• No results found

POSITIEWE SIELKUNDE EN PSIGOFORTOLOGIE

2.3 SIELKUNDIGE WEERBAARHEID 1 Inleiding

2.3.2 Die historiese verloop van die navorsing oor sielkundige weerbaarheid

Die oorsprong van sielkundige weerbaarheid kan na die sestiger en sewentigerjare teruggevoer kan word (Goldstein & Brooks, 2006; Luthar, 2006; Masten, 2007). Die vroeëre studies is nie so breedvoerig nie, navorsing is beperk en op hoërisiko-populasies toegespits. Die fokus van die vroeë navorsing was op die etiologie en prognose van ernstige psigopatologie. Navorsers is geïnspireer deur ʼn subgroep onder die hoërisiko-kinders vir psigopatologie, wat verrassende gesonde en aangepaste gedrag geopenbaar het. Die navorsers het ondersoek begin instel na die identifisering van faktore wat met die kinders se welstand verband hou. Hierdie benadering het die fokus van patologie van die mediese model na dié van positiewe uitkomste in die konteks van teenspoed verskuif (Garmezy, 1974; Rutter, 1979). Die afgelope twintig jaar het die studies egter aansienlik uitgebrei. Dit gaan nie net bloot oor die verstaan van risiko- en beskermingsfaktore nie, maar inligting moet gerig wees op kliniese intervensie en ingrepe ten einde positiewe uitkomste vir die risikogroep te verseker. Dit kan ook op die algemene populasie betrekking hê en toegepas word in ʼn poging om ʼn veerkragtige ingesteldheid in alle jongmense te kweek (Goldstein & Brooks, 2006). Volgens Fleming en Ledogar (2008) het die aanvanklike fokus van die onkwesbare kind verskuif na aspekte buite die individu wat sielkundige weerbaarheid bevorder. Faktore op die vlak van die individu, die gesin en familie, die gemeenskap en meer onlangs die kulturele vlak is nagevors.

Die studie van sielkundige weerbaarheid het sedert die aanvang in die sestiger- en sewentigerjare deur verskillende fases beweeg (Luthar, 2006; Masten, 2007, 2011; Sapienza, & Masten, 2011).

In die eerste fase het die navorsers op fundamentele kwessies rakende die definiëring, operasionalisering en meting van begrippe gefokus ten einde basiese beskrywende data van die fenomene verkry. Die konseptualisering van die hoofkonstrukte, metodes en data-analise het die basis vir navorsing oor kwesbaarheid en beskermingsfaktore gevorm (Masten, 2007). Die aanvanklike studies het op die etiologie en prognose van ernstige psigopatologie gefokus. Navorsers is geïnspireer deur ʼn subgroep onder die hoërisiko-kinders vir psigopatologie, wat verrassende aangepaste gedrag geopenbaar het (Garmezy, 1974; Rutter, 1979). Die fokus het ook verskuif na die toetsing van teorieë en strategieë om sielkundige weerbaarheid te bevorder.

18

Tydens die tweede fase is daar gepoog om dieper as die beskrywing van begrippe te beweeg ten einde te bepaal watter prosesse onderliggend is aan die verskille wat in die eerste fase waargeneem is (Masten, 2011).

Die derde fase het hoofsaaklik gesentreer op eksperimente om hipoteses te ondersoek. Die fokus was ook op intervensiestrategieë wat sielkundige weerbaarheid en gesondheid bevorder. Die intervensie het hoofsaaklik berus op beskermingsfaktore en -prosesse soos deur navorsing geïdentifiseer is (Masten, 2007, 2011; Sapienza & Masten, 2011).

Die gevolgtrekking is gemaak dat sielkundige weerbaarheid nie permanent is nie, maar dat dit kan fluktueer. Dit is ʼn ontwikkelingsproses waar kwesbaarheid en sielkundige sterktes met veranderde lewensomstandighede verband kan hou (Garmezy & Masten, 1986; Werner & Smith, 1982). Kinders kan ook sielkundig weerbaar voorkom, maar steeds innerlike spanning ervaar wat later as angs of depressie kan presenteer. Probleme kan ook geïnternaliseer word of kinders kan met ʼn valse volwassenheid, met negatiewe gevolge namate hulle ouer word, vir sielkundige weerbaarheid presenteer (Luthar, 1991; Luthar & Cicchetti, 2000; Raver, 2002).

Verder is sielkundige weerbaarheid ʼn fenomeen wat domein-spesifiek kan wees. Mense toon meestal positiewe of negatiewe aanpassings oor verskillende areas. Navorsers wys daarop dat sogenaamde risikokinders oor merkbare sielkundige sterktes in sekere areas beskik en terselfdertyd weer merkbare kwesbaarheid in ander areas openbaar (Luthar, Doernberger, & Zigler, 1993).

Navorsers het dus begin om terme meer omsigtig te gebruik ten einde spesifieke domeine waar sielkundige weerbaarheid waargeneem word, te spesifiseer, byvoorbeeld opvoedkundige sielkundige weerbaarheid (Wang & Gordon, 1994), emosionele sielkundige weerbaarheid (Denny, Fleming, Clark, & Wall, 2004) en psigososiale sielkundige weerbaarheid (Tusaie, et al., 2007). Die begrip word ook in ʼn breër gemeenskapskonteks geplaas en die term “gemeenskaps- sielkundige weerbaarheid” verwys na die oorkoming van lewenseise en trauma deur op sosiale en kulturele netwerke te steun (Kirmayer, Sehdev, Whitley, Dandeneau, & Isaac, 2009).

19

Die klem van die huidige vierde fase of beweging het na ʼn meer dinamiese en geïntegreerde model verskuif. Die fokus is op die prosesse van interaksie oor sisteemvlakke heen wat individuele ontwikkeling in konteks beïnvloed, tot genetiese, neurale, gedrag en sosiale vlakke (Sapienza & Masten 2011). Hierdie geïntegreerde benadering maak gebruik van kennis en tegnologie vir die assessering en waarneming van gene, breinskanderingstegnieke en statistiese tegnieke wat vir veelvlakkige dinamika en diere-eksperimente met betrekking tot stres en aanpassing voorsiening maak (Tottenham & Sheridan, 2009).

Die vierde fase bou voort op die kennis van die voorafgaande fases, maar word deur die energie van nuwe tegnologie en die sinergie van geïntegreerde teorie en metodologie gevoed (Masten, 2007, 2011). Die veelvlakkige benadering verbind neurobiologiese, gedrags- en omgewingsfaktore. Onlangse studies ondersoek geen-omgewingsinteraksie, neurale plastisiteit en epigenetiese prosesse (Ciccheti, 2010; McCrory, De Brito, & Viding, 2010). Sroufe het reeds in 1997 daarop gewys dat die proses van sielkundige weerbaarheid biopsigososiaal van aard is. Sodanige proses neem ʼn wye reeks van biologiese, psigologiese en sosiale faktore in ag wat mekaar wedersyds beïnvloed en tot suksesvolle aanpassing en funksionering met verloop van tyd bydra (Sroufe, 1997).

Navorsing toon dat vroeë stressors en trauma in ʼn persoon se lewe ʼn invloed het op breinontwikkeling en die risiko vir psigopatologie verhoog (McCrory et al., 2010). Daar is ʼn verband tussen lewenstressors en die atipiese ontwikkeling van die neuro-endokriene stresrespons en limbiese disfunksie. Die deregulering dra by tot psigiatriese kwesbaarheid in volwassenheid (McEwen, 2008, Jabbi et al., 2007). Strukturele en funksionele breinverskille is deur middel van gevorderde breinskanderingstegnieke waargeneem by kinders en volwassenes wat aan vroeë lewenstressors blootgestel was (McCrory et al., 2010). Die veranderinge is merkbaar in die hipokampus (leer- en geheuefunksie), amigdala (veg/vlug-respons, emosionele prosessering), corpus callosum (interhemisferiese kommunikasie, hoër kognitiewe funksies) en prefrontale korteks (gedrag, kognisie en emosionele regulering), asook die serebellum (koördinasie en motoriese gedrag) (De Bellis & Kuchibhatla, 2006; Glaser, 2000; Lupien, McEwen, Gunnar, & Heim, 2009). Daar is ook toenemende bewyse dat die serebellum as

20

gevolg van die verbinding met die limbiese sisteem ʼn funksie vervul in emosionele prosessering, vreeskondisionering en uitvoerende funksies (Schmahmann, Weilburg, & Sherman, 2007; Schutter & Van Honk, 2005). Voldoende navorsing is nog nie gedoen om die effek van vroeëre lewenstressors op die oorgang tussen ontwikkelingsfases te bepaal nie alhoewel daar gedragsbewyse is dat die effek van vroeëre lewenstressors vererger sodra adolessensie bereik word. ʼn Longitudinale studie toon dat kinders wat uit Roemeense kinderhuise aangeneem is ná aanneming agterstande op sekere terreine (byvoorbeeld kognitiewe ontwikkeling) inhaal, maar dat daar ʼn toename in emosionele probleme is sodra adolessensie bereik word (Colvert et al., 2008). Puberteit en die gepaardgaande hormonale veranderinge blyk dus ʼn sensitiewe periode te wees om ʼn uitwerking op die hippokampus en breinontwikkeling te hê (Schulz, Molenda- Figueira, & Sisk, 2009).

Navorsing het bevind dat die genetiese samestelling van die individu gedeeltelik ʼn rol speel in die vatbaarheid vir wanaanpassing of sielkundige weerbaarheid weens omgewings- en lewenstressors. Die geen-omgewingsinteraksie, sowel as spesifieke geen-merkers, het ʼn beduidende invloed. Die epigenetiese meganisme is ʼn molekulêre meganisme wat ʼn invloed het op die kwesbaarheid (wanaanpassing) en sielkundige weerbaarheid (suksesvolle aanpassing) in die brein. Dit behels ʼn komplekse proses waardeur die geen-aktiwiteit beheer word sonder om die onderliggende DNS volgorde te wysig (Moffit, Caspi, & Rutter, 2005; Tremblay & Hamet, 2008; Tsankova, Renthal, Kumar, & Nestler, 2007).

Uit bogenoemde bespreking is dit duidelik dat sielkundige weerbaarheid op veelvuldige vlakke kan voorkom. Daar is interaksie tussen biologiese en sielkundige prosesse in die ontwikkeling van wanaanpassing, psigopatologie en sielkundige weerbaarheid. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar ook ʼn interafhanklikheid tussen verskillende sisteme vanaf die molekulêre tot die globale sisteem bestaan. Die veranderlikes moet dan gebruik word om modelle vir toepassing te ontwikkel.

21