdheid vanuit ʼn eensydige perspektief. Die liggaam, gees, intellek en gemeenskap bestaan hiervolgens as afsonderlike entiteite. Marks (1999) wys op die volgende: “mind, body, and environment are not easily separable but rather mutually constitute each other in complex ways” (p.25).

Hierdie navorser stem dus saam met Gabel en Peters (2004) se redenasie dat daar ʼn paradigmaskuif na ʼn eklektiese model moet plaasvind. Die wisselwerkende effek van gestremdheid word ook deur Shakespeare en Watson (2002) beklemtoon. Hierdie outeurs wys daarop dat verskillende gestremdhede unieke eise en implikasies met betrekking tot gesondheid en individuele kapasiteit aan die individu stel. Dit ontlok ook verskillende reaksies by die breër kulturele en sosiale milieu.

43

Dit is dus duidelik dat gestremdheid ʼn komplekse multidimensionele fenomeen is. Hughes (2007) beveel aan dat navorsing oor gestremdheid by die sosiale en materiële realiteit van die gestremde se beleefde ervaringe moet begin eerder as om aansprake en uitsprake op grond van uitgediende, abstrakte filosofiese sieninge te maak. Imrie (2004) is van mening dat verskillende perspektiewe gerekonsilieer moet word ten einde as basis vir die ontwikkeling van ʼn teorie vir gestremdheid te dien. Hy meld dat die Internasionale Klassifikasie vir Funksionering, Gestremdheid en Gesondheid (ICF) die sentiment deel. Gestremdheid word toenemend gesien as nóg medies nóg sosiaal, verstandelik of fisies, maar eerder as ʼn interseksie van biologiese, psigologiese en sosiale vlakke (Imrie, 2004). Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO, 2011) stel die volgende omvattende beskrywing vir gestremdheid voor:

Disabilities is an umbrella term, covering impairments, activity limitations, and participation restrictions. An impairment is a problem in body function or structure; an activity limitation is a difficulty encountered by an individual in in executing a task or action; while a participation restriction is a problem experienced by an individual in involvement in life situations...Thus disability is a complex phenomenon, reflecting an interaction between features of a person’s body and features of the society in which he or she lives (n.p.).

Daar bestaan dus ʼn leemte in die navorsing met betrekking tot die onderlinge verwantskap tussen die persoon met ʼn gestremdheid se liggaamlike funksionering en die breër sosio-kulturele waardes en praktyke (Edwards & Imrie, 2003; Watson, 2012).