• No results found

Toepassende gevallestudie ter illustrering van ’n voorgestelde model

2. Pastorale berading en mentorskap by ouer-kind verhoudings in die Suid-

5.6 Toepassende gevallestudie ter illustrering van ’n voorgestelde model

Die gevallestudie wat hier volg, word as voorbeeld gebruik van hoe die strategiese aspekte wat hierbo bespreek is, toepgepas kan word. Die navorser gebruik derhalwe ’n narratief wat binne die navorsing hanteer is om aan te toon hoe iemand pastoraal beraad kan word en hoe mentorskap by ouer-kind verhoudings in die Suid-Afrikaanse konteks hanteer kan word.

Banie is ’n veertienjarige seun wat vroeër deel van hierdie kwalitatiewe studie se onderhoudsvoering was. Hy was die seun wat uitgestaan het as die mees rebelse seun, met ’n stiefpa wat baie gedrink het en volgens die seun al hulle geld uitgemors het. Sy ma is in ’n rystoel as gevolg van ’n motorongeluk waarin sy eie pa oorlede is. Intussen het sy ma met ’n ander man getrou en sy ma het só verbeter dat sy nou met krukke oor die weg kom. Uit ’n latere onderhoud met die ma en nuwe stiefpa is die deure geopen om met die gesin in gesprek te tree. Vandaar het die volgende gevallestudie gevolg.

Sessies se tydbestek is beperk tot een en ’n half uur elk. Die doelwitte van elke sessie is deeglik met ’n inleiding uitgespel. Na elke sessie is daar ook ’n samevattende bespreking gehou om te bepaal of die doelwitte bereik is. Aangesien dit oor vele sessies gestrek het, sal dit nie alles woordeliks aangehaal word nie, maar eerder meer samevattend hanteer word.

Na die eerste sessie met Banie se stiefpa (Gert) en ma (Magda) (kontakbou), het dit geblyk dat hulle nog steeds probleme ondervind met Banie se rebelse optrede, wat vele probleme by die skool veroorsaak. Daar is vir hulle elkeen genoeg geleentheid gebied om hulle narratiewe en ondervindings binne gesinsverband te deel (vertroue). Die ouers was uiters geneë om saam te werk nadat die doelwitte van die proses aan hulle verduidelik is. Beide ouers is redelik onkundig, maar ook baie gewillig om te leer. Dit het gelei tot ’n kontakproses waar vertroue tussen my en die ouers gebou moes word. Dit

170

het twee sessies geneem om vir die ouers mentorskap en die toepassing van Bybelse beginsels as deel van die oplossing te verduidelik (probleemanalise). Daar is gepoog om aan hulle meer begrip te gee oor Banie se emosionele seer wat tot ’n mate met die eerste ontmoeting met Banie bepaal is (kognitief). Na die derde sessie en ’n paar telefoongesprekke het dit geblyk dat ons tot ’n groot mate mekaar gevind het. Ons ervaring en empatiese emosies en ondersteuning van mekaar het gegroei tot ’n redelike selfverstaan.

Hierdie hele proses is toe met Banie herhaal waar hy ten volle sy narratiewe, emosies en ondervindings asook persepsies kon deel (ervaar/emosies en refleksie). Die ouers was voor die tyd baie behulpsaam deur hulle positiewe insette rakende die feit dat hy my kan vertrou. Die eerste sessie met Banie was nie sonder stampe en stote nie

(vertroue). Sy wantroue was diep gesetel en die navorser het uit sy pad gegaan om

hom nie te kritiseer nie, maar eerder sy sterk punte te probeer uitlig. Sy grootste probleem was om te verstaan hoekom hierdie sessies enigsins nodig is

(probleemanalise). Hy het gevoel hy het die reg om te voel soos hy voel. Sy stiefpa se

drinkery en God wat sy eie pa van hom weggeneem het, was die grootste struikelblokke en wanpersepsie om te oorkom (konfrontasie/informasie). Eers by die derde sessie het ek ’n mate van vertroue van Banie se kant af begin ervaar, alhoewel heelwat werk in die verband nog nodig was. Die besef dat hy nie vrede en geluk ervaar nie en in soveel konfrontasies betrokke is, het hom tot ’n mate die lig laat sien vir die nodigheid van verandering (verantwoordelike gedrag/besluitneming). Alhoewel hy nog skepties was, het dit met elke sessie beter gegaan. Na die derde sessie met Banie, kon ek die doelstellings van die sessies waarmee hy moes saamstem, bespreek. Dit was ’n wedersydse gesprek waar hy byna net soveel as die fasiliteerder insae gelewer het

(doelwitformulering en programontwerp).

Dit het nog twee sessies met Banie geneem om by nuwe perspektiefontwikkeling en probleemanalise uit te kom. Daar moes gereeld teruggegaan word na kontakbou en die skep van ’n nuwe, dieper vertrouensverhouding.

171

Nadat drie aparte gesprekke met Gert, Magda en Banie gevoer is oor die probleemanalise, perspektiefontwikkeling asook interpretasie en diagnose van die probleme, kon bogenoemde aangespreek word. Elkeen het sy eie mening oor elke probleem en oplossing gehad en dit het heelwat tyd geneem om almal redelik eensgesind te kry. Die geneigdheid tot rebelsheid het telkemale die besluitnemingsproses vertraag met “Hoekoms?” en “Waaroms?” (refleksie) en moes met omsigtigheid hanteer word. Daar is die heeltyd weer terugverwys na die hoofdryfveer, naamlik kontakbou en vertroue.

Die voorbereiding vir ’n gesprek waar al drie partye van die gesin in een sessie hanteer moes word, het baie aandag geniet. Die ouers is vooraf goed ingelig oor die feit dat daar geensins op hierdie stadium na Banie se foute verwys moes word nie. As fasiliteerder moes ek uiters bedag wees op die feit dat vertroue tussen die ouers en kind nou eers gebou moes word. Indien probleme uitgewys word, moes die gesprek so gou moontlik van rigting verander word sodat kontakbou en vertroue eers behoorlik geskep moes word voordat enige probleemanalise kon voortgaan.

Uiteindelik het die eerste sessie plaasgevind waar al drie partye van die gesin betrokke was. Die bespreking wat moes lei tot besluitneming en onderlinge programontwerp het weer nuwe probleme na vore gebring. Banie se rebelsheid was weer baie geneig om die besluitnemingsproses te vertraag. By die volgende sessie is daar beweeg na probleme en analise daarvan. Hier moes ’n soort van kontraksluiting oor die bespreekte kernprobleem plaasvind. Elkeen moes dan verantwoordelikheid neem vir die probleem wat elkeen raak (sinontwerp en hoopvolle lewe). Elkeen moes onderneem om vir ten minste vyf sessies aan die oplossing en die uitvoering van die aksieprogram te werk

(opbou en ondersteun). Besluite is een vir een geneem, maar konfrontasie moes

gereeld onder beheer gebring word. Die eerste aksieplanne en handelswyses is bespreek.

Elke persoon moes die redes verskaf waarom hy/sy wil voortgaan met die soeke na ’n werkbare oplossing asook verduidelik wat hulle verder van die gesprek verwag (besluit

172

en handel). Die fasiliteerder het ’n hele sessie gebruik om die drie partye te leer om

minder te konsentreer op wat hy/sy self sê en meer op wat die ander sê (luistertegniek). Daarna is gereeld in sessies terugverwys na aksieplanne, besluite en handelswyse waarop ooreengekom is.

Daar is ook ooreengekom op ’n weeklikse evaluasieproses saam met die fasiliteerder. Die doel hiermee was dat die groeiproses volhoubaar gemaak word. Interessant genoeg het die neiging tot konfrontasie afgeneem toe die gesprekke beweeg na skrifvertolking, hoopvolle lewe, glo en hoop.

Van Banie se kant was die geneigdheid om God die skuld te gee vir sy regte vader se dood nog steeds ’n werklike knelpunt. Dit het heelwat tyd en ondersteuning deur beide ouers en fasiliteerder geneem om sinontwerp, perspektiefontwikkeling en organiese skrifontwerp te gebruik om hom nader te bring aan geloofsvolwassenheid. Dit is verder hanteer deur die ouers wat kerkbywoning begin toepas het.

Namate ander probleme tydens vorige sessies ontstaan het wat met rookskerms toegehou is, het die fasiliteerder begin huiswerk gee ten opsigte van die beweging na geloofsvolwassenheid deur Bybelse gedeeltes. Dit het later in diepte bespreking uitgelok en tot antwoorde gelei.

Die volgende stap was dat ouers die verantwoordelikheid van die gesin by die fasiliteerder moes oorneem. Vir hierdie doel is dit stelselmatig gedoen deur gebruik te maak van smse, e-posse en telefoongesprekke. Mentorskap en die vader as geestelike leier van die gesin het egter nog op ’n gereelde basis voortgegaan deur die vader betrokke te kry by ’n manlike kerkselgroep. Toe Banie later ook daarby inskakel, was daar redelik gou positiewe veranderings by hom.

Vir die fasiliteerder was dit ’n riem onder die hart toe die eerste geestelike smse van Banie af ontvang word. Hierdie gesin is besig om tot volwassenheid te groei. Kontak word nog steeds met hulle behou en heelwat vrae word nog steeds deur die

173

fasiliteerder beantwoord. Die klem verskuif egter ook nou van blote antwoorde na “Wat dink julle?”, met die doel dat hulle self begin verantwoordelikheid neem.

5.7 Samevatting

Alhoewel die bespreking van hierdie gevallestudie heelwat positiewe uitkomstes getoon het, is dit belangrik om te besef dat dit nie altyd so suksesvol afgehandel was nie. In baie gevalle is die kliënte nie bereid om deur die hele proses te gaan nie en in ander gevalle raak dit selfs te veel vir die terapeut om deur te druk.

Ter afsluiting van die studie is die navorser van mening dat die Heilige Gees die dominante hooftaak tydens sulke sessies vervul. Deur die regte vrae te vra, verhoudings te bou, probleme reg te bepaal/analiseer en antwoorde te vind, is menigmaal nie binne die vermoë van die mens nie, maar deur die werking van die Heilige Gees, wat gelei het tot positiewe uitkomstes.